Bron: Die Kerkblad. 2 bladsye.

Wie sê Wie of Wat is God?

Dit lyk of daar saam met die draai van die millenium ook 'n hele paar ander dinge 'n rondomtaliedraai gemaak het.  Onder meer het die manier waarop mense oor God dink heeltemal anders geword. In 'n insiggewende artikel in die tydskrif Theology Today (April 2000 – I determine what God is!") beskryf die Switserse teoloog Ingolf Dafferth die nuwe manier waarop mense oor God dink. Hy gee ook leiding oor wat ons van die nuwe manier van dink moet dink.

Wanneer ons oor die afgelope tweeduisend jaar terugkyk, sê Dalferth, kan ons die geskiedenis van die mens se denke breedweg in drie tydperke indeel: die premoderne tydperk, wat hoofsaaklik met die Middeleeue saamval; die moderne tydperk, wat oor die afgelope 5 eeue gestrek het en waarin die sogenaamde "Verligting" (Aufklárung) die botoon gevoer het; en dan die postmoderne tydperk wat ons met die draai van die millenium binnegeaan het. Binne hierdie raamwerk gee Dalferth dan sy beskrywing van hoe mense in die Westerse wêreld oor God dink.

Die Middeleeue🔗

Tydens die Middeleeue (premoderne tydperk) is godsdiens beoefen met die benadering van "Ons besluit wie God is". Met "ons" was dan bedoel "die kerk", spesifiek die Rooms-Katolieke Kerk. Uitsprake oor God, sy wese en sy wil is amptelik deur "die kerk" gedoen. Wie nie met "die kerk" saamgestem het nie, was per definisie dan met valse godsdiens besig en is summier geëkskommunikeer. So is sowel Luther as Calvyn aan die begin van die 16de eeu uit die kerk geban omdat hulle nie met "die kerk" saamgestem het nie.

Onder die vaandel van die sleutels van die hemelryk wat die Here aan sy kerk toegesê het (Matteus 16), het die Rooms-Katolieke Kerk tydens die Middeleeue vir hulleself mag toegeëien om hulle besluit oor wie God is op die samelewing af te dwing. Die kerk en die kerk alleen het besluit wie God is.

Die Verligting🔗

Met die koms van die Renaissance van die 16de eeu was mense al minder bereid om hulle deur "die kerk" te laat voorsê. Die mens se denke (sy verstand, sy rede) het die botoon begin voer. "Die menslike rede" is gesien as iets unïverseels waaraan alle mense deel het en wat die finale maatstaf van waarheid is. Vandaar die benaming "rasionalisme". Die rasionalisme was waarskynlik die belangrikste kenmerk van die moderne era.

Ook in die vraag na God het die modernisme die menslike rede as deurslaggewend gestel. Indien mense sou verskil oor wie God is en wat sy wil is, moet hulle slegs met mekaar in debat tree. "Die rede" (ons sou dit ook kon noem "logiese redenasie") sal op die ou einde die deurslag gee. Sonder dat hulle daarvan bewus was, was hulle slagspreuk steeds: "Ons besluit wie God is".  Al verskil was dat die "ons" nie meer "die kerk" was nie, maar nou "ons gemeenskaplike rede".

By wyse van terugskouing blyk dit dat die rasionalisme van die moderne era basies met dieselfde magspel besig was as die Roomse Kerk van die Middeleeue. Binne intellektuele kringe is mettertyd bepaalde persepsies geskep oor wat aan die vereistes van die menslike rede voldoen en wat nie. Alles wat daaraan voldoen het, was as wetenskaplik houdbaar ("scientifically sound") bestempel en dit wat nie daaraan voldoen het nie, is verban tot die terrein van "onwetenskaplikheid", "geloof” en selfs "mitologie".

Dit het ook vir die godsdiens en die teologie gegeld. Net daardie denke oor God wat die toets van rasionele denke, soos gedefinieer deur die wetenskaplike samelewing van die moderne era, geslaag het, is as aanvaarbaar beskou. Gewoonlik is andersdenkendes opsygeskuif en as "naïef” of as "fundamentalisties" geëtiketteer.

Die Postmoderne Era🔗

Die aanbreek van die derde millennium sal waarskynlik in die komende geslagte beskou word as die begin van die postmoderne era. In die postmodernisme is daar 'n klemverskuiwing weg van die kollektiewe na die individu.

Hiermee is die humanisme van die moderne era tot 'n nuwe hoogtepunt gevoer. Nou is dit egter nie meer die samelewing wat die deurslag gee nie, maar die enkeling. Die postmoderne era is in vele opsigte die era van individualisme. Dit is daarom ook 'n tyd waarin die een gesagskrisis na die ander beleef word, want die individu laat hom deur niks en niemand voorsê nie. Elkeen besluit vir homself.

Wat die godsdiens betref, het die vroeëre slagspreuk van "Ons besluit wie God is!" ongewild geraak. Dit het nou geword: "Ek besluit wie God is!" Elkeen individueel maak vir homself uit wie God is en basta met die res. Niemand kan 'n ander hierin voorsê of beweer dat iemand se siening verkeerd is nie. Godsdiens is 'n persoonlike aangeleentheid waarin elkeen die reg het om self te besluit.

Wie Besluit Dan?🔗

Dalferth wys daarop dat die godsdiensbenadering van die postmo­derne era, net soos sy voorgangers, gedoem is tot 'n doodloop-straat, bloot omdat dit, net soos die premodernisme en die modernisme, die Godsvraag verkeerdom vra. Dit berus immers nie by die mens ("ons" of "ek") om uit te maak wie God is nie. In werklikheid is dit God wat sê wie ons is. Dit is nie 'n aktiwiteit van onder na bo nie, maar van Bo na benede.

Wie God is, wat sy wil is - ook sy wil vir ons - is vanweë ons mens­like gebrokenheid vir ons verborge. Dink maar in hierdie verband aan Jesaja 55:9: "Soos die hemel hoër is as die aarde, so is my weë hoër as julle weë en my gedagtes as julle gedagtes, sê die HERE."

Nóg die kerk nóg die menslike rede nóg enige individu kan daarin slaag om uit sy eie te sê wie God is. Dit berus alleen by God om Homself en sy wil aan ons bekend te maak. Hy maak aan ons be­kend dit wat die blote oog nie kan sien nie.

Hoofsaak hiervan is dat die hele werklikheid in werklikheid 'n werklikheid voor God is. Alles bestaan omdat God dit geskep het en dit in 'n bepaalde verhouding tot Hom gestel het. Alles gaan voort omdat God dit in stand hou en op die doel afstuur wat Hy daarvoor gestel het. Alles maak sin juis in die lig van die doel wat God daarmee het. Om voor God geroepe te staan - daarin is die ware betekenis van ons lewe opgesluit.

Dit is dus nie 'n kwessie van "Ons besluit wie God is" of "Ek besluit wie God is" nie. In werklikheid is dit 'n kwessie van "God besluit wie ons is". Om sy besluit oor ons te verneem, maak ons sy geskrewe Woord oop en lees dit - met die krag van die Heilige Gees deur die oog van die geloof. Deur sy Woord en Gees maak God dan aan ons bekend dat alles en almal betekenis kry in net een Persoon: Jesus Christus. Jesus Christus is die Alfa en die Omega, die begin en die einde, wat is en wat was en wat kom (Openb. 1:8). In Hom, sê die Here, het Ek julle uitverkies om begenadigdes te wees, kinders van God, erfgename van die ewige lewe (Rom. 8:17).