2 bladsye.

Wat 'n Werk!

As God vír ons is, wie kan teen ons wees?

Romeine 8:31

Is God vir elke mens, en is elke mens kragtens hierdie sinnetjie reg met God? Kan almal van die standpunt uitgaan: God is vir my, ek kan maar rustig verder lewe?

Dit sou 'n fatale vergissing wees. As iemand in dié waan sou lewe, sal hy bedroë uitkom.

Paulus praat as 'n gelowige met gelowiges. Die ‘ons’ van hierdie teks is die gelowiges in Rome, aan wie Paulus die brief skryf. In die voorafgaande hoofstukke het hy die mens wat in sonde leef, maar in wie se lewe God se Woord geklink het en God se Gees gewerk het, helder en duidelik geteken. Ja, dit is nie ‘klein sakies’ wat die skrywer in hoofstukke 5 tot 7 aan die orde gestel het nie. “Omdat ons dan uit die geloof geregverdig is, het ons vrede by God deur onse Here Jesus Christus” (Romeine 5:1). Dit geld net vir hulle wat glo. Só moet ons alles bekyk wat in Romeine 8 geskryf is, asook die loflied van die geloof waarmee Paulus die hoofstuk afsluit. Dié loflied kan net deur 'n gelowige gesing word en dit is ook net vir 'n gelowige bestem. En omdat dit die rykdom van die geloof besing, kan dit ook alleen in die geloof verstaan word.

Dit is 'n wonder dat God vir sondaars kan en wil wees, maar daar het baie werk voorafgegaan. Paulus het daaroor geskryf. Wanneer ons oor hierdie teks nadink, is dit nodig om 'n bietjie terug te kyk en na te gaan wat alles hieraan voorafgegaan het. Dit bring ons by die uitvoering van God se heilsgedagtes. Wat moes nie alles verrig word sodat Paulus dit kon sê, en ons dit in geloof kan nasê, nie! In geloof nasê — dit beteken bely, eenmaal en telkens weer. Belydenis doen is nie om iets nuuts te sê nie. Dit is nie die inhoud van die belydenis wat nuut is nie, maar dat 'n sondige mensekind soos u en ek dit sê, dít is elke keer nuut. Daarom is 'n belydenis altyd weer 'n nuwe begin.

Wat moes daar dan alles gedoen word dat ons dit kan bely?

Allereers, van God se kant: Hy moes sy Seun stuur, wat in ons plek kon en wou staan. Hy moes kom staan in die plek van mense wat teen God is en teen wie God is. Dit het Jesus Christus tot in sy diepste wese ervaar. Hierdie plek het immers meegebring dat God nou teen Hom moes wees. Hy was met elke hartklop van sy lewe vír God en nou was God teen Hom. Dit was vir Hom 'n onpeilbare lyding. O Vader, hoe kan U nou teen My wees, Ek wat altyd vir U was? Waarmee het Ek dit verdien? Hy het dit uitgeroep: My God, my God, waarom het U My verlaat? (Matt. 27:46; Markus 15:34). Waarom is U heeltemal teen My, U eie Seun? Maar dit was die gevolg van sy borgskap. En ons, wat teen God is, moet sê: dit het alles gebeur weens my sonde.

Hierdie heilswerk het die Seun die dood gekos. Hy het sy bloed gestort sodat God vír sondaars kan wees.

Maar daarmee het die sondaar nog nie tot God gekeer nie. Die verlossing moet in mense se lewens inkom. As God vir my is, dan moet ek, wat teen God ingaan, vír God wees. My nee moet verander word in 'n hartlike ja.

Christus het sy Gees uitgestort, en die Gees bring die verlossing tot sy doel. Die Gees werk so in iemand wat teen God is, dat Hy na God begin vra, Hom soek, sy afkeer aan God bely en gaan roep om God se genade. Ja, die Gees open die oë vir daardie groot wonder: God is vir ons.

Daar is verskillende weë waarop die Here gaan om dit in mense se lewens uit te werk.

Baie wat op die erfgrond van die verbond gebore is, ken nie 'n duidelike rigtingverandering of 'n aanwysbare keerpunt in hulle lewe nie. Op sigself is dit ook nie nodig nie. Maar dit is vir elkeen nodig om te besef dat dit nie vanselfsprekend is dat God vir ons is nie. As ons onder die Evangelie, as’t ware in die kerk, gebore is, moet mens persoonlik by dié Evangelie ‘betrek’ word. Dit kan plotseling of geleidelik wees. Daar kan 'n tyd van teenstand en stryd wees wat deur 'n onverwagte gebeurtenis meteens verander. Dit kan ook wees dat, deur die prediking of die lees van God se Woord, dit is asof God op ’n dag baie persoonlik tot ons spreek, asof ons eie saak nou direk op die spel is. Dán skielik word ons oë vir God se wonder en werk geopen: Hy is vir ons.

Hoe ouer ons word en hoe langer ons op die geloofspad is, hoe beter verstaan ons wat hierdie belydenis inhou: God vir ons!

Vir my, Here?

My God ek sal u ewig loof, omdat Ú dit gedoen het.