Bron: Kompas, 2002. 3 bladsye.

1652 - Jan van Riebeeck - 2002

Op 6 April herdenk ons die feit dat daar 350 jaar gelede onder leiding van Jan van Riebeeck ’n verversingstasie aan die Kaap gestig is. Wat moet ons in vandag se Suid-Afrika oor die gebeurtenis van 1652 sê, hoe moet ons dit beoordeel en herdenk? Kan ons dit op dieselfde manier doen soos wat die 300-jarige viering in 1952 plaasgevind het? In wese vra ons daarby na die sin en wese van die geskiedenis. Nadat ons vorige maand aandag aan Groen van Prinsterer gegee het, is dit seker gepas om in die lyn van hierdie gereformeerde historikus te poog om na ons eie geskiedenis te kyk.

Uitgangspunte🔗

Groen gee in die voorwoord van sy “Handboek van de Geschiedenis van het Vaderland” ’n uiteensetting van sy uitgangspunte vir die historiebeskrywing. Hy gaan uit van die Skrifopenbaring. God lei die geskiedenis volgens sy raadsplan. Dit is egter vir ons dikwels baie moeilik om die verband tussen God se raad en die gebeurtenisse in die verlede en hede te lê. Ons moet in hierdie opsig baie versigtig wees en nie ons eie visie op die geskiedenis en God se raad afdruk nie. Daarom moet ons in die eerste plek daarna streef om korrek en betroubaar in die weergawe van die feite te wees. Daarom mag ons geen verbande lê wat nie duidelik uit die feite na vore kom nie. Verder is, volgens Groen, met name die geestelike strominge van invloed op die dade van mense.

Met hierdie kort opsomming is natuurlik nie die laaste woord gesê nie. Daar is tereg kritiek geoefen op die feit dat Groen geneig is om ’n direkte verband te lê tussen gehoorsaamheid aan God en voorspoed vir ’n volk. Die plek van Israel in die Ou Testament mag nie oorgedra word op enige volk vandag nie. ’n Ander punt van kritiek kan wees dat Groen soveel aandag gee aan die invloed van geestelike strominge dat hy die rol van mense self onderskat. Die invloed van persoonlikheid en karakter van leidinggewendes op die gang van gebeurtenisse kry vandag tereg aandag. Verder moet in gedagte gehou word dat Groen hom feitlik uitsluitend besig gehou het met staatkundige geskiedenis. Die aandag vir ekonomiese en sosiale aspekte is van jonger datum en kleur die prentjie van die verlede baie skerper in as slegs die staatkundige geskiedenis.

Dit neem egter nie weg dat Groen se uitgangspunte nog steeds geld nie, ook al het hy self nie altyd daarin geslaag hulle foutloos toe te pas nie – maar wie sal dit wel kan doen?

Die Motiewe🔗

Die landing van Jan van Riebeeck en die vestiging van ’n verversingstasie het ’n plek gehad in God se raadsplan. Dit is ons geloofsuitgangspunt. Watter plek was dit? Daar is geen geopenbaarde wil van God in hierdie verband nie. Wat ons kan en moet doen, is om eers na die motiewe van die mense te kyk. Die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie (VOC) het die alleenhandel op Indië beheer. Dit was ’n groot bron van rykdom vir Holland. Hierdie welvaart is bedreig. Engeland het hom opgemaak om Holland as seemoondheid na die kroon te steek, die eerste Engelse Oorlog het gedreig. Die seeroete na Indië het oor die wye oseane gegaan, maar daar was een punt waar ’n oorlogsvloot die heen- sowel as die terugroete kon afsny, dit was Kaappunt. Om hierdie strategiese punt te beheer was dus van groot belang. Dit was die grootste oorweging van die VOC om die onkoste van die verversingstasie aan te gaan.

Jan van Riebeeck self het ook sy motiewe gehad. ’n Paar jaar vroeër was hy oneervol uit die diens van die VOC ontslaan, omdat hy onwettig private handel bedryf het. Hy wou vreeslik graag weer na Indië gaan en het ’n manier gesoek om homself te rehabiliteer. Deur ’n sukses te maak van ’n Kaapse nedersetting – wat eintlik ’n ongewenste uitgawe op die begroting van die VOC was – sou hy stellig weer in die goeie boekies van die gesagsdraers kom. In sy briewe aan die VOC klink duidelik hierdie wens deur.

Hierdie motiewe is nie sleg of verkeerd nie, maar ons mag daar geen ander betekenis aan heg as wat daarin is nie.

Hoewel die deurslaggewende motief vir die stigting van die verversingstasie die veiligheid van die seeroete was, het daar ook ander aspekte ’n rol gespeel. Deur die aanleg van tuine kon vars groente aan die skepe voorsien word, deur slagvee met die inboorlinge te ruil kon vars vleis verkry word, ’n hospitaal kon die siek skepelinge verpleging bied en dalk kon daar selfs op ander maniere nog ongedagte voordele uit die stasie verkry word. Jan van Riebeeck se strewe was selfs daarop gemik om soveel inkomste te genereer dat die Kaapse nedersetting sy eie onkoste kon betaal, ’n doel wat hy en sy opvolgers nie bereik het nie.

Kerkplanting🔗

Daar was nog ’n aspek wat heel duidelik in Van Riebeeck se opdrag gestaan het: hy moes die gereformeerde godsdiens handhaaf en so moontlik uitbrei. Die verversingstasie was dus tewens kerkplanting. Inderdaad, al was dit nie die aanleiding of eerste oorweging nie, die VOC was vasbeslote dat in die gebiede onder sy beheer die gereformeerde godsdiens die botoon sou voer. Hierdie standpunt hou ten nouste verband met die Nederlandse geskiedenis. Die bekende Tagtigjarige Oorlog was nog maar enkele jare gelede beëindig. ’n Deel van die Nederlandse geweste het die ou vryhede wat sy heer – die koning van Spanje – wou wegneem, met sukses verdedig. En tewens – en dit was beslis nie van ondergeskikte betekenis nie – die vryheid van godsdiens vir die gereformeerde kerk verwerf. Heeltemal in die tradisie van daardie tyd het die gereformeerde kerk in die nuwe Nederlandse staat die heersende kerk geword. Daar was ’n noue band tussen kerk en staat.

Die VOC, wat in die gebiede onder sy beheer, as die staat opgetree het (hulle kon oorlog verklaar, soldate in diens neem, eie geld uitgee en wetgewing vasstel) het dieselfde patroon as in Nederland gevolg. Die gereformeerde kerk was die heersende godsdiens. Die VOC het daarom predikante in diens geneem en uitgestuur, hulle het alle onkoste van die kerklike lewe gedra en ook inderdaad aandag gegee aan die uitbreiding van die evangelie onder die heidene.

Vir ’n handelsmaatskappy lyk dit na ’n vreemde saak. Vir ’n regering was dit in daardie tyd nie vreemd nie. As regering het die VOC sy plig nagekom, as handelsmaatskappy het hy daarin ook sy eie voordeel gesoek. In teenstelling met die toestand in Nederland is aan die Kaap geen ander kerke toegelaat nie. In Nederland was daar vryheid van gewete en ook die Roomse kerk is nie vervolg of verbied nie. In die Kaap was dit nie die geval nie. Onder die baie Duitsers wat in diens van die VOC gestaan het, was heel wat Roomse en Lutherse mense. Hulle is verbied om eie dienste te hou. En aan die kerk – in feite beskou as een van die organe van die handelsmaatskappy – is opgedra om bv doopsbediening en huweliksluiting aan nie-Gereformeerdes toe te staan.

Gevolgtrekking🔗

Mag ons nou by die herdenking van die vestiging van die Kaapse nedersetting sê dat onder God se voorsienige leiding hierdie besluit van die VOC mede aanleiding was tot die begin van die Christelike kerk in suidelike Afrika? Dit is seker ’n geregverdigde gevolgtrekking. Maar laat ons ook verder kyk. Die Kaap was nie die enigste nedersetting wat die VOC op dieselfde manier gestig het nie. Ceylon, Malakka, Taiwan, Batavia, Mauritius en Banda is nog ’n handvol voorbeelde daarvan. Ook daar is onder God se voorsienige leiding die kerk geplant, maar hoe is die toestand daar nou? Dit kan tog nie so wees dat God se planne daar misluk het nie.

Net so goed het die landing van Jan van Riebeeck – onbedoeld wat betref die VOC – die begin geword van ’n permanente Europese bevolkingsgroep in Suid-Afrika. Ook dit het onder God se voorsienige leiding plaasgevind. Ook dit het op meerdere plekke gebeur en is vervolgens in die loop van die geskiedenis weggevaag. Watter gevolgtrekkings mag ons daaruit maak?

Mag ons sê, soos in die verlede wel gedoen is, dat hieruit volg dat die Christen-Afrikaner van Godsweë geroep is om hierdie land te regeer? Wanneer ons bely dat sowel die kerkplanting as die volksplanting gebeurtenisse is binne die raamwerk van God se plan met hierdie wêreld, het ons daarmee dan ook gesê wat die spesifieke bedoeling van God is? Solank God dit nie duidelik aan ons openbaar nie, het ons geen reg om ons begeertes daaraan te heg nie.

Die Betekenis🔗

Die landing van Jan van Riebeeck was ’n deel van God se raad en hou vir die kerk en die bevolkingsgroepe wat in die gebeurtenis sy oorsprong het wel deeglik betekenis in. Ons is deel van hierdie land en hierdie volk maar ons is in die eerste plek deel van God se koninkryk.

Die herdenking van die gebeurtenis van 350 jaar gelede sal ons in die eerste plek moet laat besef dat die uitbreiding van die evangelie in Suid-Afrika nog steeds ’n taak van eerste prioriteit is. Wanneer ons ’n gelowige betekenis wil heg aan die feit dat onder God se leiding die kerk hier geplant is, dan beteken dit tog in die eerste plek dat die kerk hier is om die evangelie oor die lengte en breedte van die land bekend te stel. Na 350 jaar is daardie taak nog nie voltooi nie.

Dat ons onder God se leiding as gelowiges in hierdie land leef het sekerlik ook betekenis. In hierdie opsig kan ons ook van Groen van Prinsterer leer. Hy het in sy werk as politikus steeds ’n onafhanklike standpunt ingeneem. Alle sake van die dag het hy as skrywer en as parlementslid steeds beoordeel vanuit die Skrif en die geestelike stromings van sy tyd. Terselfdertyd het hy elke maatreël wat nuttig en diensbaar aan ’n regverdige samelewing was, gesteun.

In ons land is daar wat geestelike stromings betref slegte kragte aan die werk. Onder breë lae van die bevolking – of dit nou regerende partye of opposisie is – heers dieselfde gees waarteen Groen moes stry: die outoritêre mens voer die botoon. Hierdie stand van sake mag nie aanleiding daartoe wees om ons terug te trek en die rug op die samelewing te keer nie. Daarmee sou ons verbygaan aan die feit dat ons bely dat ons onder God se voorsienige leiding hier is. Wat God se bedoeling ook daarmee is, Hy wil in ieder geval dat ons getrou is en ons uitspreek. Selfs in die politiek kan gereformeerdes in Suid-Afrika ’n rol speel. Hulle kan die stryd teen die gees van die eeu op daardie front aanbind. Wanneer hulle dit nie slegs in negatiewe sin doen nie, maar dit gepaard laat gaan met ’n aktiewe stryd vir ’n regverdige samelewing, bestryding van armoede en verbetering van die lewensomstandighede van miljoene inwoners van ons land, dan sal daar ’n sterk getuienis van uitgaan en ook die woorde en dade sal nie ledig tot God terugkeer nie.