Bron: Die Kerkblad, 1987. 2 bladsye.

In 'n Ivoortoring sonder Evangelisasie?

Dit is skokkend, maar die ongelukkige waarheid, dat kerke veelal 'n gebrek aan geloofsdurf en entoesias­me openbaar om Jesus Christus aan die verlore­gaande wêreld voor te hou. Die kerke hou hulle grootliks met hulle eie sake besig.

Blykbaar het baie lidmate die misvatting dat die godsdiens haas net uit Sondag se ‘kerkhou' ('n kultiese handeling) be­staan. Van die stryd na buite, die getuienis vir die Evangelie op die slagveld van die hele lewe, van Maandag tot Saterdag, kom nie veel tereg nie.

Terugsinking🔗

Die kerk wat sy roeping om die hele wêreld in te beweeg (Matteus 28:18,19) nie besef nie, verstaan nie sy opdrag en sy tyd nie, en stel homself hopeloos uit pas met die wel en wee van die wêreld van van­dag. Ons het oorgenoeg waarskuwende voorbeel­de, veral in Europa, waar daar 'n ontsaglike terug­sinking plaasvind. In En­geland, byvoorbeeld, word kerke gesluit, kerkgeboue staan leeg, kerkdienaars voer 'n armsalige bestaan — hulle preek in bouval­lige kerke vir klein groe­pies mense.

Onder andere neem die Mormone, Okkultisme, die Jehovasgetuies, Chris­tian Science en selfs die Satanisme oor. Verliese wat die Christendom reeds ten gevolge van die aanslag van die Marxisme gely het, is die grootste sedert die Moslem-aan­slag gedurende die vyfde tot die tiende eeu.

Daar is duisende wat van die Kerk afvallig en vervreemd raak. Dit be­teken dat die bloed vryelik uit 'n oop wond aan die liggaam van die kerk vloei. Kerklosheid by vele is 'n proses wat lei tot kerkloosheid en gevolglik kerkvervreemding. Dit verklaar waarom onder die wit heidene in Afrika daar vandag ook soveel nasate van Geuse, Hugenote en Voortrekkers is, mense uit Verbondsgeslagte, wat afsydig en soms selfs vyandig teen­oor God, sy Woord en sy Kerk staan.

Kreupel Gemeente🔗

Die ontgoddeliking van die lewe (sekularisme) vorm in sy wese ook in ons land 'n bedreiging vir die voort­bestaan van die kerk.

On­dertussen is dit sorgwek­kend dat daar, soos prof. Van der Walt dit noem, soveel kreupel gemeen­tes bestaan, vir wie dit blykbaar nie erg ter harte gaan dat daar sonder ver­beelding en teen 'n suk­kelpas voortgeploeter word nie. Daar is 'n lam-­en-tam-houding.

Hoeveel plaaslike kerke het nie al in 'n dodelike sleur verval nie? Die dood loer om elke hoek, en die doodsheid kan met 'n stok aangevoel word. Daar is geestelike bloedarmoede, dit gaan al sugtende, sonder geesdrif en lewens­krag. So 'n doodsheid en agteruitgang is juis 'n simptoom van die inge­keerdheid van die kerk.

Dit staan vas dat 'n kerk wat nie na buite kyk en beweeg nie, verswakking van sy spiere ondervind. Die drang om die Evangelie deur te gee en om by alle waters te saai, ont­breek dan in die bloed­stroom van die kerk. Daar is 'n gebrek aan werwings­drang en werfkrag te midde van 'n al groter wordende heidendom.

Ondertussen het die kerkvervreemdes, net soos die blinde heidene, die verkondiging van die Evangelie bitter nodig — dit is 'n saak van lewe en dood ! Hulle is egter soos 'n tou siekes wat op die geneesheer by die buite­pasiënteafdeling van die hospitaal wag, maar die geneesheer daag net nie op nie!

Volle Energie Nodig🔗

Wat dus nodig is, is le­wende, bloeiende, aktiewe kerke volgens die resep van artikels 27 tot 32 van die Nederlandse Geloofs­belydenis. Hoe meer die kerk reformatories suiwer bewaar word, hoe effek­tiewer sal die ‘vermeerde­ring' beoefen word. Met spierkrag vanuit die Hei­lige Skrif en die Gerefor­meerde Belydenis gestaal, moet die kerk innerlik sterk en gesond wees.

Sonder om in die gering­ste mate in onregsinnige bane af te gly (E.E.III, Metodisme, Remonstran­tisme, Campus Crusade, ens.) moet dié wat ver­vreemd en afvallig word, terug gebring word. Prof. Van der Walt wys 'n eie Gereformeerde pad. Dit vereis 'die volle volume energie' van die kerk. Die stem van die kerk moet gehoor word, sy helpende hand moet gesien word en sy warm hart moet in die huise van die vervreem­des, veral die sosiaal-in­gesonkenes, klop. Hulle moet ‘gedwing word om in te kom.'

Hierdie beweging na buite is die asemhaling van die kerk. Wanneer dit gestaak word, versmoor die kerk. Terwyl onder leiding van die besondere ampte die hele gemeente (en nie net 'n kommissie nie! ) betrokke moet wees, moet dit al meer daartoe kom dat uit die gelowige hart wat met die Heilige Gees vervul is, van die groot dade van God in Christus Jesus en van die blye tyding van verlossing en saligheid, getuig word.

Niemand mag afgeskryf word as 'n hopelose geval of 'n onredbare mens nie. Dit geld vir mense van hoë status, maar ook dronk­aards, prostitute, straat­bakleiers en dwelmver­slaafdes. As die persoon­like geloofslewe in die kerk waarlik op peil is, sal die polsslag van die mee­lewing nie al flouer klop nie en sal daar nie 'n ge­brek aan dinamiese oor­tuigingskrag wees nie.

Dan sal op ons Gerefor­meerde kerke in groeien­de mate van toepassing wees die woorde uit Handelinge 4:20: " vir ons is dit onmoontlik om nie te spreek oor wat ons gesien en gehoor het nie".