Bron: Die Kerkblad. 2 bladsye.

Wie moet se?

Die kerk moet mense nie probeer voorsê nie. Nie oor seks nie, nie oor die staat nie en ook nie oor hulle verlossing nie. So skryf prof. Christina Landman van Unisa in Rapport van 24 September (Moet die kerk voorsê oor seks?). Hiermee roer die professor iets baie belangriks aan, en vir 'n verandering wil 'n mens met haar saamstem. Maar om ander redes as dié wat sy aanvoer.

In die artikel skryf prof. Landman dat die kerk in die vorige bedeling baie mag gehad het en veral oor drie dinge beheer gehad het: oor die staat, oor verlossing, en oor ons seksualiteit Die kerk het egter sy beheer oor die staat verloor. En nou lyk dit of sy beheer oor die ander twee terreine ook in gedrang kom. Die kerklike leer van Jesus as enigste Verlosser word bevraagteken (vgl. prof. Izak Spangenberg) en ook die kerklike taboe op voorhuwelikse seks (vgl. prof. Landman self).

Wat laasgenoemde betref, stel prof. Landman voor dat die kerk, pleks om mense se seksualiteit te wil beheer, hulle moet leer om vir hulleself te sorg wanneer hulle in moeilike morele situasies kom. Seks, beweer sy, is 'n private saak wat nie onder die kerk se beheer staan nie.

Onder wie se beheer staan ons?🔗

Dit is vir ons belangrik om van prof. Landman se artikel kennis te neem, maar om 'n ander rede as wat sy waarskynlik in die oog gehad het. Want haar artikel weerspieël 'n siening van die kerk wat baie algemeen in omloop is. Selfs onder Gereformeerdes kry 'n mens die idee dat die kerk 'n organisasie "daar bo" of "daar eenkant" is wat oor allerlei sake - ook oor ons lewe - beheer uitoefen of beheer wil uitoefen. Gevolglik, as iemand wil weet wat reg is, vra hy of sy: "Wat sê die kerk hieroor?" Die verwagting is dat "die kerk" ons moet voorsê.

So 'n siening van die kerk is, om die minste te sê, erg Rooms. Prof. Landman voel self aan dat haar beskrywing van die kerk in ons tyd sterk Middeleeuse trekke vertoon, want sy verwys na die hervormers as voorbeeld van opstand "teen die geweldige beheer van die kerk van daardie tyd".

Onder wie se beheer staan ons lewe dan? Onder die mens se eie beheer? Sodat elke faset van ons lewe, ook ons seksualiteit, iets is waaroor ons self besluit en self seggenskap het? Onder samelewingsbeheer? Sodat mense in gesprek met mekaar uitmaak wat reg en wat verkeerd is, soos prof. Landman in haar artikel blykbaar aan die hand doen?

As dit die geval is, het ons maar net een kwaad vir 'n ander verruil. Want dit berus nóg by die kerk nóg by die individu nóg by die samelewing om te besluit wat reg en wat verkeerd is. Die groot hervormer Johannes Calvyn het in die Bybel die groot antwoord raakgesien: Alles staan onder God se beheer. Hy sê wat reg en wat verkeerd is. En deur sy Woord en Gees lei Hy ons in sy waarheid sodat ons reg en verkeerd kan onderskei.

"So sê die Here"🔗

Daarom is dit nie die kerk wat sê dat mense hulle seksualiteit slegs binne die huwelik moet uitleef nie. Dit is God wat so sê. Die kerk praat maar net die Here na, volgens sy Woord. Dit is nie die kerk wat besluit het dat daar buite Jesus Christus geen saligheid is nie. Die kerk sê maar net so omdat God dit in die Bybel aan ons geopenbaar het. As 'n mens wil weet wat reg en wat verkeerd is, vra jy nie "Wat sê die kerk?" nie, maar: "Wat sê die Here?"

Wie is die kerk dan? Die kerk is nie 'n organisasie wat êrens om 'n tafel bymekaarkom en besluit wat die mense moet glo en moet doen nie. Die kerk is bloot die somtotaal van hulle in wie se harte die Gees van God die geloof gelê het om dit wat Hy in sy Woord bekendmaak, van harte as die waarheid te omhels.

Die kerk bestaan uit hulle wat ten opsigte van hulle verlossing en hulle sedes en hulle staatkundige bestaan hulle deur die Here laat voorsê. Nie deur mense nie. Nie deur die samelewing nie. Ook nie deur een of ander organisasie wat homself aanmatig om mense "kerklik" te wil voorsê nie.

Op prof. Landman se artikel kan ons dan antwoord:

  • Inderdaad mag die kerk nie ontaard in 'n "organisasie" wat mense probeer voorsê oor wat reg en verkeerd is nie.
  • Aan die ander kant kan dit nie aan elke mens oorgelaat word om self te besluit wat reg en wat verkeerd is nie.
  • Ook mag ons nie op die samelewing of op die landsowerheid staatmaak om vir ons te sê wat reg en verkeerd is nie.
  • Die enigste Een wat vir ons hierin kan voorsê, is God, wat Homself en sy wil vir ons in die Bybel bekend maak. Sy Woord is ons enigste maatstaf van reg en verkeerd.
  • Die taak van die kerk is dan om vas te hou aan "So sê die Here." En om dit aan ander te verkondig.

Te midde van sovele wat ons probeer voorsê wat ons moet doen en nie mag doen nie, is die kerk se staanplek in die samelewing soortgelyk aan dié van die apostels voor die Joodse Raad (Hand. 4:19): "Of dit reg is voor God om julle meer gehoorsaam te wees as God, moet julle self beslis; want vir ons is dit onmoontlik om nie te spreek oor wat ons gesien en gehoor het nie".