Lees die Ou Testament in die Lig van die Vervulde Heil in Christus
Lees die Ou Testament in die Lig van die Vervulde Heil in Christus

Ons lees almal die Bybel. As iemand ons sou vra of die Ou Testament en die Nuwe Testament gesag het sal ons seker sonder twyfel antwoord dat God ons albei Testamente as sy Woord gegee het en dat albei vertel Wie God is, hoe ons Hom moet eer en hoe ons gered kan word.
Tog lees ons veral die Nuwe Testament, want die Nuwe Testament vertel ons van die geboorte, kruisdood en Hemelvaart van ons Here Jesus Christus. In die Nuwe Testament hoor ons van ons verlossing, die uitbreiding van die evangelie, die betekenis van die Christelike lewe en die wederkoms van die Here in die toekoms. Is dit nie genoeg nie?
Die vraag kan daarom gevra word of dit dan nog nodig is om soveel aandag aan die Ou Testament te gee? Of anders gestel: Hoef ons nog die Ou Testament te lees? Meer Nuwe Testamente as Ou Testamente word ook gedruk en versprei.
Eerbiedig antwoord ons dan dat ons albei Testamente van God ontvang het. Dit kan tog nie sonder betekenis wees nie. Laat ons daarom liewer vra: Hoe moet ons die Ou Testament lees? In ons antwoord wil ons kyk na die bepaalde plek en verwagting van die Ou Testament. Ons wil ook let op hoe die leemte in die Ou Testament gevul kan word.
Die plek van die Ou Testament⤒🔗
Die Ou Testament is deel van die selfopenbaring van God. Die Ou Testament is nie maar 'n stukkie Joodse geskiedenis nie. God maak homself bekend as die Skepper van hemel en aarde. Hy is ook die Onderhouer van alle dinge. Hy beskik oor die gang van alle volke. In die Ou Testament openbaar Hy hom wel op 'n besonderlike wyse as die ewige, onbegryplike, onsienlike, onveranderlike, almagtige, alwyse, regverdige God en die allesoorvloedigste fontein van alles wat goed is (Art. 1 NGB).
Wie die Ou Testament lees, leer God in al sy deugde ken. In Genesis 1 het Hy hemel en aarde geskep as die almagtige God. Wie Hy is word in Genesis 1:1 nie aangekondig nie. Hy is ewig. Hy was regverdig as Hy die mens uit die paradys drywe en Hy oordeel regverdig as Hy later die sondige volk in ballingskap laat wegvoer. Wie kan God se lankmoedigheid en goedheid begryp as Hy Adam en Eva tog laat lewe en nie dadelik met die dood straf nie? Of Dawid as koning laat heers ten spyte van sy egbreuk en moord? Op wonderbaarlike wyse red Hy sy volk uit Egipte, die deurtog deur die Rooi See en die val van Jerigo.
Ons leer ook die sondigheid van die mens ken. Noag het op so 'n besondere wyse met God gewandel en tog het Noag hom dronk gedrink en kaal in sy tent gaan lê. Dink ook maar weer aan Dawid, die man na God se hart, wat egbreuk en moord pleeg.
Aan die ander kant het ons in die Ou Testament die prag van lofprysing en danksegging in die Psalms. Stel jou dit voor dat kerke nie die psalms kan sing nie. Daar is ook 'n skat van wyshede in Spreuke en Prediker. Die vermaninge, troos en die toekoms voorspellinge van die profete eindig nie in die Nuwe Testament nie, maar in die ewigheid. Inderdaad, die besondere bydrae van die Ou Testament mag ons net nie negeer nie.
←⤒🔗
Die verwagting van die Ou Testament←⤒🔗
Die gelowige mense in die Ou Testament het in hul doen en late gedurig met die HERE gelewe. Hulle het die HERE leer ken in sy almag, wysheid en goedheid. Hulle het ook die HERE leer ken in sy geregtigheid. Die mense het gelewe in 'n wêreld wat deur God vervloek is. Versoening met God kan eers geskied as volkome aan sy regverdigheid voldoen word. God is nie genadig sonder dat aan sy reg voldoen is nie. Die mens van die ou bedeling het nie ten volle begryp hoe dit sal gebeur nie.
God het self die verwagting op versoening en die oorwinning van die vloek aangekondig. Nadat die mens weens sy sonde uit die paradys gedrywe is belowe God die mens die oorwinning van die kwaad. God kondig self die eerste evangelie aan. Daar sal Een kom wat die kop van die slang sal vermorsel (Gen 3:15 OAV). Hy belowe dat enigeen wat vir Abraham sal seën, geseën sal word (Gen 12:3).
Deur die werking van die Heilige Gees het dit stelselmatig ook tot sekere mense deurgedring dat daar Een sal kom wat besonderlik geseën sal wees. Jakob seën Juda wat sal heers totdat Silo kom, die Heerser aan wie die volke hulle sal onderwerp (Gen 49:10 NAV). Moses praat van 'n toekomstige profeet (Deut 18:15 en 18). God praat selfs deur die mond van Biliam van die ster van Jakob.
Die profete kondig ook met vreugde die regverdige koning uit die geslag van Dawid aan (Jes 9:5, 6; Amos 9:11; Jer 23:5, 6; Eseg 34:24; Miga 5:1). Hulle spreek ook van die lydende Kneg wat vir die mens versoening sal doen en vir die sonde van die mens sal betaal (Jes 53). Daar sal ook 'n nuwe glorieryke tydperk aan die einde van die dae aanbreek (Jes 2:2-4, 11:4-10; Miga 4:1-4; Amos 9:11). Met hierdie wete kon hulle die mense van hulle tyd bemoedig.
Hoe die leemte in die Ou Testament gevul kan word←⤒🔗
Alhoewel die mense van die Ou Testament die HERE geken het, het hulle die Christus egter nie by name geken nie. Hulle het in verwagting gelewe. Tog was daar 'n leemte in hulle verwagting. Die beloftes van God was nog nie verwerklik nie. Hoe moes die mense nie oor die koms van die Messias gewonder het nie? Hoe moes hulle weet?
God het weer die vervulling van die beloftes self aangekondig. Dink maar aan die aankondiging van die geboorte van Christus aan Maria (Luk 1:31-33). Johannes kon met volle sekerheid die Lam van God aankondig wat die sonde van die wêreld sou wegneem omdat die Heilige Gees soos 'n duif op Hom neergedaal het (Joh 1:29-34).
Jesus het later die Emmausgangers verwyt dat hulle te min aandag aan die profete en die Skrifte gegee het en dit is juis die Skrifte wat van Hom getuig het (Luk 24:25- 27). Hulle het te veel aan 'n Messias gedink wat net in heerlikheid sou kom en nie as die lydende Kneg nie.
Daar is dus 'n duidelike heenwysing in die Ou Testament na die Christus wat sou kom, maar dit is nodig dat die lig van die Nuwe Testament daarop val. Sonder hierdie lig kan mense so maklik dwaal. Ons moet die Ou Testament in die lig van die werk van Christus lees. Dink maar aan die tragiek van die Jodedom wat vandag nog nie die vervulling kan aanvaar nie en die Ou Testament verkeerd lees.
Dit beteken seker nie dat elke teks of paragraaf in die Ou Testament van Hom spreek nie. Ook nie dat ons nie die Ou Testament se eiesoortige bydrae kan verbygaan sonder om goed te luister na wat daar geskrywe staan nie. Ons moet ook waak om nie haastig na die Nuwe Testament oor te spring nie. Sekerlik mag die Ou Testamentiese tekste ook nie sodanig eietyds verklaar word dat die Ou Testament weer van die Nuwe Testament vervreem word nie. Die eenheid van die Skrif met sy beloftes en vervulling mag nie verbreek word nie. Dat die beloftes in die Ou Testament in die Nuwe Testament vervul is, is ook 'n bewys dat God getrou is aan sy beloftes. Die Nuwe Testament is vol verwysings na die Ou Testament. Daarom moet ons ook gedurig besig wees met die Ou Testament. So leer ons God se goedheid en trou ken.
←⤒🔗
Ten slotte←⤒🔗
Ons lewe nie meer in die skaduwee van die Ou Testament nie, maar in die lig van die volle openbaring van God in die Nuwe Testament. Tog is alles in die Ou Testament nie in 'n donker skaduwee nie. As ons dus vandag die Ou Testament wil lees, moet ons ten volle kennis neem van die wyse waarop hulle die HERE leer ken het. Ons besit ook die Nuwe Testament sodat as ons die Ou Testament lees, ons nie alleen moet deel in hulle Messiaanse verwagting nie, maar ons ook moet verheug in die Christus wat gekom het. Om die Ou Testament te lees sonder die Christus is nie volledig nie.
