Bron: Die Kerkblad, 1986. 2 bladsye.

Werk – met geduld

Daar is seker min dinge wat vir mense so swaar is as om te moet wag. Moontlik is 'n vrou beter in staat om dit te doen, omdat sy geduldig haar tyd moet afwag wanneer sy moeder gaan word! Maar dit is dikwels so uiters swaar vir 'n man, wat meer gewoon daaraan is om na buite te werk en om in sy lewe allerlei te doen.

Dink net aan die opgekropte gevoelens van 'n mens wat vir 'n onderhoud opgeroep word. Hy moes eers 'n hele reis aflê en is op die bestemde tyd daar. In die kantoor sê hulle vir hom dat hy maar eers moet wag. En toe word die wagtyd die hele dag, totdat hulle by toemaaktyd sê hy moet maar huis toe gaan – sonder dat 'n woord met hom gepraat is. Hy is seker dat hy nie vir die werk gekeur word nie, maar kry toe wel die pos. Hoekom? Onder meer, en baie sterk as aanbe­veling, omdat hy bereid was om met geduld te wag – hulle het hom laat kom en koste betaal, sodat hy hom maar na hulle reëlings moet skik. Sien jy kans om so te wag, of sou jy al vroeg ontplof of dalk weggestorm het?

Maar wag-met-geduld beklee so 'n belangrike plek in die Bybel en in die lewe van God se kinders.

  • Dink aan Abraham aan wie die Here 'n talryke nageslag en 'n land as erfenis beloof het. So ook Isak en Esau. En almaardeur kon hulle net vir hulle kinders sê: "Ja, dit kom, want die Here het dit beloof, ons moet maar in die geloof geduld hê."
  • Daar is Moses wat op 'n manier innerlik bewus word van sy groot roeping. As hy 40 jaar oud is, neem hy die saak in eie hande — en slaan 'n Egiptenaar dood! Die gevolg? Hy moet vlug en nog 40 jaar wag voor die Here hom aankeer — en dan deins hy terug vir die taak.
  • Wat sou van Dawid en Israel geword het as hierdie jong man ongeduldig begin raak het? Hy was tog al klaar as koning gesalf en kon net die proses aangehelp het as hy in die grot Saul doodgemaak het. Maar hy erken die beskikking van die Here en die posisie van Saul as een wat aangewys is en op God se tyd afgelos sou word.
  • Petrus moet ook nie uit deur sy geduld nie, dog storm soms ook maar ongedurig in. Soos kort na sy pragtige belydenis (Matteus 16) as hy Jesus ernstig aanspreek oor die lydenspad wat Hy moet loop. Dan blyk dit dat hier­die uitsoek-dissipel eintlik 'n groot teenstander is. En so gebeur dit dat Petrus in die tuin 'n swaard uitruk, om binne enkele ure daarna enige verbinding met Jesus van Nasaret te ontken. Later tree hy op Pinksterdag weer na vore om daardie groot boodskap te lewer — maar daarna moet Paulus hom weer openlik voor die Galasiërs aanspreek omdat hy afwykend handel.

Dit het uit die voorgaande al duidelik geblyk dat selfs in diens van die Here pas menslike haas en ongeduld glad nie. Met groot duidelikheid blyk dit juis in die roeping en lewe van Paulus. Onthou hierby die volgende gegewens.

Paulus was 'n doener, volgens sy eie persoonlike opmaak en in ooreenstemming met sy Joods gods­dienstige beskouings — om die Wet in sy menigvuldige bepalings sorgvuldig te onderhou.

Hy het in sy ywer vir God se saak (soos hy gemeen het) die rituele moord op Stefanus goedgekeur. Daarna het hy, op 'n eenmansending, met fanatiekheid die kerk van Christus probeer uitwis. Juis in hierdie besetenheid van hom (Handelinge 9:1) het hy selfs na Damaskus uitgetrek om Christene met die dood te dreig.

Op hierdie tog staan die Here Jesus hom met 'n pad­blokkade voor — soos wat vroeër ook met 'n Bileam op pad vir 'n vloeksessie gebeur het. Paulus word met magtelose blindheid geslaan. Daarna hoor hy van Ananias dat hy deur God gekies is. Hy sal 'n besondere instrument van God wees — onder die heidennasies, voor konings en onder sy eie volk Israel. Paulus sien sy lewensroeping later self as die apostel onder die heidene (of diegene wat nie soos Israel 'n Ou Testament en 'n verbond met God gehad het nie). Dit was nou 'n groot werk. En dit is tewens vandag nog 'n groot taak as ons sou dink aan die miljoene wat God nie deur sy gestuurde Gesalfde ken en dien nie.

Die eienaardigste is egter as ons kyk wat met Paulus gebeur het nadat hy weer in Damaskus kon sien. Ja, hy begin direk preek en verkondig dat Jesus die Seun van God en dat Hy die Christus is. Dan kom Paulus self onder doodsdreiging en hy moet vlug. Om dadelik elders te begin werk? Beslis nie, want tussen Handelinge 9:25 en 26 lê al 'n spanne tyd. En daarna moes Paulus verder met geduld wag. Tussen sy bekering voor Damaskus en sy werk in Antiogië en uitgaan op sendingreise lê minstens 10 jaar. Dus: die Here het werk vir Paulus, maar hy moet wag totdat die Here uitstuur.

So lê 1986 en groot werk voor. Gelowiges sal moet leer om elke dag getrou hulle plig te doen — en verder die roeping van die Here met geduld af te wag. En dan kan dit gebeur dat Christene elders en hier met geduld verdrukking sal moet verdra.