Bron: Kompas, 2008. 4 bladsye.

Zwingli 1517 Kerkhervorming: Luther, Calvyn, Zwingli

Dalk het u vroeër ook iets soortgelyks geleer. En dan roep ’n dergelike sinnetjie dadelik baie herinnerings op. Soos Luther, wat op 31 Oktober van daardie jaar sy 95 stellings aan die deur van die slotkapel in Wittenberg heg. Of, Calvyn, met baret, puntbaard en asketiese uiterlike. Maar wat van Zwingli, wie se naam ons so ywerig geleer het? Ons weet van Calvinisme en van Lutherse kerke, maar is daar ook iets wat aan Zwingli herinner? Het sy naam ’n leë begrip geword?

Switserland🔗

Die land wat ons vandag as Switserland ken, het in die Middeleeue bestaan uit ’n soort statebond van dertien klein kantons. Elke kanton, wat eintlik maar net bestaan het uit een stad met die omliggende dorpe, was vrywel heeltemal outonoom. Die sterkste band wat hulle onderling verbind het, was die vryheidsideaal. Hierdie patriotisme was baie sterk, want daar was onder die kantons baie onderlinge verskille; so is daar vier verskillende tale gepraat. Formeel was die Switserse kantons ʼn onderdeel van die Duitse keiserryk, maar die band is nie sterk beleef nie en die gesag van die keiser was minimaal.

Die bergagtige gebied het die inwoners geen ander bronne van inkomste gebied as landbou en veeteelt nie. Die land het geen natuurlike hulpbronne gehad nie en was vanweë sy berge moeilik toeganklik vir handelaars. Dit het daartoe bygedra dat baie Switsers as huursoldate in vreemde lande gedien het. Die Switserse huursoldate was so gewild dat hulle orals in Europa gebruik is. Tot vandag toe bestaan die pouslike lyfwag nog uit Switsers.

Die lot van huursoldate was hard en die gevolge is sterk in die Switserse samelewing gevoel. Een skrywer vat dit soos volg saam: Wanneer die Switser in vreemde diens sneuwel, bly sy vrou en kinders onversorg agter; wanneer hy gewond en vermink terugkeer, is hul lot nie baie beter nie; wanneer hy gesond terugkeer, is hy sedelik vermink. Die langtermyn gevolge van die soldatediens was dus altyd nadelig.

Zwingli se Jeug🔗

Nog geen twee maande na die geboorte van Luther nie, het Ulrich Zwingli op 1 Januarie 1484 in die Switserse bergdorp Wildhaus die lewenslig aanskou. Sy pa het daar geboer en was tewens burgemeester van die dorp. Toe Ulrich vyf jaar oud was, is hy in die sorg van sy oom, wat ʼn pastoor in Weesen was, geplaas. Na die dorpskool besoek hy vanaf 1494 die Latynse skool in Basel. Ulrich was baie intelligent en musikaal. Hy het verskeie musiekinstrumente bespeel en ook gekomponeer.

Na ’n kort verblyf in Bern studeer Ulrich aan die universiteit in Wenen en voltooi daarna sy studie in Basel. Sy hele opleiding was sterk onder die invloed van die humaniste. Zwingli het baie meer belanggestel in die literatuur en filosofie van die ou Grieke en Romeine as in die offisiële kerkleer. Teen die einde van sy studietyd, in 1505, leer hy, deur die lesings van professor Wyttenbach, die Bybel lees sonder die vooroordeel van die Roomse kerkleer. Hoewel Zwingli, onder invloed van Erasmus, sterk humanisties bly dink het, besef hy dat aflaat en pouslike sleutelmag nie Bybels was nie.

Pastoor Zwingli🔗

In 1506 kry Zwingli ’n aanstelling as pastoor in Glarus. Hier sit hy sy studies van die Klassieke voort, maar bestudeer hy ook die werke van Augustinus, deur wie hy hom steeds meer laat lei. Omdat sy inkomste as pastoor baie karig was, het hy van die pous ’n toelae of sogenaamde pensioen ontvang. Die toelae het hom ook verplig om in voorkomende gevalle as leërkapelaan op te tree. By een geleentheid, toe die Switsers ’n verpletterende nederlaag gely het, moes Zwingli nie minder nie as 400 weduwees en ouers in sy parogie die nuus van die dood van hul man of seun meedeel! In sy werk as pastoor het Zwingli van die begin af in aanraking met die gevolge van die sosiale misstande gekom. Hy gaan hom nou veral teen die werwing van huursoldate verset. Sy optrede het aanleiding daartoe gegee dat hy gedwing is om Glarus te verlaat. Zwingli word in 1516 pastoor in Einsiedeln.

Einsiedeln was ’n bekende bedevaartsoord as gevolg van die aanwesigheid van ’n Mariabeeld waaraan wonders toegeskryf is. Veral die jaarfees van die dag waarop volgens die legende engele uit die hemel die plek gewy het, het duisende besoekers getrek wat met hierdie pelgrimstog ’n aflaat kon verdien. Zwingli het aanstoot geneem aan die Mariabeeldverering en in sy preke standpunt daarteen, asook teen die aflaat, ingeneem. Baie besoekers het nou onder die indruk gekom van die preke van die nuwe pastoor. Maar nie net suiwer plaaslike aangeleenthede wek sy protes op nie. In 1518 trek ene Bernard Samson deur Switserland om, soos in Tetzel in Duitsland, aflate vir die pous se bou van die Sint Pieterskerk te verkoop. Op die markte verkondig hy dat hy alle sondes kan vergewe, dat hemel en hel aan sy mag onderwerp is, dat die verdienste van Christus deel word van elkeen wat met kontantgeld sy aflate koop. Daarteenoor verkondig Zwingli met krag en verontwaardiging dat Christus slegs in geloof as Verlosser aanvaar kan word. En die prediking is ʼn sukses. Die regering van die kanton Zürich verbied Samson verdere optrede en die pous roep hom terug. Hoewel gekwets, verstaan pous Leo dat hy die Switsers as huursoldate nie kan mis nie.

In Zürich🔗

Zwingli het naam gemaak en na ʼn kort tyd word hy as pastoor na die hoofplaas van die kanton Zürich genooi. Op 1 Januarie 1519, sy 35ste verjaarsdag, preek hy vir die eerste keer in die domkerk te Zürich. Zwingli maak meteens sy voorneme bekend om nie die preekrooster van die Roomse kerk te volg nie, maar om hele Bybelboeke te behandel, beginnende met die Evangelie van Mattheüs.

Die jare in Zürich is vir die ontwikkeling van Zwingli van groot betekenis. Eerstens maak hy kennis met die optrede en werk van Luther. Hierdeur word hy baie bemoedig en hy word ook daardeur beïnvloed. Verder is daar die aangrypende ervaring van die pessiekte wat in 1519 byna ’n derde deel van die stad se bevolking van 8000 siele uitwis. Zwingli, wat by die uitbreek van die siekte nie in Zürich was nie, haas hom terug om sy gemeentelede te bedien. Hy word self ook ernstig siek, maar genees.

Sy hervormingswerk verdiep deur hierdie ervarings. Sy invloed neem toe, maar ook die teenstand teen die herstel van die kerk. Zwingli noem die misstande by name: die verpligte vaste, die ongehude staat van die priesters, die aflaat, die Mariaverering, die pousdom, die misoffer. Hierdie optrede roep weerstand op. Lasterpraatjies en verdagmakings word ingespan om Zwingli se invloed te fnuik en selfs sluipmoordenaars word gehuur om die stem van die evangelie stil te maak. Vriende en polisiemanne word egter ingeskakel vir die beskerming van Zwingli.

Op 29 Januarie 1523 vind ’n baie belangrike openbare vergadering plaas in die stadhuis van Zürich. Die bestuur van die kanton Zürich het besluit dat daar nou helderheid moet kom in die kerklike saak. Die onduidelikheid oor wat reg en verkeerd is, veroorsaak onrus en verdeeldheid. Dit is skadelik vir die samelewing en daarom moet daar helderheid kom. Dit kan ’n mens bereik deur ’n openbare dispuut oor die vraagstukke wat die bevolking besig hou. Zwingli word gevra om sy standpunte in stellings op te som sodat dit bespreekbaar word. Dit het Zwingli gedoen en hierdie dag sal hy sy stellings toelig en teen elkeen wat hom wil bestry, verdedig. Diegene wat ’n langdurige en diepgaande diskussie verwag het, word egter teleurgestel. Daar is geen werklike teenstander wat die handskoen opneem nie. ’n Vroeëre studiegenoot van Zwingli, Johannes Faber, probeer verweer bied deur te stel dat sake wat hier ter sprake is, op ’n konsilie tuishoort en dat slegs bevoegde geleerdes by universiteite soos dié van Parys, Keulen en Leuven hieroor kan besluit. Zwingli vra hom egter waarom hy nie die (Lutherse) universiteite van Erfurt en Wittenberg noem nie! Maar, vervolg Zwingli, nie geleerdes het die waarheid nie, maar alleen die Woord van God en daaruit moet ons oortuig word.

Nadat niemand vorentoe gekom het om die debat met Zwingli aan te gaan nie, spreek die regering van Zürich uit dat voortaan in dié kanton in die kerke ooreenkomstig die stellings van Zwingli geleer sal word. Daarmee het die reformasie in Switserland vaste voet gekry.

Die Reformasie van Zwingli🔗

Die herstel van die kerk in Zürich is met voortvarendheid uitgevoer. Nie net in die prediking is teruggekeer na die ware evangelie nie. Die terugkeer moes in alles sigbaar wees. In die kerkgeboue waaruit die beelde verwyder is, asook die altare, die muurskilderings en die orrels; in die erediens wat nou uiters sober beperk word tot prediking en gebede. Relikwieë is weggedoen, kloosters het skole en instellings van barmhartigheid, soos tuistes vir armes en siekes, geword. Ook die lewe van elke dag is deur wetgewing volgens Bybelse norme neergelê. Die regering het wette teen vloekery, drankmisbruik, kansspele, egbreuk en ontug vasgestel.

Net soos Luther al gou na die begin van sy reformasie probleme met wederdopery ondervind het, het hierdie dwaling ook in Zürich opgekom. Op 6 November 1525 het Zwingli in die domkerk in Zürich ’n openbare twisgesprek met die leiers van die wederdopers gehou, waarby hy hulle weerlê het. Net soos in Duitsland, het die optrede van die wederdopers tot ’n opstand onder die plattelandse bevolking aanleiding gegee.

Luther en Zwingli🔗

Die grootste verskil tussen Luther en Zwingli was ongetwyfeld die nagmaalsleer. Luther het baie nou aangesluit by die Roomse opvatting dat die brood en wyn daadwerklik verander in die liggaam en bloed van Christus. Volgens Luther het die substansie van brood en wyn nie verander nie, maar was Christus in nie-fisiese vorm liggaamlik in brood en wyn aanwesig. Zwingli het onder invloed van die Hollander Cornelis ’t Hoen die nagmaal as slegs ’n herinneringsmaaltyd opgevat. Luther het sterk daarop gestaan dat die woorde van Christus “Dit is my liggaam” letterlik opgevat moes word. Zwingli het dit vertolk as “Dit beteken my liggaam”.

Dit is hierdie nagmaalsleer wat uiteindelik ’n breuk tussen Luther en Zwingli veroorsaak het. By die enigste keer dat Luther en Zwingli mekaar ontmoet het, tydens die godsdiensgesprek in Marburg in 1529, het Luther aan die einde selfs die broederhand aan Zwingli geweier omdat hy, Zwingli, volgens die woorde van Luther ‘van ’n ander gees was’. Dit het Zwingli, wat so ʼn hoë agting vir Luther gehad het, baie seer gemaak. Veral ook omdat die nagmaalsleer die enigste wesenlike punt van verskil tussen die twee reformatore was. Oor alle ander sake was daar voldoende ooreenstemming.

Zwingli se Einde🔗

Die reformasie in Zürich het nie tot dié Switserse kanton beperk gebly nie. Die hervorming het juis onder die Duitssprekende gebiede baie uitgebrei.

Die beskikbaarheid van die Duitstalige geskrifte van Luther sou daarby seker ’n rol gespeel het. Die verhouding met die Roomse kantons word slegter wanneer ook buitelandse belanghebbendes soos Oostenryk en die pous begin inmeng. Daar breek geweld uit toe ’n predikant uit Zürich in een van die Roomse kantons gevang en veroordeel word.

Hy sterf op die brandstapel. Dit lei tot ’n veldslag by Kappel op 11 Oktober 1531, waar die troepe van Zürich die nederlaag ly. Zwingli het saam uitgetrek om weer as leërkapelaan op te tree. In die slag raak hy gewond en naderhand is hy deur plunderende soldate gedood.

Geen Zwingliaanse Kerke Nie🔗

Heinrich Bullinger, wat Zwingli in 1531 opgevolg het, het meer in die lyn van Calvyn beweeg. Uitstekende onderwys, nougesette tug en pastorale sorg, duidelike afwysing van Roomse invloede en ’n meer onafhanklike posisie van die kerk ten opsigte van die stadsregering was, soos by Calvyn, ook by Bullinger prioriteite. Volhardende korrespondensie, onderhandelings en samesprekings het ten slotte in 1549 gelei tot die Consensus Tigurinus (Ooreenstemming van Zürich). Daarin is uitgespreek dat die sakramente nie net tekens van belydenis, onderlinge broederskap en oefening van die geloof is nie, maar dat God daardeur veral sy genade betuig, verteenwoordig en beseël. Met hierdie formulering kon sowel Calvyn as Bullinger saamstem en dit het die pad gebaan vir die Zwingliaanse kerke om steeds meer in Calvinistiese sin te ontwikkel.