Bron: Die Kerkblad. 3 bladsye.

Wie is Ons?

Wat leer God ons oor ons eie identiteit? vra 'n leser nou-die-dag via elektroniese pos. Wie is ons? Wat sê God van ons? 'n Baie aktuele vraag vir ons tyd van identiteitskrisisse. 'n Geldige vraag vir alle tye, want mense van alle tye worstel met die vraag: Wie is ek?

Oor hierdie eeue-oue vraag kan geen mens waag om volledig te antwoord nie, allermins in die kort ruimte van 'n redaksionele artikel. Nogtans kan ek probeer om saam met ons lesers 'n paar voelers uit te steek na wat die Skrif en die Belydenis oor hierdie baie belangrike saak sê.

Kroon van die Skepping🔗

Die regte plek om te begin, is seker by die skepping. In Genesis lees ons dat God op die laaste skeppingsdag die mens gemaak het - na sy beeld en gelykenis, om die hele skepping te bewaak en daaroor te heers (Genesis 1:26-28). Konings het Hy ons gemaak, met eer en heerlikheid het Hy ons gekroon, sê Psalm 8.

Ons is nie maar toevallig hier op aarde soos die evolusieteorie leer, of maar net 'n hoogs ontwikkelde aard-spesie nie. Nee, God self het ons gemaak, en Hy het ons uniek ge­maak.

Wat die mens veral 'n uitsonderlike skepsel maak, is die feit dat God die asem van die lewe in hom geblaas het (Genesis 2:7). Daarmee het Hy dit aan die mens gegee om, anders as enige ander skepsel, Hom te ken en in 'n persoonlike lewende verhouding met Hom te staan (HK Sondag 3). Net die mens kan weet wat God se wil vir hom is (Genesis 3:16, 17) en kan met God wandel (Genesis 3:8). Ons is unieke skepsels van God.

Gebroke Sondaarmense🔗

Die humanis sou graag by hierdie punt wou halt roep, want dit is vleiend om te hoor hoe goed en buitengewoon jy is. In die soektog na 'n positiewe selfbeeld by mense is die versoeking dan ook groot om vas te steek by 'n humanistiese mensverheerliking: in wese is ons goed en reg. Maar dit sou 'n onrealistiese selfbeeld wees.

God maak immers aan ons bekend dat die mens nie tevrede was met die hoë plek waarin God hom gestel het nie. In 'n strewe om soos God self te word, het die mens in die sonde van ongehoorsaamheid geval (Genesis 3:1-7). Van toe af is die beeld van God in die mens gebroke en is die mens aan die sonde onderworpe. Nie net die eerste mense nie, maar ook die hele mensdom wat uit hulle voortgekom het. Elke mens word in sonde ontvang en gebore, sê die Kategismus in Sondag 3.

God maak dus ons ware identiteit bekend: ons is gebroke sondaarmense. En as ons eerlik na onsself kyk en na die wêreld om ons, dan besef ons hoe onteenseglik waar hierdie getuigskrif is. Ten spyte van alle pogings van mense deur die eeue om self uit die gebrokenheid weg te kom, kan ons maar net nie ons boosheid afgeskud kry nie. Ook hier aan die begin van die 21ste eeu worstel ons steeds (meer as ooit?) met onderlinge haat en afguns en moord en hebsug ...

En die ergste van alles is dat as gevolg van die sonde die mens die lewe wat hy van God ontvang het, kwyt is. Ons is bestem vir die dood - die ewige dood, wat beteken dat ons deur God verwerp word om ewig weg van Hom te wees, gestroop van die heerlikheid waarvoor Hy ons bestem het, ewig oorgegee aan helse smart en ellende. As sondaarmense het ons dus die identiteit van terdoodveroordeeldes voor God. Ewig verlore.

Uitverkore Kinders van God🔗

Die prentjie van die mens se identiteit sou beslis neerdrukkend donker gewees het, as dit nie was dat God 'n God van genade is nie. Hy maak aan ons bekend dat Hy nie die werk van sy hande laat vaar nie (Psalm 138:8). Hy kies vir hom uit die verlore mensdom hulle wat Hy na Hom toe terugbring - mense wat Hy weer in die regte verhouding tot Hom stel. Van Genesis 12 af sien ons hoe daar deur God se sorg twee lyne in die mensdom ontwikkel: die lyn van die gelowiges en die lyn van die ongelowiges. Die gelowiges is dié wat Hy as sy kinders uitverkies het; die ongelowiges is aan hulle eie verderf oorgelaat (NGB art. 16).

Op die vraag na wat God oor ons identiteit leer, moet ons dus van hierdie punt af differensieer tussen gelowiges en ongelowiges. Vir die doeleindes van hierdie artikel praat ons dan verder net oor die identiteit van die uitverkorenes, waaronder elke gelowige met dankbaarheid kan weet hy tuishoort: my identiteit is dié van 'n uitverkore kind van God.

Begenadig in Christus🔗

Die mooiste samevatting van die identiteit van die uitverkore kind van God vind 'n mens seker in Sondag 1 van die Kategismus: "Dat ek met liggaam en siel in lewe en in sterwe nie aan myself nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus, behoort. Hy het met sy kosbare bloed vir al my sondes ten volle betaal en my uit die heerskappy van die duiwel verlos. Hy bewaar my op so 'n wyse dat, sonder die wil van my hemelse Vader, geen haar van my kop kan val nie ..."

Ons identiteit is dus dié van begenadigdes in Jesus Christus - vrygespreek van die oordeel, God se eiendom. Dit is die selfbeeld wat God in sy genade aan ons gee.

Geroep om God te Dien en Eer🔗

Toe God ons uitverkies het, het Hy dit met 'n doel gedoen. Hy het ons nie begenadig net maar terwille van begenadiging nie. Nee, leer Hy ons in Efesiërs 1:4-6, Hy het ons uitverkies met die doel "om heilig en onberispelik voor Hom te wees ...” tot lof van sy heerlikheid. Hy het ons geroep om te doen wat die mens van die begin af moes doen, naamlik om Hom te dien en eer.

In 1 Petrus 2:9 word dit pragtig onder woorde gebring: "Julle is 'n uitverkore geslag, 'n koninklike priesterdom, 'n heilige volk, 'n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig." Ons identiteit? Mense wat deur God afgesonder is, geroep is om met ons lewe Hom te dien en te eer en met ons mond sy grootheid en genade te ver­kondig.

Verhoudingsmense🔗

Dit is opvallend dat 1 Petrus 2:9, soos baie ander plekke in die Bybel, kollektief na die uitverkorenes verwys: 'n geslag, 'n priester­dom, 'n volk. Dit is waarskynlik so omdat God die mens nie as los enkelinge uitverkies en roep nie. Hy verbind ons aan mekaar. Van die begin af, toe Hy Abraham as eerste gelo­wige geroep het, het Hy hom geroep as verbondshoof van die Godsvolk (Genesis 12:2). Vandag nog voeg God sy gelowiges saam in sy Nuwe-Testamentiese Godsvolk: sy kerk. ("Kerk" beteken: wat aan die Here behoort.)

Ons identiteit is dus dié van gelowiges wat saam met ander gelowiges - die kerk - in hierdie wêreld gestel is om ons roeping voor God uit te leef.

Nie net in ons geloofslewe het God ons aan ander mense verbind nie. Ons hele aardse bestaan is 'n verhoudingsbestaan. By die skepping reeds het God gesê: "Dit is nie goed dat die mens alleen is nie" (Genesis 2:18). Hy het vir hom 'n hulp gemaak wat by hom pas. So het God man en vrou in die huwelik gestel, en vanuit die huwelik het die verhouding van die gesin ontstaan, en vanuit die gesin die verhouding van 'n volk. So kring die verhoudings uit totdat dit die hele samelewing omvat.

Ons moet onsself dus beskou as mense-in-verhouding-tot-ander. En, as deel van die kerk van die Here, hoor ons dat ons roeping binne hierdie verhoudings altyd maar bly: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.

Unieke Mense🔗

Nogtans het God die mens nie as massamens bestem nie. In die Bybel lyk dit of dit juis die ongelowiges is wat in die massa verdwyn. Hulle is bloot die "bewoners van die aarde" van Openbaring 13, wat agter die dier aanloop en sy beeld aanbid.

Maar die gelowiges gaan nie op in die massa nie. God maak met elkeen persoonlik bemoeienis. Tot so 'n mate dat die digter Dawid in Psalm 22:11 uitroep: "Van geboorte af is ek onder u sorg, van die begin van my lewe af is U my God."

God het ons elkeen uniek gemaak. Van ge­boorte af het Hy aan ons elkeen 'n eie karakter gegee. Ons het elkeen 'n eie geaardheid, eie belangstellings, eie vermoëns en talente. Dit verander nie wanneer God ons tot sy kinders wederbaar nie.

Wat wel verander, is ons sondige ingesteldheid. Ons ondergaan egter nie 'n persoonlikheidsverandering nie. As ons almal dieselfde was, sou die kerk maar bra eentonig gewees het. Nee, in sy wysheid het God, te midde van ons saamwees in verhoudings, ons elkeen met 'n unieke persoonlikheid gemaak.

Ons het dus, benewens ons universele identi­teit, ook 'n eie identiteit soos wat God aan elkeen afsonderlik gegee het. Met elke mens afsonderlik het God 'n unieke verhouding, 'n unieke doel, 'n unieke taak, 'n unieke plek op aarde. Hy het ons nie gemaak om maar net doelloos deur die lewe voort te dryf nie.

Daarom is dit belangrik dat ons elkeen ons eie Godgegewe identiteit sal raaksien en sal uitleef.

Op Pad na die Heerlikheid🔗

So 'n omvattende onderwerp soos hierdie kan onmoontlik afgehandel word sonder om die oë op ons eindbestemming te rig. Oor die laaste dinge gee God vir ons in sy Woord 'n heerlike uitsig. Ons is bestem vir die heerlik­heid. Ja, die eer en heerlikheid waarmee Hy die mens by die skepping gekroon het (Psalm 8:6), en wat ons met die sondeval verloor het, dié sal ons weer terugkry (NGB art. 37).

'n Nog groter heerlikheid wag op ons - 'n heerlikheid wat geen oog gesien, geen oor gehoor en in die hart van geen mens ooit opgekom het nie (HK Sondag 22).

Daarom, te midde van al die worsteling en ellendes waarin ons gedurig verstrengel is, het ons die uitsig dat die lyding van die teenwoordige tyd nie opweeg teen die heerlikheid wat aan ons geopenbaar sal word nie (Romeine 8:18). Ons het immers die Naam van die Lam en van sy Vader op ons voorkoppe geskrywe (Openbaring 14:1).

Daarmee word ons ware identiteit geopenbaar. Ons behoort aan God, gewaarmerk as sy kin­ders. Ons is mense-op-pad-na-die-heerlikheid.