3 bladsye. Vertaal deur Louise Haak.

Wonders

Wonders trek die aandag. Dit is miskien wel die mees kenmerkende van die woord wonder: omdat dit die gewone en verwagte gang van sake deurbreek, is ʼn wonder opspraakwekkend. Mense word daartoe aangetrek omdat in die hart van die mens die hunkering na God agtergebly het. Dit is hoe God die mens gemaak het. Hy het hulle hul woonplek aangewys, soos Paulus op die Areopagus sê: ‘sodat hulle die Here kon soek, of hulle Hom miskien kon aanraak en vind, al is Hy nie ver van elkeen van ons nie’ (Hand.17:27). Die neiging na wonders verraai ons afkoms. Dit is merkwaardig dat een van die mees invloedryke werke uit die huidige wêreldwye oplewing van godsdienstigheid, juis uitdruklik van wonders praat.

ʼn Kursus in Wonders🔗

Die titel van die boek wat ʼn soort wegholgier geword het – lankal ʼn sukses wêreldwyd en vanaf laas jaar in Nederlands verkrygbaar – is Een Kursus in Wonderen (A Course in Miracles). Dit word uitgegee deur Ankh-Hermes in Deventer, die New Age uitgewer by uitstek. Boeke wat propaganda maak vir gnostiek, okkultisme, esoteriese kennis, transendente spiritualiteit, joga, teosofie, waarsêery en ʼn aantal alternatiewe geneeswyses word in stewige aantalle deur hierdie uitgewer geproduseer en is selfs baie suksesvol. Daar is al miljoene eksemplare van A Course in Miracles  versprei. Rond die boek word kursusse en ontmoetings gereël. Volgens die aankondigings hiervan handel dit oor die onderrig van ʼn leraar wat ons wil bybring hoe ʼn mens deur die toepassing van universele spirituele beginsels leer om ʼn weg van verlossing te vind. Die leraar is niemand minder nie as Jesus, volgens die informasie van Willem Glaudemans – ʼn bekende gnostikus – oor die boek.

Die kursus leer jou hoe om te lewe vanuit jou eie innerlike krag, en maak dat jou geluk nie meer afhanklik van ander mense is nie. Dit is ʼn kombinasie van gnostiek, Hindoeïsme, Boeddhisme en Christendom. Dit stuur af op ons terugkeer na God en na ons verlossing uit hierdie wêreld. Natuurlik beteken dit ook ʼn ‘milde korreksie op ʼn aantal tradisionele christelike dogmas en beelde’...

Dit sal beter wees om dit anders te sê en op te merk dat dit hier gaan oor ’n ‘ander Jesus’, waar die apostel Paulus die Korintiërs al teen gewaarsku het (2 Kor. 11:4).

Die manier waarop hier oor wonders gepraat word is veral gerig op die veranderingsproses wat onder invloed van hierdie ‘lesse’ ondergaan moet word, waarby mens verbaas te staan kom oor die ‘ongelooflike diepte en onbeperkte krag wat in homself skuil’.

Die woord wonder kan in vergelyking met die bybelse taal dus wel ʼn totaal ander inhoud kry. In hierdie kursus in wonders gaan dit oor ʼn weg na selfverlossing wat net so ver verwyder is van die bybelse woord oor verlossing as die duisternis is van lig. ʼn Argelose mens sou kon dink dat jy hier naby die wonders kom waaroor dit in die Bybel gaan. As jy mense hieroor hoor praat mag jy dalk dink dat dit verwant is. Wat dan wel op ʼn teleurstelling uitloop.

Al in die tyd van die Here Jesus op aarde was die verlange van die mens na wonders meermale eerder ʼn dwaalweg dan ʼn weg na God.

Doen God nog Wonders?🔗

Binne die christelike kerk kom egter steeds weer die vraag op of ons christelike tradisie nie veel te verstandelik geword het nie. Het die geloof nie teveel van ʼn leer geword nie? Weet ons nog van die heerlikheid van die geloof in ’n God wat wonders doen? Vele is geneig om op hierdie vraag ‘ja’ te sê.

Die aantrekkingskrag wat charismatiese groepe ook op gereformeerde christene uitoefen het seker ook iets daarmee te doen dat daar makliker oor wonders gepraat word.

Binne kerke met ʼn gereformeerde belydenis – sowel in Nederland as daarbuite – word reëlmatig geluide gehoor dat predikante of gemeentelede voel daar kort iets in ons manier van gereformeerd wees. Daar sou ʼn groter openheid moes wees vir die verrassings wat die Here ook vandag nog vir sy  kerk in gedagte het. Nie net openheid vir die ‘vergete’ charisma nie, maar ook vir die wonders wat God vandag nog magtig is om te doen.

Dit wil partykeer voorkom, word gesê, dat die God van die Bybel nie meer dieselfde God is wat ons ken en bely nie.

Wanneer gereformeerde mense die indruk wek dat hul geloof nie meer ʼn God ken wat wonders doen nie, is daar sonder meer iets fout! Daarin moet ons onsself wel deeglik ondersoek. Ons bely tog van die Here God dat Hy gespreek het en dit was; Hy het gebied , en dit staan? Ons glo tog van die Here Jesus Christus dat Hy aan God se regterhand sit en dat Hy alle dinge regeer; dat aan Hom gegee is alle mag in die hemel en op die aarde? Sou Hy dan nie meer Dieselfde wees nie, toe Hy op aarde gewoon, siekes genees, blindes laat sien en stom mense laat praat het; voedsel uitgedeel het waar hulle niks gehad het, ja, selfs dooies opgewek het nie? Kan Hy dit nie meer doen nie, wil Hy dit nie meer doen nie?

Ons antwoord op hierdie vraag is duidelik. Hy is Dieselfde! Die magtige Heiland wat nog altyd wonderlik seën en sy hulp en mag laat ondervind  aan die wat aan Hom behoort.

Hoe anders sou ons gebede wees. Hoe dikwels bid ons nie om God se ingryping in tye van siekte en hartseer. En hoe baie voorbeelde is daar nie van verhoring, meermale van wonderlike verhoring, waarin die Here verrassend verhoor. Christene weet van genesings, weet van wonderlike finansiële uitredding, weet van bevryding van angs, van radikale lewensveranderings. Ons bid inderdaad nie tevergeefs nie.

Miskien moet die vraag gestel word of ons net so nadruklik dankie sê wanneer die Here ons verhoor as wat ons bid. Getuienis van die verhoring van gebed is baie keer maar skaars aan die orde, ook in ons eredienste. Daar sou meer van kon deurklink dat die Here inderdaad nog dieselfde God is as die van Elia en van die apostels. En dat Hy ryk is vir almal wat Hom aanroep! Ons sou persoonlik en kerklik wel ʼn slag ernstig daaroor moet besin.

Tog is daar ʼn goeie rede tot ʼn sekere terughoudendheid as dit oor wonders gaan. Ons praat nie baie daaroor nie. Die kerk leef nie die meeste van die wonders wat op mense die meeste indruk maak nie, ook al is hulle daar.

Bybelse Ewewig🔗

Al in die evangelies word duidelik dat baie mense wat Jesus gevolg het om die wonders te sien gewoonlik verkeerde verwagtings van Hom gehad het. Hy verwyt dit die mense van Kana (waar die eerste wonder plaasgevind het!) dat hulle nie verder gekom het dan die soeke na wonders – ‘As julle nie tekens en wonders sien nie, sal julle nooit glo nie’ (Joh. 4:48). Blykbaar mis hulle daarmee presies waar dit Hom om te doen is! Wanneer die Here daar dan tog ʼn wonder doen en die seun van ʼn koninklike beampte genees, neem die omstanders niks anders waar as die woord wat Jesus spreek: Gaan, jou seun lewe! Geen ander ‘sensasie’ as die Woord nie...

Die wonders van die Here Jesus is elke keer van betekenis as tekens van sy outoriteit. Hy is die beloofde Messias. Dit is wat ons moet weet. Ons glo nie in wonders nie. Ons glo deur die Woord in die Here Jesus en in sy Vader, wat óók magtig is om wonders te doen.

Tussen die twee – die geloof in wonders en die geloof in die Here Jesus - kan ʼn baie dun skeidslyn bestaan wat tog beslissend is. Die Here Jesus het vir sy dissipels, by hul terugkeer nadat hulle uitgestuur is en opgewonde vertel het wat vir kragte deur hulle hande plaasgevind het, gesê: ‘Maar julle moenie daaroor bly wees dat die geeste aan julle onderworpe is nie, maar wees liewer bly dat julle name in die hemele opgeskrywe is (Luk.10: 20).  Die grootste wonder is: ewig behoue wees!

Almal wat die atmosfeer van die New Age inasem, wil graag in wonders glo en nie in die Here Jesus nie. Dit is nie nuut nie. Jesus het verskeie kere gesê dat sy grootste werk was om mense, deur die geloof, uit die dood oor te bring in die ewige lewe (Joh. 5:24). Dit is waarvoor ons sy Woord gekry het! En omgekeerd is daar ʼn waarskuwing dat daar by die wederkoms van die Here mense sal wees wat sal sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie? En dat Hy dan vir hulle sal sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk... (Mat. 7:22)!

Met geloof in wonders op sigself kan ons nog verlore mense wees. Maar om te glo in ʼn God van wonders – daar mag ons sekerlik iets meer van laat sien. Nooit kan die geloof teveel verwag nie! Ons weet immers wie Hy is en in Wie ons mag glo!