3 bladsye.

Wat is Kategese?

Inleidend🔗

Die woord kategese is afgelei van ʼn Griekse woord wat enkele kere in die Nuwe Testament voorkom. Dit is ʼn uitdrukking wat vir die geloofsonderrig van die Christelike gemeente gebruik word. Om ʼn voorbeeld te noem: in Galasiërs 6:6 lees ons van ʼn kategeet wat onderwys gee. In die oorspronklike betekenis van die woord (katecheo) klink daar die gedagte van ‘van bo af laat hoor’. Ons kan hier dink aan die gebruik dat iemand vanaf  ʼn verhoogde plek ʼn toespraak gehou het. Kittel praat in sy Theologisch Wörterbuch zum N.T. van: ‘Von oben ab antönen’. Vir ons is daarin die gedagte dat daar in die kategese iets van bo af, dit wil sê met gesag, meegedeel word. Dié gesag lê nie in die persoon nie, maar in die boodskap wat hy van God deurgee. Dat die woord kategese tot vandag toe kerklike spraakgebruik gebly het, het ons, onder meer, te danke aan Melanchton, die medewerker van Luther. In die voorwoord van sy katkisasieboek Catechesis puerilis van 1540 het hy die term kategese vir die protestantse kerke vasgelê, toe hy gesê het dat ons onder kategesis ʼn samevatting van die Evangelie, waarin die gemeente deur middel van vrae en antwoorde onderrig word, verstaan. So het dit deur die eeue gebly. Die woord kategismus is ʼn algemeen bekende naam vir die leerboekie waarin die kerklike onderrig saamgevat word. Die afgelope tyd klink daar wel besware op teen dié ingeburgerde uitdrukking. Daar word gevra vir ʼn nuwe uitdrukking, soos instruksie, vorming of onderwys. Tog sou ek die handhawing van die term kategese, of katkisasie, wil verdedig. Dit is ʼn goeie uitdrukking vir die eie aard van die onderwys in die Christelike gemeente. Dit onderskei hierdie onderwys van allerlei ander vorme van onderrig en bewaar die band met die kerk van al die eeue.

Die Kategese en die Bybel🔗

Die kategese het sy oorsprong in Israel. Vanaf Israel se vroeë volksbestaan het godsdienstige vorming ʼn groot rol gespeel, en dit loop soos ʼn goue draad deur die hele Ou Testament. So lees ons, om enkele voorbeelde te noem, in Deuteronomium 6 van die opdrag aan die ouers om hulle kinders te onderrig. In Psalm 78 word oor dieselfde taak gepraat. Die agtergrond van hierdie onderrig is die gedagte dat die Here self die groot Leermeester van sy volk is. Hy bedien Hom in sy onderrig aan mense. Ons lees soms van individue soos Moses, Samuel en Esra wat onderwys gee. Daar is ook sprake van skriftelike kategese. As voorbeeld noem ons dié Psalms wat as leerdigte bedoel is, en dikwels die opskrif het: ʼn onderwysing van Dawid. Ons noem ook die spreuke waarvan ons in Prediker 12:9 lees: “En behalwe dat die Prediker ʼn wyse was, het hy die volk nog kennis geleer en het oorweeg en ondersoek; hy het baie spreuke opgestel”. By die heiligdom het die priesters en Leviete die volk onderrig. In later tye het die rabbyne en wysheidsleraars ʼn kring leerlinge om hulle versamel. Ons ken byvoorbeeld die voorval in Lukas 2 waar Jesus op twaalfjarige leeftyd in die midde van die leraars sit. Daar het ook skole tot stand gekom waaronder onderskei is tussen Beth Ha Sefer, die skool vir beginners, Beth Ha Misjna vir groter kinders en Beth Ha Midrasj vir gevorderde leerlinge. Skool en sinagoge is nou met mekaar verbind. Hier is die kinders van die Joodse gemeente grondig onderrig in die gebooie en beloftes van die Here. In Israel was daar ook die proseliete-onderwys, die onderrig aan diegene wat uit die heidendom na die Jodedom oorgekom het.

Die leerstof het veral as inhoud gehad die groot dade en die gebooie van die Here. By die groot dade dink ons aan die skepping, die verlossing uit Egipte, die omswerwing in die woestyn, die intog in Kanaän en ander groot dade van God. By die gebooie dink ons aan die dekaloog (die tien gebooie), en allerlei wette wat op die erediens betrekking gehad het, soos offerwette en wette vir die groot feeste. Daar was ook die wette vir die maatskaplike lewe van die volk. Die leer wat geleer is, is die lewende leer - ʼn pad wat begaan is.

Die Christelike gemeente van die Nuwe Testament het in haar kategese baie van die Joodse gemeente oorgeneem. Jesus self is dié Didaskalos, die Leermeester by uitstek. As ʼn besondere Rabbi het hy die volk en in besonder sy kring van twaalf dissipels, leerlinge, onderrig. Die kenmerk van sy onderwys was dat dit met Goddelike gesag geskied. Hy praat nie soos die skrifgeleerdes nie, maar as die gesaghebbende.

Toe die eerste Christelike gemeentes tot stand gekom het, was die onderrig aanvanklik beperk tot die kategese wat aan dopelinge gegee is. Beginsels van hierdie dooponderrig vind ons in Handelinge 8 (aan die hofdienaar van Ethiopië) en in Handelinge 16 (aan die tronkbewaarder van Filíppi). Toe die gemeentestruktuur vaster vorm aangeneem het, het die kategese ʼn belangrike plek ingeneem. In Handelinge 2:42 lees ons reeds dat die gemeente volhard het in die leer van die apostels. In Handelinge 8:14 en verder lees ons van Apollos, wat in die gemeente van Éfese katkiseer. In die brief van Paulus aan dié gemeente skryf hy oor herders en leraars. Hulle moet die pand, die toevertroude leer, oordra van geslag tot geslag. Die pand is die leerinhoud, gevorm deur die Ou Testament waarna dikwels verwys word as Moses, die Profete en Psalms. By dié leerinhoud hoort veral ook die werk en persoon van Jesus Christus en die Christelike lewe, waarby die dekaloog bly bestaan. Binne die gemeente het gesinskategese ʼn sentrale plek ingeneem. Die kinders van die gelowiges is heilig (1 Korintiërs 7:14), afgesonder van die wêreld en bestem vir die koninkryk van God. Hulle moet daarom in die beloftes en gebooie van daardie koninkryk onderrig word. Ook die toekomsverwagting, die wederkoms van Christus, het tot die vaste kern van die leerstof behoort. Dit is opvallend dat nie net die jeug nie, maar die hele gemeente die leergemeenskap is.

Die Geskiedenis van die Kategese🔗

Ons wil nou ʼn kort oorsig gee van hoe die kategese in die Christelike kerk ontwikkel het. Die vroeë en die ou kerk het ʼn bloeiende kategese geken. Die vernaamste aksent daarvan het op diegene wat by die kerk wil aansluit, geval. Clemens het reeds in sy brief uit die eerste eeu gepraat oor die kategese aan nuwelinge. By die kerkvader Tertullianus in die volgende eeu was al sprake van ʼn spesiale groep katkisante, die kategumene, wat hulle gedurende ʼn bepaalde tyd op hulle doop voorberei. Die instelling van kategumenaat het steeds uitgebrei. Die onderrigtydperk het gewissel van enkele maande tot enkele jare. Na die doop is die nuwelinge tot die Heilige Nagmaal toegelaat en ontvang hulle nadere onderrig. ʼn Bekende katkisasieboek uit die ou kerk is uit die hand van Augustinus en het as titel De catechizandibus rudibus. In die boek beskryf Augustinus die doel van die kategese as die heenlei na geloof, hoop en liefde. Die leerinhoud het bestaan uit verskillende onderafdelings soos die Bybel, die gebooie, kerkgeskiedenis en dergelike. Die onderrigmetode het bestaan uit vertelling (narratio), ondervraging (interrogatio) en aansporing (exhortatio). Uit alles blyk dat dit daarop gerig was om mense te leer om as Christene in die daaglikse bestaan van die Romeinse wêreld te lewe. In die Middeleeue het die kategese weggekwyn. Die enigste vorm van kerklike kategese was die kategese wat die biegvader aan die biegteling gegee het.

Na die insinking tydens die Middeleeue het die kategese in die tyd van die Reformasie ʼn geweldige opbloei beleef. Dit het begin in Wittenberg. Daar het Luther, ontsteld oor die omvang van die onkunde, persoonlik die kategese ter hand geneem. In Zürich, Straatsburg, Genève, Heidelberg en baie ander plekke word sy voorbeeld gevolg en oral word lewendige aktiwiteit op die gebied van die kategese waargeneem. Oor die algemeen het die kategese uitgegaan van die gedagte dat die kind wat gedoop is terwyl hy nog nie daarvan bewus was nie, wanneer hy tot sy verstand gekom het, onderrig behoort te word om daarna persoonlik sy geloof te bely. Daarna word hy tot die Heilige Nagmaal toegelaat. Per definisie bly ʼn mens sy lewe lank ʼn leerling. Gesin, kerk en skool vorm ʼn driehoek in hierdie kategese. Ouers is aangespoor om hulle kinders na die skool en na katkisasie deur die kerk te stuur. Predikante het skole geïnspekteer. Skoolregulasies is in kerkordes opgeneem en die skoolmeester gaan saam met sy leerlinge kerk toe. Tallose kategismusse het tydens die Reformasie verskyn. Ons noem, byvoorbeeld, die Groot-  en die Klein Kategismus van Luther (1529), die Kategismus van Genève (1542) en die bekende Heidelbergse Kategismus (1563). Uit alles blyk dat die reformatoriese kategese diens is aan die Woord. Die leerstof kom uit die Bybel en wil nie anders as ʼn vertolking daarvan wees nie. Die vele Skrifverwysings onder die vrae en antwoorde in die kategismusse is sprekende bewys daarvan.

Die kennis wat die kategese wil tuisbring is verstandskennis. Maar dié kennis staan nooit opsigself nie. Dit staan altyd in noue verband met die kennis van die belewing en bevinding van die hart. Dié kennis is geloofskennis, en ʼn ander kennis kom nie in die reformatoriese kategese ter sprake nie. Die kognitiewe en die affektiewe elemente is onlosmaaklik daarin met mekaar verbind. Die doel van ʼn Christelike lewe kry alle aandag. Kategese is lesse hoe om as Christen te lewe. Die Heidelberger ken naas kennis van die ellende, ook kennis van die verlossing en van die dankbaarheid.

Later het die kategese in intellektualistiese vaarwaters beland. Daar kom ʼn skeiding tussen verstand en hart. Die skadelike gevolge hiervan is tot in ons tyd toe merkbaar. Rede genoeg om die laaste tyd herhaaldelik te beklemtoon dat kategese nie net kognitief moet wees nie, maar ook affektief. Jammer genoeg kan mens dan weer omslaan en die kognitiewe heeltemal uitweer. Dit is ewe verkeerd. Kategese omvat die hele mens: hoof, hart en hand.

Enkele Definisies🔗

As ons nou ʼn paar formulerings onder oë neem van wat onder kategese verstaan moet word, tref dit ons dat verskeie definisies daarvan onderstreep dat kategese ʼn funksie van die gemeente is. Berkelbacht v.d. Sprenkel, K. Dijk, Ten Have, Bijlsma en onlangs, Van de Bank deel dié denkwyse. Dingemans en Schippers bepleit elkeen op hulle eie manier die deelnamegedagte in die kategese. Dit wil sê dat die katkisant deur die kategese aan die lewe van die gemeente deelneem. Maatskaplike betrokkenheid word ook hieraan gekoppel. By nuwere kategete soos Klink en Van de Ven ondergaan die kategese ʼn metamorfose. Hulle distansieer hulle van die tradisionele kategese, as bevestiging van die status quo. By iemand soos D. Sölle in haar boekie ‘Niet alleen maar ja en amen’ kry kategese ’n politieke kleur.

Ten Slotte🔗

Ons wil hierdie artikel afsluit deur ʼn paar aandagspunte te noem wat na ons mening by kategese verreken behoort te word.

  1. Kategese is kennisoordrag. Dit gaan oor die oordrag van Bybelse feite, verwoord in die belydenis van die kerk. Hierdie verstandskennis moet geïntegreer word in die hele menswees. Hierdie kennis is onmisbaar. Die uitspraak van Hosea is daarom veelseggend: “My volk gaan te gronde weens ʼn gebrek aan kennis” (Hosea 4:6).

  2. Kategese moet gerig wees op dissipelskap. Daarin kan die affektiewe element naas die kognitiewe heeltemal tot sy reg kom. Dit gaan oor ʼn lewe in navolging van die Here: om Hom te ken en op sy pad te wandel.

  3. Kategese moet gerig word op bewuste deelname aan die lewe van die Christelike gemeente. Alle kategese, ook onder die kinders, is ten diepste belydenis-kategese wat heenlei na daardie moment waarop God se Naam in die midde van die gemeente bely word. Ook voortgesette kategese moet nou met die gemeente verbonde wees.

  4. Kategese is rigtinggewing vir Christelike lewe. Die kategeet wys vir die katkisant die rigting aan en stap saam met hom die Bybelse pad in die doolhof van verwarring wat die lewe vandag bedreig.

  5. Ten slotte wil ons onderstreep dat kategese ʼn pastorale karakter moet hê. Die leraar is ʼn herder. In ʼn pastoraal gestruktureerde kategese kan die verskillende aandagspunte optimaal tot hulle reg kom.