Bron: Vox Viva. 3 bladsye.

Wettige en Onwettige Kerk

In Artikel 29 van die Nederlandse Geloofsbelydenis Bely die Kerk dat die Volgende met die Woord Ooreenstem:🔗

Ons glo dat ons sorgvuldig en met groot oplettendheid uit die Woord van God behoort te onderskei watter kerk die ware kerk is, aangesien al die sektes wat daar vandag in die wêreld is, hulle ten onregte die naam “kerk” toe-eien. Ons praat hier nie van die huigelaars wat in die kerk met die goeies vermeng is en tog nie aan die kerk behoort nie, alhoewel hulle uiterlik daarin is, maar ons sê dat ’n mens die liggaam en die gemeenskap van die ware kerk moet onderskei van al die sektes, wat beweer dat hulle die kerk is. Die kenmerke waaraan ons die ware kerk kan uitken is die volgende: wanneer die kerk die evangelie suiwer preek, die sakramente suiwer bedien soos Christus dit ingestel het en die kerklike tug gebruik om die sondes te straf. Kortom: wanneer almal hulle ooreenkomstig die suiwere Woord van God gedra, alles wat daarmee in stryd is, verwerp, en Jesus Christus as die enigste Hoof erken. Hieraan kan ons met sekerheid die ware kerk uitken en niemand het die reg om hom daarvan af te skei nie. Vervolgens, aangaande die lidmate van die kerk: Ons kan hulle uitken aan die kenmerke van die Christene naamlik hulle geloof dat hulle die enigste Verlosser, Jesus Christus, aangeneem het en dat hulle daarna die sonde ontvlug, die geregtigheid najaag, die ware God en hulle naaste liefhet, nie na regs of links afwyk nie en hulle sondige natuur met sy werke kruisig. Hiermee sê ons nie dat daar nie nog groot swakheid in hulle is nie. Inteendeel, deur die Gees stry hulle juis al die dae van hulle lewe daarteen, terwyl hulle altyd weer hulle toevlug neem tot die bloed, die dood, die lyding en gehoorsaamheid van die Here Jesus Christus, in wie hulle deur die geloof in Hom vergewing van hulle sondes het. Wat die valse kerk betref: Dit skryf aan homself en sy besluite meer mag en gesag toe as aan die Woord van God; dit wil homself nie aan die juk van Christus onderwerp nie; dit bedien die sakramente nie soos Christus dit in Sy Woord beveel het nie, maar neem weg en voeg by na eie goeddunke; dit vertrou meer op mense as op Christus en dit vervolg húlle wat volgens die Woord van God heilig lewe en wat die valse kerk oor sy euwels, gierigheid en afgodery bestraf. Hierdie twee kerke kan maklik uitgeken en van mekaar onderskei word.

In aansluiting by verlede maand se artikel (getitel Semper Reformanda), wat handel oor artikels 27-28 NGB, val die fokus vandeesmaand op die vraag hoe ’n gelowige kan weet wáár die wettige (ware) kerk van Christus te vinde is. Artikel 29 wil die gelowige help om aan artikel 28 se roeping gehoorsaam te wees ten einde aan artikel 27 se katolieke kerk gestalte te gee. In artikel 28 bely ons immers dat die Skrif elke gelowige voor die roeping plaas om hom/haar af te skei van die onwettige kerk en daadwerklik te gaan voeg by die wettige kerk. Dit is ons ondubbelsinnige belydenis. Die vraag is egter: waaraan kan die wettige kerk uitgeken word? Volgens art 29 is dit glad nie ’n moeilike proses nie. Martin Luther stem daarmee saam: “Es weisz gottlob ein kind von 7 jahren, was de kirche sei.” “‘n Kind van 7 jaar weet goddank wat die kerk is”. Volgens Luther weet ‘n kind dat die kerk dáár is waar die skape die Herder se stem hoor en daaraan gehoor gee (vgl Joh 10:3). Dit beteken: Uit die Skrif onderskei ons die wettige kerk. Dit is egter geen populêre saak nie. Veral nie in die huidige konteks van ekumene-koors waar daar eenheid tussen kerke gesoek word – selfs ten koste van die Waarheid – nie. Reeds vanaf die 16e eeu roep artikel 29 veel verset op. Die begrip “vals kerk” val te hard op die oor en die begrip “ware kerk” klink veels te arrogant. Geen wonder dat daar tans ook maar liefs geswyg word oor die inhoud van artikel 29, of dat dit verplaas word tot die historiese konteks van die Reformasie en dáár gelaat word. Dus ‘n agterhaalde belydenis wat geherinterpreteer moet word ten einde by die hedendaagse kerklike smaak te pas.

Eintlik is artikel 29 bedoel om heel prakties te funksioneer. Dit wil gewoon hulp verleen. Dit wil nie kerke onder ‘n kritiese oog plaas ten einde links en regs arrogante oordele te vel nie. Só ‘n gedagte pas net nie binne die historiese konteks van die Reformasie nie. Binne die historiese 16e eeuse situasie, wou artikel 29 gelowiges help om vanuit die Bybel te onderskei wáár die wettige kerk konkreet vergader is. Die kerke van die Reformasie was immers die voortsetting van die wettige kerk van Christus en dit is vanuit die Skrif duidelik. Die bedoeling is nie om wild en wakker allerlei kerke as “vals” te gaan etiketteer nie. Die kerk van Rome of die Pous word nie eens by name genoem nie. Dieselfde geld vir die wederdoperse groepe. Gelowiges moes egter gehelp word om uit die Skrif te onderskei tussen die aansprake van Rome en die Dopers en hulle te voeg by die reformatoriese kerk.

Die voor die hand liggende bedoeling van artikel 29 word versluier wanneer ‘n mens allerlei filosofiese denkbeelde daar gaan inlees. Dink byvoorbeeld aan die wysgerige konsep van ‘n “veelvormige” (pluriforme) kerk van A Kuyper. Hiervolgens is alle kerke vermeng met elemente van ware en valse kerk, sommige net meer suiwer as ander. Die moderne idee van ‘n “modaliteitskerk” sluit hierby aan. Hiervolgens word die “ware kerk” voorgestel as ‘n hotel met baie kamers, ‘n ruim huis, wat voorsiening maak vir alles en almal en tóg die eenheid behou. Die kerk maak dus voorsiening vir velerlei uiteenlopende “rigtings”(modaliteite) en almal word geakkommodeer onder een dak. In die geval van ‘n gereformeerde kerk, sou dit impliseer dat die belydenisskrifte (die apostoliese leer) deur die verskillende modaliteite na eie sin hanteer en geïnterpreteer word en dat die modaliteite verdra word binne die gewaande “eenheid” van die kerk.

Sowel die idee van ‘n pluriforme kerk as die konsep van ‘n modaliteitskerk kom op vanuit die wysbegeerte (dit is mens-ontwerpte konsepte) en is in stryd met die Skrif en die gereformeerde belydenis. Dit plaas ook artikel 29 onder ‘n onbillike druk en koppel ‘n bedoeling aan hierdie artikel wat dit oorspronklik nooit gehad het nie. Tewens, volgens artikel 29 kan nóg ‘n pluriforme kerk nóg ‘n modaliteitskerk die wettige kerk van Christus wees. In die wettige kerk is daar gewoon nie ruimte vir relatiwisme nie. Dit sien ‘n mens in die groot eenvoud waarmee artikel 29 volgens die Skrif die kenmerke van wettige en onwettige kerk uitspel.

Teenoor die wederdopers, bely ons dat die wettige kerk nie volmaak is nie. Juis daarom is die tug noodsaaklik. In die wettige kerk kan daar vele huigelaars (skyn-gelowiges) wees (Mat 13) wat uiterlik tot die kerk behoort, maar geen ware gelowiges is nie. Daarby worstel die gelówiges nog met vele swakhede, alhoewel hulle in Christus glo, die sondes ontvlug en die sondige natuur kruisig. Tóg stry hulle teen groot swakhede en moet telkens weer hulle toevlug neem tot die bloed van Christus.

Indien die wettige kerk se lidmate nie volmaak is nie, wat kenmerk dan die wettige kerk? In kort: 1) Waar Christus die enigste Hoof is en waar 2) Sy Woord alle seggenskap het en 3) alles wat daarmee in stryd is, verwerp word.

Daar is DRIE MIDDELE waardeur die Gees a) die genade van God aan die wettige kerk SKENK, b) die gelowiges in die genade VERSTERK en c) die gelowiges in die genade BEWAAR.

  1. Die Gees skenk die genade deur die suiwere prediking

  2. Die Gees versterk die kerk in die genade deur die suiwere bediening van die sakramente

  3. Die Gees bewaar die kerk in die genade deur die toepas van die tug

Nie dát daar gepreek word en die sakramente bedien word, maak die kerk wettig nie, maar die suiwerheid daarvan. Hiermee word bedoel dat die leer van die apostels bewaar word (Ef 2:20). Vervloek is diegene wat dit nie doen nie (Gal 1:8). Die wettige kerk beskerm immers die Waarheid (1 Tim 3:15). Die kerk van die Reformasie was die voortsetting van die wettige apostoliese kerk. Die suiwere onderwys van die apostels is vervat in die belydenisskrifte uit die tyd van Reformasie wat die kerk van die 21ste eeu verbind aan die suiwere verstaan van die evangelie.

Wat kenmerk die onwettige kerk – die kerk wat deformeer? Die antwoord is voor die hand liggend. Die gesag verskuif vanaf God na die méns – menslike kerklike heerskappy. Die gesag van die Woord word aangetas en dit word so verdra. By die onwettige kerk val die klem op verdraagsaamheid met die dwaalleer en onverdraagsaamheid met diegene wat van die kerk se besluite verskil. Ook die dwaling en die afwyking van die apostoliese leer word verdra onder die vaandel van “eenheid”, maar dit is helaas ‘n eenheid ten koste van die Waarheid. Nie die feit dát daar dwaling en foute in die kerk voorkom maak die kerk onwettig nie, maar die feit dat dit geakkommodeer word.

’n Kind van sewe jaar kan die ware kerk eien.