Bron: Hammanskraal TS. 4 bladsye.

Ek moet Rus om Toegerus te Word

 🔗

Rusbeplanning is noodsaaklik🔗

Die tyd van studie en eksamen is wat die Skool betref vir 1972 weer verby. Nou kom ’n tyd van rus en ontspanning. Vir elke arbeider in die Koninkryk van God is daar en moet daar ook tye van rus wees. Veral in ons moderne tyd waarin die tempo van die lewe baie hoog is, is dit noodsaaklik vir ’n mens om te rus en te ontspan.

In Hand. 17 lees ons dat Paulus in Athéne vertoef en daar wag vir sy twee medewerkers, Silas en Timótheüs. Terwyl hy wag op die koms van sy helpers, gaan hy “sight-seeing” deur die stad (Hand. 17:2). Tydens sy rondwandeling deur Athéne sien hy dat die stad vol afgodsbeelde is. Wat die apostel nou tydens sy miskien gedwonge vakansie opgemerk het, verwerk hy in sy prediking. Dan sluit hy in sy prediking aan by wat hy gedurende sy rondgang deur die stad gesien het (vs. 22). Sy verlof word ’n stimulus tot nuwe arbeid.

Net soos mens jou werk, jou studie, jou voorbereiding vir die eksamen beplan, so behoort jy ook jou vrye tyd, jou vakansie, jou verlof te beplan. Net soos ’n predikant, sendeling of helper sy arbeid beplan, so moet hy ook sy rus beplan. Die rus is immers nie ’n uitvinding van mense nie. God die Skepper het die rus ingestel. Die rus kom van die Here. Ons lees al in die begin van die Bybel, in die boek Génesis, van God wat gerus het, nadat Hy sy skeppingswerk voltooi het.

Die rus moet christelik geniet word🔗

Ons studente, maar ook die predikante, sendelinge en helpers moet leer om christelik, om gelowig te rus. Iemand het eenmaal gesê: Indien jy ’n christen werklik wil leer ken t.o.v. die gehalte van sy christelike geloof, dan moet jy net kyk hoe hy vakansie hou. Daarom is dit vir ons by die afsluiting van die kursus vir hierdie jaar belangrik en selfs noodsaaklik om die DOEL van die rus raak te sien.

Wat leer die Bybel ons aangaande rus, verlof en vakansie? Die Here onse God neem nié vakansie van sy beloftes nie en daarom kan ons nie verlof kry om te rus van die verpligtinge wat Hy oplê nie. Aangesien die Here voortdurend gee, eis Hy ook voortdurend van ons. Ons staan altyd onder die heilige verpligting om Hom te dien en te gehoorsaam.

Wat leer die Bybel ons aangaande die rus? Doel van rus is nie in die eerste plek dat ek op daardie dag of dae niks hoef te arbei nie. Doel van die rus is dat ek TOEGERUS word vir die arbeid waartoe God die Here my geroep het. Vakansie en rus moet vir die kind van God ’n tydperk van verkwikking en vernuwing wees, sodat hy daarna met nuwe moed en nuwe krag en meer bekwaam sy taak weer kan verrig.

Die vakansie, rustye en ontspanning, van die dosent sowel as van die student, staan dus basies in diens van die Here. Ons moet ook die vakansie sien in die lig van die Koninkryk van God.

Die Bybel gee aan “rus” inhoud🔗

Die Bybel spreek oor rus en ontspanning, veral die brief aan die Hebreërs. Hierdie brief kan ons selfs noem “die brief van die rus”. Die skrywer van die brief roep sy lesers op om in die rus in te gaan en dan kwalifiseer hy daardie rus as die rus van God.

Die bekende Ou-Testamentikus G. von Rad het daar op gewys dat die begrip rus in die Ou Testament verrassend ontwikkel het. Dieselfde sien ons ook in die brief aan die Hebreërs.

Vir die volk Israel wat op pad was na die beloofde land, het “rus” in die eerste plek beteken dat hulle die land Kanaän as die land van die rus ontvang, veilig en bevry van vyande. Maar vir die volk Israel wat in die beloofde land woon, beteken die rus weer die lewe volgens die wet van God, die rus van die sonde. Doel van die uittog uit Egipte en die ingaan in Kanaän is nie allereers dat die volk tot rus kom nie, maar God kom tot rus teenoor sy volk. Dit beteken dat die Here nou onder sy volk kan woon. Josua kon wel die volk in die land van die rus bring, maar Jesus, die groter Josua, skenk die ware rus, die rus van God, die inwoning van God in ons hart deur die Heilige Gees.

Om hierdie rede gebruik die brief aan die Hebreërs twee woorde vir rus. Die rus wat Josua die volk gegee het word aangedui met die woord katapaus/s. In hierdie woord sit die gedagte van “onderbreek”. Hierdie woord dui op “rus van die stryd”, die “rus van die vyande”.

Die rus wat Jesus skenk deur Sy Heilige Gees, deur geloof in Sy Woord, word in die Hebreërbrief aangedui met die woord sabbatismos. Dit kan ons vertaal met “sabbatsrus”. Wanneer rus met die woord sabbatismos aangedui word, is rus nie meer gebind aan die besit van die land of aan die sabbat as oud-testamentiese wetsvoorskrif nie, maar dan dui dit ’n suiwer geestelike saak aan.

Hierdie rus word uitdruklik genoem “die rus van God”. Die genitief is hier ’n subjektiewe genitief. Dit is God se rus. Dit gaan van Hom uit. Hy bewerk dit. God Self, so sê die skrywer van die brief aan die Hebreërs, het sy eie rus. God het Self gerus na sy skepping. Sy rus was nie ’n salige niksdoen nie. Dit was ’n sinvolle, heilige aktiwiteit. God die Here het met welgevalle geniet van sy skepping, die werk van sy heilige hande. Soos God gerus het van Sy skeppingswerk, so mag ons ook rus en geniet van Gods skeppingswerk en van Sy herskeppingswerk.

Dit is die groot gedagte van die Hebreërbrief: die Here wil die mens laat deel in Sy rus.

Volgens hoofstuk 4:11 kan die rus van God net geniet word deur geloof. “lngaan in die rus” is volgens die brief aan die Hebreërs ingaan in die geloofsgemeenskap met God, ingaan in die heiligdom van Godsgemeenskap. Deur persoonlike en deur gemeenskap! Elke geloofsbeoefening gaan ons die rus van God in. Of om dit met ander woorde volgens die Hebreërbrief aan te dui: deur geloofsverbondenheid aan God kry ons deel aan die goddelike inwoning in ons hart deur die Heilige Gees. So kom daar rus in ons gemoed ook al is alles rondom ons onrustig. Ingaan in die rus is ’n gawe wat ons volgens die brief aan die Hebreërs reeds in hierdie lewe kan geniet.

Ons kan van die rus by Jesus leer🔗

Aan die einde van die kursus en aan die begin van die vakansie word ons uitgenooi om tot daardie heerlike rus in te gaan. Ons sien dus dat rus en vakansie, ontspanning en spaartyd nie van die diens van die Here losgemaak mag word nie. Aan die begin van die vakansie staan die groot Rusaanbrenger Jesus Christus en Hy sê vir ons: “Kom na My toe .... en Ek sal julle rus gee” (Matt 11:28). Hier gebruik Matthéüs die woord “Katapauo”. Dit dui op die rus as “onderbreking”, die rus van ’n wettiese godsdiens soos die Fariseërs dit op die Joodse volk wou afdwing, rus van die vermoeiende juk van die wet soos die rabbyne dit geïnterpreteer het, rus van alle pogings om jouself te verlos.

Om op die regte wyse vakansie te hou het ons díe Here Jesus nodig. Ons kry nooit die indruk uit die Evangelies dat Jesus haastig was of dat Hy niks te doen gehad het nie. Hy het nooit gejaagd gewerk nie. Wel lees ons in die Evangelies dat Jesus Hom steeds weer teruggetrek het in die eensaamheid om juis sodoende die skares beter te kan dien. Hy het sy rustyd ook dikwels gebruik om op gebed te konsentreer.

Onverwagte onderbreking van sy rustyd het Jesus nie in verwarring gebring nie. In Mark. 6:31 sê Hy vir Sy dissipels: “Kom julle self in die eensaamheid na ’n verlate plek en rus ’n bietjie”, want daar was selfs nie tyd om iets te eet nie. Maar toe Hy aankom op die “verlate plek” het ’n groot skare Hom reeds ingewag. Jesus het toe nie gesê: “Dit is my afdag. Ek is nou op verlof. Gaan huis toe” nie, maar Hy het die mense wat gekom het, gehelp.

Wat vir die rus nodig is🔗

Ons het nie reg op ’n rusdag of vakansie nie. Nee, ons werk vereis dit om beter toegerus te word, om innerlik vernuwe terug te keer tot die studie of werk waartoe ons deur die Here geroep is. Die rus en ontspanningstye is nodig om vir ons geestelike balans te bring.

Ons het egter rus ook nodig met die oog op onsself. Ons is dikwels so baie besig dat ons onsself vergeet, dat die siel kwyn, dat die verborge Godsomgang nie beoefen word nie. Ons is dan los van die kragbron wat ons voortdurend moet inspireer in ons arbeid.

Daarom is dit van groot belang hoe ons ons rustyd gebruik. Soek ons net ontspanning vir die liggaam of gaan dit ons ook om verkwikking vir die siel?

Om ware rus te vind (so leer die Bybel ons) moet ons aandag gee aan die binnekamer. In die onderwys van Jesus word verskillende kere van ’n binnekamer gepraat (vgl. Matt. 6:6; 24:26; Luk. 12:3). Die Griekse woord vir binnekamer, tameion, dui op die binnenste vertrek in die huis waar die voedselvoorrade soos meel bewaar word. Die binnekamer is in die Palestynse boerdery die enigste plek wat toegesluit kan word. Die binnekamer is die voorraadkamer, die plek van afsondering en stilte. Geestelik kan die binnekamer ook ’n plek in die veld wees, ’n plek van stilte waar jy alleen kan wees met jou God.

Om op die regte wyse vakansie te hou, om regtig te rus, het ons ’n binnekamer nodig. Ons lees in die Bybel dat Jesus telkens die stilte, die eensaamheid gesoek het om die kontak met Sy Vader te beoefen (vgl. bv. Mar. 6:46: Hy het na die berg gegaan om te bid).

Wanneer ons op vakansie gaan, wanneer ons gaan rus, dan moet ons tog veral toesien dat die binnekamer in orde is. Dit is die plek waar ons waarlik rus sal vind. Dit is ook die plek waar ons weer toegerus sal word om met nuwe besieling met die werk waartoe ons geroep is, te begin. ’n Plek van stilte, ’n plek van besinning, ’n plek van rus het elkeen van ons nodig.

Drie belangrike dinge by die binnekamer🔗

Vergun my om drie dinge te noem wat in verband met die regte gebruik van die binnekamer uiters belangrik is: persoonlike Bybelstudie, gebed en oorpeinsing.

Die gevaar wat studente, dosente, sendelinge, predikante en helpers bedreig, is dat ons die Bybel nie vir onsself lees nie, maar alleen met die oog op ander mense. Ons lees die Bybel en ons studeer in die Woord van God met die oog daarop om ’n teks te vind om oor te preek. Ons het egter self ook innerlike versterking nodig. Ongetwyfeld sal persoonlike Bybelstudie ook preekstof lewer. Wanneer jy self troos en krag vind in die Woord van God kan jy dit ook aan ander mense verkondig in die prediking.

Ook wil ek graag die belangrikheid van Bybelstudie beklemtoon. Ons moet ook die Woord van God bestudeer. Ek wil dit aan die hand doen dat ons as predikante of helpers ’n bepaalde Bybelboek neem en intensief gaan bestudeer. Ons kom so vanself by ander boeke van die Bybel uit. Dit is geloofsverrykend en inspirerend vir ons prediking.

Ons weet baie dinge oor die Bybel, maar ken ons die Bybel self?

Wat tref ons wanneer ons die geskrifte van die Reformatore lees? Ons word telkens weer beïndruk deur hulle groot Bybelkennis. Ons het manne nodig in die kerk en op die sendingveld wat hul Bybel ken. Die beste antwoord wat jy iemand kan gee is ’n woord uit die Bybel. Want die Bybel is ’n swaard in die hand van die Heilige Gees. Maar dan moet dit in die eerste plek ’n swaard wees in ons eie lewe.

Bybel en bid

Dit sal ons goed doen om te onthou wat ons in Heb. 4:12 en 13 lees, nl. dat God met sy woord indring en deurdring tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg, dat Hy ’n beoordelaar is van die oorlegginge van die hart, ja, dat voor Hom niks onsigbaar is nie “maar alles is oop en bloot voor die oë van Hom met wie ons te doen het”. Die skrywer van die Hebreërbrief roep hier die gedagte op van die offerdier wat deur die mes getref word. So moet die mes van die Woord ons tref en ons sny tot ’n offer.

By die Bybel behoort die gebed. By God se Woord behoort die antwoord, die gebed in die binnekamer, in die stilte, alleen met God.

Ons verstaan die gebed egter so maklik as ’n magiese handeling. Ek moet maar net bid, dan is die saak daarmee klaar in orde. So bid die heidene, sê Jesus. So bid die Sioniste ook.

Dit gaan egter in die gebed om die ontmoeting met God, om die gemeenskap met die Here. So ’n gebed is ’n kragbron vir geloof en vurige toewyding aan die diens van die Here.

In die derde plek is die oorpeinsing ook besonder belangrik. Ons moet die Woord van die Here oordink. Ons moet in ons gedagtes daarmee besig wees. Dan gaan die ryke skatte wat daarin lê vir ons oop. Ons lees in Psalm 119 telkens van die bepeinsing, die oordenking van die Woord en die wet van die Here. Dit is ook ’n gedagte wat ons telkens by die Reformatore kry.

Ons lees so dikwels net om te lees, maar ons moet vra wat sê die Here hier vir my? Watter waarheid wil Hy deur hierdie woorde by my tuisbring?

Dit is die groot les wat die Bybel ons leer: ek moet rus, geestelik rus om toegerus te word.