Bron: Waarheid en Dwaling. 2 bladsye.

Wie het die See Beveel?

Tsoenami

Kommunikasie- en inligtingstegnologie het ons in staat gestel om rondom die aarde kennis te neem van die geweldige tsoenami in die Indiese Oseaan op 26 Desember 2004. Reeds binne enkele minute en in die daaropvolgende ure kon ons die uitwerking van die vloedgolwe wat die kusgebiede getref het, waarneem.

Soos wat dit met enige skokkende gebeurtenis gaan, is die mensheid met verslaenheid getref, terwyl lydende oorlewendes verbete veg om behoud. Daarna het almal in beweging gekom om te help en op te ruim. Diegene wat die ramp oorleef het, is skokkend dankbaar. Baie van hulle is naasbestaandes van die meer as 150 000 wat gesterf het. Die nasorg van die miljoene oorlewende slagoffers verg gekoördineerde en vinnige spesialiteitshulp.

Dan kom die wysgere aan die woord. Hulle bied allerlei sielkundige en godsdienstige verklarings oor die hoekoms en waaroms van sulke katastrofes wat buite die menslike beheer lê. Daarmee probeer almal sin en betekenis aandui en wysgerige antwoorde bied op die vraagstuk wat so oud soos die mensheid self is: die sin van lyding, die betekenis van rampe. So word bedoel om te troos, te motiveer om aan te gaan, om van voor af te begin.

Godsdienstige leiers gryp na die biblioteke van literatuur wat reeds deur die geskiedenis oor hierdie onderwerp geskryf is. In elke godsdiens van die wêreld is daar een of meer verklarings vir hierdie verskynsel.

Besonder aktueel vir ons, is die antwoord wat bekende teoloë die afgelope weke in die openbare pers gegee het. Rampe soos hierdie kan nie en mag nie na God herlei word nie, sê hulle. Dit is onmoontlik om God en ramp aan mekaar te verbind. Dit kan vir hulle nie waar wees dat ʼn God van liefde verantwoordelik kan wees vir so ʼn verwoesting nie. As Hy enigsins bestaan, word dit betwyfel of Hy in beheer is van die gebeure in die heelal. God is vir hulle alleen maar ʼn versinsel van die mens om sy eie wense en aspirasies te projekteer en sy onverklaarbare belewenisse aanvaarbaar te maak.

Sulke antwoorde is niks nuuts nie. Die verskynsel van ateïsme het soos ʼn geestelike tsoenami eeue tevore reeds regoor ʼn eers Christelike Europa gekom en sy tienduisende verslaan. Veral sedert die opkoms van die Renaissance, die gevolglike wetenskapsomwenteling en die ontwerp van die liberaal-kritiese teologie, het die anti-God filosofie hand oor hand toegeneem. Die gesag van die Bybel as die betroubare openbaring van God het in die slag gebly. Die Skrifopenbaring word beskou as iets wat tot die antieke wêreld behoort, toe die mense nog in ʼn drie-vlakke wêreldbeeld vasgevang was. Alles wat hulle nie kon verklaar nie, is aan geeste, gode en bose magte toegeskryf. Dit is in mites en legendes verwoord. Sedertdien is die Bybel vir die kritiese teoloë ʼn ou irrelevante boek in ʼn nuwe wêreld. Vandag moet die verskynsels eerder natuurwetenskaplik as teologies verklaar word.

Die antwoorde in die openbare pers herinner ons aan die woorde van Psalm 14:1 ‘Die dwaas sê in sy hart: Daar is geen God nie’. Dit herinner ons ook aan die troosryke vermaning van Hebreërs 11:6 ‘En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ʼn beloner is van die wat Hom soek.'

Met hierdie onomkeerbare vaste en betroubare vertrekpunt mag ons as gelowiges nadink oor sulke katastrofiese gebeurtenisse. Ons mag nie probeer om God daar uit te werk nie – nie wanneer dit sulke oseaniese afmetings aanneem nie, maar ook nie wanneer dit ons persoonlike lewens as sulks raak nie.

see

Ons lees in die Bybel van die man Job. Sy historiese bestaan word met allerlei gegewens aan die begin en die einde van die boek aangedui. Deur die kritiese teoloë word hy egter as ʼn legende beskou. Nietemin, die res van die Bybel aanvaar dat Job, net soos die profete van die Ou Testament, werklik geleef het en dat dit wat met hom of hulle gebeur het daarom vir ons werklik troos moet bied (Jakobus 5:11). Wanneer Job in sy worstelgesprekke nie kan deurdring tot die sin en betekenis van die rampe wat oor hom gekom het nie, tree die HERE eindelik met hom in gesprek. Ons lees onder andere die volgende betekenisryke woorde van die HERE:

En wie het die see met deure afgesluit toe dit uitgebreek, uit die moederskoot voortgekom het? Toe Ek die wolk tot sy kleding gemaak het en die donkerheid tot sy windsel. Toe Ek my grens daarvoor uitgebreek en grendel en deure gemaak het; en gesê het: Tot hiertoe mag jy kom en nie verder nie; en hier word ʼn grens gestel vir jou trotse golwe. Het jy, solank as jy lewe, die môre ontbied, die dageraad sy plek aangewys, om die some van die aarde aan te gryp, sodat die goddelose daarvan afgeskud word? Dit neem nuwe vorme aan soos die klei onder ʼn seël; en die dinge kry gestalte soos ʼn kleed. En aan die goddelose word hulle lig ontneem, en die hoë arm word verbreek. Het jy gekom tot by die bronne van die see? En het jy rondgewandel in die binneste diepte van die wêreldvloed? Job 38:8-16

Ons mag nie oor hierdie dinge praat asof God self nie baie goed weet wat daar aangaan en dit volmaak bestuur en beheer nie. Ons mag nie maak asof hierdie dinge nie eksplisiet geprofeteer en aangewys is as die voetstappe van ons komende Here Jesus nie (Matteus 24). Hierdie dinge moet vir ons wat dit aanskou, ʼn duur les wees. Die Here Jesus het hierdie les self vir ons geleer, soos dit in Lukas 13:1-5 opgeteken is:

En in dieselfde tyd was daar mense teenwoordig wat Hom berig gebring het van die Galiléërs wie se bloed Pilatus met hulle offers gemeng het. En Jesus antwoord en sê vir hulle: Dink julle dat hierdie Galiléërs groter sondaars was as al die Galiléërs, omdat hulle sulke dinge gely het? Nee, sê Ek vir julle; maar as julle jul nie bekeer nie, sal julle almal net so omkom. Of daardie agttien op wie die toring van Silóam geval en hulle gedood het – dink julle dat hulle meer skuldig was as al die mense wat in Jerusalem woon? Nee, sê Ek vir julle; maar as julle jul nie bekeer nie, sal julle almal net so omkom.