Bron: Kompas, 2012. 3 bladsye.

Die Onttrekking

“Met droefheid maak die kerkraad bekend dat broeder X en suster Y hulle aan die gemeente onttrek het”. Wanneer ons hierdie afkondiging hoor, roep dit baie vrae en emosies op. Ons voel ons om verskillende redes verleë met so ’n afkondiging.

Uit die aard van die saak voel ons hartseer hieroor. Want iemand verlaat die gemeente. Ons het ’n geloofsband met hulle gehad, ons het saam nagmaal gevier, nou word hierdie gemeenskap verbreek. Daar kan ook verleentheid wees, omdat dit nogal skielik gekom het. Hoekom hoor ons dit nou eers? Jy het miskien nie geweet dat hierdie ontwikkeling al ’n tyd besig is nie. Kon die kerkraad die gemeente nie vroeër van die situasie op die hoogte bring nie? Het ons as gemeente genoeg gedoen om so iemand te behou? Het ons genoeg vir die persoon gebid en met hom gepraat?

Dan is daar ’n derde rede vir ongemaklikheid. Want as iemand die gemeente verlaat, wil dit nog nie sê dat so iemand ook vir God verlaat nie. Is droefheid dan wel gepas?

Ten slotte is ons daarvan bewus dat so ’n afkondiging meestal beteken dat ons die persoon nie meer in die kerk sal sien nie. Is met die onttrekking nou alle bande verbreek? Moet ons nog iets doen om kontak te hou? Of geld by ’n onttrekking: uit die oog, uit die hart?

Onttrekking in die Kerkorde🔗

Dit is opvallend dat die onttrekking glad nie in ons kerkorde gereël is nie. ’n Onttrekking is naamlik ’n onbehoorlike manier om die kerk van Christus te verlaat. Die kerk is nie ’n vereniging waar jy jou lidmaatskap sommer kan beëindig nie. En ons skrap ook nie sommer lede uit die kerklike registers nie. Lidmate behoort aan Jesus Christus. En omdat Hy ons enigste Verlosser is, wil ons mekaar in sy liggaam vashou. Daarvoor gebruik ons die kerklike tug. As iemand volhard in sy ongeloof en ongehoorsaamheid, word die persoon deur die kerklike tug van die liggaam van Christus afgesny. In hierdie denkwyse pas die onttrekking nie goed nie. Op die gereformeerde sinode van Middelburg 1896 is daarom ook die vraag behandel of ons wel moet instem met ’n versoek tot onttrekking. Moet ons nie die weg van sensuur met so iemand gaan nie? Die besluit van die sinode was as volg: as iemand hom onttrek aan die kerklike vermaning en tug of die gemeenskap van die kerk verbreek, is dit ’n ernstige sonde. Vir so iemand moet ernstig en aanhoudend gebid word en hy moet opgeroep word om van sy dwaalweg terug te kom. Ons moet so iemand nie so maklik loslaat nie. Maar ten slotte moet ook erken word dat die keuse om jou by die kerk te voeg en die keuse om wel of nie by die kerk te bly, die vryheid van elkeen persoonlik moet bly. (Middelburg 1896, art. 95)

Die verdeeldheid van die gereformeerde kerk en die feit dat die VGK maar op ʼn paar plekke in Suid-Afrika verteenwoordig is, maak die saak natuurlik nog moeiliker.

Die Afkondiging🔗

Die afkondiging van ’n onttrekking kan op verskillende maniere gedoen word. ’n Paar voorbeelde:

  • "… dat br X hom aan die gemeenskap van die kerk onttrek het."

  • "… dat br X hom aan die gemeente onttrek het."

  • "… dat br X hom aan die opsig en tug van die kerkraad onttrek het."

Die eerste afkondiging roep verwarring op. Want wat bedoel ons met die ‘gemeenskap van die kerk’: die plaaslike gemeenskap of die totale gemeenskap? Maar is ons in staat om die grense van die totale gemeenskap van die kerk van Christus te bepaal? By die tweede afkondiging is in elk geval duidelik dat dit gaan om die plaaslike gemeente. Maar miskien is dit nog beter om te sê dat iemand hom onttrek aan die opsig en tug van die kerkraad. Ongelukkig moet ons iemand loslaat. Ons spreek geen oordeel uit nie, ons konstateer net dat ons die broederlike liefde en vermaning ongelukkig nie meer vir hierdie broeder of suster kan gee nie.

Daar is kerkrade wat onderskeid maak tussen die een en die ander onttrekking. Daar is situasies wanneer die kerkraad nie kan sê dat die besluit van die lidmaat om hom by ’n ander kerk te voeg, ’n verkeerde besluit is nie. Dan sal die kerkraad die droefheid agterweë laat. Maar in situasies waar die kerkraad die oortuiging het dat dit ’n verkeerde keuse is om die gemeente te verlaat, sal die kerkraad die afkondiging met droefheid doen. Byvoorbeeld as iemand hom voeg by ’n kerk of gemeente wat nie die Bybelse waarheid van Christus verkondig nie. Dan is ons bedroef omdat so iemand ’n verkeerde pad inslaan. Maar droefheid kan meer redes hê. Stel iemand verlaat die gemeente as gevolg van ’n konflik en hy sluit hom by ’n gereformeerde kerk aan. Of iemand verlaat die gemeente, omdat die kerkraad hom onder tug geplaas het, maar hy stem nie saam nie en sluit hom by ’n gereformeerde kerk aan. In albei situasies moet ons bedroef wees. Dat ’n konflik rede is dat broers en susters uitmekaar gaan, is sondig. Ons was nie in staat om te versoen nie. Dat ons die pad van vermaning en tug met ’n lidmaat nie enduit kan loop nie, is ook droewig. Tug is altyd liefdevol, dis vir die behoud van die sondaar; as iemand nie bereid is om te luister nie en hom aan die liefdevolle vermaning en tug onttrek, is dit hartseer.

Wat Kon of Kan die Gemeente Doen?🔗

’n Mededeling van onttrekking kom dikwels as ’n verrassing. Kon ons nie meer gedoen het nie? Vir die kerkraad is dit nie maklik om dit anders te doen nie. As daar sprake is van tug, is die kerkraad gebonde aan die afsprake wat ons gemaak het in ons kerkorde (art. 77 KO). Dan kan jy nie sommer mededelings aan die gemeente doen nie.

Dis daarom baie belangrik dat die gemeenskap goed funksioneer. Ken ons mekaar? Sien ons dit raak wanneer ’n broer of suster nie meer in die kerk kom nie? In groot gemeentes is dit ’n probleem. Wie sien dit? En as ek dit sien, is ek dan geroepe om met hom te gaan praat? Maar ek ken hom skaars… Dit is dus belangrik dat ons ons verantwoordelik weet vir mekaar. Die praktyk wys egter dat jy nie verantwoordelik kan wees vir 50 of meer mense nie. Dus moet ons verantwoordelikhede afbaken. In die praktyk sien jy dat mense van ’n Bybelstudievereniging hulle vir mekaar verantwoordelik voel. Dis ’n goeie ding, maar wat as ’n persoon nou nie daaraan deelneem nie? Daarom is ’n geografiese afbakening nog altyd die beste. Ons noem dit wyke. Maar dit moet nie net die wyke van die ampsdraers wees nie, maar ons moet ons verantwoordelik voel vir die mense wat in ons wyk woon: ’n groep van 15-20 persone. Dis oorsigtelik. Sien jy hulle in die kerk? Indien nie, gaan besoek hom of haar en vra hoe dit gaan. Op hierdie punt kan ons nog baie groei.

Wat ook gedoen kan word, is dit: indien iemand hom wil onttrek en die kerkraad is van oordeel dat dit ’n verkeerde besluit is, kondig die kerkraad die onttrekking in twee stappe af: eers die mededeling dat br X te kenne gegee het dat hy hom wil onttrek. Die gemeente word opgeroep om vir hom of haar te bid en die kontakte wat daar is, te gebruik om met die persoon te praat. In die erediens bid ons of die Here die lidmaat tot ander gedagtes wil bring. Die kerkraad skryf ’n brief aan die lidmaat om hom te vra om sy besluit te heroorweeg. Wanneer die persoon na drie weke nie op sy besluit teruggekom het nie, word die definitiewe onttrekking aan die gemeente meegedeel.

Na die Ontrekking🔗

Wat gebeur na die onttrekking? Wat baie belangrik is, is dat so iemand voel dat hy/sy die gemeenskap verbreek. Ons is ’n liggaam en as iemand hom onttrek, dan verloor die liggaam ’n lidmaat. Dit is pynlik en hartseer. Vertel dit ook vir die persoon. Skryf vir hom ’n kaartjie of ʼn brief. Op ’n liefdevolle manier.

Na ’n onttrekking gaan weë uitmekaar. Jy sien mekaar nie meer nie; dis moeilik om nog kontak te hou. Iemand onttrek hom juis ook om kontakte te vermy. Hy wil nie meer hê dat die ouderling of predikant hom besoek nie. Hy wil nie meer aangespreek word op sy sondes nie.

Maar tog is so iemand in die kerk gedoop en ons was getuie. Ons weet dat God se verbondsbeloftes ewig is en dat God so iemand nie sommer loslaat nie. Hoe gee ons invulling aan hierdie oortuiging? Bid ons nog gereeld vir lidmate wat hulle onttrek het? Miskien is dit ’n goeie gewoonte om aan die einde van die jaar in ons gebed al die lidmate aan die Here op te dra wat hulle in die afgelope jaar onttrek het.

Eenkeer het ’n kerkraad besluit om al die lidmate wat hulle in die afgelope 25 jaar onttrek het, op te spoor en ’n brief te skryf en hulle uit te nooi tot ’n gesprek. Want soms loop jou lewe deurmekaar en maak jy verkeerde besluite, en dis soms moeilik om daarop terug te kom. ’n Gesprek kan die drumpel verlaag en mense oortuig dat ’n terugkeer na God nooit ’n nederlaag is, maar ’n oorwinning.

Belofte🔗

Elke onttrekking is weer anders, maar wat gereeld voorkom, is dat iemand hom onttrek omdat hy nie deur die kerkraad aangespreek wil word op sy sonde nie. Hy stem nie saam met die vermaning of die tug van die kerkraad nie.

Dis daarom goed om elkeen wat belydenis van sy of haar geloof wil aflê, te wys op die laaste belofte van die formulier: Beloof jy dat jy jou aan die Christelike vermaning en tug sal onderwerp as jy in leer of lewe jou misgaan? Dit wil vir my voorkom asof ons hierdie belofte te lig opvat. Jy hoef nie altyd met die kerkraad saam te stem nie, maar jy bely wel dat ampsdraers in diens van die Here staan en dat jy jou aan hul vermaning en tug sal onderwerp. As jy dit nie doen nie, breek jy jou eie belofte wat jy voor God en sy gemeente uitgespreek het.