Hierdie artikel oor Hebreers 11:8-9 handel oor Abraham en die wese van die geloof.

Bron: De Wekker, 2010. 2 bladsye. Vertaal deur Nic Grobler.

Hebreers 11:8-9 - Kenmerkend van die Geloof: Abraham

Deur die geloof het Abraham, toe hy geroep is, gehoorsaam weggetrek na die plek wat hy as ʼn erfenis sou ontvang; en hy het weggetrek sonder om te weet waar hy sou kom. Deur die geloof het hy as vreemdeling gaan woon in die land van belofte soos in ʼn vreemde land en in tente gewoon met Isak en Jakob, die mede-erfgename van dieselfde belofte.

Hebreërs 11:8-9

In Hebreërs 11 word ʼn hele reeks persone uit die Bybel genoem, wat – hoe hulle ook al onderling verskil – dít met mekaar in gemeen het: hulle het in God geglo.

Verskillende gelowiges, wat saam tog goed duidelik maak wat kenmerkend is van die geloof. Dit is goed om daarvan kennis te neem, want ware geloof moet in alle eeue, ook vanjaar, vergelykbaar wees met die geloof wat hier ter sprake is. Daaraan kan gemeet word of ook óns in dié geloof is.

Ware geloof moet grondliggend ooreenstem met die geloof ... soos dié van, byvoorbeeld, Abraham. Abraham is ʼn rolmodel vir alle gelowiges – nie omdat hy dit uitgevind het nie, of die mees perfekte voorbeeld daarvan is nie, maar omdat dit God behaag het om sy stempel op Abraham af te druk, sodat dié se lewe die onmiskenbare kenmerke van die geloof sou toon; én omdat dit die HERE behaag het om die geskiedenis van Abraham vervolgens ook aan ons bekend te maak!

Geloof: antwoord en aksie🔗

Geloof is in die eerste plek ʼn reaksie: dit kom nie uit ʼn mens self op nie. Die geloof van Abraham was in die eerste plek ʼn reaksie op die roepstem van God. Daar het ʼn stem geklink. Geloof is dus om geboei te word deur iets wat jy verneem; om geraak te word deur ʼn hemelse stem wat vertroue wek, wat oortuig dat God daar is, en Homself openbaar. God kan op baie maniere en in baie tale spreek. Oor hoé en wát kan boeke vol geskryf word. Ek kan nie hier daarop ingaan nie, ook nie op die vraag hoe iemand seker kan wees of ʼn stem die stem van God is al dan nie. Ewewel, die onveranderlike beginsel is: geloof word altyd deur God self gewek.

Tweedens is geloof, per definisie, ʼn werksame geloof. Terwyl hy glo, gaan Abraham tot gehoorsame aksie oor. Hy onderneem iets wat hy nie sommer uit homself, sonder die vertroue wat die roeping gewek het, sou doen nie. Hy het weggetrek. Ook dit is kenmerkend van geloof: geloof bring dade teweeg. ʼn Gelowige gaan anders lewe as ʼn nie-gelowige.

Geloof: onwetendheid en vreemdelingskap🔗

Derdens hou geloof onsekerheid in. Dit klink na ʼn paradoks: is geloof dan nie juis sekerheid nie? Ja, die sekerheid van God se welwillende en genadige bemoeienis met ons. Maar daar ís ook ʼn bepaalde soort onsekerheid wat kan volg! Abraham het immers “weggetrek sonder om te weet waar hy sou kom.” In sy vorige woonplek het hy geweet wat hy het. Nou nie meer nie. Om te glo, lei tot allerhande kruispaaie en vraagtekens. ʼn Gelowige hoef nie daarvoor te skrik nie, dit is eie aan die geloof. God wil ons immers losmaak van valse sekerheid en ons uitsluitlik bind aan één persoon, aan Homself.

ʼn Vierde kenmerk: geloof het tot gevolg dat mense in hierdie wêreld vreemdelinge word. Deur die geloof het Abraham “as ʼn vreemdeling gaan woon ... soos in ʼn vreemde land”. In die wêreld waarin jy gebore is, kan jy nooit heeltemal tuis wees terwyl jy, soos Abraham, op reis is waarheen God jou lei nie. God het iets anders met sy kinders in die oog as dit waar hulle nou, tydelik vertoef. In ʼn sekere sin is hulle asielsoekers, met al die gepaardgaande probleme! Dit is ʼn verblyf “in tente”, kwesbaar, tydelik, rondtrekkend. En sulke nomades is nie populêr in ʼn gevestigde wêreld nie.

Geloof: verwagting en bondgenootskap🔗

In die vyfde plek beteken dit dan ʼn nuwe kenmerkende trek van die geloof: geen geloof kan sonder verwagting bestaan nie. Om te glo is om uit te sien na iets beters as nou, die volmaakte, wat God gereed gemaak het vir diegene wat Hy roep en oortuig. Abraham het “die stad verwag wat fondamente het, waarvan God die boumeester en oprigter is.” Geloof sonder hoop is ondenkbaar. Die God van ons geloof is immers ʼn “boumeester”. Om in Hom te glo moet noodwendig ook inhou dat ons met gespanne verwagting uitsien na wat Hy sal doen!

Ten slotte. Abraham woon in tente saam met Isak en Jakob. Dit het hierdie diepe sin, dat geloof by uitstek gedy binne die verband van die verbond. Kinders van gelowiges is bevoorreg. Hulle het ʼn voorsprong op ander vir sover hulle alles gekry het om die stem van God te leer verstaan. Niks meer nie, maar ook niks minder nie. Geloof is nie outomaties nie, en word nie vanself oorgeërf nie. Maar dit is kenmerkend van die geloof dat dit eerder binne die lyn van die geslagte sal voortgaan, as daarbuite.