2 bladsye.

Oor die Ekonomiese Krisis

koop die wêreld🔗

Kwaliteit van Lewe? (Carl Trueman, 2008)🔗

So wie is verantwoordelik vir die huidige (ekonomiese) ramp? Ons almal is. Ons is almal deel van ’n wêreld wat mense steeds sterker leer dat waarde in die lewe eintlik in die aankoop en verbruik van goedere lê…

Nee, geen van ons as ʼn individu dra al die verantwoordelikheid nie. Maar net soos elke groot gebeurtenis in die geskiedenis die gevolg is van makro-ekonomiese en sosiale kragte, en die gevolg is van ontelbare individue wat in ’n spesifieke manier optree, so is hierdie ramp ook ’n produk van ons tyd. Een waarin ons almal ’n hand gehad het. Ons is almal medepligtiges om ’n kultuur van materialisme te skep en te onderhou. Ons is almal deelnemers van ’n wêreld wat, om onsinnige hoogtes van ekonomiese groei te bereik, onsinnige hoogtes van materiële aspirasies by mense aanwakker.

En laat ons nie vergeet nie, so ’n idee kan maklik aan ’n verlore mensdom verkoop word. Die gevolg is dan natuurlik dat gierigheid en hedonisme tot deugde verhef word, en dat kwaliteit van lewe gemeet word in terme van hoeveel ek kan verbruik in vergelyking met ander. Elke keer as jy die televisie aansit is daar iemand wat jou in ’n advertensie vertel hoe onvolmaak jou lewe is. En dat dit onvolmaak is omdat jy nie hierdie voedselverwerker het, daardie motor of vakansie, hierdie tipe huis ens. nie. Die krediet-ontploffing (van ’n paar jaar gelede) is volledig deel van hierdie truuk wat die moderne verbruikerssamelewing op ons gespeel het, naamlik die idee dat die vergadering van materiële dinge ons lewe betekenisvol maak. Hierdie krediet-ontploffing het die petrol voorsien vir die gemors waarin ons onsself nou bevind.

Gierigheid (Chuck Bentley, 2008)🔗

Die grootste fout in al die nuusberigte, publieke debatte en politieke redevoerings oor die ekonomiese krisis, is dat ek nog niks by die leiers gehoor het oor ons gesamentlike noodsaak om verder as onsself na ’n oplossing te kyk, en ons tot God almagtig te bekeer. As ek hoor hoe ons politieke leiers die wortel van die ekonomiese probleme identifiseer as “gierigheid”, is dit asof ons vergeet het dat gierigheid en die gevolge hiervan ’n hartprobleem is, en nie ’n beleidsprobleem nie.

Die Skrif leer ons dat geld nie die oplossing is vir geldprobleme nie. Meer nog, dit sê dat hy wat lief is vir geld nooit genoeg het nie, en dat die liefde vir geld die wortel van allerlei soorte euwel is. Geldprobleme is hartprobleme en kan slegs deur hartsbekering opgelos word.

As Ek die hemel toesluit, dat daar geen reën is nie, of as Ek die sprinkaan beveel om die land af te eet, of as Ek pes onder my volk stuur, en my volk oor wie my Naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en bid en my aangesig soek en hulle bekeer van hulle verkeerde weë, dan sal Ék uit die hemel hoor en hulle sonde vergewe en hulle land genees. 

(2 Kronieke 7:13-14)

Brood🔗

Daaglikse Brood (B Luiten, 2008)🔗

Tog is dit presies ons valkuil: dat ons die doele vir die hier en nou te hoog stel! Die Westerse mens wil alles hê, en hy wil dit nou hê. Massaal word hierop ingespeel deur die leweransiers en finansiers. Die een wil alles aan jou verkoop, die ander wil dit graag vir jou betaal. Totdat jy in die moeilikheid kom met jou afbetalings en by die minste teëslag nie jou verpligtings kan nakom nie.

Dit is belangrike oorsaak van die finansiële puinhoop in die Verenigde State. Per kop is daar ’n gemiddelde skuld van $9000, volgens die syfers van ’n paar maande terug. Hierdie syfers het betrekking op die verbruikers-krediet. Verder word die huisverbande steeds groter, in die verwagting dat die huise meer werd sou word. Al daardie geld is ook by voorbaat al uitgegee. Hoekom nie?

Ons leer om te bid vir daaglikse brood. Dit is brood vir vandag. Wie dit vir die Here vra belowe hiermee implisiet dat hy dankbaar en tevrede (!) sal wees as hy dit kry. Ons vra nie brood vir môre nie. Daarmee kom saam dat dit nie die bedoeling is om die brood van môre vandag al op te eet nie. Wat presies die geval is by verbruikers-krediet. Mense word in die geleentheid gestel om geld uit te gee wat hulle nog nie eers verdien het nie. Let wel, en dit alles in ’n wêreld vol teëslag, waarin alles lank nie altyd uitwerk nie, waarin selfs jou gesondheid ’n broos besit is. Die geleende bedrag per persoon sal ook in hierdie land glad nie laag wees nie. Mense en banke gaan tot die uiterste. Totdat jou kop vol sit met materiële hoogmoed of wanhoop.

Skat en Seën (AP de Jong, 2008)🔗

Wat kan ons leer uit hierdie ekonomiese krisis waarin ons ons begeef?

wiegie

Hierdie gebeurtenisse wys vir ons wat die risiko’s is van ’n te hoë verband. ’n Baie gevalle gaan veral jong mense finansiële verpligtings aan wat geen ruimte laat om enige teëslae op te vang nie. En die verkryging van kinders moet dan uitgestel word vanweë die noodsaak om twee volledige salarisse in te kry. Daarmee skei ons egter wat God saamgevoeg het. By die sluiting van ’n huwelik hoort prinsipiële die bereidheid om kinders te ontvang. Laat ons dan ook in hierdie weg soek om God se seën te ontvang.

Verder onderstreep dit die waarskuwing van die Here Jesus in die Bergrede om geen skatte op aarde te versamel nie, waar hulle deur ’n mot van gestadigde beursprobleme of deur die roes van ’n kredietkrisis verderf kan word. Hoeveel mense verloor nie totaal en al hoop deurdat hulle (vermeende) rykdom in rook opgegaan het deur die krisis op die aandelemarkte nie? Laat ons in die eerste plek die Koninkryk van God soek, en skatte in die hemel soek deur weg te gee. Calvyn noem dit om weg te gee: die Christen stuur sy goedere vooruit na sy ewige vaderland. En dit bied tog by verre die hoogste opbrengs.