Bron: Vox Viva. 2 bladsye.

Wat is Gereformeerd?

persoon met Bybel

Daar is seker min onderwerpe waaroor daar soveel verwarring bestaan as die vraag: “wat beteken dit om gereformeerd te wees?” Vir baie gelowiges beteken dit iets negatief. Sommige koppel die woord “gereformeerd” aan die vorige politieke bestel wat in Suid-Afrika aan die orde was. Ander koppel gereformeerd-wees aan konserwatisme of tradisionalisme. ʼn Gereformeerde, volgens sommige, volg die ou tradisies en gewoontes waarmee ons grootgeword het! Nog ander koppel gereformeerd-wees aan ʼn bepaalde vorm van erediensinkleding. Dinge soos styfheid en doodsheid kom dan in die gedagtes op. Alles wat vernuwing teenstaan — dit is gereformeerd, so dink sommige mense.

Die vraag is dus of dit enigsins nog die moeite werd is om gereformeerd te wees. Is dit nie iets wat hoort by ʼn uitgediende sisteem nie? Hoort dit nie tot ʼn bedeling wat verby is nie? ʼn Soort vervagingsproses is aan die gang waar die “eiegoed” van die gereformeerde belydenis al hoe meer onduidelik word en waar gereformeerd-wees al hoe meer opgaan in ʼn soort algemeen ekumeniesgesinde christendom. Sommige mense reken dat die gereformeerde belydenis net onnodige skeiding bring tussen gelowiges, iets wat nie meer bekostig kan word nie. Volgens hierdie mense het die “eiegoed” van die gereformeerde belydenis niks te make met die wesenlike van die evangelie nie. Dit gaan meer oor bysake en dit kan liefs gelaat word. Wie egter ontdek het wat gereformeerd-wees in der waarheid beteken, kan nie met al hierdie idees saamstem nie.

Om gereformeerd te wees beteken om Bybels te wees. Die woord “gereformeerd” herinner aan die Groot Reformasie van die 16e eeu toe daar teruggekeer is na die Woord en na die Bybelse leer en na die Skriftuurlike manier van kerkregering. Dit is wat reformasie is: ʼn omkering tot daadwerklike gehoorsaamheid aan Christus in alle opsigte. Om eietyds gereformeerd te wees beteken dus om Bybels te wees, maar sedert die Groot Reformasie moet kwalifiserend bygevoeg word: Bybels, soos die Woord in die gereformeerde belydenis bely word.

Beteken dit nie dat daar nou allerlei menslike uitdinksels tot die Woord toegevoeg word nie? Dit alles klink soos ʼn weerspreking. Aan die een kant wil ʼn gereformeerde slegs by die Skrif alleen leef. Aan die ander kant kom die belydenis ook nog by. Word hier nie iets ekstra tot die Skrif of selfs in die plek van die Skrif, toegevoeg nie?

Nee, die belydenis funksioneer soos die strooijonker van die bruidegom. Die strooijonker soek nie sy eie eer nie, maar poog om die lig op die bruidegom te plaas. So werk die belydenis. Dit wil die eer van die Skrif soek en die fokus op die Skrif plaas. Die belydenis wil die kerk by die Skrif hou. Die belydenis herhaal die inhoud van die Skrif opsommenderwys. Tewens, die belydenis self verwerp enige gedagte dat ʼn menslike geskrif gelyke waarde met die Bybel sou hê. (Sien Nederlandse Geloofsbelydenis: artikels 5, 7).

Vir die reformatore was die terugkeer na die Skrif terselfdertyd ook ʼn terugkeer na die vroegste Christelike kerk en die oudste en mees outentieke ekumeniese belydenisse soos die Apostoliese Geloofsbelydenis, die Geloofsbelydenis van Nicea en die Geloofsbelydenis van Athanasius. Die reformatore wou immers geen nuwe kerk stig of met ʼn nuwe teologie voor ʼn dag kom nie. Hulle het gebreek met die vals kerk en teruggekeer na die ware apostoliese belydenis. Die vraag was dus: waar, in die warboel van verskille wat destyds oor die Skrif bestaan het, sou die leer van die apostels gevind kon word? Daar was net een antwoord: in die kerklike belydenisse waarin die ware kerk deur die eeue heen die apostoliese leer gehandhaaf het! Dit is al wat ons Drie Formuliere van Enigheid wil wees. Dit wil ons verbind aan die leer van die apostels! Dit wil ons bind aan die Skrif in teenstelling met die warboel van teologiese standpunte (wat hul almal op die Skrif beroep!) wat vandag die rondte doen. Wat ʼn vreugde om te midde van soveel verwarring, steeds die sekerheid te mag hê van wat die Waarheid presies is!

hand op die Bybel

Om gereformeerd te wees, beteken derhalwe dat ons onsself gaan verbind aan die geloof wat eens en vir altyd aan die heiliges oorgelewer en toevertrou is. (Vgl. Judas 1:3).

Om gereformeerd te wees het dus niks te make met konserwatisme of progressivisme nie. Konserwatisme weier om vorentoe te beweeg en dring aan dat alles moet bly soos dit is. Uit reaksie hierop wil progressivisme die kerk weglei van haar belydenis en die kerk verander tot ʼn produk van die moderne tyd. Iets nuuts moet dus op ʼn nuwe fondament opgerig word.

Om gereformeerd te wees beteken daarenteen om steeds te reformeer. Dink aan die bekende spreuk: “Ekklesia reformata semper reformanda ad fontes.” Dit is: “Die gereformeerde kerk sal aanhoudend reformeer terug na die bronne.” Om gereformeerd te wees beteken dus om steeds weer in gehoorsaamheid terug te keer na die Skrif. ʼn Gereformeerde vind dus nie sy inspirasie in die gees van die tyd nie, maar in die Woord van die Gees. ʼn Gereformeerde kerk beweeg vooruit, maar bou altyd op die een fondament van die een algemene katolieke kerk met sy apostoliese belydenis. In gemeenskap met die een ware kerk van alle eeue, beweeg die gereformeerde kerk vooruit, al bouende op die skouers van daardie een algemene kerk. Dit gaan nie maar net om dit wat nuut is in ʼn nuwe tyd nie, maar dit gaan oor Christus en Sy Woord. Die kerk beweeg dus vorentoe deur terug te beweeg na die Skrif.