2 bladsye.

Gereformeerde Lewe in die Gees

Pinkster

Waarom maak Gereformeerdes so min van Pinkster? word baie keer gevra. Waarom geen opwekkingsdienste nie? Moet ons darem nie meer klem op die Heilige Gees lê nie? So word dikwels gekla, selfs beskuldigings geslinger, oor die Gereformeerdes se geestesarmoede. Maar is daar rede vir die klagtes? Het die kritiek enige gronde?

By die aanhoor van sulke kritiek kan 'n mens natuurlik na twee kante toe oorreageer. Die eerste sou wees om die kritiek sonder meer van die tafel af te vee asof daar geen fout by ons te vinde is nie; die tweede sou wees om dit sommer huidjie en muitjie in te sluk sonder om te vra of die kritiek werklik gegrond is. Die kritiek moet geweeg word: Is dit werklik so dat die Gereformeerde leer geestesarmoedig is? En is opwekkingsdienste werklik die antwoord?

As ʼn mens kyk na wat die afgelope tyd oor Hemelvaart en Pinkster geskryf is,  word dit al duideliker dat Gereformeerdes die Hemelvaart- en Pinkstergebeure hoegenaamd nie minag nie. Maar juis daarom is dit ook so dat ons nie jaarliks aan die groot ophef van Pinkster meedoen nie. Waarom nie?

Die antwoord hierop kan ons kortweg gee: Omdat ons Gereformeerde oortuigings ons juis dring om die hele jaar lank vanuit die Pinkstergebeure te lewe. Nie net een keer per jaar nie, maar regdeur die jaar, sê ons Gerefor­meerde oortuigings, moet ons lééf vanuit die krag van die Heilige Gees. Nie met spesiale bidstondes nie; nie met opwekkingsdienste nie. Maar met 'n Geesvervulde leefstyl. Hoe lyk so 'n leefstyl? Kom ons noem maar net 'n paar voorbeelde:

Die Heilige Gees en die Bybel🔗

Dit word Gereformeerdes dikwels ten laste gelê dat ons fundamentalisties met die Bybel omgaan. Daarmee word gewoonlik gewys op ons kritieklose vertroue op die onfeilbaarheid en gesag van die Bybel, so asof God vandag nog met ons in die Bybel praat. Hierop moet ons antwoord: As dit fundamentalisme is, nou ja, dan is ons fundamenta­listies. (Persoonlik is ek egter oortuig dat fundamenta­lisme oor baie meer as net dit gaan).

Maar Gereformeerdes se ontsag vir die Bybel spruit uit hulle ontsag vir die Heilige Gees. Want die Bybel, so glo ons, is die Woord van God wat Hy deur die kragtige werking van sy Heilige Gees vir ons deur mense laat neerskryf het. Ons vind daarin nie maar net mensewoorde nie, maar die woord van God. Dit is immers die Gees van God wat daarin met ons praat. Vandag nog. Want sedert Pinkster woon en werk die Heilige Gees lewend en kragtig by ons, en praat Hy met ons in sy Woord. Omdat ons dit bely, het ons vertroue op en ontsag vir die Bybel.

Daarom is die gelowige se elke dag se nederige luister na en leef uit die Bybel 'n voortdurende belydenis dat die Heilige Gees by ons is en met ons praat en in ons werk.

Gevolglik kan ons ook nie die Bybel lees en bestudeer asof dit maar net nog 'n boek is nie. Daar is baie Bybelgeleerdes wat te kenne wil gee dat die Bybel maar net 'n gewone historiese boek is en 'n blote produk van sy tyd, 'n bloot menslike boek waarin mense maar net hulle ervarings en nadenke oor God neergeskryf het.

Juis vanuit die Gereformeerde geloof in die Heilige Gees kan ons nie met sulke geleerdes saamgaan nie. Ons staan vas daarby dat die Bybel nie maar net 'n menslike produk is nie, maar dat "deur die Heilige Gees gedrywe, die mense van God gespreek het" (2 Petrus 1:21). Die Heilige Gees is dus die eintlike Skrywer van die Bybel.

Daarom het ons nie maar net een keer per jaar tydens die Pinksterweek met die Heilige Gees te doen nie, maar elke keer as ons die Bybel oopmaak en dit lees of daarna luister.

Die Heilige Gees in die Prediking🔗

Ook elke Sondag as daar van ons kansels af gepreek word, glo ons dat die Heilige Gees in die prediking aan die werk is. Juis daarom is Gereformeerdes so daarop gesteld dat die prediking Skrifprediking moet wees. Dit moet "So sê die Here" wees, nie "So sê die dominee" nie. Hoe meer die dominee se eie idees in die preek na vore kom — stories of grappies of staaltjies, hoe boeiend of aangrypend ook al — hoe minder word die Heilige Gees gehoor. Daarom moet elke preek Skrifuitleg en Skriftoepassing wees. Getroue Skrifprediking is immers 'n deurlopende belydenis van die krag en die werk van die Heilige Gees.

Heilige Gees en Bybel

Hiermee saam gaan ook die "armoede" aan allerhande hulpmiddels en lokmiddels tydens die Gereformeerde erediens. Reeds in die tyd van die Reformasie het Gereformeerdes besef dat die Roomse "boeke van die leke" die werk van die Heilige Gees in die prediking misken. Rome wou, tipies menslik, beter weet as God. God het gesê: "Die geloof is deur die gehoor, en die gehoor is deur die woord van God" (Romeine 10:17). Maar vir Rome was die eenvoudige hoor van die Woord nie meer genoeg nie. Nee, met sigbare hulpmiddels moes die geloof by die "leke" tuisgebring word.

Daarom is in die Gereformeerde erediens teruggekeer na 'n eenvoudige liturgie waarin die aanhoor van evangelieverkondiging sentraal staan. So werk die Gees van God, al sou mense dit anders wou hê. Ook die hedendaagse afweer van "boeke van die leke" uit die Gereformeerde erediens is 'n kragtige belydenis van die krag van die Heilige Gees.

Selfverloëning🔗

Op sy duidelikste kom die Gereformeerde belydenis van die Gees wat op Pinkster uitgestort is, na vore daar waar die gelowige selfverloëning aan die dag lê. Want die plek waar die Heilige Gees sedert Pinkster woon, is in die harte van mense. En as die Gees in jou woon, skuif die eie ek al meer op die agtergrond en die Gees van God al meer op die voorgrond. In die woorde van Romeine 8:9: "Julle word nie deur julle sondige natuur beheers nie, maar deur die Gees, want die Gees van God woon in julle."

Die Gereformeerde Pinksterverkondiging vind dus plaas elke dag waar gelowiges, afsonderlik en gesamentlik, besluite neem téén dit wat ons self wil hê en positief luister na wat die Gees van God wil hê. Selfverloëning beteken egter nie standpuntloosheid of ruggraatlose toegee aan wat ander mense wil hê nie. Egte Gerefor­meerde selfverloëning is om die eie ek te laat terugstaan vir die Heilige Gees. Dit is om te wil wat die Gees wil, soos Hy in sy Woord aan ons voorsê. Daarom vereis egte selfverloëning dat ons moet standpunt inneem, dikwels sterk standpunte, selfs ongewilde standpunte. Maar altyd standpunte wat vashou aan die Woord van die Here. Want in die Woord, glo ons, lei die Heilige Gees ons dag vir dag.

So word dit al duideliker dat die egte Gereformeerde godsdiens hoegenaamd nie Geestesarmoedig is nie. Dit wil juis konsekwent en deurlopend bely dat die Heilige Gees van die uitstorting by Pinkster tot vandag toe by ons bly. En dat die Gees lewend en kragtig in en met ons werk. En met ons praat. Daarom sal ons na sy woorde luister, soos Hy dit vir ons laat opteken het, in die Bybel.