2 bladsye.

Sagaria 4:10 - Dit is Maar net Tien Sent

Want wie verag die dag van klein dinge?

Sagaria 4:10

spaarvarkie

Ek klim uit die motor en sien op die grond van die parkeerterrein ʼn tien sent lê. “Stefan”, sê ek ewe opgewonde vir my seuntjie, “kyk, daar lê geld!” Toe hy die muntstuk sien, trek hy net sy skouers op en sê: “Aag, dit is maar net ʼn tien sent”, en stap verder. Dit moes seker minstens eers tien rand gewees het, voordat dit vir hom die moeite werd sou wees om te buk en dit op te tel.

Moderne Lewensuitkyk🔗

“Dit is maar net tien sent”: ʼn tipiese uiting van die moderne lewensuitkyk. Ons tyd is verslaaf aan die groot en skouspelagtige dinge. Kampioen-liga sport, ʼn eerste prys van miljoene rande, en skreeuende opskrifte op die voorblad. Vir iets gewoons raak mense nie meer opgewonde nie.

In só ʼn lewensklimaat, waarin alles “big” moet wees, word ook die hart van die evangelie maklik oor die hoof gesien, omdat dit, oppervlakkig gesien, maar op dieselfde vlak is as “dit is maar net tien sent”. Dit hoort dus nie in ʼn lawaaierige reklamekultuur nie.

Daarom mag dit ʼn wonder genoem word dat die hele wêreld binne kort weer Kersfees vier.

Juis oor die kind in die krip kan immers gesê word dat dit met die eerste oogopslag alles behalwe aantreklik is! Jesus se geboorte in Betlehem val in die kategorie van “klein dinge”, ja, “tien sente”.

Die Dag van die Klein Dinge🔗

“Die dag van die klein dinge”: wat ʼn juweeltjie van ʼn uitdrukking in die vyfde gesig van Sagaria.

Ons verplaas ons hiermee in gedagte na die herbou van die tempel in Jerusalem. Toe Serubbábel daarmee begin het, het hy heelwat kommentaar en negatiewe opmerkings en spot moes verduur, want die mense vind die herbouprojek sinloos. Met hande in die broeksakke staan hulle op ʼn veilige afstand en kritiek lewer, soos wafferse goeie bestuurders. Veral die ouer manne, wat die hele dag tyd het om by die bouery te staan en kyk, het hulle woorde gereed: “Haai man, dit is tog niks in vergelyking met die vorige tempel nie! Nee, die tempel van Salomo, toe ons nog jonk was, dít was nou vir jou ʼn tempel! Hierdie een kom nie naastenby by die pragstuk van vroeër nie.”

Miskien was daar ook timmermanne en messelaars wat dit ernstig oorweeg het om hulle hamer en troffel maar neer te lê, aangesien die nuwe tempel tog blykbaar nie veel werd is nie. Bowendien — wat ʼn opoffering! Alles moet in geheel van die grond af opgebou word.

Daarvoor is heelwat moed en geduld en deursettingsvermoë nodig.

Wel, in hierdie omstandighede van twyfel oor of dit werklik die moeite werd is om met die bouwerk te help, en die kritiek dat die resultaat niks was in vergelyking met die vorige tempel nie, kry die profeet Sagaria die visioen waarin die engel van die Here vir hom sê: “wie verag die dag van klein dinge?” (vs. 10). Die engel bevestig dat dit ʼn goeie idee is om die tempel te herbou. Daarvoor is daar inderdaad heelwat geduld en moed en deursettingsvermoë nodig.

God staan 100% agter dié projek. Die projek dra sy volle seën weg, en daarom is dit goed!

Die herbou van die tempel sal voltooi word. Wat met die onderste steen begin word, sal uiteindelik eindig met die sluitsteen (die middelste steen van ʼn boog) (vs. 7).

messelaar🔗

Die Werkwyse van die Almagtige🔗

Ons raak nou hier aan die kern van God se manier van doen in die wêreld. Tiperend van die werkwyse van die Almagtige is dat dit alles – altans so op die oog af – heel matig en beskeie begin. Paulus skryf oor die geboorte van Christus dat dié wonder hom “in die volheid van die tyd” voltrek het. Op die regte uur van God se heilswerk kom Hy met die grootste (sy Seun), maar in die kleinste vorm aangebied: in ʼn krip, in doeke toegedraai, weggesteek in ʼn stal in die dorpie Bethlehem.

Wat stel Hy nou voor? Moet die wêreld van Hom die heil en verlossing verwag? In die jare daarna word dit alles nie veel aantrekliker nie. Wees nou maar eerlik: wat kon verwag word van ʼn baba in ʼn krip, en wat stel ʼn sterwende “koning” Jesus aan die kruis voor, as dit gaan oor die redding van die wêreld?

Maar die Here sê: “verag die dag van die klein dinge nie”, want in die oënskynlike kleine is die belofte van die grootste en allesomvattende opgesluit.

Wie nie die Klein Dinge na Waarde Skat nie...🔗

Wie verag die dag van klein dinge? God doen dit nie. Hy hou van ʼn krip, werk graag met mosterdsaadjies en let veral op ʼn beker koue water. Gee Hom maar eerder ʼn klein klippie in die slingervel van klein Dawid as, die tot die tande toe gewapende, Goliat.

Hy plaas sy oor luisterend in die binnekamer. God hou van die kleine en onaansienlike. Onder Sy seën groei dit egter uit tot die grootste. “Groei” wil sê dat die Here sy tyd neem vir die uitvoering van Sy heilsplan. Intussentyd kom sy Koninkryk gaandeweg al nader. Deur niks en niemand kan die opmars daarvan gestuit word nie.

Dit kom daarop neer dat ons onsself betyds by die krip moet gaan verwonder en ons by die kruis moet gaan verootmoedig, terwyl ons nog kan. Want by daardie, op die oog af, klein en veragtelike dinge, wil die Here die grootste denkbare wonder verrig – die redding van my as sondaar!