Waarom al die Profesieë Teen die Volke? Oor die oordeel van God oor die heidennasies in die Ou Testament
Waarom al die Profesieë Teen die Volke? Oor die oordeel van God oor die heidennasies in die Ou Testament
Ek het die oorlog teen al die bewoners van die aarde ingeroep, sê die Here die Almagtige.
Jer. 25:29b
Die boek Jeremia is op een na die langste boek in die Ou Testament, en is nie die maklikste om te lees nie. Trouens, daar hang nogal swaar wolke oor die tekste, soos oordeel, dreiging en ondergang. Jeremia het self swaar daaronder gely (15:17v, 20:7-9). Sy prediking staan onder die hoogspanning van die naderende onheil, nl. dat Juda deur Nebukadnesar verpletter sal word. Daar sal ʼn einde kom aan Israel se selfstandige volksbestaan, ʼn einde aan die koningshuis; Jerusalem sal verwoes word en die tempel sal verbrand word en die elite van die volk sal in ballingskap weggevoer word na Babel. Tog bevat juis die boek Jeremia ʼn paar van die mooiste heilsprofesieë van die hele Ou Testament (30-33). Die boek eindig met ʼn bundel volksprofesieë in Jer. 46-51. En dan volg doelbewus op hierdie plek, ʼn soort klimaks aan die slot van die hele boek vol toenemende spanning: die storm van God se oordeel wat oor die hele wêreld gaan (25:29, 45:5), begin by Egipte (46), gaan van een volk na die ander, en eindig by Babel self (50-51).
Jy kan jou afvra of die slotdeel van Jeremia, die bundel volksprofesieë, nie maar net so goed weggelaat kon word nie. Wat beteken dit vir ons vandag? Waarom het die Heilige Gees ook hierdie profesieë laat opneem in die Bybel, as die Woord van God vir alle eeue? As jy die profesieë self lees, raak jy duiselig van al die plekname, geografiese omstandighede en sinspelinge op historiese gebeurtenisse waar ons nouliks of nie die vinger op kan lê nie. Vermoedelik word daar selde of nooit oor gepreek nie. Wie die Bybel van voor tot agter gelees het, weet eintlik nie heeltemal goed wat dit vir hom beteken nie. Bowendien is soveel as twintig persent van alle profesieë in die Ou Testament volksprofesieë. Ook ander profete het soortgelyke bundels (Jes. 13-23, Eseg. 25-32, Amos 1 en Sefanja 2). Maar met watter doel?
Mens het wel gedink dat die onheilswoorde teen die volke in feite verborge heilsprofesieë vir Israel is. Die keersy van die ondergang van die vyandige volke is immers die redding van God se volk. Slegs in Jeremia 50-51 speel dit egter ʼn duidelike rol. Volgens ʼn ander verklaring weer lê die belangrikste doel van die volksprofesieë in die waarskuwing aan Israel se adres om nie op buitelandse magte te vertrou of verdrae met hulle te sluit nie. Inderdaad kan hierdie gedagte in ʼn enkele profesie moontlik saamspeel, soos in Jeremia 46, maar elders ontbreek hierdie opvatting geheel en al.
Die eintlike bedoeling van die volksprofesieë moet ons nie soek in terme van opwekking tot bekering, bemoediging of waarskuwing nie, maar in hoe hul die handeling van God self sentraal stel as Koning, “die Heer van die hemelse magte” (46:18, 48:15, 51:57).
Vanaf die begin van die boek Jeremia speel die verhouding tussen God en die volke ʼn groot rol. Jeremia is tot ʼn profeet vir alle volke gemaak (1:5, 10), wat die oordeel van God oor alle onbesnedenes, uit Israel en die volke, aankondig (9:25), en wat self vir God se woede oor die volke gebid het (10:25). God word Koning van die volke genoem, die lewende God, die ewige Koning: “Deur sy toorn bewe die aarde, teen sy woede kan die nasies dit nie uithou nie” (10:10). Tegelyk word die hoop gekoester dat die volke eendag sal kom en die naam van Israel se God sal aanbid (3:17, 12:16, 16:19). In Jeremia se prediking kry “die vyand uit die Noorde” steeds duideliker vorm: Nebukadneser is die kneg wat Israel se God inskakel om Israel en die volke te straf. Die oordeelsbeker word aan alle volke uitgereik, en as hulle dit weier klink dit in God se naam: “Drink sal jy!” (25:28). “Die klank sal trek tot aan die uithoeke van die aarde, want die Here kla die nasies aan, Hy sal al die mense straf, die goddeloses aan die oorlog uitlewer” (25:31). Blykbaar vier kwaad en onreg in hierdie tyd hoogty en gaan God nou grense stel.
Geplaas in die historiese konteks van die einde van die sewende en die begin van die sesde eeu voor Christus, die tyd waarin Jeremia geleef het, bring die volksprofesieë ʼn asemrowende boodskap. In die maalstroom van die ondergang van Assirië, wat die wêreld eeue lank terroriseer, en die opkoms van Babel in haar plek, gaan Juda ten gronde. ʼn Storm van verwoesting trek deur alle lande. Straks word Jerusalem ingeneem, die tempel verwoes en die volk Israel word met ongeveer een tiende verminder en verstrooid.
As alles in puin lê en alle houvas wegval, wys die profetiese vinger na Hom, wat soewerein sy weg gaan in hierdie chaotiese wêreld, nl. God, wat nie aan geografiese of etniese grense gebonde is nie. Die profetiese woord is die skandering wat die wêreldgebeure tot op God en sy dade sigbaar maak. Nie die groot politiek nie maar God alleen bepaal die geskiedenis. Agter die waansin van hierdie dae lê nie die noodlot nie, maar die vinger van God. Nebukadnesar is dan slegs die kneg van hom wat in sy majesteit volke roep, en volgens sy wil en plan die voortgang van die tye stuur. Geen onreg bly dan ongestraf nie, ook die heidense volke moet teenoor hom verantwoording aflê. Elke greep na die wêreldmag word deur hierdie Koning gestraf. Hy laat nie toe dat die magte van die kwaad vir altyd sal triomfeer nie. In die warboel van die geskiedenis met alle kwaad en onbegryplike leed, regeer Hy.
In hierdie prediking van God se wêreldwye, soewereine koningskap lê die blywende waarde van die volkereprofesieë. Hierdie tekste is bepaald nie ʼn produk van ʼn eng-nasionalistiese denke nie, maar open ʼn universele uitsig op die volkere. Die gerig oor die volke is direk verbonde aan die gerig oor Israel, wat eerste die beker gedrink het. Ook al draai alles in die Ou Testament om Israel, gaan dit meer oor God: oor die volkerewêreld waaroor hy regeer. Dit gaan oor die Skepper en Koning namens almal.