Bron: Die Kerkblad, 1986. 2 bladsye.

Woorde en musiek in spanning

Mense kan sing🔗

Daar is 'n intieme, persoonlike sang soos wanneer 'n dogtertjie speel of 'n vrou as sy diepgelukkig in haar huis alleen werk. Maar dan is daar nog openbare sang, van woorde en musiek wat neergeskryf en in gedrukte vorm beskikbaar is. Hierop moet ons nou ingaan.

Elke lied, dus ook 'n kerklied, is 'n twee-in-een: die rasionele (redelike) moment van woorde word met die irrasionele moment van die "klank van die stem" (musiek) geïntegreer. Dit is 'n huwelik van twee andersoortige, oneweredige vorms van kommunikasie. Die ge­volg is dat die kinders uit die huwe­lik (dit is nou die liedere) nooit heel­temal seker is waar hulle tuishoort nie.

In die reël distansieer die digters hulle van hierdie kinders, sodat hul­le geheel en al onder musikale sorg groot word. Die gedigte word as 't ware "uitgelewer" aan die musiek en die liedere wat daaruit voortkom, behoort dwarsdeur hulle loopbaan veel meer aan die musici as aan die digters. Literêr word hulle vir alle praktiese doeleindes geïgnoreer. Die musiek het op die poësie beslag gelê.

Calvyn se groot probleem🔗

Daar het ons nou in 'n neutedoppie die dilemma van ons kerkvader Cal­vyn. Die eer van God en die Woord van God vorm die hoofinhoud van sy lewe en van sy veelvuldige geskrifte. Deurgaans hou hy hom daarin besig met probleme wat vir die rede vatbaar is. Maar in die gemeentelie­dere kom daar 'n faktor by (wat nie met die rede gevat word nie): die musiek.

Beskou die probleem vanuit 'n ander hoek. Die Woord van God moet verkondig word. In hierdie verkondiging speel die klank van die predikant se stem beslis 'n groot rol. Maar die stem kan in toorn gehou word deur die klem steeds op die inhoud van die verkondiging te laat val. So hou die rasionele faktor die irrasionele faktor in die Woordver­kondiging onder beheer. By die gemeentelied kan dit egter nie ge­doen word nie. Die goeie orde vereis immers dat sowel die woorde as die musiek ("die klank van die stem") in 'n afgewerkte toestand in die hande van elke sanger geplaas word. Hoe moet in daardie afwer­king die menslike gevoelsfaktor (die musiek) gepaar word met die God­delike Woord? Hoe moet dit beteuel word om nie die Woord te oorwoeker en na die agtergrond te dwing nie? Die uitweg was om die musiek aan die Woord diensbaar te maak, sodat die Woord deur die musiek nog sterker tot die hart van die sanger kan spreek.

Besondere melodie nodig🔗

Hiervoor was uit die aard van die saak 'n baie spesiale soort melodie nodig — een wat bereid was om nederig op die agtergrond te bly en die Woord te eerbiedig. Dis insig­gewend dat Calvyn en sy medewer­kers na 30 jaar slegs die helfte van die Psalms met melodieë kon voor­sien. Dit was 'n gemiddelde van 2 1/2 melodieë per jaar! Die rede is dat dit "geskikte" melodieë moes wees — dus van so 'n aard dat hulle die uitwerking van die woorde op die gemoed verhoog, of ten minste nie benadeel nie. Daar teenoor het die Lutherane nie beperkings op die melodieë geplaas nie. Hulle het aan "die taal van die hart" (soos musiek soms genoem word) taamlik vrye teuels gegee. Later het Wesley, vader van die Metodisme, vermoe­delik skertsend opgemerk dat hy soms kerkliedere by die dosyn kon produseer! Sowel die Lutherane as die Metodiste het die spanning tussen die woorde van kerkliedere en die melodieë waarop hulle gesing moes word, ten gunste van musiek beslis. Die talryke sektes het met vreugde dieselfde weg ingeslaan.

Daar het ons nou die twee uiter­stes:

eerbied vir die Woord
en verlustiging in die musiek.
Die dilemma van Calvyn het die dilemma van die Calvinistiese kerke in Suid-Afrika gebly: Waar moet die klem val — op die Woord, of die "taal van die hart"?