Bron: Vox Viva. 3 bladsye.

Hoe ons Christus eet en drink

Vir die meeste kerklidmate is die Nagmaal ‘n heel eenvoudige saak. Deur die brood en wyn te nuttig, word die persoonlike geloof in Christus se plaasvervangende dood versterk. Vir die deursnee lidmaat skeel dit min wat presies die inhoud is van al die verskillende kerke se verstaan van die Nagmaal, want “nagmaal is mos maar nagmaal”.

In die tyd van die Reformasie was dit anders. Vir die kerke van die Reformasie was die Nagmaal nie ‘n geringe saak nie. Tewens, dít was juis die breekyster wat die Lutherse, Zwingliaanse en Gereformeerde weë uiteen laat loop het. Wie bolangs daarna kyk sal dalk die kerke van die Reformasie van kleinlikheid en haarklowery verdink. Maar, wie dieper kyk sien dat dit gegaan het oor wie Christus werklik is. In die Nagmaal gaan dit oor die essensie van die Evangelie. Dit gaan oor wie Christus in die Nagmaal is. Dit gaan oor Christus en ons daadwerklike eenheid met Hom. Die vraagstelling van die Reformasie was: hoe eet ‘n gelowige die liggaam van Jesus Christus en hoe drink ‘n gelowige Sy bloed? Die verskillende antwoorde op hierdie vraag het die opstel van belydenisskrifte en die konstituering van kerke bepaal. Die Rooms-Katolieke Kerk het by die Konsilie van Trente (1551) die oortuiging bekragtig dat die brood en wyn Christus se werklike liggaam en bloed word, ná die priester se instellings woorde. Luther het bely dat die werklike liggaam en bloed van Christus in die tekens bevat word, sonder dat die brood en wyn sy liggaam en bloed word. Zwingli het gesê dat gelowiges in die nagmaal net herinner word aan die kruisiging van Christus. Vir Zwingli is dit ’n herinnerings maal vir diegene wat hulleself met Jesus Christus in sy heilswerk identifiseer. Calvyn  se belydenis was dat ons in die tekens van die nagmaal die werklike liggaam en bloed van Christus deur die Heilige Gees ontvang en sodoende gemeenskap met Hom as Persoon in die hede het - sónder dat die tekens verander word in Sy liggaam en bloed. Laasgenoemde is steeds die gereformeerde standpunt soos uiteengesit in die Drie Formuliere van Eenheid.

Die werklike saak wat in die nagmaal aan die orde gestel word, is die vraag oor ons eenheid en gemeenskap met die teenswoordige Christus as Middelaar. Die instellings woorde van Christus by die nagmaal kan geen onsekerheid laat waaroor dit in die nagmaal gaan nie: dit gaan oor sy geofferde liggaam en sy gestorte bloed - wat Hy stééds besit. Dit gaan oor die eet en drink van sy liggaam en sy bloed - oor ons eenheid en gemeenskap met Sy teenswoordige liggaam soos Hy dit steeds besit waar Hy aan die regterhand van die Vader is. Gedeeltes soos Mat 26: 26-27, Luk 22: 19-20, 1 Kor. 11: 24, Joh. 6: 53 behoort baie noukeurig gelees te word. 1 Kor. 10:16 en 1 Kor. 11: 29 maak dit duidelik dat gemeenskap met die brood en wyn sinoniem is met gemeenskap met Jesus se liggaam en bloed. Dit gaan dus heel letterlik oor Jesus se verheerlikte Menslike liggaam (Sondag 30 HK) in die hemel wat ook deur Sy Godheid by ons in die Nagmaal teenwoordig is - sonder dat die brood en wyn verander word in Sy liggaam en bloed. En tóg besit ons eenheid met Hom – deur die Gees se werk.

Die verskille wat in die tyd van die Reformasie in al die standpunte en belydenisse gestel was, was daarom nie maar net ‘n klompie tegniese verskille oor liturgiese variasie ten opsigte van die bediening van die nagmaal nie. Dit was verskille oor Jesus Christus self. Hierdie verskille het gefokus op wie Hy is in ons eenheid en gemeenskap met Hom - vandag. Dit is juis die aksent wat die nagmaal op Christus plaas: wie Hy vandag tydens die nagmaalgebruik is en nie net wie Hy wás tydens sy lewe, sterwe en opstanding nie (Zwingli). Die werklike teenwoordigheid van Christus is die saak waarom dit in die nagmaal gaan. Buite om hierdie vraag “hoe eet en drink ons Christus vandag tydens die nagmaal” kan die inhoud van die Reformasie in sy erediens vernuwing, kerklike opbou en belydenisse nie na reg verstaan word nie.

Die wyse waarop ons in die nagmaal deel het aan Christus is dat ons waarlik en volkome deel in Sy liggaam in die hemel. Hierdie deelname aan Christus vind plaas deurdat ons in die geloof ons eenheid met Sy geofferde liggaam aanvaar (NGB Art 35: ons ontvang deur die geloof die ware liggaam en die ware bloed van Christus). Hierdie wyse waarop Christus aanvaar word as ons eie, is wat in die Nagmaal plaasvind: gelowiges aanvaar in die geloof hulle eenheid met Hom (Sy liggaam en bloed). Dit gaan oor ‘n aktiewe geloofsaanvaarding dat Christus se teenswoordige liggaam (Sondag 28 Vraag 75 HK – Hy besit steeds Sy gekruisigde liggaam) in die hemel ons eie is. Dit is wat met “eet en drink” as ‘n aktiewe geloofsdaad bedoel word. Dat ek werklik deur die Heilige Gees in Christus se geofferde liggaam - wat in die hemel is - hier op aarde deel. Hierdie deelname is nie maar net ‘n geestelike inlewing van die mens se gees in Christus nie. Sy lewe deurdring werklik ons eie. Dit word in ons “oorgegiet” deur die Gees. Die gemeenskap beteken dat Sy liggaam en bloed ons s’n is en ons s’n Syne is (Sondag 28 Vraag 76 HK: Ons word verenig met Sy geseënde liggaam sodat ons vlees van Sy vlees en been van Sy gebeente is). Hý is die mens wat ons nooit kan wees nie. Daarom gee Hy ons deel aan Sy geofferde liggaam. Dit word ons toegereken. Sodoende word óns “heilige en regverdige” mense genoem (Sondag 29 Vraag 79c). Dít aanvaar ons tydens ons deelname aan die Nagmaal.

Die tekens van die nagmaal is sodoende werklik heilsmiddele. In en deur hierdie tekens is dít wat Christus self aan ons meedeel ons eenheid met Sy liggaam in die hemel. Hierdie gemeenskap is ons voedsel en drank. Dit is die betekende saak in die tekens van brood en wyn. Ons natuurlike ingesteldheid is om krag vir ons geestelike lewe te soek in ’n soort mistieke eenwording met God. Die krag vir ons geestelike lewe lê egter in die teenswoordige geofferde liggaam van Christus. Dit is immers hoe Christus vanaf Sy hemelvaart is: Hy is waarlik God én Hy is ook steeds waarlik Mens in die hemel - vlees en bloed soos ons.

Dit is dus belangrik om te verstaan dat dit nie primêr die weldade van Christus is waarmee die Vader ons verenig nie. Hierdie weldade is nie die substansie waarmee ons verenig word nie. Die substansie is Christus self. Die déél wees in Sy weldade is maar net die gevolg van ons vereniging met Christus self. Die weldade steun op die gemeenskap met Christus en nie andersom nie. Hierdie weldade kan nie ons eie word, tensy Christus ons Sy eie maak nie - bedoelende dat Hy ons uit genade deel gee aan Homself as die gekruisigde en opgestane Here nie. Die brood en wyn is dus nie maar net simbole wat ons laat dink aan wie Christus op aarde was en wat Hy plaasvervangend gedoen het nie. Nee, in die tekens gee Christus Homself op so ‘n wyse dat Hy ons laat deel in Sy volmaakte geofferde liggaam wat Hy tans steeds besit. Die brood en wyn is nie maar net afbeeldings waarin ons sekere geestelike waarhede moet raaksien nie. Dit is werklik Christus wat in hierdie tekens ons wesenlik in sy liggaam en bloed laat deel sodat - al is Hy in die hemel en ons op aarde - ons in een lewe kan toeneem.

Die Nagmaal beseël en bekragtig dus nie ons geloof nie. Dit beseël en bekragtig die belofte dat Christus as die gekruisigde en opgestane ons eie is. Dit beseël en bekragtig Christus se liggaam en bloed as ons voedsel en drank. In die tekens van die nagmaal skenk Christus ons werklike gemeenskap met sy liggaam en bloed. Alhoewel Christus na sy Menswees opgevaar het na die hemel en nie op aarde met ons is nie, kan hierdie verwydering nie keer dat Hy ons gemeenskap skenk aan Homself nie. Hy is immers as God alomteenwoordig. Deur die Heilige Gees gebeur dit wel. Die krag en werk van die Heilige Gees is om Christus se geofferde liggaam aan ons te skenk terwyl Hy steeds in die hemel is (HK Sondag 30). Dit is juis die versekering wat Christus in die tekens van die nagmaal aan ons skenk. Ons deel net so seker in Sy liggaam en bloed as wat ons hier op aarde aan die tekens van brood en wyn deel het. Dit is nie ons eet en drink van die tekens wat ons voed en versterk nie, maar ons aanvaarding van ons eenheid met Sy werklike liggaam en bloed. Die brood en wyn wys ons daarop dat alle weldade wat ons van Christus ontvang - heiligheid, geregtigheid, vergifnis van sonde, wedergeboorte en die opstanding van die vlees - ons deur ons eenheid met Sy liggaam ontvang (HK Sondag 29, vraag 79). Ons kan op geen ander manier aan die seëninge van die Here - dit is versoening, vergifnis, heiligheid, geregtigheid en wedergeboorte - deel kry, anders as dat Hy ons uit genade deel maak van Sy huidig-teenwoordige geofferde liggaam nie.

Calvyn stel dit uitdruklik: in die Nagmaal gaan dit oor gemeenskap. Ja, ons aanvaar dat Hy vir ons sondes gesterf het en uit die dood opgestaan het. Maar hierdie geloof vind uitdrukking in gemeenskap wat bestaan in die aanvaarding dat ons op só ‘n wyse een is met Hom, dat dit wat Hy is, in ons leef. In hierdie eenheid aanvaar ons dat al Sy seëninge – onskuld, vergifnis, heiligheid, geregtigheid e.a. - ons eie is. Dit is ware geloof!

Dit is interessant om daarop te let dat dit dikwels juis nie hierdie Bybels-gereformeerde nagmaal beskouing is wat binne gereformeerde kerke gehuldig word nie, maar eerder ’n Zwingliaanse siening. By Zwingli gee Christus nie Sy liggaam en bloed aan ons as ons voedsel en drank nie. Ons dink net terug aan die offer wat Hy op Golgota vir ons sondes gebring het en verlaat ons op Sy genade. Volgens Zwingli dui die brood en wyn op dit wat op Golgota gebeur het en nie op die gemeenskap wat die gelowige tans met Christus het nie. Die tekens is vir Zwingli slegs simbole – ’n uitwendige uitbeelding van ’n inwendige saak. Sondag 28 HK Vraag 76 stel dit egter duidelik: Om Christus se liggaam te eet beteken NIE SLEGS om met ’n gelowige hart Christus se sterwe aan te neem en vergifnis te kry nie (Zwingli haak hier vas), maar beteken BOONOP om deur die Gees met Christus se geseënde liggaam verenig te word. Die tekens is dus nie slegs simbole nie, maar sakramente: ons ontvang werklik substansieel dít waarop die tekens dui.

’n Zwingliaanse nagmaal beskouing binne gereformeerde kerke, het praktiese implikasies. Moontlik die belangrikste drie is die volgende:

  1. Die Zwingliaanse siening baan die weg vir mense wat nie behoorlik onderrig is en belydenis van geloof afgelê het nie, om nagmaal te gebruik – byvoorbeeld kindertjies. Indien die tekens slegs simbole is en dit slegs gaan om vergifnis deur Jesus se dood, is die kleinste gelowige kind mos bevoeg om in die Nagmaal te deel. Calvyn het anders geoordeel. Die ware inhoud van die Nagmaal – soos in hierdie artikel beskryf – moes deur die kinders van Genève verstaan word en die kinders is nie ánders behandel as volwassenes nie. Daarom was toegang tot die Nagmaal in Genève onderhewig aan ’n verstaan en instemming met die Instruction et confession de foy dont on use en l’église de Genéve(1537) en Genfer Catechismus (Catechismusprior)(1537). In die Kerkorde van Genève lees ’n mens: “When a child has been well enough instructed to pass the Catechism, he is to recite solemnly the sum of what it contains, and also to make profession of his Christianity in the presence of the Church. Before this is done, no child is to be admitted to receive the Supper and parents are to be informed not to bring them before this time. For it is a very perilous thing, for children as for parents, to introduce them without good and adequate instruction.”
  2. Omdat die Nagmaal slegs as simbool funksioneer, word dit maar net een van talle soortgelyke “simbole” wat die boodskap van die evangelie dra. Iets soos opvoedkundige hulpmiddels wat mense help om die evangelie te verstaan. Simbool en sakrament word sodoende gelykgestel. Dit lei daartoe dat al die elemente van die erediens, die atmosfeer binne die gebou t.o.v. kleur en reuk en selfs die meubels, musiek en sang, liturgiese handelinge, kleredrag, selfs die doopbak, kerse wat brand en olie salwing, dieselfde “sakramentele” betekenis kry as wat die Nagmaal en Doop het.
  3. Die Zwingliaanse siening baan ook die weg vir ’n ánder evangelie en ánder soort vroomheid naamlik waar dit gaan om die direkte eenheid van die menslike gees met die Gees van God en waar daar na ‘n gemeenskap met Christus gesoek waar die Heilige Gees direk in die mens werksaam is buite om die eenheid met die geofferde liggaam van Christus (Pinkster- en Charismatiese teologie). Dit lei tot ‘n twee fase-vroomheid: in die eerste fase kry jy deel aan die offerdood van Christus wat in die verlede plaasgevind het d.m.v. jou berou en bekering en in die tweede fase kry jy deel aan die vervulling met die Gees d.m.v. jou algehele oorgawe - die klassieke teologie van die Pinksterkerke soos geskoei op die Wesleyaanse Metodisme. Dit is boeiend om te sien hoe dit voortkom uit en verband hou met ’n Zwingliaanse nagmaal beskouing.

Indien die Here weer reformasie in Sy kerk sal wil gee, sal dit weer - soos in die 16de eeu – moet sentreer rondom die vraag hoe ons Christus eet en drink.