Bron: Die Kerkblad, 2008. 2 bladsye.

Wat is waarheid?

vraagtekens

Die vraag van Pilatus aan Jesus, “Wat is waarheid?” (Joh 18:38), het teoloë en filosowe deur die eeue besig gehou en daar is diepsinnige teorieë hieroor ontwikkel. Mens sou Pilatus nou nie juis as ’n diepsinnige filosoof kon beskryf nie, maar wel as pragmatiese (of eerder pragmatistiese) politikus. Nietemin bly sy vraag van blywende betekenis.

Soos genoem, is daar deur die loop van eeue talle antwoorde op hierdie vraag gegee. Een antwoord is: daar bestaan geen vaste waarhede nie, en selfs al sou dit ook bestaan, kan dit nooit deur die mens geken word nie. Aan die woord is die skeptikus wat alle kennis betwyfel. Dis nogal interessant dat die woord “skepties” van die Griekse woord skeptomai afgelei is wat “ondersoek” beteken. Dis dikwels die ondersoekende mens wat tot twyfel oorgaan omdat daar skynbaar nêrens vaste waarhede te vind is nie.

Die argument van die skeptikus is egter selfondermynend. Om te sê “daar bestaan geen vaste waarhede nie” is bedoel as ’n waarheidsuitspraak, en as dÍt waar is, kan daar ook ander waarhede bestaan.

Nee, sê die rasionalis, wat sy verstand as hoogste maatstaf vir alles maak. Daar bestaan inderdaad vaste waarhede. 2 + 2 = 4, dit kan niemand betwyfel nie; ’n weduwee is ’n ongetroude vrou, dit staan tog soos ’n paal bo water. En kyk net watter enorme tegnologiese vooruitgang het die moderne mens met sy “gesonde” verstand gemaak!

Maar die mens met sy wonderlike tegnologie en groot verstand kon nie verhoed dat die Titanic sink, miljoene mense in twee wêreldoorloë en talle lokale oorloë sterf en dat die ekologiese versteuring in die twintigste eeu astronomiese afmetings aanneem nie. Die mens se verstand is ’n wonderlike gawe van God, maar dít alleen is nie genoeg om die planeet aarde in sy baan te hou nie. ’n Mens se verstand verskaf nie outomatiese morele kodes nie, en selfs al sou dit die geval wees, is die mens self nie in staat om volgens daardie moraliteit te leef nie. Rasionalisme kan ook nooit die diepgevoelde behoefte aan spiritualiteit by die mens bevredig nie.

Nee, sê ’n derde ondersoeker, by die verstand moet nog iets bykom: ervaring, waarneming, toetsing. As iets nie gekontroleer kan word nie, kan dit nooit as waarheid aanvaar word nie. Byvoorbeeld: omdat die opstanding van Jesus op geen enkele wyse getoets en gekontroleer kan word nie, moet dit as fiksie afgewys word. Dit geld natuurlik vir alle wonders in die Bybel.

Drakensberg

Maar waarneming kan ook verleidelik wees. Steek net ’n reguit stok in water en dit vertoon krom. Of kyk na die pieke van die Drakensberge, en Cathkin Peak (3 149 m) lyk veel hoër as Champagne Castle (3 377 m), terwyl laasgenoemde 228 meter hoër as eersgenoemde is. Vir ons as mense voel en lyk dit asof die son om die aarde draai, maar in werklikheid is dit die aarde wat om sy eie as draai. Natuurlik kan ons eerste waarneming deur middel van wetenskaplike metodes ondersoek, gekorrigeer en verfyn word, maar selfs die mens se beste wetenskaplike resultate bly altyd oop vir verandering en vernuwing. Menslike kennis, juis omdat dit ménslike kennis is, bly altyd onaf, beperk en voorlopig.

Juis op hierdie aspek het die postmodernisme tereg die aandag gevestig. Sommige standpunte van die postmodernisme slaan te ver deur as (soms) geredeneer word – byna soos by die skeptisisme – dat daar geen vaste waarhede bestaan nie. Ons mag egter nie uit die beperktheid van ons kennis konkludeer tot die onegtheid daarvan nie.

Wag ’n bietjie, sê die teoloog aan al die bogenoemde standpunte. Bestaan daar nie ook iets soos geopenbaarde waarhede nie, waarhede wat God aan die mens gee? Hoe weet ons waar die heelal vandaan kom? Hoe weet ons waarheen alles op pad is? Hoe weet ons wat die sin van die lewe is? Hoe weet ons om goed en reg te lewe? Hoe weet ons van God? Hoe weet ons dat Jesus die Messias is? Hoe weet ons dat Jesus die Here is?

Die Christelike geloof voeg ’n nuwe dimensie van kennis by, ’n bonatuurlike. God openbaar Hom aan die mens, in sy skepping, in sy Woord en in besonder in Jesus Christus. Sonder openbaring is daar geen geloof, geen kerk en geen Christen moontlik nie. Wie die Bybel as Godsopenbaring skrap, of onderwaardeer, plaas hom/haar buite die Christelike geloof.

Die Christelike geloof gaan uit van fundamentele waarhede, is dus “fundamentalisties” in die goeie sin van die woord (Want fundamentalisme het ook 'n baie donker kant).

Die Christelike geloof neem ’n bepaalde – nie in alle opsigte “bewysbare” nie – uitgangspunt, soos wat die ongelowige en ateïs ook ’n onbewysbare vertrekpunt het. Die ateïs kan nie bewys dat God nié bestaan nie, ook nie dat die skepping nié deur Hom ontstaan het nie. Die Christelike geloof bied myns insiens ’n veel sinvoller verklaring van die ontstaan en doel van die aardse werklikheid as wat die ateïsme doen.

Christene bely dat die koms van die koninkryk van God die sin van die wêreldgeskiedenis is. Hulle glo dat met die kruis en opstanding van Jesus Christus, en met die uitstorting van die Heilige Gees, die koninkryk op aarde grondgevat het. Hulle aanvaar dat die waarheid hulle vrymaak en hulle probeer vasstaan in die vryheid waarmee Christus hulle vrygemaak het. Hulle is op weg na ’n Groot Toekoms, ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde, waar alles skoon en vry en waar is.