Bron: Die Kerkblad. 2 bladsye.

Daardie Drie Dae

sonsopkoms

As daar teenslae en beproewinge in ons lewe kom dan is ons maar al te geneig om moedeloos te raak en soms selfs om opstandig te word. Ons vra so dikwels: Waarom?

Waarom moet ek so swaarkry?

Waarom al die beproewinge in my lewe?

En wanneer dit net nie 'n end kry nie, dan vra ons: hoekom moet ek so lank ly? Hier kom ons by 'n wesentlike probleem. Die vraag na die duur van lyding. Hoekom is iemand so lank siek? Waarom verloop die sterwensproses van een van ons dierbares soms so langsaam? Hoekom moet ek elke dag my kruis weer optel?

Die Here wat Gee en wat Vraโค’๐Ÿ”—

Abraham, die vader van die gelowiges, dus ook ons vader, het 'n kind van die Here ontvang. Maar nou gaan God die kind weer terugvra. Dit gebeur dikwels in ons lewe, dat God weer kom haal wat Hy eers vir ons gegee het. In die nag hoor Abraham die stem van God wat hom roep. Dadelik gee Abraham vir die Here antwoord: hier is ek! Dan ontvang hy die verskriklike opdrag: gaan offer jou seun! Hy moet sy kind offer soos 'n brandoffer, 'n offer van toewyding en dankbaarheid. Wat sien ons by Abraham? Hy maak hom gereed en hy gaan op reis na die berg wat God vir hom sal aanwys. Hy is gehoorsaam, hoewel hy nie kan verstaan wat die Here met hom beoog nie.

Op Padโ†โค’๐Ÿ”—

Abraham verstaan niks van wat God van hom vra nie, maar hy is gehoorsaam en hy val saam met sy seun in die pad. Op pad is daar 'n groot stryd in sy siel. Wat is sy stryd? As hy sy kind wil behou, dan verloor hy sy God, en as hy sy God wil behou, dan verloor hy sy kind. Dit skeur sy siel amper uitmekaar, want hy het die Here lief en hy het sy kind lief. Daar is nog meer. As Isak geoffer word dan kan die Messias, dan kan Christus, nie gebore word en dan kan hy, Abraham, nie verlos word nie.

Drie Daeโ†โค’๐Ÿ”—

Nou lees ons in Gen. 22:4 dat Abraham drie dae gestap het. Hoekom drie dae? Waarom kon hy Isak nie naby die tent op die plek waar hy gewoon het offer nie? Waarom daardie lang pad? Dit is God se manier om met sy kinders te werk. Ons is dikwels so haastig. God is tydsaam. Hy gee ons alle tyd. Veral in tye van beproewing is ons dikwels so ongeduldig. Maar die Here gee ons tyd om na te dink. Kyk maar by Abraham. Die Nuwe Testament vertel vir ons wat Abraham op pad na die offerberg gedoen het.

Abraham het Gerekenโ†โค’๐Ÿ”—

In Heb. 11:18 lees ons dat Abraham gereken het. Nie met getalle nie, maar met God. Hy het gereken dat God magtig is om sy kind selfs uit die dode op te wek. Wat was al dadelik die vrug van Abraham se geloofsbeproewing? Hy kom tot geloof in die opstanding. Al moet Isak sterwe, God sal hom weer opwek. In die diepte van beproewing, in sy sielenood, het Abraham heerlike gedagtes oor God gekry. Hy het hoe langer hoe meer die almag en die liefde van God raakgesien. So gaan dit so dikwels in die geestelike lewe. Juis wanneer daar beproewinge kom, wanneer ons swaarkry, wanneer ons daardie moeilike, ja, onmoontlike pad moet loop, wanneer daar van ons kant nie meer 'n oplossing is nie, dat dan die geloof tot 'n heerlike ontplooiing kom. Hy getuig teenoor sy slawe: Ek en my seun ... ons kom terug na julle toe (Gen. 22:5). Ons, Isak en ek!

bospadโ†โค’๐Ÿ”—

Die Aanbidding van Godโ†โค’๐Ÿ”—

Daar is egter nog meer. Een van die heerlikste vrugte van die drie dae is dat Abraham die diepste betekenis van die offerdaad wat God van hom vra, raakgesien het. Hy getuig teen sy slawe: Ons gaan daarheen om te aanbid. Dit is wonderlik. Abraham praat nie van offer nie, maar van aanbidding. Om te offer is ten diepste om te aanbid. Die aanbidding van God is die hoogste vorm van gebed.

Ons Tyd en God se Tydโ†โค’๐Ÿ”—

Ons vra so dikwels: hoekom moet ek so lank ly? Waarom die aanhoudende beproewing? Waarom daardie drie dae? Die antwoord is: om ons te bring tot die aanbidding van God. Petrus sรช in verband met beproewinge dat dit alles moet lei tot lof en heerlikheid en eer by die openbaring van Jesus Christus (1 Pet. 1:7). Die Here gee ons die tyd om daar te kom. Daarom daardie drie dae. Dit is God se tyd. Vir ons mag dit soos 'n donker tonnel lyk. Maar dit bring ons tot die heerlike lig van die volle gemeenskap met God. Drie dae. Sonder God, vreeslike dae. Met God, heerlike dae.