Bron: Die Kerkblad. 2 bladsye.

Godsdiens en kerkdiens

Sondae is ons in die kerk. Altwee die dienste. En ons (goeie) kerklike bydraes is op datum. Bowendien is ons gereeld te sien by gemeentelike aktiwiteite soos teedrink, gemeente-etes, verkopings, kampe, wyksbyeenkomste en ook Bybelstudie. Selfs die evangelisasie- en sendingsaksies van die kerk kry ons ywerige deelname. So lyk die prentjie van talle "goeie Gereformeerdes". Kerkmense.

Maar. Ja, daar is 'n maar. Die maar vind ons by die vraag: Maar wat van ons godsdiens? Die prentjie wat hierbo geskilder is, is goed en mooi en gee stof tot dankbaarheid, maar dit hou die gevaar in dat kerkdiens die plek van ons godsdiens begin inneem.

Vorige geslagte🔗

In 'n artikel wat onlangs in die dagpers verskyn het, dui prof. Bouke Spoelstra aan hoe gelowiges - ook Gereformeerde gelowiges - oor dekades heen hulle godsdiens ingeruil het op kerkdiens.

In tye van swak paaie en stadige vervoermiddels was "kerk toe gaan" en "kerklike aktiwiteite" voorregte wat ons voorouers net af en toe kon smaak. Die gevolg was dat die amp van die gelowige werklik gelééf het. Elke gelowige en elke gesin het hul eie godsdienspligte deeglik besef en dit na die beste van hulle vermoë nagekom. By huisgodsdiens en by huiskatkisasie het hulle self uit die bron van Skrif en belydenis gedrink; in hulle daaglikse lewe het hulle self die beginsels van hulle Gereformeerde geloof toegepas. Dikwels het dit sekerlik maar krom en skeef daaraan toe gegaan, maar hulle godsdiens was vir hulle 'n werklikheid en 'n plig wat hulle sewe dae van die week uitgeleef het.

Godsdienspligte vervang met kerkpligte🔗

Namate omstandighede verbeter het en dit makliker geraak het om by "die kerk" uit te kom, het die gevaar van gemaklikheid op ons toegesak. As ons Sondae in die kerk kom, bydraes gee en alles doen wat pas binne die prentjie van 'n "goeie kerkmens" - soos die wat hierbo geskilder is - dan het ons ons godsdienspligte nagekom. Dan hoef ons nie meer self ons godsdiens in stand te hou nie, want "die kerk" doen dit vir ons. Die kerk behartig ons kinders se katkisasie; die kerk hou ons kennis van Skrif en belydenis in stand; die kerk sê hoe die Gereformeerde beginsels in ons daaglikse lewe toegepas moet word.

Die vlammetjie van die amp van die gelowige het al laer begin brand en die besondere amp — veral dié van die predikant - het 'n al groter plek begin inneem. Die amp van die gelowige is afgeskaal tot lidmaat-van-die-kerk-wees. Godsdienspligte is sonder meer gelykgestel aan gemeentelike pligte. Waar dit gebeur, het kerkdiens die godsdiens verdring.

Dit kan ook wees dat "die kerk" nie onwillig is om hierdie taak oor te neem nie. Dit is mos lekker om 'n organisasie in stand te hou waarin almal ywerig meedoen en by alles wat die kerkraad (of dalk: die dominee?) sê of besluit, sonder enige beswaar inval. Maar kerklidmate wat té selfstandig en selfdenkend in hulle godsdiens raak, kan net lastige rimpelings op die tog so rustige oppervlakte bring. Dit kan selfs gebeur dat lidmate wat hulle amp as gelowiges ernstig opneem, vir die kerkraad en die dominee 'n verleentheid word.

Die amp van die gelowige en die kerk🔗

Om hierdie verskynsel die hoof te bied, is dit nodig dat ons telkens maar weer mooi sal nadink oor wat die kerk is. In die Bybel en die belydenisskrifte word daar baie gesê oor wat die kerk is. Ook oor wat die kerk nie is nie. In kort sou ons kon sê dat daar nie 'n spanning tussen die kerk en die gelowige kan bestaan nie. Die kerk is nie 'n organisasie daar ver of 'n liggaam wat die lidmate se godsdienspligte vir hulle reël of namens hulle behartig nie. Die gelowiges is self die kerk - altyd en oral.

As kerk van die Here Jesus Christus is ons geroepe om altyd en oral ons gereformeerde geloof uit te leef. Deel hiervan is die gemeenskap van die gelowiges wat ons moet opsoek, binne en buite die erediens - sonder om ons godsdiens heeltemal in daardie gemeenskap te laat opgaan. As kerk van die Here Jesus Christus is ons ook geroepe om in die geloof te groei, deur ons in Skrif en belydenis te verdiep. Om ons hierin by te staan, het die Here Jesus aan sy kerk die ampte as gawe gegee, ter toerusting van die gelowiges. Daarom moet ons ons met dankbaarheid aan die toesig en leiding van die kerkraad onderwerp - sonder om ons geloofsbeoefening van die kerkraad afhanklik te maak of ons godsdienspligte aan die kerkraad te oorhandig.

Binne die huidige kerklike klimaat in ons land is dit nodig dat die amp van die gelowige weer sy regmatige plek inneem. Slegs waar die amp van die gelowige lewendig is, kan daar werklik van die gemeenskap van die gelowiges sprake wees en kan die kerk as vergadering van die gelowiges tot eer van die Here leef - nie net Sondae nie, maar altyd en oral.