Bron: Die Kerkblad. 2 bladsye.

Stakings, Simbole en Sport

staking

Die stakings op die arbeidsfront in die afgelope tyd maak dit nodig om opnuut 'n paar prinsipiële lyne te trek. Wat sê die Bybel oor werk, en oor ophou werk?

In die begin het God aan die mens opdrag gegee om die aarde te bewerk en te bewaak (Gen. 1:28; 2:15). Elke mens werk dus ten diepste in opdrag van die Here. Oor ons elkeen se werk en ons nie-werk-nie, is ons dus aan God verantwoording verskuldig — wat ook al ons beroep. Geen wonder nie dat die apostel Paulus die arbeiders opskerp om te werk "soos diensknegte van Christus wat die wil van God van harte doen en met goedwilligheid die Here dien en nie mense nie". (Ef. 6:6, 7).

Om te weier om te werk, is dus 'n baie ingrypende daad — optrede wat verantwoording voor God eis. In 2 Tess. 3:1-12 hoor ons daarom die streng vermaning teenoor die stakers in Tessalonika: "As iemand nie wil werk nie, moet hy ook nie eet nie ... sulke mense beveel en vermaan ons deur die Here Jesus Christus om rustig te werk en hulle eie brood te eet".

Natuurlik is dit so dat die stakers in Tessalonika se weiering om te werk op 'n verkeerde verwagting van die wederkoms berus het, Hulle het gedink dat die Here nog in hulle leeftyd sal kom en dat hulle daarom nie meer hoef te werk nie. Hulle was verkeerd. Daarom vermaan die apostel hulle (2:1-5). Daarom kan daar nie 'n gelyk-aan-teken tussen die destydse stakers in Tessalonika en die moderne stakers geplaas word nie. 'n Belangrike vraag is: Om welke rede weier die arbeider om te werk? Het die arbeider nie soms die reg om te staak nie?

Ook oor die reg om arbeid te weier skryf Paulus aan die Tessalonisense (3:8, 9) — "ons het met arbeid en inspanning nag en dag gewerk om nie vir een van julle 'n las te wees nie. Nie dat ons nie die reg het op onderhoud van julle nie, maar ons wou vir julle 'n voorbeeld wees wat julle moet volg". Die apostel het dus die reg gehad om onderhoud van andere, maar het daardie reg nie opgeëis nie. Hy het nogtans self uitgespring en gewerk vir sy lewensonderhoud. Daar was dus nooit by Paulus sprake van weiering om te werk nie. Die bereidheid om die evangelie te verkondig, was die skoene aan sy voete (Ef. 6:15). Maar selfs waar hy die reg gehad het om arbeid te weier, het hy gewerk.

In die geval van stakings (soos te alle tye) moet werkgewers natuurlik selfondersoek doen of die omstandighede en die lone wat hulle hul werkers betaal na behore is. Dink maar aan die woorde van Jak. 5:4-6. "Kyk, die loon van die arbeiders wat julle lande afgeoes het, wat deur julle agtergehou is, roep uit ... veroordeel, vermoor het julle die regverdige." Uitsprake wat die organiseerders van die afgelope stakings egter op TV gemaak het, maak dit duidelik dat swak lone nie die oorsaak van die afgelope stakings was nie, maar dat die doel met die stakings suiwer politieke druk was. As sodanig deurstaan die stakings nie die toets van die Skrif nie. Maar selfs al sou swak lone rede vir ontevredenheid wees, het staking as manier van protes steeds geen Skriftuurlike basis nie. In Jak. 5:6 word daar van die veronregte werknemer gesê: "hy versit hom nie teen julle nie" ( Werkgewer). Die gelowige weet immers: Staking is uiteindelik nie verset teen mense nie, maar verset teen God, in wie se diens ons werklik staan!

Die hele kwessie van moontlike nuwe nasionale simbole met die oog op sportdeelname op Olimpiese vlak was die afgelope tyd in die nuus. Sekere sportliggame het nuwe sportsimbole en selfs 'n nuwe vlag waaronder sportlui moet deelneem, voorgestel. Ander het die voorstelle verwerp.

Oor nasionale simbole vind ons nie prinsipiële leiding vanuit die Skrif nie. Simboliek is wel volop in die Skrif, en God het vir sy kerk ook bepaalde simbole gegee om aan vas te hou. Hiervan is die bekendste ongetwyfeld die sakramente van die doop en die nagmaal, wat deur God gegee is as tekens en seëls om ons geloof te versterk (Kategismus, Sondag 25). God se simbole is natuurlik onveranderlik, omdat God dit ingestel het. Menslike simbole daarenteen is menslik bepaald en kan verander word, soos byvoorbeeld 'n landsvlag en 'n volkslied.

Al is menslike simbole veranderbaar, is hulle nie niksseggend nie. 'n Simbool is juis veelseggend. Simbole sê immers iets van die mense wat dit maak en gebruik. Nasionale simbole is simbole van 'n gemeenskap en getuig iets van wat daardie gemeenskap as gemeenskaplik ervaar. Daarom kom nasionale simbole uit die nasie (volk) en is ook vir die nasie (volk) gemeenskaplik aanvaarbaar. Wat vir die een volk simbool van sy verlede en sy toekoms is, is vir 'n ander volk onaanvaarbaar. Daarom is dit nie vreemd dat die huidige nasionale simbole vir sekere volke en groepe in ons land onaanvaarbaar is en volgens hulle verander moet word nie. Ewe verstaanbaar is dat nuwe simbole wat deur sodanige volke en groepe voorgestel word, vir ander weer op hulle beurt onaanvaarbaar sal wees.

vlag

Simbole kan nie eenheid skep waar geen eenheid bestaan nie. Trouens, die huidige debat oor simbole beklemtoon die diversiteit van die volkere in ons land. Slegs Godgegewe simbole, soos die sakramente, kan werklik universeel wees. Menslike simbole is goed en reg, en kan die wonder van die verskeidenheid binne die eenheid van die volke, tale en nasies in God se skepping pragtig weerspieël. Sodra ons meer as dit daarvan probeer maak, word simbole 'n twispunt.

Verskil van mening oor nasionale simbole is 'n reuse struikelblok vir sportlui se ideaal van internasionale deelname, 'n Mens sou egter verwag het dat in hierdie land met sy sterk komponent van Christene daar 'n ander en veel ernstiger struikelblok sou wees om te oorkom op die pad na internasionale deelname. Dit is die kwessie van Sondagsport. Tragies genoeg wil dit voorkom asof dit die een punt is waaroor daar algemene konsensus bestaan: Om internasionaal te kan meeding, moet ons sportlui bereid wees om op Sondag sport te beoefen. Die oënskynlike gelatenheid en selfs opgewondenheid waarmee die inwoners van Suid-Afrika dit aanvaar het dat die pas afgelope kriekettoer na Indië met 'n Sondagwedstryd begin het, en derhalwe ook Sondag op TV gebeeldsend is, is ontstellend. 'n Mens sou die gebeure kon interpreteer as: Suid-Afrika word terugverwelkom in die internasionale sport arena op voorwaarde dat Christelike waardes en beginsels prysgegee word. As simbool van sodanige prysgawe: die eerste wedstryd op 'n Sondag! Die ou-ou vraag is: Wat is belangriker — om die rusdag deur te bring soos dit God behaag, of om internasionaal te kan meeding?