1 bladsye.

Egte Medemenslikheid

Hieraan het ons die liefde leer ken, dat Hy sy lewe vir ons afgelê het; en ons behoort ons lewe vir die broeders af te lê.

1 Johannes 3:16

hande saam

Egte medemenslikheid is ʼn onderwerp waaroor al baie gepraat is. Baie mense meet die geloofwaardigheid van die kerk en haar lidmate aan hul sosiale betrokkenheid en die klem wat hul plaas op ‘menseregte’.

Dit word as belangriker geag om betrokke te wees by die ‘’verdrukte’’ mens, naby en ver, as wat dit is om vas te hou aan en te pleit vir die waarheid van God se openbaring in die Heilige Skrif. Partykeer word dit selfs as die enigste waarde en doel van godsdiens gesien, naamlik om sosiale ongeregtigheid te bestry of te veg vir die verligting van die fisiese nood. Johannes pleit ook vir die liefde vir die naaste. Selfs met groot nadruk doen hy dit in sy brief.

Maar as Johannes begin praat oor die naasteliefde, dan is dit glad nie iets wat voortspruit uit ’n mensgerigte filosofie of uit die idee van ’n godsdienstige sosialisme nie. Dit moet liefde wees vanuit ons geloof in die Here Jesus Christus, wat deur sy dood aan die kruis sy liefde vir God se kinders vasgemaak het.

Slegs hy wat glo dat God in liefde sy sondes versoen het deur die dood van die Seun van God, kan egte liefde bewys teenoor sy naaste. Die egte medemenslikheid groei vanuit die gehoorsaamheid aan albei tafels van die wet, naamlik: ”God liefhê bo alles en die naaste soos jouself.’’

En dan nie slegs met woorde nie, maar ook met die daad.

Johannes skryf: ”Ons behoort ook ons lewens vir ons broers af te lê. Wie aardse besittings het en sy broer sien gebrek ly, en sy hart vir hom toesluit – hoe kan die liefde van God in hom wees?”

Met ‘’sy broers’’ word allereers die medegelowiges bedoel, maar ook die naaste in die algemeen. Hy wat nie mededeelsaam is met dit wat hy ontvang het nie, het nie die reg om ʼn kind van God genoem te word nie.

Alles wat jy nie uit geloof doen nie, is sonde (Romeine 14:23). Hierdie Bybelse waarheid roep die “goeie” humanis op tot bekering tot die Drie-Enige God – díé God wat een en al liefde is.

En net so moet hy wat homself ’n Christen noem, maar nie die nood van sy naaste raaksien nie, hom eweneens bekeer tot God, die Vader van ons Here Jesus Christus. Want dit is hierdie God en Christus se grootste begeerte om deur liefde gelukkig te maak.

Mag die Here ons almal deur Sy Gees leer wat liefde tot God en tot die naaste is, sodat die liefde in ons mag bly.