Bron: Die Kerkblad, 2007. 3 bladsye.

Wat Leer Calvyn oor die Verhouding tussen Kerk en Staat?

Dramatiese Denkwyse🔗

Die 16de eeu, die eeu van die groot Kerkhervorming, was ook ’n eeu van groot teater. ’n Opvallende beklemtoning hiervan lê, byvoorbeeld, daarin dat Calvyn se sterfjaar en William Shakespeare se geboortejaar saamval - 1564! Hoe uiteenlopend hierdie twee begenadigde mense ook al in hulle denke was, tog stem hulle op ’n merkwaardige wyse daarin ooreen dat hulle albei die wêreld as één, magtige teater sien. Waar Shakespeare kon sing: “All the world’s a stage, and all the men and women merely players”, kon Calvyn in verwondering uitroep: “Die heelal is ’n skitterende teater van God” - ’n skouburg waarin ons as mensies sowel toeskouers as akteurs is.

Soos Shakespeare ná hom, sou Calvyn die dramatiese element veral in die optrede van konings en ander hooggeplaastes ontdek. “Konings is as ‘t ware in ’n teater geplaas en die oë van almal is op hulle gerig,” skryf hy in sy Jeremia-kommentaar. ln hierdie “teater” verkry die kerk ook ’n plek - naas die konings en ander regeerders. Daarmee kom die verhouding tussen kerk en staat onder ’n dramatiese beligting te staan. Calvyn is daarvan bewus dat ook hy en ander kerkleiers ’n openbare rol in God se teater vertolk. Teenoor sekere politieke “supersterre” (aldus Bouwsma) wat hulle rolle as “komedies” in staatsverband uitspeel, kon Calvyn met vertroue aan sy groot vriend, Melanchton, skryf: “Laat dit (die kerk) my teater wees en laat ek tevrede wees met háár goedkeuring!”

Kerk en Saat in dieselfde Goddelike Drama🔗

ln die grootse teater, wat die geskiedenis van hemel en die aarde omspan, voer die goddelike Dramaturg sy kyk- en hoorspel van skepping, sondeval, beloftes en verlossing in Christus op. Die middelpunt van hierdie drama, soos dit hom nou in die laaste bedryf vóór die wederkoms van Christus afspeel, is die kerk as sigbare liggaam van Christus op aarde. Die kerk vorm as ‘t ware die binneste sirkel van hierdie drama. Die kerk se rol is om op ’n direkte wyse die Woord van God te verkondig. Wanneer gelowiges in die eredienste van die kerk byeenkom, sonder hulle hul van die wêreld af en vorm ’n soort “hemelse teater'” waarby die engele die toeskouers is (Calvyn se opmerking by Ps 138:1). Dit is net die kerk wat hierdie spesifieke rol op aarde kan vervul. “Die verhouding is so dat die normatiewe impulse van binne na buite vloei, van die nouer na die wyer sirkel, van kerk na staaf” (Thielicke).

Tog staan die kerk nie téénoor die staat nie - asof die staat ’n vreemdeling in God se Koninkryk sou wees. Daar is ’n onverbreeklike band tussen staat en kerk, want albei is akteurs in God se drama. Die Calvyn-kenner. Battles, praat selfs van ’n “goddelik-bepaalde simbiose” wat Calvyn tussen kerk en staat waarneem.

Geen Kerkstaat🔗

Op pad na die einde van die laaste bedryf van sy kosmiese drama gebruik die Hemelse Dramaturg dus ook die staat as ’n belangrike akteur in sy “rolverdeling”. Calvyn dink daarby veral aan ’n “Christelike” staat - soos dit in die na-Konstantynse tydperk ontstaan het; nie aan ’n situasie waarin die owerheid neutraal of selfs anti-Christelik is nie - soos dikwels in ons tyd. Die staat staan nie onder die kerk nie - hy is ’n eie rolspeler in die Koninkryksdrama. Hy is self verantwoordelik aan die Here vir die vertolking van sy rol.

Calvyn ken nie iets soos ’n “kerkstaat” nie - waar die staat, soos in die Rooms-Katolieke stelsel, deur die kerk beheer word. Die kerk mag, byvoorbeeld, nooit die swaardmag van die staat oorneem nie. Calvyn word ook nie moeg om te beklemtoon dat die kerk gehoorsaamheid aan die staat, as eiesoortige dienaar van God, verskuldig is nie. Die kerk moet gedurig vir die staat voorbidding doen. Daardeur moet die staat bemoedig word om sy eie rol met groter toewyding te vertolk.

Calvyn vat hierdie eie rol van die staat soos volg saam: dat ’n openbare beeld van hulle godsdiens onder Christene (nie net in die kerk nie!) moet bestaan en beleefdheid onder mense onder mekaar - humaniteit is die wat hy gebruik (Inst.4.20.3). In ’n mooi boek oor Calvyn se teologie van die Psalms wys die Nederlandse teoloog, Herman Seldenrust, daarop hoe dringend die Hervormer uit  ’n Psalm soos die 72ste talle oproepe tot geregtigheid en hulp vir die armes en verdruktes aan regerings laat uitgaan; “ ’n Goeie owerheid is herkenbaar aan die handhawing van die regte vir die armes en verdruktes.”

Geen Staatskerk🔗

Aan die ander kant ken Calvyn egter ook nie ’n “staatskerk” nie - waar die kerk eintlik geen eie rol meer teenoor die staat het nie. Die kerk se rol gaan dan op in sy “geestelike” taak: die saligheid van individuele siele. Talle waarnemers sien hierdie rolvertolking onder andere, as ’n uitvloeisel van Luther se beskouing oor kerk en staat, soos dit in die Duitse staatskerk van die Hitler-era voorgekom het. Hoe Luther se benadering ook al beoordeel mag word, Calvyn, daarteenoor, beskou die rol van die kerk teenoor die staat as lojaalkrities. Die staat moes eerbiedig word ter wille van die feit dat hy ’n dienaar van God is (Rom 13), wat chaos moet temper en orde in die samelewing moet bewaar. Dit was ’n aspek wat vroeër sterk benadruk is deur sekere Calviniste (dink maar aan die meningsverskil oor die Rebellie van 1914!).

Onlangse navorsing oor preke van die ouer Calvyn - waarvan sommige nie vroeër gepubliseer was nie - het egter ook ’n ander kant van Calvyn belig. Hy skroom, byvoorbeeld, nie om onderdane wie se prinse hulle tot afgodery (soos deelname aan die Roomse Mis) wou bring, te oortuig dat sulke owerhede “nie groter gesag oor ons het as paddas en luise nie!” Dit is gewaagde taal in ’n tyd waarin die goddelike reg van konings nog algemeen aanvaar is. ’n Goeie dosyn van sulke uiters kritiese uitsprake uit die genoemde preke kan aangehaal word.

’n Aristokraties-Republikeinse Regeringsvorm🔗

Juis omdat Calvyn kerk en staat in hulle noue verweefdheid binne die Koninkryksdrama van God verstaan, wil hy hom ook nie tot een enkele staatsvorm verbind nie. Weliswaar ontwikkel hy sy gedagtes oor die staat binne die Genève van sy tyd, waarin die Raad van Genève baie mag het en dikwels Calvyn se ideale sou weerstaan. Tog gaan die Hervormer, ten minste teoreties, sy eie weg. Hy streef na ’n staatsvorm wat veral op die lees van die Ou Testament geskoei is.

Die bekende Duitse teoloog, Pannenberg, vat hierdie visie mooi saam: die wyse waarop Moses as charismatiese figuur die volk gelei het, asook die Geesgeleide regeringsvorm van die Rigtertyd, vorm vir Calvyn die “goddelike paradigma” of ideale voorbeeld vir sy eie tyd. Hy verkies ’n staatsvorm wat wel republikeins is, maar nie sonder meer ’n regering van die volk vir die volk en deur die volk nie. Eerder moet daar ’n deurslaggewende aristokratiese element teenwoordig wees.

Daarom het die Reformator ook so ’n hoë respek vir sogenaamde “magistrate” of “volkstribune”, wat in die tyd van die antieke Romeinse republiek ’n uiters belangrike rol in die handhawing van die openbare magsbalans gespeel het.

Reg van Verset🔗

Selfs teenoor ’n uiters slegte regering moet gelowiges nog met gehoorsaamheid optree. Dit is Calvyn se oorheersende standpunt. Eerder as om in opstand te kom, sal ’n gelowige “geduldig ween in die lag van God” oor die goddeloses. Hy sal selfs bid dat “God ons laat deel in sy eie goddelike lag” (kommentaar op Ps 37:13). Tog het Calvyn ’n beroemde paragraaf oor die reg van verset van die eerste tot die laaste uitgawe van sy Institusie onveranderd laat bly staan (4.20.31). Daarin verwys hy na die laere owerhede en spoor hulle aan om hulle te verset teen “konings wat onbeheers te kere gaan en nederige mense vertrap”. Hy noem hierdie laere owerhede “die beskermers van die vryheid van die volk” soos deur God daartoe aangestel.

Ongetwyfeld kon navolgers van Calvyn, soos die Hugenote in Frankryk en die Geuse in Nederland, hulle in hulle stryd om vryheid op sulke woorde van Calvyn beroep. Op ’n indirekte wyse is ’n “revolusionêre potensiaal” (Hesselink) in Calvyn se beskouings oor kerk en staat ingebou. Calvyn het self geen Christelike regverdiging vir politieke rebellie verskaf nie - allermins vir anargie. Hoogstens kan die Amerikaanse teoloog. Reinhold Niebuhr, daarin gelyk gegee word dat Calvyn se kritiese denke ten opsigte van korrupte prinse “die sluise oopgemaak het vir ’n nuwe tipe van gods­dienstige denke” waarin politieke rebellie soms noodsaaklik is.

Deurgaande Drama🔗

Die Hemelse Dramaturg gee vir ons nou in Suid-Afrika - onder ’n owerheid wat allermins Christelik genoem kan word! - ons rolle om op die verhoog van die wêreld uit te speel. ln die uit­voering daarvan “moet ons nie net na die laaste honderd jaar of so kyk nie, maar na die tyd sedert die skepping van die wêreld” (soos Calvyn in ’n preek oor die boek Job sê).

Dan sal ons ook uit Calvyn se beskouings van 500 jaar gelede die altyd relevante beginsel saamneem: Gehoorsaam die owerhede, maar gehoorsaam God meer as mense!