7 bladsye.

Verwerping

Maar tog, o mens, wie is jy wat teen God antwoord? Die maaksel kan tog nie vir die maker sê: Waarom het u my so gemaak nie? Of het die pottebakker nie mag oor die klei, om uit dieselfde klomp die een voorwerp tot eer en die ander tot oneer te maak nie? En as God, al wil Hy sy toorn bewys en sy mag bekend maak, tog met groot lankmoedigheid die voorwerpe van toorn wat vir die verderf toeberei is, verdra het, juis om bekend te maak die rykdom van sy heerlikheid oor die voorwerpe van barmhartigheid wat Hy voorberei het tot heerlikheid, ons naamlik wat Hy geroep het, nie alleen uit die Jode nie, maar ook uit die heidene?

Romeine 9:20-24

God het mense nie net uitverkies en in liefde tot kinders aangeneem nie  (Efesiërs 1:4-6), Hy het mense ook verwerp. Die woord “verwerp”, kan dan die reaksie van God op mense wat aan Hom ontrou geword het, weergee. Dan is verwerping die straf van God wat hulle deur hulle afval en volharding in die sonde oor hulleself bring. Só is koning Saul, byvoorbeeld, deur God verwerp, omdat hy nie na God geluister het nie en sy eie pad ingeslaan het (1 Samuel 15:23). Die volk Israel is ook deur God verwerp oor hulle ontrouheid aan sy verbond (bv. Jeremia 6:30; 7:29). Hy verdryf hulle uit die beloofde land en laat hulle in die vreemde, ver van God se huis en altaar bly.

Ons hoor hoedat God hierdie “verwerping” op ʼn bepaalde tyd ophef en Israel opnuut verkies, maar die verwerping van mense en volke kan ook finaal wees en tot ewige verwerping en straf lei (Matteus 3:12; Markus 9:48; Openbaring 21:8).

Ewige Verwerping🔗

Baie Christene kan hulle met hierdie verwerping vereenselwig. Dit is ʼn regverdige straf wat hierdie sondaars verdien het! God sou nie ernstig wees as Hy afval en troueloosheid ongestraf sou laat bly nie. Selfs ‘ewige’ verwerping kan mens in die omstandighede verstaan. Dit is immers baie erg as jy die God van genade, wat sy eie Seun aan die kruis laat sterf het, net botweg afwys en verwerp. Dan verdién jy ewige straf.

Dit is ietwat anders as ‘verwerping’ nie God se straffende reaksie op menslike ontrou bedoel word nie, maar ʼn besluit om mense in sy verkiesing verby te gaan, wat God al voor die grondlegging van die wêreld geneem het — verwerping, nie as straf nie, maar as ʼn voorbestemming van ewigheid. God het mense ‘verkies’ vóór die grondlegging van die wêreld. Dit kan mens nog toegee, maar dat Hy toe ook al mense ‘verwerp’ het?

Die Bybel praat van uitverkiesing. Dit beteken dat nie elkeen verkies is nie, maar dat mense uit ʼn groter groep verkies is. Per definisie beteken uitverkiesing dat daar ook mense is wat nie verkies is nie. Beteken dit dan dat God mense wat nie iets goed óf sleg gedoen het, bestem het om vir ewig verlore te gaan en onder sy toorn te ly? Is dit Bybels? God is mos nie só nie?

In die Dordtse Leerreëls word onomwonde gepraat van “die besluit van die uitverkiesing en verwerping wat in die Woord van God geopenbaar is” (DL I,6), maar juis dít maak hierdie belydenisskrif by baie mense onpopulêr.

Dat ons oor hierdie punt omsigtig en sorgvuldig moet wees, is duidelik. Die Dordtse Leerreëls roep ons hieroor ook met soveel woorde op tot eerbied en ontsag (DL I, 14). Dit is belangrik dat ons besef dat ons, ook hierin, sondige mense met ʼn baie beperkte insig is. Ons moet ook weet dat die Skrif hieroor baie sober is, en nie die besluit van verwerping punt vir punt uitstal nie. Dit gaan oor God, wat in sy oordeel én in sy heerskappy oor die sonde, ons verstand ver te bowe gaan.

Vir onderrig uit die Skrif oor die besluit van verwerping word gewoonlik na Romeine 9 en na 1 Petrus 2:8 verwys. In hierdie artikel behandel ons Romeine 9.

Gemeente en Sinagoge🔗

Daar was in Rome ʼn klein gemeente wat hoofsaaklik bestaan het uit heidense Christene en ʼn groot Joodse sinagoge. Dat daar oor die verhouding tussen dié twee vrae ontstaan, is nie vreemd nie (J van Bruggen). Israel was van ouds die volk van God. Die Christus het uit Israel gekom. ʼn Mens sou dink dat jy in Israel moes wees vir geloof in God en Christus. Die Christelike gemeente in Rome ervaar dit anders. Hulle dien die God van Israel en glo in die Christus wat uit Israel gekom het, maar ervaar juis op hierdie punt ʼn diep skeiding tussen hulleself en die sinagoge. Die sinagoge wil van Christus Jesus niks weet nie. Hoe is dit moontlik? Is die sinagoge dan heeltemal buite die heil van God? Of is dit die gemeente van Christus wat onbewustelik op ʼn verkeerde spoor is? In hulle verhouding met die sinagoge ontstaan vir hulle ʼn vraag na hulle identiteit.

In sy brief aan hulle gaan die apostel Paulus op hierdie vraag in. In hoofstukke 1-8 laat hy sien dat die Christene aan wie hy skryf, hulle nie hoef te skaam of ongemaklik hoef te voel teenoor die sinagoge nie. Die evangelie was nooit uitsluitlik vir die Jood nie. Dit was ook vir die Griek, die nie-Jood. Van die begin af het dit nie daaroor gegaan of daar Joodse bloed in jou are is nie, maar of jy jou lewe en jou heil in die bloed van Christus soek; of jy die geestelike nageslag van Abraham is; of jy die geloof, wat Abraham reeds voor sy besnydenis gehad het, met hom deel. By Abraham het dit reeds gegaan oor die geregtigheid van die geloof. Elkeen wat in dáárdie geloof met hom verbonde is, hoef nie minderwaardig te voel nie. Húlle mag na die volkome verlossing van die hele skepping heenleef!

Noudat die apostel die waarde van die vleeslike Israel in perspektief gestel het, gaan hy in hoofstukke 9 tot 11 in op ʼn vraag wat hiermee saamhang: kan ons nou sê dat God sy volk heeltemal afgeskryf het? Dui die haat van die sinagoge teenoor die evangelie van Jesus Christus aan dat Christus Israel verstoot het? Het Hy sy plan met Israel opgegee en het sy belofte aan Abraham gefaal?

In hoofstuk 11 volg die antwoord dat dit by God altyd gegaan het oor die geestelike Israel; dié Israel wat nie sy identiteit ontleen het aan vlees en bloed nie, maar aan die belofte van God, en aan die lewe daaruit. Dié geestelike Israel was daar in die dae van Paulus en  sal daar wees tot die einde toe. Met die heil wat God aan die heidene skenk, wil Hy sy ou volk tot jaloersheid bring, sodat hulle Hom weer sal opsoek. God het Israel nie afgeskryf nie, maar Hy wil dat almal wat by die ware Israel hoort, tot geloof in Christus kom en behou word.

Ons lees Romeine 9 teen dié agtergrond.

Die Betroubaarheid van die Belofte van God🔗

In Romeine 9 gaan dit dus oor die vraag of God weens die onversetlike ongeloof wat daar in die sinagoge was, in sy sorg vir Israel gefaal het. Kan daar uit dié ongeloof afgelei word dat die plan en belofte van God uiteindelik skipbreuk gelei het?  ʼn Spannende vraag — nie alleen vir ons beskouing van Israel nie, maar ook vir ons berusting in die getrouheid van God! Kan ons rus vind in die getrouheid van God as die Woord van God sommer so deur die geskiedenis ingehaal en kragteloos gemaak word?

In die antwoord van Paulus sien ons twee lyne. Die eerste is dié van die krag van God se belofte en die skeiding wat die belofte maak; die tweede is die besluit van God oor húlle wat sy werk teenstaan.

Die apostel teken eerstens die skeidende krag van God se belofte in die tent van Abraham. Die ware Israel is nie die vleeslike Israel nie. Nie elkeen met Abraham se bloed in sy are deel in Abraham se geloof nie. Wie nie in daardie geloof deel nie en God se verbond verag, word nie getel nie. Nie almal wat van Israel afstam, is Israel nie. Paulus verduidelik dit aan die hand van die plek van Isak tussen die ander seuns van Abraham. Ons sien by Isak se geboorte dat die ontstaan van Israel sy ontstaan ten diepste te danke het aan die almag van die belofte van God. Dít is die oorsprong van Israel. Die volk kom nie voort uit manlike krag en vroulike vrugbaarheid nie. Dit het sy ontstaan te danke suiwer en alleen aan die woord wat God gespreek het; aan sy belofte. Kyk na die geboorte van Isak. Uit hom het Israel voortgekom, en nie uit een van Abraham se ander seuns nie. Isak was die seun wat deur God aan Abraham beloof is, en wat nie uit Abraham se krag nie, maar deur God se wondermag gebore is.  God voer sy belofte uit in ʼn man en vrou wat gesien hul ouderdom, nie meer lewe kan voortbring nie. Dáár lê die oorsprong van Israel. Dít bepaal wie die ware Israel is. Die grense van Israel word nie deur vlees en bloed bepaal nie, maar deur die belofte van God en deur geloof in Hom.

Dieselfde blyk met die seuns van Isak. Die pad van die Here loop op ʼn manier wat mens nie verwag nie. Die vleeslike verhoudings in die tent van Isak is nie bepalend nie, dit word selfs omgekeer: nie die oudste nie, maar die jongste neem die fakkel van die belofte oor. Hoe het dit gebeur? Suiwer en alleen deur die verkiesende voorneme van God, skryf Paulus. Nog voor een van die twee seuns, Jakob en Esau, iets gedoen het — hetsy goed of sleg — het God sy keuse gemaak: Jakob het Ek liefgehad, maar Esau het Ek gehaat. Die ontstaan van Israel word deur die vrye en verkiesende voorneme van God bepaal; suiwer en alleen deur wat Hy in sy genade wil, langs die weg wat Hy kies en binne die grense wat Hy trek.

Dit is dus die eerste ding wat Paulus hier sê. Vlees en bloed is nie vir Israel bepalend nie, maar God se verkiesende voorneme. Dit was nooit so dat elkeen wat aan die volk Israel behoort het, per definisie ook aan die ware Israel behoort nie. God kies sy kinders. En daardie voorneme voer Hy deur. Sy belofte en geloof in Hom is bepalend. Omdat sy belofte nooit kragteloos word nie, was en is daar altyd 'n ware Israel, al was dit maar 'n oorblyfsel. Daar is altyd weer 'n oorblyfsel, na die verkiesing van sy genade, tot in die dae van die Goddelose Agab!

In die dae van Paulus lyk dit anders. Die hele groot sinagoge van Rome wil niks van Christus weet nie. Hoe kan dit wees? Het God sy eeue oue plan dan nou uiteindelik laat vaar? Is die hele Israel nou afgeskryf? Het God aan Homself ontrou geword? Is daar in die dae van Paulus dan nie meer, soos deur al die eeue, 'n gelowige oorblyfsel nie? Wat sal ons dan sê, vra Paulus, sou God dan oneerlik wees? Sou Hy sy verbond laat vaar het?

Beslis nie!, sê die apostel. Hy verwys na wat God eens aan Moses gesê het: “Ek sal genadig wees vir wie Ek genadig wil wees, en My ontferm oor wie Ek My wil ontferm” (Eksodus 33:19). Daarmee wys Paulus terug na woorde wat God op 'n deurslaggewende moment in die geskiedenis van Israel gespreek het. God het dit gesê net nadat Israel aan die voet van Sinaï (let wel!) die hart van die HERE vertrap het deur die sonde met die goue kalf. Hy kon hulle daar al ‘afdank’. Tog gaan Hy met hulle verder. Waarom? Nie oor Israel, of omdat hulle agteraf gesien tog nie so sleg was nie, maar enkel en alleen omdat Hy getrou is aan Homself en aan sy wilsbesluit: "Ek sal genadig wees vir wie Ek genadig wil wees, en My ontferm oor wie Ek My wil ontferm”; “EK IS WAT EK IS” (Eksodus 3:14). God hou by sy verkiesende voorneme, Hy is vuurvas en krisisbestand. Hy bly bestendig — ook nou. Nou is daar is ook die geroepenes uit die heidene (v. 24).

Maar waarom was daar so baie mense wat in die dae van Paulus niks van Christus wou weet nie?

Die apostel het reeds na die verkiesende voorneme in die tente van die aartsvaders verwys. Teenoor Isak staan die ander kinders van Abraham. Teenoor Jakob staan Esau. Dit was kinders van die vlees, nie kinders van die belofte nie. Hulle hoort by die volk van die verbond, maar hulle verwerp die HERE en sy belofte.  Daarom hoort hulle — na die verkiesende voorneme van God! — uiteindelik nie by die ware Israel nie.

Het daar nie in de tyd van Moses, daardie glorieryke voorganger in Israel, al die huiweringwekkende woord tot Farao, die koning van Egipte, gekom nie? “(J)uis hiervoor het Ek jou laat optree, dat Ek in jou my krag kan toon en dat my Naam verkondig kan word op die hele aarde” (v. 17; lees ook Eksodus 9:16). Die HERE ontferm hom nie alleen oor wie Hy wil nie, maar Hy verhard ook wie Hy wil, skryf Paulus. Dit gaan dus nie buite die HERE om nie, dit maak nie sy voorneme ongedaan nie, dit doen nie afbreuk aan sy majesteit en mag nie — Hy verhard ‘wie Hy wil’.

Dit is opvallend dat Paulus hier juis die verharding van Farao as die handeling van God noem: Dit is Hy self wat die Farao teen Hom laat opstaan. Dit is nie ʼn ‘slip of the pen’ van Paulus nie; hy teken die verset as regstreeks voortkomend uit die wil van God (Hy verhard wie Hy wil; v. 18), én dit word aangehaal in ʼn konteks waarin die verkiesende voorneme van God sterk benadruk word (nie iemand wat wil of iemand wat loop nie, maar die verkiesende voorneme van God gee die deurslag; vv. 11, 16).

Volgens Paulus gaan die verharding van Farao nie buite die HERE om nie. Hy het Farao in verset laat kom. Die teks wat die apostel aanvoer is ʼn aanhaling uit Eksodus 9. Dit is die woord wat die HERE gespreek het tussen die sesde en die sewende plaag wat die bevryding van Israel voorafgaan. Die HERE sê vir Farao dat hy hom nie deur al God se plae op die knieë sal laat bring nie, omdat die HERE met die verset van die vors van Egipte sy eie plan het. Farao sal hom met al sy mag teen die HERE verset sodat, wanneer die HERE hom uiteindelik op sy knieë dwing, God se krag oral bekend sal word: God het nie ʼn swak en klein koninkie nie, maar die Farao, met al die mag en aanvalsvermoë waaroor hy beskik, oorwin. Niemand sal by God verbykom nie! Die God wat die supermagtige Farao verneder is Iemand vir wie daar diep ontsag moet wees.

Dat Paulus juis hierdie teks aanhaal, word deur verklaarders aangegryp om te sê dat as God iemand verhard, dit altyd 'n straf is op 'n vroeëre sonde en vorige verset teen Hom. Dit was tog immers eers ná die sesde plaag, en nadat hy hom verset het, dat die Here sê dat Hy Farao sou verhard. God se verwerping, so sê hulle, is altyd ʼn reaksie op menslike sonde.

Dit word te maklik gesê. Dit gaan by Paulus in Romeine 9 juis daaroor om aan te toon hoe die verharding van Farao deur God self bewerk word en uit sy wil voortspruit. Hieroor haal hy die teks uit Eksodus 9 aan. Wie die teks in hiérdie verband wil laat sê dat God se verharding van Farao sy straf is op die hardnekkigheid van Farao tot op daardie stadium, gaan buite die verband van Romeine 9 en verloor die perspektief. Die apostel wil juis laat sien dat God ‘verhard wie Hy wil’ en dat geloof én ongeloof uiteindelik hulle begronding in God se verkiesende voorneme het.

Wanneer dit oor die verharding van Farao gaan, is dit ook goed om daarop te let hoedat God al vóórdat Moses na Farao toe gegaan het, die verharding aangekondig het. Moses moes na Farao gaan, aldus Eksodus 4, om voor sy oë al die wonders te doen waartoe God hom die mag gegee het. Maar, sê die Here toe reeds, “Ék sal sy hart verhard, sodat hy die volk nie sal laat trek nie” (v. 21). Gód sal sy hart verhard, en dit word gesê op 'n tydstip toe Farao nog van niks weet en nog nie met die Here gekonfronteer is nie.

Menslike verharding gaan nie buiteom die voorneme van God nie! Die verharding van Farao het van God gekom en God het sy bedoeling daarmee gehad. Dit geld ook die verharding wat in die sinagoge van Rome oor Israel gekom het. Die Here het sy bedoeling daarmee! Hy regeer daaroor. Wanneer die vleeslike Israel hulle vir die evangelie afsluit, gaan die Here met sy ontferming na ander volke, wêreldwyd (v. 24).

Klei en Pottebakker🔗

Die Here ‘verhard wie Hy wil’. Ja, só staan dit daar! En die apostel doen g'n jota daaraan af wanneer hy daarna dié teenwerpsel formuleer nie: Waarom verwyt Hy dan nog vir Israel? Mens kan tog nie sy wil weerstaan nie! Ismael kon nie, Esau kon nie, Farao kon nie — dan tog seker ook nie Israel in die dae van Paulus nie? Waarom word hulle dan verwyt?

Paulus gaan op hierdie vraag in en dit is opvallend dat hy nie by nadere oorweging dit wat hy vroeër geskryf het, intrek, asof dit tog maar 'n bietjie kras uitgedruk was nie. Nee, hy bly daarby dat God verhard wie Hy wil, maar hy doen dan wat God destyds met Job gedoen het. Hy lê nie uit hoe dit presies inmekaar steek nie, maar hy stel ons voor die majesteit van God. Soos Job, toe hy die grootheid van God besef, sy hand op sy mond lê en sy onvoorwaardelike vertroue op die HERE en sy wil uitspreek (Job 39:37e.v.; Job. 42:1-6), so wys die apostel op die soewereine mag van God. Hy is die Pottebakker, die Boetseerder. Ons is niks meer nie as die klei, die voorwerp van God se boetsering. Dit is bekende beeldspraak uit die Ou Testament (Jesaja 45:9; Jeremia 18). Die HERE is die Pottebakker, sy volk is die klei wat deur Hom gevorm en geboetseer word. Dit is beeldspraak wat ons op ons plek sit. Hoe sou ons met God wil twis; ons wat niks meer is nie as 'n potskerf by erdepotskerwe (Jesaja 45:9)? Dink ons regtig ons kan die werk van die heilige God verbeter? Moet Hy by óns ‘bevredigende punte’ kry?

Ons kry nie by Paulus 'n verklaring van presies hoe dit inmekaarsteek nie. Hy wys ons op die reg van God as Pottebakker. Het Hy nie die reg om uit een en dieselfde klomp klei voorwerpe vir eervolle gebruik én voorwerpe vir alledaagse gebruik te maak nie? Ja, só staan dit daar: uit dieselfde klomp. Die aanstoot hierin word nie deur Paulus uitgehaal nie. Met ons menslike begrip kom ons nie hier uit nie, want dit is werk van 'n hoër orde — die werk van die Pottebakker wat ons nie begryp nie! Sy gedagtes is inderdaad nie ons gedagtes nie. Sy weë is onmeetlik hoër as ons s'n, ondeurgrondelik en onnaspeurlik (Jesaja 40:13e.v.; 55:8e.v.; Romeine 11:33-36).

Geen Vergelyking🔗

'n Pottebakker het die reg om uit dieselfde klei een deel vir eervolle, en 'n ander deel vir alledaagse gebruik te bestem. So het God ook die reg om sommige mense tot verderf te bestem en ander om barmhartigheid te ontvang. Dit hét Hy gedoen. Hy het mense daartoe bestem om sy toorn en sy krag te laat sien — sy toorn oor die sonde en sy krag wat alle verset oorwin. Dit is vir ons huiweringwekkend om te hoor: God wil sy toorn en krag laat sien in mense wat tot die verderf toeberei is. Maar Hy het reg daartoe. As die Pottebakker. Ook as die Heilige, wat reeds van Adam af deur die mens teengegaan is.

Hierbenewens is daar die mense oor wie Hy Hom ontferm en wat Hy vir die heerlikheid voorberei het. In hulle laat Hy die rykdom van sy genade sien. Hy oorlaai hulle met sy heerlikheid, alhoewel hulle dit op geen manier verdien nie.

Die Here begaan geen onreg as Hy oor die één sy toorn uitgiet en oor die ánder die son van sy ontferming laat opgaan nie.

Daar is in die woordgebruik van Paulus 'n bepaalde nuanse waaroor ons nie heen mag lees nie. Oor die voorwerpe van God se ontferming, skryf die apostel dat God hulle vir heerlikheid voorberei ‘het’ (v. 23). Oor die voorwerpe van God se toorn skryf hy dat hulle vir die verderf toeberei ‘is’ (v. 22). Waar dit oor hulle aan wie barmhartigheid bewys word, gaan, is dit alles God se werk: Hy hét hulle tot heerlikheid voorberei. Waar dit gaan oor hulle oor wie die toorn van God kom, staan daar dat hulle vir die verderf toeberei is, sonder dat daar staan deur wie dit gedoen is. Daarmee word nie bedoel om God se aandeel in die ‘toeberei vir die verderf’ te ontken nie. Die hele Romeine 9 wys juis daarop dat God se hand daarin is. Die lydende vorm van 'n werkwoord word meer as eens in die Bybel gebruik om die handeling van God te beskryf. Tog is die terughoudendheid van Paulus veelseggend, veral omdat hy in vers 23 wel die aktiewe vorm gebruik (‘voorberei het’). Kennelik is verkiesing en verwerping nie heeltemal vergelykbaar nie. Geloof en ongeloof mag nie op dieselfde manier na God se besluit teruggevoer word nie. Ongeloof mag nie op dieselfde manier aan die verwerping van God toegeskryf word as wat geloof aan die verkiesing van God toegeskryf word nie. Verkiesing is uit genade, geloof is 'n gawe van God. By die verwerping is die sondaar mede werksaam (Greijdanus) en mens mag die skuld vir die sonde op geen enkele manier aan God toeskryf nie. Dit sou Godslastering wees (Dordtse Leerreëls I,15 en Besluit). Hy is die Heilige wat die sonde, verset en verharding teen Hom haat en straf.

Dit het ook vroeër in Romeine 9 na vore gekom, en wel in verse 14-18. God sê aan Moses: “Ek sal barmhartig wees oor wie Ek barmhartig wil wees en My ontferm oor wie Ek My wil ontferm”. Daaraan heg Paulus die gevolgtrekking: “So hang dit dan nie af van die een wat wil of van die een wat loop nie, maar van God wat barmhartig is”. Paulus heg nie 'n soortgelyke gevolgtrekking aan die woord aan Farao wat in vers 17 aangehaal word nie: “Juis hiervoor het Ek jou laat optree, dat Ek in jou my krag kan toon en dat my Naam verkondig kan word op die hele aarde”. Hieraan heg hy nie die gevolgtrekking dat dit nie afhang van die een wat wil of die een wat loop, maar van God wat Hom vertoorn nie, maar wel die samevattende gevolgtrekking in vers 18: “So is Hy dan barmhartig oor wie Hy wil en Hy verhard wie Hy wil”. Ons stel dit ook hier dat dit by Moses en Farao kennelik nie vergelykbaar afloop nie. Om God se kragsopenbaring oor Farao alleen en uitsluitlik aan God toe te skryf, gaan te ver; die verharding van Farao het meegewerk (dit is moontlik die agtergrond waarteen Paulus na Eksodus 9:16 verwys. Ons het hierbo gesien dat 'n verwysing na Eksodus 4:21 ook sou dien). Verset en verharding is nie op dieselfde manier van God afkomstig as geloof en gehoorsaamheid nie. Die Dordtse Leerreëls omskryf in I,15 dan ook nie die verwerping as 'n spontane en ewige bestemming tot die kwaad nie, maar as 'n verbygaan in die uitverkiesing en 'n laat in selfgekose ellende. Daarmee word bedoel: God wil nie die verwerping op dieselfde manier en met dieselfde innerlike vreugde as die verkiesing nie. Hy is nie die skuld of oorsaak van sonde en ongeloof nie!

God Gebruik die Verwerping🔗

Daar is nog iets wat opval in Paulus se woorde oor God se handel met diegene wat hulle verhard, oor wie God sy toorn openbaar en sal openbaar. God voer nie sy oordeel meteens oor hulle uit nie, skryf die apostel, maar verdra hulle nog 'n tyd lank met groot lankmoedigheid. Hy stel die gewisse oordeel nog 'n tyd uit. God doen dit nie sonder rede nie, Hy het sy bedoeling daarmee, sê Paulus. Enersyds wil Hy laat sien dat Hy die Heilige en Almagtige is, om as waarskuwing aan almal te dien! Aan Jode en nie-Jode. Hy gebruik die afvallige Israeliete as toonbeeld van sy toorn en van sy krag.

Hy het nóg 'n rede om die volle uitgieting van sy toorn uit te stel en die verharde deel van Israel te laat lewe. Hulle afval moet ander ten goede wees. God se verwerping lei naamlik  daartoe “juis om bekend te maak die rykdom van sy heerlikheid oor die voorwerpe van barmhartigheid wat Hy voorberei het tot heerlikheid” (v. 27). Die ‘voorwerpe van barmhartigheid’ is die heidenvolke na wie die Here Hom wend as Israel sy evangelie afwys. Die ongeloof van Israel word die oorsaak dat God met sy heil na die volke gaan om daar al diegene wat in sy ontferming opgeneem is, in sy heil te laat deel. Die heidene wat gelowig word, moet op hulle beurt die jaloesie van Israel opwek, sodat ook hulle wat in Israel voorwerpe van God se ewige ontferming is, hulle bekeer van hulle verharding, hulle by die ware Israel aansluit en in die heil van God deel.

Dit is die raamwerk waarbinne die verharding van Israel plaasvind. Dit is nie 'n doel op sigself, of 'n saak van blinde drif nie. Die groot Pottebakker gebruik ook die verwerpte potte. Al is dit vir húlle nie 'n gebruik tot eer nie — hulle word wel gebruik! Hulle verharding en verwerping dien God se plan. Die ongeloof van Israel beteken dat die poort na die heidenvolke oopgaan. Die geloof wat dan onder die volke gewerk word, moet op sy beurt Israel jaloers maak en hulle die poort van God se ryk, die poort van die ewige behoud, laat binnegaan.

Die verwerping van God is 'n verwerping van ewigheid én 'n verwerping vir ewig. Dit is egter nie 'n doel in sigself nie. God se verwerping is, in die tyd wat die oordeel wag, daarop gerig dat God almal sal bereik wat Hy in sy verkiesende voorneme tot die heil bestem het. Solank as wat daar wêreld is, staan God se verwerping in diens van sy verkiesing.

Die Gevalle Mens🔗

Paulus praat oor ‘voorwerpe van die toorn’ en ‘voorwerpe van barmhartigheid’. Dit is woorde wat na God se handeling met mense ná die sondeval verwys. Vóór die sondeval was daar nog nie rede vir toorn nie, en barmhartigheid is iets wat jy betoon aan mense wat in ellende is.

Dat Paulus die woorde gebruik, wys daarop dat hy met mense praat wat na die sondeval lewe. Heel prakties neem hy die bestaande situasie as uitgangspunt: die gevalle mens. Ons belydenis praat ook oor mense wat hulself in die verderf gestort het en wat God uit die verdorwe menslike geslag tot heil uitverkies het. In verband met die verwerping word gepraat oor hulle van wie God besluit het om hulle in die verderf waarin hulle hulself gestort het, te laat bly. Ek durf nie daaruit aflei dat die Skrif en die belydenis daarmee leer dat die ‘gevalle mens’ die voorwerp van God se ewige verkiesing en verwerping is nie, want dan veronderstel ons 'n volgorde in God se besluite wat nie bewys is nie en verraai 'n al te menslike manier van dink oor die ewigheid van God se besluite (en 'n noodsaaklike volgorde daarin). Is dit nie so dat die Here in één oogopslag alles sien en in sy een besluit opneem nie? Wat ons nie kan nie, is by Hom moontlik!

Paulus spekuleer nie oor die ewigheid nie. Hy spreek sy lesers en ons aan in die situasie waarin hulle hulle, en ons ons bevind. Paulus skryf aan mense wat sondaars is en wat gelowig of ongelowig is. Paulus leer ons om daaragter die voorneme van God te sien werk.

Daar kan dus nooit 'n verontskuldiging wees vir eie verharding nie! Dit doen ook nie af aan die roeping om te glo nie! Wie gelowig is, bely dat hy niks het om op te roem nie. Hy bely sy geloof as onverdiende gawe van God. Dit is alles net die genade van God dat hy as gevalle mens glo en in die heil van God mag deel. Wie nie glo nie, moet nie probeer om agter iets te skuil nie — ook nie agter God se ewige verwerping nie —  want hy het self in die sonde geval en hy leef self in ongeloof. Hy het self die Skepper verwerp en sy evangelie afgewys. Daarom word hy gestraf: oor eie sonde en skuld. Niemand kan later sê: ek kan niks daaraan doen dat ek veroordeel is nie. Elkeen het sy straf ten volle verdien met eie ongeloof en eie sonde. Die besluit van God is vir niemand 'n verskoning nie.

Heilig en Regverdig🔗

Die woord verwerping word dikwels in die Bybel gebruik in die sin van die oordeel waarmee God hulle veroordeel wat hul nie tot Hom bekeer het nie. Dié ewige oordeel is vir ons 'n huiweringwekkende saak. Ons deurgrond by verre nie altyd die weë van God nie. Tog ken en bely ons Hom as barmhartig en regverdig. Hy sal niemand sonder rede straf nie.

Dit is opvallend dat daar in die laaste Bybelboek lofsange oor die oordele van God opklink. Hy is regverdig en heilig in al sy weë, ook in sy gerig. Uiteindelik sal Hy al sy vyande en die vyande wat sy volk verdruk het, hulle regmatige straf laat toekom. Niemand word vir ewig veroordeel en gestraf sonder om dit ten volle self te veroorsaak het nie!

Groot en wonderlik is u werke, Here God, Almagtige; regverdig en waaragtig is u weë, o Koning van die heiliges!  Wie sal U nie vrees nie, Here, en u Naam nie verheerlik nie? Want U alleen is heilig; want al die nasies sal kom en voor U aanbid, omdat u regverdige dade openbaar geword het. Openbaring 15:3, 4

Halleluja, die heil en die heerlikheid en die eer en die krag aan die Here onse God!  Want sy oordele is waaragtig en regverdig; want Hy het die groot hoer geoordeel wat die aarde met haar hoerery verderf het, en Hy het die bloed van sy diensknegte op haar gewreek.Openbaring 19:1, 2

God is heilig en regverdig, ook in sy oordele. Hy verwerp en verhard, en tog is Hy nie die skuld of bewerker van die sonde nie. Ons begryp nie hoe dit in mekaar steek nie. Dit gaan ons verstand te bowe, maar ons weet dat Hy die Heilige en Regverdige is, en só bely ons Hom. Ons vertrou op Hom, omdat ons Hom in Christus ken. Ons glo dat by Hom waar is dat Hy die sonde verafsku én dat Hy die sonde regeer, en ons is bly! Want só is Hy in staat om sy plan te volvoer en 'n wêreld te bring waaruit alle sonde uitgedryf is.