Bron: Kompas, 2012. 3 bladsye.

"Geen Nuwe Leer Nie"

In die 16de eeu, die tydperk van die groot Reformasie, is die werk en prediking van die reformatore in die Nederlande dikwels benoem as die verkondiging van “de nye lere” oftewel die nuwe leer. Ten onregte, want die reformatore het gestrewe na hervorming van die kerk, en die belangrikste element in hierdie verband was juis die terugkeer na die ou waarheid. Die leer soos dit in die Bybel vasgelê is en deur die kerkvaders van die oudheid teenoor velerlei kettery en afdwaling gehandhaaf is.

Dus geen nuwe leer nie!

Tog was die gedagte dat die hervormers ʼn nuwe leer gebring het, nie so vreemd nie.

Eeuelank het die Roomse kerk ʼn leer verkondig wat in baie opsigte van die ou Skriftuurlike leer afgewyk het. Die volk en sy leiers het so gewoond daaraan geraak dat elke verskil met hierdie vervalste leer as kettery of ‘nye lere’ beskou is.

En die Roomse kerk het nie moeg geword daarvoor nie om die vorste daarop te wys dat die ketters ‘te vuur en te swaard’ vervolg moes word.

En dan was daar nog iets.

In die tyd toe die groot hervormers opgetree het en hul leerlinge in die hele Europa die heerlike evangelie weer in sy volheid verkondig het, was daar inderdaad ook valse leraars! Wederdopers en ander geesdrywers het met onbybelse leringe gekom en tot rewolusionêre optrede aangespoor. En hul optrede kon maar alte eenvoudig as ‘bewys’ geld vir die bewering dat die hervormingsbeweging ʼn groot gevaar vir kerk en staat was.

Merkwaardig genoeg egter het ook die Wederdopery geen nuwe leer gebring nie. In hierdie beweging het talle elemente van ou ketterye, soos dié van Montanus, Donatus en Pelagius, weer op die voorgrond getree. Dit het dus ook in daardie jare heelwat onderskeidingsvermoë geverg om goed en sleg van mekaar te onderskei.

Teen hierdie agtergrond het Guido de Brès in 1561 ’n geskrif aan koning Philips II aangebied. In die nag van 1 op 2 November van daardie jaar het hy dit oor die muur van die kasteel in Doornik gegooi. Dit het inderdaad by die koning uitgekom; of hy kennis daarvan geneem het, is ’n ander vraag. Maar die gelowiges in die Nederlande het die boekie deeglik leer ken en waardeer. Reeds in 1562, hierdie jaar dus 450 jaar gelede, het die eerste Nederlandse vertaling die lig gesien. Ons ken dit deesdae nog as die Nederlandse Geloofsbelydenis (NGB).

Dit is nie die bedoeling om die inhoud en betekenis van die NGB breedvoerig te bespreek nie, maar ons wil in hierdie artikel veral aandag gee aan die invloed van die bogenoemde agtergrond op die belydenisskrif en ’n opmerklike lering wat ons uit die ontstaansgeskiedenis kan trek.

Dat De Brès duidelik in die voetspore van die kerkvaders geloop het, is duidelik uit die baie aanhalings. Dit is by die eerste lees daarvan nie altyd duidelik nie, maar eens het iemand ʼn bloemlesing van verwysings na die ou kerkvaders saamgestel wat in die NGB gevind kan word. Daaruit blyk dat daar aanhalings is uit die belydenisskrifte van Nicéa en Athanasius, verwysings na die uitsprake van die konsilies van Chalcedon en Constantinopel, en dat daar tot 8 kerkvaders se geskrifte gebruik is, veral dié van Augustinus. In sy brief aan koning Philips II wat by die belydenis gevoeg is, skryf De Brès nadruklik:

Ons handhaaf en bely nie net die vernaamste punte van die Christelike geloof, vervat in die Apostoliese geloofsbelydenis en gemeenskaplike geloof, nie, maar die hele verkondiging daarvan geopenbaar deur Jesus Christus tot ons lewe, ons regverdigheid en ons saligheid, verkondig deur die Evangeliste en Apostels, beseël met die bloed van so baie martelaars, suiwer en onveranderd bewaar in die ou kerk.

Daar mag geen twyfel wees nie: die Reformasie bring geen nuwe leer nie, maar staan op die spoor van die kerk van alle tye.

Dieselfde tema vind ons terug wanneer die dwaling van die Wederdopers afgewys word. Daarin is die NGB baie duidelik, maar eintlik word in dieselfde asem die Roomse leer afgewys, want in baie opsigte stoel beide op dieselfde wortel. Dit word duidelik waar dit gaan oor die Woord van God. Teenoor die Reformasie wat die absolute gesag van die Heilige Skrif bely, verleen Rome ook gesag aan die menslike tradisie soos deur die pous vasgestel en die Wederdopers steun sterk op buite-Bybelse openbarings van die Heilige Gees. Die laaste opvatting is vandag ook weer aktueel waar baie mense steun op direkte inspraak van die Gees wat hoër waardeer word as die Heilige Skrif.

Ook ten opsigte van die sakramente stry die NGB op twee fronte. Teenoor Rome word beklemtoon dat die sakramente tekens en seëls is van God se beloftes en nie die middel waardeur die genade uitgedeel word nie. Ook die getal sakramente word van die Roomse sewe teruggebring tot die Bybelse twee. Maar ook die Wederdopers dwaal hier waar hulle bely dat die gelowige in die bediening van die sakrament handelend optree. Nie die Here spreek in die sakrament nie, maar die mens. En aangesien ʼn baba geen gelowige kan wees nie, word die kinderdoop afgewys. Net soos die gesag van die Skrif, word ook die betekenis van die sakramente vandag ondermyn, en dit bewys opnuut die aktualiteit van hierdie belydenisskrif.

En so sou daar meer aspekte genoem kon word, maar ons wil verder let op ʼn ander besondere kenmerk. Dit gaan in die NGB om die belydenis van ons gemeenskaplike geloof.

Hierdie aspek kom duidelik na vore in die ontstaansgeskiedenis van die NGB.

Reeds in 1559 het die Gereformeerde kerke in Frankryk tydens hul eerste nasionale sinode ’n belydenis vasgestel. Op versoek van die Franse kerke het Calvyn hulle gedien met ’n konsep wat op die sinode bespreek en na enkele wysigings van ondergeskikte betekenis aanvaar is.

Maar toe reeds het Guido de Brès self ook ’n konsepbelydenis gereed gehad. Inderdaad ’n konsep, want hy wou die kerke met hierdie geskrif dien en dus moes die kerke en hul voorgangers in die proses van vasstelling deel. Eers het hy die konsep na Calvyn gestuur en hom en die ander predikante van Genève se oordeel gevra. Hierdie oorspronklike belydenis het verlore gegaan en ons kan dus nie seker wees van die teks nie. In hul antwoord het die Geneefse predikante aan De Brès die raad gegee om hom te hou by die Franse belydenis, sodat die eenheid in die geloof oor die landsgrense heen sigbaar sou wees.

Aanvanklik het De Brès hom aan die advies gehou en sy belydenis agtergehou. Maar waarom verskyn dit in 1561 dan weer? Aangesien ons nie die oorspronklike uitgawe met dié wat aan die koning aangebied is, kan vergelyk nie, kan die vraag nie met sekerheid beantwoord word nie. Dit lyk egter aanneemlik dat die verskil in omstandighede tussen Frankryk en die Nederlande die deurslag gegee het. In Frankryk was die invloed van die Wederdopers gering terwyl dit in die Nederlande sterk aanwesig was. En juis die rewolusionêre karakter van hierdie beweging was vir die Gereformeerde kerke in die lae lande ’n groot gevaar. Dit is goed moontlik dat De Brès in sy tweede konsep die Franse belydenis met aanvullings teen die Wederdopery uitgebrei het. Ook hierdie tweede konsep is aan Calvyn voorgelê. In sy antwoord betuig Calvyn:

In u belydenis het ons niks opgemerk wat nie in ooreenstemming met God se Heilige Woord en die regsinnige geloof is nie. Daarom keur ons die inhoud van harte goed.

Daar is nog ’n interessante aanvulling. Calvyn stel voor om nie te skryf dat die brief aan die Hebreërs van die hand van Paulus is nie, aangesien hy op grond van sekere argumente meen dat dit nie deur hom geskrywe is nie!

Maar met die goedkeuring van Calvyn is die saak vir De Brès nog nie reg nie. Die belydenis is bedoel as ’n geskrif van die kerke. En ondanks die vervolgings wat reis en vergader moeilik en gevaarlik maak, het De Brès die tweede konsep ook onder die verstrooide gemeentes versprei en om kommentaar gevra.

Eers daarna het hy sy finale teks vasgestel. Op die titelbladsy van die eerste uitgawe kon dus tereg staan:

Gemaak met die gemeenskaplike goedkeuring van die gelowiges wat orals in die Nederlande verstrooi is, hulle wat ooreenkomstig die suiwerheid van die Heilige Evangelie van ons Here Jesus Christus wil lewe.

En so is die NGB ook deur die kerke ontvang en gebruik. Juis in die tyd van vervolging waarin verstrooide gelowiges mekaar op vreemde plekke ontmoet het, was die NGB die gemeenskaplike basis waarop die broederskap erken is.

Die eerste sinodes in die suidelike Nederlande eis dadelik instemming van die afgevaardigdes met hierdie belydenis. Ook die Konvent van Wesel het in 1568 uitgespreek dat elkeen wat tot die bediening toegelaat word, gevra sal word: “… of hy in alles ooreenkom met die leer wat in die kerk openlik onderhou word en wat in die belydenis vervat is.” En ook die eerste algemene sinode van die Gereformeerde kerke in Nederland wat in Emden in 1572 gehou is, vra van die afgevaardigdes ondertekening van hierdie belydenis.

Van meet af aan was die NGB die eiendom van die kerke, en ’n uiters waardevolle instrument om sowel na binne as na buite die ware leer te handhaaf.