Bron: Die Kerkblad. 3 bladsye.

Hoe lyk ons gereformeerde identiteit?

Vandeesweek nog het ek iemand hoor vertel van 'n eenvoudige Gereformeerde man vroeër jare wat in 'n uitgelese vergadering standpunt ingeneem het. Die vergadering het met besondere aandag na hom geluister. Agterna het een van die uitgelesenes hom kom bedank en gesê: "Ons luister graag na julle Gereformeerdes omdat julle altyd 'n saak vanuit die beginsel benader”.

Hierdie selfde verhaal het die meeste van ons al gehoor, dikwels oor verskillende Gereformeerdes op verskillende plekke. Dit is egter nie maar een van die "voorstedelike legendes" wat kammakastig elke tweede ou se pa of broer of vriend oorgekom het nie. Dit is werklike insidente wat verskillende Gereformeerdes inderdaad beleef het. En daar is 'n eenvoudige verklaring hiervoor: 'n belangrike deel van Gereformeerd-wees bestaan immers daarin dat die beginsel vir alles in die Bybel gesoek word.

'n Lang pad deur die geskiedenis🔗

Hierdie Gereformeerde karaktertrek kan waarskynlik teruggevoer word na die reformasie met Calvyn se stelreël van Sola Scriptura (slegs vanuit die Skrif).

Natuurlik is alle gereformeerdes in die breë sin van die woord aan hierdie stelreël gebonde. Maar Gereformeerdes is daarvoor bekend dat hulle 'n besonder hoë premie daarop plaas om hierdie Calvinistiese strewe na te kom: elke saak moet vanuit die Bybel beoordeel word en in die Bybel begrond word. Dit is ons Gereformeerde identiteit.

Dit was die handhawing van hierdie Gereformeerde identiteit wat grootliks bygedra het tot die aansien wat Paul Kruger aan die einde van die vorige eeu as staatspresident in die destydse Boererepublieke en selfs in die buiteland geniet het. So het ook prof. JD du Toit (Totius) vroeg hierdie eeu in die harte van die Afrikanervolk ingekruip en die eretitel van "profeet van die Mooirivier" verwerf. Die standpunte wat destyds en daarna vanuit Gereformeerde kring gekom het, is selfs bestempel as "die stem van Potchefstroom”.

Dikwels teengestaan en bespot🔗

Wat veral respek afgedwing het, was die feit dat Gereformeerdes dikwels in die aangesig van groot teenstand vreesloos bly staan het by die beginsel wat hulle in die Bybel raakgesien het. Om werklik die Gereformeerde strewe uit te leef, is immers nie maklik nie, veral as jy met allerlei spotname bestempel word. Vanaf "Dopper" het dit gevorder na "Ortodoks", van "Beginseldrywer" na "Fundamentalis". Na afloop van die Nasionale Sinode van 1991 het 'n rubriekskrywer in die dagpers smalend na die Doppers verwys as "die wagters op Sions mure" wat oor die suiwerheid van leer en oor die Skrifgesag probeer waak.

Met sulke aanvalle word probeer om Gereformeerdes van hulle eie identiteit af te laat wegbeweeg sodat hulle aan vreemde strominge soos die Skrifkritiek of Skrifrelativisme sal toegee. So 'n beweging is egter vir Gereformeerdes onaanvaarbaar omdat dit eindig in belydenisloosheid, beginselloosheid en uiteinde identiteitloosheid. Dit sal die einde van ons Gereformeerd-wees beteken.

Identifiseer ons nog met Gereformeerd-wees?🔗

Die kritiese vraag van selfondersoek waarvoor moderne Gereformeerdes te staan kom, is of ons nog ’n Gereformeerde identiteit besit. Is ons nog werklik Gereformeerd en wil ons dit wees? Tot watter mate het ons al toegegee aan eise om beginsels by eie voorkeure en omstandighede aan te pas? In hoeverre handhaaf ons nog onbevrees die gesag van die Bybel te midde van 'n al sterker aandrang om die Skrifboodskap te relativeer of weg te redeneer? Handhaaf ons nog die gereformeerde kerkbeskouing teenoor 'n groeiende praktyk van kerke waarin lidmate nie meer deur die gemeenskaplike belydenis saamgebind word nie, maar deur 'n blote strewe na betrokkenheid en vermaak?

Ons Gereformeerde identiteit kom daarin na vore dat ons in elke faset van ons lewe die suiwer Bybelse beginsels soek en navolg. Dit doen ons nie in 'n poging om iets daarmee voor God te verdien nie. Ons bly immers onverdienstelike diensknegte wat maar net in dankbaarheid God se genade in Christus omhels.

Ons strewe na beginselvastheid is juis om in dankbaarheid die eer van God te soek deur tot in die kleine aan sy Woord getrou te probeer bly:

  • In die kerklike lewe wil ons God verheerlik deur suiwerheid in leer, diens en tug. Die prediking, die verloop van elke erediens, die sang, die sakramente, die kerkregering - in elke faset van die kerklike lewe streef ons daarna om so na as moontlik aan die eise van God se Woord te bly, Hom ter ere.
  • In huisgesin en vriendekring, in die opvoeding van ons kinders tuis en by die skool, in ons ekonomiese en politieke bedrywighede, in ons beroepslewe, selfs in ons ontspanning streef ons daarna om so nougeset as moontlik die beginsels van God se Woord te soek en toe te pas.

Ons weet, op grond van God se Woord, dat ons in hierdie lewe nooit by volmaaktheid sal uitkom nie. Maar tog is die eis van ons gereformeerde geloof dat ons in dankbaarheid ernstig sal strewe om ons lewens na die wil van God in te rig. Daarin is ons Gereformeerde identiteit geleë. Daaraan wil ons getrou bly. Daaraan sal ons, met die genade van God, bly vashou.