Versigtige Woorde
Versigtige Woorde

Jakobus het dit baie duidelik gestel dat die beheersing van die tong vir die mens 'n baie moeilike saak is – gaan lees maar Jakobus 3:1-12. Hy noem die tong selfs 'n wêreld vol ongeregtigheid, wat die hele lewe aan die brand kan steek, en wat selfs uit die hel aan die brand gesteek word. Dit is 'n rustelose kwaad, 'n dodelike gif, waarmee God, geloof en die mens gevloek kan word. As 'n mens dan ook vandag raaksien hoeveel wonde met die tong veroorsaak word, kan 'n mens nie anders as om hierdie woorde van Jakobus te beaam nie, met die ernstige vermaning daarby dat gelowiges baie goed op hulle woorde moet let. Wat help dit om met onversigtige woorde jou argument in jou eie oë te wen, maar die ander persoon te verloor?
Ons het 'n spreekwoord wat sê dat 'n mens aan jou vriende geken word – maar nog meer word jou hart deur jou woorde ontbloot. Regverdige en goddelose, wyses en dwase, word meermale in Spreuke op grond van hulle woorde teenoor mekaar gestel:
- 'n Regverdige mens dink voor hy antwoord; goddelose mense sê net slegte dinge (15:28).
- Wyse mense versprei kennis met wat hulle sê; dwase het verdraaide opvattings (15:7). Jou woorde kan ook heil of onheil oor jou bring.
- Die verwaande woorde van die dwaas bring vir hom straf; die woorde van wyse mense beskerm hulle (14:3).
Wanneer daar onvrede kom, kan 'n mens se versigtige of onversigtige woorde 'n baie belangrike invloed hê op die rigting waarin die geskil gaan ontwikkel:
- 'n Sagte antwoord laat woede bedaar; 'n krenkende woord laat woede ontvlam (15:1).
- Goddeloses stel met wat hulle sê, dodelike hinderlae vir ander; opregte mense red ander met wat hulle sê (12:6).
Versigtige woorde kom altyd goed te pas waar daar 'n argument is – hy wat onbeheersd praat, het eintlik al klaar die argument verloor. Is dit nie dikwels so dat ons in argumente eerder probeer om punte te kry as om die probleem op te los nie? Dan word ons woorde nie gekies om ander te leer nie (Spreuke 11:23), maar om te kwets. Dink maar na oor u optrede wanneer daar geskille kom tussen man en vrou, of tussen ouers en kinders, of tussen kollegas. Dit is natuurlik dikwels nog veel erger tussen mense wat mekaar op 'n afstand bykom, soos wat dikwels gebeur in politieke debatte. Daar kan dit alleen my saak bevorder as ek die ander sleg maak of belaglik voorstel. Dan verskeur woorde.
Hierteenoor word gelowiges opgeroep om vrede te maak, en dit kan alleen geskied deur die wysheid wat van Bo kom, waar daar nie bybedoelings is nie, maar vredeliewendheid en inskiklikheid (Jakobus 3:13-18). Dit is nie swakheid nie, maar die ware krag van 'n gelowige, om met oortuiging die waarheid te betrag op so 'n wyse dat God geëer word, en die mens nader na God getrek word en nie weggestoot word nie.
