God as voorbeeld (Efesiërs 5:1).  Dit is aan die orde wanneer gepraat word van die navolging waartoe ons geroep word as christene.  Die konkrete uitwerking van die opdrag om die Here ons God lief te hê met ons hele hart, siel, verstand en krag en ons naaste soos onsself.  Ons bewys van liefde het ‘n duidelike voorbeeld in God en Christus.  Navolging maak ons bewys van liefde konkreet.  Dit voorkom dat liefde ‘n abstrakte filosofie word.  Navolging van Christus laat sien hoe radikaal ons liefde en gehoorsaamheid moet wees.

Veral in die vroeë kerk, het navolging van Christus gestalte gekry in martelaarskap.  Navolgers van Christus moes Hom in sy dood volg.  Op hierdie manier was daar ‘n duidelike band tussen die Verlosser aan die kruis en die gelowiges.  En tog bly die navolging dan nie vir almal in die gemeente ‘n werklikheid nie.  Toe die Christendom in ‘n bevoorregte posisie as staatsgodsdiens kom, het die martelaarskap in ‘n groot mate tot ‘n einde gekom.  Die navolging word dan steeds net vir enkeles gereserveer.  In die plek van die martelare het die kluisenaars gekom.  Die monnik en die non vervang die martelaars as navolgers.  In hulle afgesonderde lewe van die wêreld in armoede en ongetroud, wou hulle navolgers van Christus wees.  Deur meditasie oor die wonde van Christus, kom talle so vêr as om hierdie wonde in hulle  eie liggame sigbaar te laat word.  Ons ken dit as die sg. stigmata.  Navolging van Christus laat littekens.  Dit laat littekens vanweë die weerstand teen Christus.  Maar die “littekens van die Here” wat Paulus gedra het, het hy nie gekry deur hom af te sonder van die wêreld nie, maar juis in die volle werklikheid daarvan te staan en te leef uit die evangelie van Christus.  

 

Sleutelwoorde: 
Navolging van Christus