Wat is die Kerk?
Wat is die Kerk?
⤒🔗
1. Die Kerk in die Ou Verbond←⤒🔗
1.1 Woordgebruik←↰⤒🔗
In die Ou Testament word vir ‘kerk’ die woord Qahal gebruik. Die Qahal is die byeenkoms van die volk wat vir die “oorloë van die HERE” laer trek, vir regsake en veral vir kultiese plegtighede. Qahal-Jahwe is by uitstek die sigbare manifestasie van die kerk van die Ou Testament. Die kultusgemeenskap is die gemeenskap van die kultusgemeente met Jahwe en Jahwe met die gemeente, almal wat reg het op deel aan dié kultusgemeenskap. Israel is die Qahal van God omdat Hy haar geroep het en Hom aan Israel geopenbaar het en haar uitverkies het, op grond van sy vrye wil, om sy dade te ken. Qahal dui nie altyd op Israel as staatkundige geheel nie. Meer mense kon tot die volk Israel toegang kry as tot die Qahal. Net ’n Israeliet wat aan bepaalde (reinheids-) eise (byvoorbeeld besnydenis) voldoen het, is tot die Qahal toegelaat. Ontmandes is nie toegelaat nie en ewemin ’n Ammoniet of Moabiet. Die Qahal was dus ’n dinamiese grootheid; ’n mens kon ook toegang ontsê word. Huigelaars is gemaan om weg te bly.1 In die Septuagint word Qahal gereeld met ekklesia vertaal. Vir die ‘vergadering van Israel’ word in die Ou Testament ook die woord edah gebruik, wat dan gewoonlik op die kultusgemeente dui. In Grieks word dit weergegee met sunagogè. Die Griekse sunagogè dui merendeels op die gebou (maar kan ook verwys na die gemeente wat in die gebou vergader is), terwyl ekklesia die byeenkoms in die gebou aandui. Ekklesia is ’n meer kwalitatiewe begrip as die kwantitatiewe sunagogè.
1.2 Ekklesia←↰⤒🔗
Die Nuwe Testament gebruik die woord ‘ekklesia’ vir ‘kerk’. Dit neem dus die kwalitatiewe begrip vir ‘kerk’ uit die Ou Testament om daarmee in die Nuwe Testament die begrip ‘kerk’ aan te dui. Ekklesia dui dan op die kerk as ’n groep mense wat, net soos die volk Israel uit alle plekke en nasies geroep en versamel is2 (uit ʼn “verkeerde geslag” – Handelinge 2:40) om burgers van God se koninkryk te wees.3 Hulle word heilig genoem, in teenstelling met die wêreld wat hulle omring 4 Hierdie gemeenskap word deur die geloof en die doop gekenmerk (Handelinge 2:41; Galásiërs 3:26-29). Dit is ’n sigbare entiteit waarvan die ledetal bepaal kan word (Handelinge 2:41; 4:4). Daar was vaste reëlings en tugoefening.5 Die kerk het onder die leiding van plaaslike ampsdraers gestaan.6 Verkiesing deur die Here is die grondslag van hierdie kerk7 Ekklesia kan verwys na ’n plaaslike gemeente (Romeine 16:1 en die aanhef van ander briewe in die Nuwe Testament), ’n huisgemeente (Romeine 16:5; 1 Korinthiërs 16:9; Kolossense 4:15), gemeentes in ’n bepaalde streek (Galásiërs 1:3; 1 Korinthiërs 11:16), die universele kerk (Matthéüs 16:18) en na die kerkdiens (1 Korinthiërs 11:18; 4:19, 28, 34 e.v.). Die Nuwe Testamentiese ekklesia is die vervulling van die Qahal.
1.3 Die Vergadering van die Kerk in die Ou Testament←↰⤒🔗
Die kerk in die Ou Verbond is sedert die paradys deur God vergader en Hy gaan ná die sondeval daarmee voort. Hy vergader deur sy Woord, sy openbaring, wat Hy nie aan elkeen gee nie, en so ontstaan daar ’n skeiding. Na verloop van tyd kom sy volk in samekomste bymekaar. Die eerste sprake hiervan sien ons in Genésis 4:26 waar die “Naam van die HERE aanroep” as ’n kerklike byeenkoms verstaan word.
Vanaf Genésis 12 gaan die Here se kerkvergadering op die smal spoor van Abram en sy nageslag. Die teken hiervan is die besnydenis waarmee die Here die verbond tussen Hom en die gelowige Abraham verseël. Die uitdruklike eis was dat die hele volk besny moet word as die teken wat hulle van die heidene onderskei. Die besnydenis word selfs die verbond genoem (Genésis 17). Die teken dui op die besnydenis van die hart, die ware besnydenis (Romeine 2:28; 3:29; lees ook Romeine 9). Die besnedenes is in ’n deur die Here bevoorregte posisie. In die verbond is die Here koning van Israel; die verbond is teokraties vasgestel. Israel is die eie, afgesonderde en daarom heilige volk van God, met (sedert Dawid) Jerusalem as staatkundige en godsdienstige sentrum. Die begrip ‘heilig’ hou dikwels ook iets objektiefs in en word ook ten opsigte van ’n stuk grond of ’n stad gebruik,8 dikwels by vermanings.9 Heiligheid was dikwels ook die aanleiding tot tug met die oog op redding, sodat Israel die volk van God sou bly en van die verbondswraak gevrywaar bly. Israel het gereeld sy posisie as uitverkore volk van God in gevaar gebring. Ons wys op die reaksie van die volk op die boodskappe van die twaalf verspieders (Numéri 13; 14), die opstand van Korag, Datan en Abiram (Numéri 16; 17) en die geskiedenis van Rigters 19-21. Die Here het aan sy volk getrou gebly ter wille van sy verbond met die aartsvaders, wat Hy as ewige verbond ingestel het.
Al het God sy kerkvergaderende werk op Israel toegespits, het Hy die ander volke nie vergeet nie10 soos blyk uit Genésis 12:3 (die seën vir alle volke deur Abram) en duidelik te sien is in die persoon van Melgisédek, Rut, Tamar, Ragab en Naäman. Wanneer die Here Israel ’n “koninkryk van priesters” noem (Eksodus 19:5), blyk ook dááruit dat Hy steeds die God van die wêreld wil wees. Soos priesters die volk by God verteenwoordig, só verteenwoordig Israel die wêreld by God.
Die skeuring van die ryk in die twee- en tienstammeryk ná die koningskap van Salomo, was ’n ingrypende tydstip in die geskiedenis van die kerk van die Ou Testament. Jeróbeam maak die tienstammeryk los van die kerk van die Ou Testament, los van die verordeninge van God (1 Konings 12:28), al wou hy voorgee dat dit nie so is nie. Die politieke skeuring was wel die wil van die Here (1 Konings 11:29-39), maar nie ’n kerkskeuring nie (1 Konings 11:38, 39). Jeróbeam maak dit egter ’n kerkskeuring, met ʼn refrein wat eeuelank weerklink “…die sondes van Jeróbeam, die seun van Nebat, wat Israel laat sondig het” (1 Konings 10:29). Die volk het Jeróbeam hierin gevolg (1 Konings 12:30), selfs in Baäldiens onder Agas. God het die volk in die afvalligheid nie vergeet nie – daar was nog sewe duisend wat nie die knie voor Baäl gebuig het nie; Hy hou ook nog daar sy kerk staande. God laat Elía in ’n tweegeveg met die Baäl twaalf klippe oprig as oproep tot herstel van die (geestelike) eenheid, al straf Hy en dreig Hy met verwerping. Die Here beskou albei ryke steeds as sy volk, afgesonderd van die onbesnedenes. By al hulle afvalligheid doen Hy ’n beroep op die besnydenis en roep die volk op om hulle harte en ore te besny (Jeremia 4:4; 6:10; 9:25-26).
Die kerk in die Ou Testament het donker tye beleef waarin die Here weens die verbondsongehoorsaamheid van die volk net ’n oorblyfsel11 laat oorbly, waarmee Hy nietemin met die hele volk voortgaan (Jesaja 8:16-18; Jesaja 10; 11; Miga 4:6 e.v.). Amos profeteer oor die oorblyfsel van Josef (Amos 5:15). Die verwysings na die oorblyfsel is beskamend én troosryk. Die verbondstrou van God skitter wanneer Hy (deur die profete) sy volk selfs in ballingskap troos en die weg wys, hulle steeds sy kinders noem (Eségiël 16:20) en herhaaldelik oproep tot terugkeer. Dit is duidelik dat nie almal dadelik na die verwoeste twee-stammeryk teruggekeer het nie, maar dan blyk weer die geduld van God vir húlle wat agterbly, soos Ester en Mordegai. Israel kan nie die trou van God afdwing nie – herstel is ’n wonder van genade. Ons kan ook wys op die hervormingspogings deur Josia en Hiskia onder die agtergeblewenes in die ‘leë’ tienstammeryk, ná die wegvoering deur Assur (2 Kronieke 23; 30).
Só kan daar binne die Israel van God allerlei onderskeidings gemaak word. As volksgeheel was dit die uitverkore volk van God. Daarbinne was diegene wat getrou was en die Here gedien het, en die wat dit nié was nie (Psalm 15; 24:3-6; Miga 6:8). Die twee-stammeryk word van die tienstammeryk, wat die Here nie in sy tempel in Jerusalem dien soos Hy gedien wil word nie, onderskei. In die twee-stammeryk was soms nie meer as ’n oorblyfsel wat die Here nog gedien het nie. Ook in die tienstammeryk was daar so ’n oorblyfsel. ’n Deel van die volk het uit die ballingskap teruggekeer en ’n deel het agtergebly. Die ‘leë’ tienstammeryk gee gedeeltelik gehoor aan die oproep om die Pasga in Jerusalem te gaan vier. Nie almal onderneem die reis nie. ’n Ander onderskeiding wat na vore kom, is dié tussen die verkiesing van Israel, by name die oorblyfsel, en dié van die Kneg van die Here as die ware Israel. Deur Hom word die nuwe volk van God uit Israel en die volke (die “vele” van Jesaja 53:12) vergader. Só skep die Here vir Hom ’n nuwe volk: die ware tempel, die ware saad van Abraham, die ware besnydenis, die nuwe uitverkore volk, en sluit met hulle ’n nuwe verbond (Jeremia 31; Hebreërs 8).
2. Die Kerk in die Nuwe Verbond←⤒🔗
2.1 Die Nuwe Begin by Jesus←↰⤒🔗
Met die optrede van Jesus van Násaret betree die kerk ’n nuwe fase. Dit word in die prediking van Johannes die Doper, wat vernaamlik die koms van die Koninkryk van God verkondig, voorberei. Deur die optrede van Johannes ontstaan die raamwerk en ’n ‘morele herbewapening’ in Israel, ter voorbereiding van die koms van Christus. Wanneer die Christus dan kom, kan Hy leer, heel en genees. Die openbare optrede van Christus volg op sy doop deur Johannes, waarvan al die evangelies getuig. Met die koms van Christus staan spoedig die nuwe ekklesia teenoor die sinagoge wat Christus verwerp. Die nuwe ekklesia is die nuwe Israel, die ware vervolg op die Ou Testamentiese Qahal (Matthéüs 16:18; 18:18) wat van sy Woord lewe en na sy stem luister (Johannes 6:68; 10; 15); nie meer aan die aardse Jerusalem gebonde is nie (Johannes 4:21), maar weer waarlik katoliek (algemeen) sal wees. Christus doen wel ’n dringende beroep op die volk van die Ou Testament, maar die biologiese saad van Abraham is nie sonder meer binne sy kerk nie (Matthéüs 11:20-24; 21:43). Christus sit die verbond voort, maar maak van meet af aan duidelik dat die heil na alle volke uitgebrei word (Matthéüs 8:11; 21:33 e.v.; 28:18 e.v.; Markus 12:1 e.v.; Lukas 13:29). Hy bind hierdie wêreldkerk saam, met die oproep om die één Herder te volg, en Hy bid en beloof vir haar ’n blywende eenheid (Johannes 10:16; 17). Hy is die vervulling van die één Herder-Koning van Eségiël 34. Die gemeenskap met Christus is die hart van die kerk in hierdie nuwe bedeling. Die kerk is ook in die Nuwe Testament die werk van God se hande, sy skepping, wat Jesus vir Hom skep deur sy Woord. As iemand nie daarin bly nie en hom van die ander lede afskei, word hy uitgewerp soos ’n verdroogde loot wat van die rank afgebreek is (Johannes 15:6). Die Woord gaan vóór die kerk en ván die kerk uit. In sy barmhartigheid vergader (versamel, soek, byeenbring, Matthéüs 12:30; Johannes 4:36; Markus 9:30, 35-42) Christus sy nuwe kudde (Matthéüs 11:28-30; Johannes 10). Ter vervulling van Genésis 12:3 gaan Hy ook die grense oor. Hy is die Redder van die wêreld, wat aan diegene wat aan Hom behoort die merkteken gee van die doop in sy bloed en hulle aan sy juk, sy Woord, onderwerp. Die wêreld sal sy gemeente hieraan ken. Tot versterking van hulle geloof stel Hy die Nagmaal in. Só lê Hy die fondament vir ’n liefdesgemeenskap12 wat hulle aan die waarheid hou, heilig is, die evangelie uitdra en ’n eenheid is.13
Hy waarborg die ewige bestaan van sy gemeente (Matthéüs 16:18; 28:20) terwyl dié haar aan sy Woord hou. Al is daar maar twee of drie in sy Naam bymekaar, Hy is daar (Matthéüs 18:20), dáár is die kerk, die algemene, universele, katolieke kerk. Die Naam van Christus is die universele herkenningsteken. Hy is die Seun van die mens, die verteenwoordiger van God se volk by God (Daniël 7). Só bring Hy die gemeente voor die troon van God. Dit beteken nie dat die gemeente nooit in gevaar kan kom nie. In die gelykenisse in Matthéüs som Christus ’n aantal gevare op, wat die geloof, en dus die kerk, bedreig. Die kerk sal altyd ’n gemengde geselskap wees (Matthéüs 13:1-9, 18-43).
Nie elkeen wat deur Christus (of sy dissipels) tot die kerk geroep word, kom in gehoorsaamheid nie. Dit was duidelik met Thomas die geval. Christus vergader sy kerk deur die Woord wat Hy spreek en die getuienis van die Heilige Gees deur tekens en wonders (Hebreërs 2:3, 4). Dit word voortdurend in die Nuwe Testament benadruk dat die voortgaande bou van sy kerk alleen plaasvind in gehoorsaamheid aan sy Woord (die waarheid, die kanon). Om Hom te volg, is om sy gebooie te bewaar (Johannes 14:15; 15:10). Daarmee word die suiwer verkondiging van die Woord as die wettige middel vir ware kerkgroei aangewys.14
As iemand die Skrif lees n tot geloof kom, gebeur dit nie buite die kerk om nie, want aan haar is die Woord toevertrou; die kerk dra sorg vir die verbreiding van die Woord. Deur die Gees in die volle waarheid gelei, word die kerk ’n dinamiese gemeenskap. Daar is één onveranderlike, onwrikbare gegewe: die Woord van Christus; dáárop word gebou. Christus het self die Nuwe Testamentiese fase van die bouwerk van die kerk begin én tydens sy aardse lewe aangewys hoe, en deur wie verder gebou moet word. Christus bly die fondament van die kerk (1 Korinthiërs 3). Al sien ons sigbare resultate daarvan, kan ons nie die omvang van die versamelwerk van Christus peil nie. Hy ken immers dié wat aan Hom behoort nog voor hulle tot geloof gekom het (Johannes 10:16).
Die Woord van Christus is dus die vaste basisgegewe by die voortgaande bouwerk aan sy kerk. Sy skape luister na sy stem (Johannes 10:5, 27), word dissipels (Matthéüs 18:29) wat kinders as voorbeeld moet neem (Markus 9:35-37; 10:13-16; Matthéüs 18:1-14). Hierin en ook in die verskeidenheid van die apostels en ooggetuies lê ’n besondere dinamiek in die kerkvergadering deur Christus.
2.2 Die Pinksterdag←↰⤒🔗
Nadat Christus, ook ná sy opstanding, sy dissipels voldoende onderrig het, het Hy na die hemel teruggekeer (Handelinge 1:1-11). Hy het aan hulle opgedra om te wag op die vervulling van die belofte van die Vader waaroor Hy gepraat het: die uitstorting van die Gees. Die uitstorting van die Gees is ’n grootse oomblik in die geskiedenis van die kerk van die Nuwe Testament. Ons noem dit nie die geboorte van die kerk van die Nuwe Testament nie; uit die voorafgaande paragrawe is dit duidelik dat die kerk van die begin van die wêreld daar was. Die Pinksterdag is wel ’n dag van besondere toerusting en die belangrike aanbreek van die tyd van die “laaste dae” (Handelinge 2:17). Wanneer die Gees uitgestort word, verleen Hy aan diegene op wie Hy uitgestort word buitengewone welsprekendheid oor die groot dade van God (Handelinge 2:1-13). Almal kon só spreek, want die Gees is op almal uitgestort (lees ook 1 Johannes 2:27). Hiervan is die toespraak van Petrus (Handelinge 2:14-40) ’n duidelike illustrasie. Die verkondiging van die Woord van Christus is by uitstek die werk van apostels (Johannes 17:20; 1 Johannes 2:27). Daardeur kom ondenkbare kragte in werking. Die kerk word deur Woord en Gees vergader.15 Duisende begin ’n nuwe lewe. Hulle aanvaar die Woord van Christus en laat hulle doop in die Naam van Jesus Christus (Handelinge 3:17). Daarin sien ons die werk van die Gees (1 Korinthiërs 12:3). Dit is moontlik dat die belydenis waarvan in Hebreërs 4:14 en 10:23 gepraat word, hierna (die doop) verwys. Die getal van die gedooptes word genoem: 3,000 siele, later nog 5,000. Dit kan ’n moontlike kerklidmatetal van 20,000 tot 25,000 beteken. Die kerk bestaan deur en vanuit die Woord. Die kerk het in sigself geen bestaan nie. Die Woord is ewewel ’n krag uit en in sigself: autopistos. Die kerk in Jerusalem word ’n georganiseerde geheel rondom die Woordverkondiging, sakramentsbediening en openbare geloofsbelydenis, onder leiding van die apostels en ouderlinge. Dit kan ’n plek van behoud genoem word (Handelinge 2:47; 11:14). Mense het deur die doop tot die gemeente toegetree; hulle verlaat nie die kerk van God nie. Christus het die kerk deur sy vergaderwerk hier voortgesit. Die kerk was reeds byeen (Handelinge 1:15); die duisende is daaraan toegevoeg.
Dit is van belang dat hier nie stuurs van die kerk van die Ou Verbond afskeid geneem word nie, soos ook Christus dit nie gedoen het nie.16 Ons sien die broeders saam in die tempel17 terwyl hulle die Joodse gebedstye hou (Handelinge 3:1). Petrus benadruk dat die belofte, onder meer van die Heilige Gees, ook vir hierdie kerk is (Handelinge 2:33). Ook later noem hy hulle onwetende broeders (Handelinge 3:17) en Timótheüs is, ter wille van die Jode, deur Paulus besny.18 Die aansluiting by die Ou Verbond is ’n deurlopende lyn in die Nuwe Testament; die boek Handelinge word tewens daarmee afgesluit (Handelinge 28). Eers wanneer Jode in hulle koppigheid volhard, word dit aan hulle gestel dat heidene in hulle plek kom (Handelinge 28:25-28). Eers dán kom dit sover dat hulle ’n sinagoge van die Satan genoem kan word (Openbaring 2:9). Op hierdie dag is dit terselfdertyd duidelik dat die Here sy woord van Genésis 12:3, “in jou sal al die geslagte van die aarde geseën word”, vervul (lees ook Handelinge 8). Christus het dit reeds, toe Hy sy dissipels na al die volke uitgestuur het, aangekondig (Matthéüs 28:19). Dit was altyd die wil van God om ’n volk uit die heidene te vergader (Handelinge 15:7-9).
Soos verwag kon word met die hewige teenstand teen Christus, die Koning van die kerk, juis in Jerusalem, moes dié gemeente met inspanning leer. Die kerk moes die regte keuse leer: hulle moet God meer gehoorsaam wees as die mens (Handelinge 4:19). Hulle moes die regte prioriteite leer: dit gaan oor die Naam van Christus, want dit is die enigste Naam waardeur ons gered word (Handelinge 4:12). Die sendingprediking sluit pluralisme uit. Dit word tewens reeds in die eerste gebod van die Dekaloog geleer, en só gaan die kerk ook in die Nuwe Testament voort.19 Wat Christus self gesê het, dít preek die kerk: Hý is die weg, die waarheid en die lewe (Johannes 14:6). Ook vir die kerk in die laaste dae moet die kenmerk wees dat sy haar eksklusief aan die Woord van Christus (soos dit deur die apostels deurgegee is) bind. Daardeur groei die kerk en bly in stand. In Handelinge 22:42 word die eienskappe van die kerk gegee:
Volharding in die leer van die apostels. Gemeente én amp word aan daardie Woord opgedra (Handelinge 20:32).
Volharding in die gemeenskap. Ook hieraan moet gewerk word (Handelinge 6:1-7; 20:35), ook wêreldwyd (Handelinge 11:29). Die grondslag van die gemeenskap is die versoening deur Christus, wat wêreldwyd saambind (Efésiërs 2:15-22).
Volharding in die breking van die brood en die gedagtenis van Christus (Handelinge 5:41-6:4; 1 Korinthiërs 11:17-34).
Volharding in die gebede (Handelinge 4:24; 12:5; 16:25).
3. Die Kerk in die Nuwe Testament←⤒🔗
Die kerk van die Nuwe testament is die vervulling van die kerk van God van die Ou Verbond (Openbaring 7:1 e.v.; lees ook 21:3; 12). Die Here verbreed (weer) sy kerkvergaderende werk. Die kerk van die Nuwe Testament is die gemeente van Christus tussen die hemelvaart en die wederkoms (Openbaring 12). Die kerk kom voort uit die verbondsvolk Israel. In die Ou Testament word Israel dikwels met die woorde ‘volk van God’ aangedui. Die middelmuur van skeiding tussen Jood en heiden is afgebreek (Efésiërs 2:11-22). Die Christelike kerk word nou die volk van God genoem (2 Korinthiërs 6:16-18). Wie in Christus glo, is die ware Israel (Galásiërs 3:29), die gemeente van die lewende God (lees 1 Titus 3:15; Hebreërs 12:22 e.v.). Verskillende gemeentes kan tesame die één volk van God genoem word (1 Petrus 1:1; 2:9). Ons sien hoedat baie name en beloftes wat die Here aan sy kerk van die Ou Testament gegee het, nou toegepas word op die kerk wat uit Jode én heidene vergader word. In 1 Petrus 2:9 word die erename van Israel regstreeks op die Christelike gemeentes van die Nuwe Testament toegepas: “uitverkore geslag, ʼn koninklike priesterdom, ʼn heilige volk, ʼn volk as eiendom verkry”.20
Soos die priesters geroep was tot diens aan God vir die volk, in offers, gebed en seën, só staan die gemeente in die wêreld nou voor God. Hierdie voortsetting van Israel blyk ook elders, telkens wanneer die kerk van die Nuwe Testament aangedui word as ‘heiliges’21 'uitverkorenes’22 'geroepenes’23 'geliefdes’24 'bruid’25 'huis en tempel van God’26 of ‘kudde’.27 Ook die kerk van die Nuwe Testament bestaan alleen omdat God vir Hom ’n volk uitkies, nou uit die heidene en die oorblyfsel in Israel,28 net soos Hy in die Ou Bedeling Israel uitverkies het. Die kerk bestaan deur die Here, deur sy Woord.
In die sendingsprediking van die Nuwe Testament bly die voorrang van Israel bestaan.29 Jerusalem bly ’n belangrike plek (Romeine 25:27). Maar die roeping van Israel is in Christus vervul. Christus is die saad van Abraham (Galásiërs 3:16). God vergader sy kerk nie meer etnies-nasionaal nie, maar wêreldwyd30 uit Jood en heiden Efésiërs 3:6; Galásiërs 3:6-9, 26-29. wat deel in die beloftes van die nuwe verbond van Jeremia 31, in die bloed van Christus.31
Vir hierdie gemeente geld die beloftes van die Ou Testament (2 Korinthiërs 6:16). Dit is nie met Israel verby nie, die olyfboom is nie uitgekap nie.
Die Here vergader nie etnies-nasionaal nie, maar die kerk het wel ’n vaste herkenbare vorm; dit word ’n geestelike, christokratiese, anti-hiërargies gestruktureerde kerk. Christus wil ’n geïnstitueerde kerk, nie net prediking nie. In die kerk gee die Gees die geloof (1 Korinthiërs 12:3). Ons sluit nie uit dat die Gees buite die kerk werk nie. Hy waai waar Hy wil (Johannes 3:8), maar as Gees van Christus is Hy aan die kerk as liggaEfésiërs 2:1 e.v.; 4:17 e.v.; 5:3 e.v.; 1 Korinthiërs 6:11 e.v.; Galásiërs 5:13 e.v.; 1 Tessalonicense 5:8. am van Christus belowe, en dit is waar mense Hom moet soek. Die kerk het ’n afsonderlike posisie, sy hoort nie by die wêreld nie.Sy is die gebied van Christus, vir sy kinders vir wie die heil bestem is.32
Om kerklidmaat te wees bring stryd en lyding,33 maar daar is ook beskerming.34 Die kerk moet nie van haar taak wegskram nie, maar dit volbring deur openlik, in woord en daad, deur haar lewenswandel, hulpvaardigheid en gebed van Christus en die waarheid te getuig.35 Die kerk is ook gebonde aan die getuienis van Christus en sy apostels.36 Só word die gemeente gebou. Die evangelieprediking is eksklusief Christusprediking. Wie daaraan afdoen met, byvoorbeeld, konsepsies van dialoog, universalisme en pluralisme, rem die groei van die gemeente en doen die prediking tekort. Daar is altyd bedreigings vir die gemeente. Die kerk is nooit staties nie,37 dit is blootgestel aan dwalings, ekstern én intern.38 Tog bly die kerk, selfs in gemeentes met ernstige meningsverskille, soos dié van die Galásiërs, één in Christus. God bind sy kinders aan sy kerk.39
Sy word gewaarsku teen vals apostels,40 maar word versterk deur die samekomste rondom die Woord van God, profesie, charismata, gebed, lied, ampswerk, die Nagmaal en onderlinge diensbetoon, ook buite gemeentegrense.41 Wie ’n valse leer bring, word vervloek (Galásiërs 1:8). Die kerk is ’n volk wat op pad is.42 Om die einddoel te bereik vra volharding,43 maar daar is hoop, die oorwinning is seker.44
’n Paar opsommende punte van A. Noordgraaf:
- Die kerk bevind haar steeds tussen die reeds en die heerlikste nog nie;
- die kerk staan in ’n verhouding van (dis)kontinuïteit tot Israel;
- die kerk ken vertikale en horisontale liefde;
- die kerk ontstaan en bestaan deur Woord en Gees;
- die kerk staan in ’n verhouding van antitese én van solidariteit tot die wêreld.
Ons sluit hierdie Bybels-teologiese deel af met enkele van die vernaamste erename wat die kerk van die Nuwe Testament as sieraad dra. Dit is op die universele én die plaaslike kerk van toepassing. Die kerk word genoem:
Bruid.45
Liggaam van Christus.46 Hierdie naam dui daarop dat die eenheid in die verskeidenheid vir die gemeente van groot belang is (Galásiërs 3:28), soos dit in die Heilige Nagmaal sigbaar word (1 Korinthiërs 10 en 11). Partyskappe en dreigende verdeeldheid verbreek nie die liggaam nie. Die titel ‘liggaam van Christus’ word juis in die brief waarin partyskappe ter sprake was, sonder reserwe gegee.47 Die eenheid is moontlik omdat Christus die Hoof van die liggaam is. Die band met Hom hou die liggaam in stand.48 Alles wat vir eenheid nodig is, kom van Hom (één Here, één geloof, één doop ... Efésiërs 4:1-6). Ons sien in die Nuwe Testament ’n volhardende strewe na eenheid.49 Die Hoof het en gee daartoe die mag; Hy is ook Hoof van die wêreld,50 maar van sy kerk is Hy dit op ’n ander, liefdevolle manier. Die naam ‘liggaam van Christus’ eis ’n wegdoen met alle onenigheid (1 Korinthiërs 3:1 e.v.); dit eis onderlinge liefde waarvoor Christus self ’n nuwe gebod uitgevaardig het. Nuut, omdat nuwe, ander, dieper liefde gevra word – liefde wat die liefde van God in Christus weerspieël.51 In die kerk is die lede ook vir mekaar verantwoordelik.52 Deur die doop word die kinders van God deur die Gees in die liggaam van Christus ingelyf (1 Korinthiërs 12:13). In verband met hierdie beeld praat Berkhof van die gemeenskap met Christus en met mekaar, wat bepaal word deur genade, wat gehoorsaamheid aan Christus vra, en oop is na buite. Die laaste twee aspekte bring die spanning na vore wat bestaan tussen die twee metafore van Christus as Hoof van alles wat bestaan, en van Christus as Hoof van sy liggaam, dit is die gemeente.
Huis of tempel van God, met Christus as hoeksteen, wat deur God gebou en bewoon word53 Die individuele gelowiges is boustene, maar word self ook tempel van God genoem (1 Korinthiërs 6:19).
Moeder (Galásiërs 4:21-31). Die aardse kerk as ons moeder, deur die werk van Christus.