Bron: Kompas. 4 bladsye.

Wat Beteken die Kerk vir U?

Ons loop hulle byna daagliks raak. Mense wat teleurgesteld is met die kerk. Mense wat gekwel is oor die rigting wat "hulle" kerk inslaan. Mense wat nog wil vashou aan die gereformeerde belydenisskrifte, en (tereg) die Belydenis van Belhar afwys, omdat dit afwyk van die Skrif. Ons praat soms van "ons" kerk en "julle" kerk. Is dit reg? Dit hang af van wat jou belydenis vir jou werd is. Die vraag is eerder: wat bely ons van die kerk? Ja ons bely elke Sondag:... ek glo in 'n heilige, algemene Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges...

Nog breedvoeriger bely die kerk dit in die Nederlandse Geloofsbelydenis, art. 27-32, en die Hei­delbergse Kategismus, Sondag 21. Watter kerk bely ons? Is dit 'n kerk wat onsigbaar is en wat binne in die instituut (die uiterlike organisasie) voorkom? Of is dit die Bybelse ideaal, waaraan daar in die gemeente hier en daar iets van te bespeur is? Of staan ons belydenis los van ons kerkwees? Nee. Die kerk wat ons bely, die kerk van Christus, is Christus se werk. Wie dit rniskyk, sal die kerk beskou as 'n instelling van gelykgesindes waarvan jy volgens keuse lid is.

In die Bybel word vir ons met verskillende beelde die werk van Christus in sy kerk beskryf. Om een voorbeeld te noem: Christus is herder en die kerk is sy kudde. Hy maak sy skape bymekaar, Hy versorg hulle, Hy beskerm hulle. Hulle luister na hul Herder se stem en hulle volg Hom (Joh. 10). Hulle hoor die Woord en neem dit aan. Hulle leef uit die beloftes wat in die verkondiging van die Woord en die suiwer be­diening van die sakramente na hulle kom. Die kerk is Christus se werk om te roep en te trek en die kerk is die gelowiges wat hulle gehoorsaam deur Christus laat vergader. Die Here gee aan die gelowiges dieselfde beloftes wat Hy aan Abraham gegee het, hulle is deur die aanneem van God se beloftes nageslag van Abraham en met hulle kinders is hulle verbondsvolk van die Here (Gen. 17).

Die ware kerk van Christus is nie 'n verborge saak wat vir die oog versteek is agter 'n sigbare instituut of organisasie nie. Die ware kerk word uitgeken: wanneer die kerk die evangelie suiwer preek, die sakramente suiwer bedien soos Christus dit ingestel het en die kerklike tug gebruik om die sondes te straf - en gaan die NGB voort – wanneer almal hulle ooreenkomstig die suiwere Woord van God gedra, alles wat daarmee in stryd is, verwerp en Jesus Christus as die enigste Hoof erken.

Hoe sal ons dan Christus en sy werk bely, maar oor sy kerkwerk swyg? As ons belydenisskrifte werklik uitdrukking is van ons geloof, sal ons die ware kerk herken, en ons daarby aansluit, en ons nie laat bind deur die valse kerk wat aan homself en sy besluite meer mag en gesag toeskryf as aan die Woord van God nie. Ongehoorsaamheid bedreig Christus se kerk. Ongehoorsaamheid en onbekeerlikheid het tot gevolg dat die kerk valse kerk word en dat die ware kerk verplig is om in gehoorsaamheid aan Christus hulle van hierdie juk los te maak. Hoe kan ons vir mense help wat onder die laste van 'n onbybelse kerklike binding gebuk gaan? Ons moet met hulle praat oor ons belydenis.

Onthou: daar is sogenaamde kerke van gereformeerde belydenis waar die kategismusprediking 'n vreemde verskynsel geword het. Die gereformeerde lewen­sfeer in sy omvang word nooit aangeleer en van kindsbeen af ingeasem nie.

Die probleem is dat ons soms praat in belydenistaal, en dat mense dan beaam wat ons sê. Maar die betekenis wat hulle aan Bybelse en belydenisbegrippe heg, verskil van die betekenis wat dit vir ons het. Hierdie begrip­pe word nie in hulle eenheid en heilshistoriese verband verstaan nie, maar meestal op die klank van woorde af, in 'n metodiese en subjektiewe heilsordelike raamwerk. Begrippe soos "ge­loof', "bekering', "wedergeboorte", "verbond", "doop", "kerk" en "kerkorde" word op hierdie manier verstaan. So praat ons by mekaar verby. As ons beswaar­des wil help om tot ‘n geloofs­keuse te kom, moet ons die in­houd wat aan hierdie begrippe gegee word, probeer verstaan en sorgvuldig en geduldig met hulle dit deurpraat en 'n Skriftuurlike inhoud daaraan gee.

Neem byvoorbeeld die woord "kerk". Wat word daarmee ver­staan? Daar is mense wat vreemd dink oor die kerk, en vir hulleself laste oplê wat hulle met groot moeite dra, omdat hulle nie die eenvoud van die geloofstaal oor die kerk ken nie. Vir hulle is die belydenis dorre leer, hulle onderskei dit en reken dit ver verwyderd van die "lewende geloof in Jesus Chris­tus". 'n Beskouïng wat ons dik­wels aantref, is dat die plaaslike kerke gemeentes genoem word in die sin van onderdele van die "kerk", en dan sluit die woord "kerk" al die gemeentes en al die ringe of klassisse en al die streeksinodes in en ook die alge­mene sinodes en die moderatuur en die sinodale kommissies. Die voorsitter van die algemene si­node, die moderator, mag dan namens die kerk praat, selfs na­dat die sinode verdaag het. "Kerk" sluit ook al die werksaam­hede van die sinodes in. Die ringe en sinodes is nie net ver­gaderinge van kerke nie, maar het ook die betekenis van iets blywends. Die sinodes onder­neem sending en ander werksaamhede. Die kerkorde word gesien as 'n stel reëls wat die werking van wette het waaraan die sinode die gemeentes bind. 'n Aktuarius (verkose amptenaar van die sinode) is nodig om dit uit te lê. Dit is belangrik om kerk­wetlik korrek te wees in geval 'n saak in die burgerlike hof getoets word.

Die kentekens van die ware kerk soos dit in die NGB gestel word, word so toegepas op die "groot" kerk, die geheel van al die ge­meentes. In soverre hierdie te­kens of sommige daarvan nog gevind word in die meeste ge­meentes, word daar gesê, is die kerk nog ware kerk. Of anders: as die tekens van Woord-, sakra­ments- en 'n vorm van tugbedie­ning gevind word, al ontbreek die gehoorsaamheid aan Christus by baie lidmate, mag dit nooit kom tot 'n punt waar jy die kerk valse kerk noem nie. Die kerk waarin jy gebore en gedoop is, staan jy nie teen nie. Die vrede (nie die vre­de van die ware leer nie) word ten alle koste in die kerk (die to­taal van al die gemeentes) be­waar. Geen gemeente mag ook daarbuite gaan staan nie. Want dan word daar met die kerk ge­breek. Daar is ruimte vir 'n ver­skeidenheid van teologiese uit­gangspunte, dit kan in die verskil­lende gemeentes uitgeleef word, dit mag net nie die vrede in die kerk versteur nie. So is daar be­swaardes wat gereformeerd wil wees, maar dit is ’n vryblywende saak, dit kom nooit tot 'n kerkkeuse op geloofgrondslag nie.

Aan die ander kant, kan hierdie beskouing soms ander kerke (so­genaamde kerkgenootskappe) as ware kerke erken, as die tekens ook daar gevind word. Dit gaan egter selfs verder. Waar almal in Christus glo (hierdie "glo" kan verskillende omvang hê, maar het dikwels nie die gereformeer­de belydenis as inhoud nie) is daar erkenning van broeders en susters en is toenadering en samewerking moontlik. Dit bring of 'n subjektivistiese vroomheid, of die moderne ekumeniese wydheid mee. Die geloof in Christus, sien ons dan, word dikwels ver­skraal tot die leer van verlossing of tot wat kerkpolities korrek is.

Van beswaardes se kant kom daar ook herkenning van gereformeerdgesindes, dit kom tot ge­leenthede wat bygewoon word en eenheid wat gesoek word, maar die ems om jou by die ware kerk te voeg of om te kom tot kerkvereniging, die regte ekumeniese strewes, ontbreek.

Die kenmerkende van hierdie kerkbeskouïng is die vergeeste­like en swewende karakter daarvan. Aan die een kant word die kerk gesien as die groot geheel van al die lidmate van al die gemeentes. Aan die ander kant skerm sommige gemeentes hulle af van dwaalleer en streef om kerk van Christus te wees, maar dan is die keuse van kerkverband tog weer nie so 'n belangrike saak nie. Hulle hou by die regte leer, maar die grens is die eie gemeente, wat in die ander ge­meentes aangaan is rede tot sorge en kommer, maar dit word verdra dat ander gemeentes nie meer gehoorsaam is aan die Here van die kerk nie. HuIle leef maar saam met, en verdra die independentistiese en vrysinnige gemeentes in die kerkverband, en self leef hulle ook by 'n independente skering en inslag.

Hierdie beskouings oor die kerk hang saam met 'n aantal sake (wat alhoewel nie altyd almal saam nie, of in dieselfde mate nie, onder mense lewe met wie ons daagliks te doen het en geleentheid het om gesprek te voer):

  1. Die leer en lewe word geskei - dus die belydenis wat dorre leer is, en die lewe, wat deur die wederbarende werking van die Gees tot stand kom.

  2. Die wedergeboorte word op­gevat as iets wat bo en behal­we die Woord, deur die Heili­ge Gees plaasvind, dit dra die karakter van iets ekstra, deur die Gees verrig.

  3. Die doop hou meer in as 'n belofte, die doop staan soms direk in verband met uitverko­re wees. Hierdie verbinding is in die latere leeftyd nie altyd sigbaar nie, en dan keer som­mige die rug daarop en on­dergaan hulle die sogenaam­de "gehoorsaamheidsdoop".

  4. Die verbondskarakter van die doop en van kerkwees ver­vaag onder hierdie verband wat met die uitverkiesing getrek word. In reaksie teen pogings om aan bekering 'n datum te heg en dit so voor te skryf vir al die kerklede, word geloof iets outomaties wat uit die uitverkies­-wees voortvloei. Of dit is 'n objektiewe gegewe op die lees van Barth, min of meer universeel. So word die per­soonlike geloof in Christus ontredder en die begrip van die verbond vaag.

  5. Aan die anderkant word uitverkiesing dikwels Arminiaans opgevat asof God hulle in die ewigheid uitverkies het van wie Hy weet dat hulle vir Horn sal kies.

  6. Soms leef daar 'n beskouing dat God sy kinders by hulle doop die genade (amper op 'n Roomse wyse) ingee, en dat dit uitgroei tot geloof. Dan moet hierdie geloof opgewek word deur bekeringspredi­king. Die gemeente is nie verbondsgemeenskap nie, maar wel (individueelgewys) gemeenskap van gelowiges.

  7. Die "lewe" van die persoon wat "aangeneem" word om lidmaat te word, moet reg wees. In die praktyk is daar dooplidmate, maar belydenis van geloof gee toegang om lidmaat te word. Die verbond funksioneer nie werklik nie. Die gang van doop tot toelating aan die nagmaal word nie in fokus gesien nie. Die belydenisskrifte word in 'n mate behandel, maar bly bui­te staan, iets afsonderliks van die "lewe" in Christus. Dat die "lewe" reg moet wees, is simptoom van die onder­skeiding van die kerk in ware gelowiges en dooie lidmate, in sigbaar en onsigbaar. So kom dit dat spesiale opwekkingsdienste en evangelisa­sieprogramme binne die ge­meente van stapel moet loop. So kom dit dat daar vrede gesluit word met die ongeloof, en lewende lidmate die dooies maar saamdra. So is dit dat mense tugteloos lede van die kerk bly. So is dit maar in die kerk, word gereken.

  8. Die "lewe" wat so geskei word van die leer, en wat te doen het met die buitengewone werk van die Gees, maak dit natuurlik moeilik om van ouderlinge of predikante re­kenskap te eis. Want ook die Bybel word in terme hiervan uitgelê. Dit maak dat mense eintlik met hierdie "lewe" met die hande in die hare sit en nie put uit die skatkamers van die Woord nie. Bybelstudie volstaan met oppervlakkige toepassing vir die lewe op die klank van die woorde af.

  9. Die verkondiging word ver­skraal tot wat Christus vir my en my saligheid beteken. Die lewe voor die Here word teruggetrek op die binneste kamers van die hart en nie in die wydheid van die lewe ge­bring nie. Die belydenis is vir die lewe in die kerk bedoel. Die heil word teen-histories opgevat. Die historiese lyn van die heil in die Skrif word geïgnoreer en die eenheid van die Skrif verbrokkel. Dink watter implikasies dit vir kerk en sending het. In "belewing" wat tot aksie moet kom, word die redding vir die kerk op 'n aktivistiese wyse gesoek. Dit staan ver van Christus wat deur sy Gees sy kerk regeer.

  10. Die ideaal van die Ameri­kaanse superkerk leef ook onder sommige. Dan word die erediens 'n laboratorium waar proewe gedoen word, aan­names gemaak word en teorië vanuit die geestes- en so­siale wetenskappe as teologie bewys word, waar uit die Bybel tekste aangedra word om liturgiese vernuwing deur te voer en die gemeente in "selle" te verbrokkel. Vir lidmate wat hierdeur ontredderd is, is die beste waarop hulle kan hoop altematiewe dienste binne dieselfde gemeente waar die ouer predikant gewoonlik nog die onvervalste Woord saai.

Ek sluit af met die vraag waar­mee ek begin het: Wat beteken die kerk vir u? Self moet ons daaroor praat. Maar vra dit ook aan die mense wat die Here daagliks na ons toe bring, hulle vir wie kerkwees 'n sware las ge­word het, en hulle wat verward is omdat hulle begrip van kerk, met die nuwe Suid-Afrika se intrede gesink het. Al wat ons moet doen is om Christus as enigste Hoof van sy kerk te verkondig.