5 bladsye.

ʼn Inleiding tot die Dordtse Leerreëls

Dordtse sinode

Een van die groot skatte van die Gereformeerde kerke is die geloofsbelydenis wat bekend staan as die Dordtse Leerreëls. Hierdie belydenis is geskryf in antwoord op die onbybelse leer van Jacobus Arminius en die “Remonstrante”, en sit die leer van die Woord van God, dat gelowiges deur geloof alleen gered word, van begin tot einde baie mooi uiteen. Volgens die Dordtse Leerreëls word die saligheid soewerein bevestig en volvoer deur die Drie-Enige God: vanaf sy oorsprong in die ewige raad van God die Vader, tot die voorsiening in die persoon en werk van God die Seun (die Middelaar), tot die toepassing deur God die Heilige Gees deur die evangelie. Volgens die voorbeeld van die apostel Paulus, prys die Dordtse Leerreëls alleen God vir die uitverkiesing van sy volk tot saligheid – “Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Syne is die heerlikheid tot in ewigheid. Amen” (Romeine 11:36).

Hoewel baie Gereformeerde Christene in ons dae nog bekend is met die Dordtse Leerreëls, is hierdie belydenis nie naastenby so bekend as wat dit behoort te wees nie. Selfs onder Gereformeerde gelowiges is daar baie wat óf oningelig óf waningelig is oor die Leerreëls se opsomming van die Bybelse leer oor die uitverkiesing. Dit is jammer dat, hoewel dit dikwels ongelees en onbestudeer bly, die Leerreëls dikwels bespot en wanvoorgestel word deur diegene wat onwillig is om die Skriftuurlike leer wat daarin opgesom word, te aanvaar. Aangesien so baie van die kontemporêre “evangelisme” in Noord Amerika ‘n basies “Arminiaanse” beskouing van die saligheid daarop nahou, is daar vele “Gereformeerde” gelowiges wie se begrip van die uitverkiesingsleer gekompromiteer of verwring is deur Arminiaanse beskouings.

Hierbenewens is daar duidelike verwarring tussen die ‘hoofstroom’ Protestantse denominasies oor baie aspekte van die Bybelse leer, in besonder oor die leerstuk van predestinasie. ʼn Onlangse verklaring van ʼn teologiese kommissie van verteenwoordigers van vyf sulke hoofstroom kerke het byvoorbeeld tot die gevolgtrekking gekom: ‘Eerder as om oor die leer verdeeld te wees, blyk dit dat beide kante eenstemmig is oor ʼn halfhartige onderskrywing van enige vorm van predestinasieleer as deel van hulle teologiese verbintenis.’1 Hierdie verklaring weerspieël die algemene benadering binne hoofstroom Protestantse kerke van die onderwerp van predestinasie en uitverkiesing baie goed: die onderwerp is óf onbekend óf die voorwerp van ‘goedgunstige’ nalatigheid of selfs ʼn verleentheid.

Daar is gevolglik ʼn dringende noodsaak dat Gereformeerde Christene opnuut met die Dordtse Leerreëls vertroud raak. Ek wil in hierdie artikel kortliks die agtergrond en geskiedenis wat tot die sitting van die Sinode van Dordt in 1618-19 gelei het, skets.

Die historiese aanleiding tot die Sinode van Dordrecht🔗

ʼn Volledige uiteensetting van die geskiedenis wat die sameroeping van ʼn sinode van die Gereformeerde kerke in Dordrecht, Nederland in 1618 voorafgegaan het, verg meer aandag as wat ons hier daaraan kan gee, maar daar is sekere aspekte van die geskiedenis voor hierdie sinode wat van spesifieke belang is.

Nie lank nadat die Gereformeerde geloof in die Nederlande in die middel van die sestiende eeu (ca. 1544) wortel geskiet en gedy het, het daar ʼn ernstige dispuut met betrekking tot die prediking en leer van Jacobus Arminius (1560-1609) ontstaan. Arminius, ʼn briljante student van Theodorus Beza, die opvolger van Calvyn in Genève (Switserland), het die dispuut veroorsaak deur ʼn reeks preke te lewer oor die brief van Paulus aan die Romeine. In hierdie preke het Arminius ʼn aantal betwisbare punte gestel: dat die dood onvermydelik sou wees, selfs al sou Adam gehoorsaam gebly het; dat Romeine 7 ʼn beskrywing van Paulus in sy nie-wedergebore staat is; dat die mens, ook na die Sondeval ʼn vrye wil het waarmee hy die eise van die evangelie kan gehoorsaam of nie gehoorsaam nie; en dat die burgerlike owerheid gesag oor die kerk voer.2

Armenius

Die belangrikste aspek van Arminius se standpunt het egter geblyk uit sy aanval op die Gereformeerde leer van die uitverkiesing. Arminius het sy posisie openbaar laat word toe hy ernstige bedenkings uitgespreek het oor Artikel 16 van die Nederlandse Geloofsbelydenis. Hierdie Artikel, onder die opskrif “Die Ewige Verkiesing van God”, som kortliks die Bybelse leer van onvoorwaardelike uitverkiesing op:

Ons glo dat God, toe die hele geslag van Adam deur die sonde van die eerste mens in die verderf en ondergang gestort is, Hom betoon het soos Hy is, naamlik barmhartig en regverdig. God is barmhartig, aangesien Hy dié wat Hy uitverkies het, uit hierdie verderf trek en verlos; God het hulle, uit louter goedheid en sonder om hulle werke in die minste in aanmerking te neem, in sy ewige en onveranderlike raad uitverkies in Jesus Christus, ons Here. God is regverdig deurdat Hy die ander in hulle val en verderf laat bly waarin hulle hulleself gewerp het.

Teenoor hierdie artikel se beklemtoning van onvoorwaardelike uitverkiesing, argumenteer Arminius dat uitverkiesing tot saligheid gegrond is op die goddelike voorkennis van God; God het gekies om sy volk te red, nie soewerein en uit genade nie, maar op die voorwaarde van die deur Hom vooruitgesiene geloof.

Die prediking en lering van Arminius het die oog geword van ʼn daaropvolgende storm van kontroversie wat in die Gereformeerde kerke in Nederland ontketen is. Gedurende dié tyd is die kerke deur tweespalt geteister en twee ‘partye’ het ontstaan, ʼn party wat die standpunt van Arminius verkies het en ʼn party wat sy posisie geopponeer het. Twee belangrike gebeure het ook plaasgevind wat die weg gebaan het vir die byeenroep van die Sinode van Dordt in 1618.

Na die dood van Arminius in 1609 het die Arminiaanse party in die Nederlandse Gereformeerde kerke ʼn opsommende stelling van hulle standpunt opgestel. Op 14 Januarie 1610 het meer as veertig verteenwoordigers wat die beskouings van Arminius voorgestaan het, in Gouda vergader. Hierdie verteenwoordigers het ʼn ‘Remonstransie’, of petisie, opgestel waarin hulle saak uiteengesit en verdedig is. Nadat hulle gekla het dat hulle saak deur hulle opponente wanvoorgestel is en geargumenteer het dat die staat gesag oor sake van die kerke het, het hierdie Remonstransie die Arminiaanse posisie in ʼn reeks van vyf artikels uiteengesit. 3 Die Remonstrante het gehoop dat hierdie dokument aan die burgerlike owerheid vir goedkeuring voorgelê sou word en om daarmee antwoord te kry op die beskuldiging dat hulle leer met die Skrif en die Gereformeerde belydenisskrifte in stryd is. 4

Kort nadat die Remonstransie opgestel is, het die State van Holland reëlings getref vir ʼn ontmoeting tussen verteenwoordigers van die Arminiaanse of Remonstrantse en die anti-Remonstrantse partye. Hierdie vergadering het vanaf 10 Maart 1611 tot 20 Mei 1611 plaasgevind en was die geleentheid vir voorbereiding van ʼn antwoord op die Remonstransie van die Arminiane. Hierdie antwoord van die Gereformeerde of Calvinistiese verdedigers van die geloof is die Kontra-Remonstransie van 1611 genoem. Hierdie antwoord het die hooftrekke van die latere, meer omvattende Dordtse Leerreëls voorafgegaan.

Eindelik, toe die debat tussen Arminiaan/Remonstrant en anti-Arminiaan/Kontra-Remonstrant geen teken van vermindering toon nie, het die State-Generaal van die Republiek van die Nederlande ʼn nasionale sinode byeengeroep om die geskil te besleg. Die uitdruklike doel van hierdie sinode, wat in 1618 in Dordrecht sou vergader, was om te oordeel of die posisie van die Remonstrante in ooreenstemming met die Woord van God en die Gereformeerde Belydenisskrifte, in besonder Artikel XVI van die Nederlandse Geloofsbelydenis, was. Hoewel dit amptelik ʼn sinode was van die Gereformeerde kerke van die Nederlande, was daar ook ses en twintig afgevaardigdes van agt ander lande.

Dordtrecht

Op grond van sy beraadslagings het die Sinode van Dordt geoordeel dat die vyf artikels van die Remonstrante strydig was met die Woord van God en die belydenis van die Gereformeerde kerke. Teenoor die Arminiaanse leer van verkiesing op grond van vooruitgesiene geloof, gedeeltelike verdorwenheid, weerstaanbare genade en die moontlikheid om uit die genade te verval, sit die Leerreëls die Gereformeerde leer van onvoorwaardelike uitverkiesing, beperkte versoening, totale verdorwenheid, onweerstaanbare genade en die volharding van die heiliges uiteen. By elk van die hoofpunte van die leer, stel die Leerreëls eers ʼn positiewe stelling van die Skriftuurlike leer en sluit dan af met ʼn verwerping van die ooreenstemmende Arminiaanse dwaling.

Die leer van Arminius en die Remonstrante🔗

Uit hierdie kort skets van die geskiedenis wat die Dordtse Sinode van 1618 voorafgegaan het, word dit duidelik dat die Gereformeerde kerke van die Nederlande, en selfs ook die Gereformeerde kerke internasionaal, in hierdie tyd hulle grootste krisis sedert die vroeë dae van die Reformasie in die gesig gestaar het. Die Gereformeerde belydenis van die soewereine genade van God tot redding was op die spel.

Om die aard en omvang van hierdie krisis te begryp, is ʼn opsomming van die kenmerke van die Arminiaanse of Remonstrantse leer van genade nodig. By die opsomming van die Arminiaanse leer volg ek die patroon van die ‘vyf artikels’ wat in 1610 deur die Arminiane vasgestel is.

Die eerste artikel: voorwaardelike uitverkiesing🔗

Die eerste en miskien die belangrikste artikel van die Arminiaans/Remonstrantse posisie bevestig die leer van “voorwaardelike” uitverkiesing. Volgens die Arminiaanse posisie het God, voor die grondlegging van die wêreld diegene gekies wat Hy voorsien het dat hulle op die roeping van die evangelie sou reageer. Uitverkiesing word daarom bepaal deur, of voorwaardelik gestel aan, wat die mens met die evangelie sou doen. God ‘skenk’ nie geloof aan die uitverkorenes wat Hy goeddink om te red nie. Nee, God ‘sien vooruit’ wie sal glo en hulle uit eie vrye wil by die aanhoor van die evangelie bekeer, en kies dan om hulle op grond van die vooruitgesiene geloof te red. Uitverkiesing is daarom nóg soewerein, nóg onverdiend in die streng sin van hierdie woorde. Dit is dieselfde met diegene wat God ‘verwerp’ of kies om nie te red nie. Hy verwerp op grond van vooruitgesiene ongeloof. Die sondige mens se keuse om in Christus te glo, nie die keuse van God om die sondaar aan Christus te gee nie, word dus die finale oorsaak van die redding van die gelowige.

Die tweede artikel: algemene versoening🔗

In die tweede artikel van die Armeniaans/Remonstrantse posisie word gesê dat Christus “vir alle mense en vir elke mens gesterf het”, hoewel net diegene wat in Hom glo soos Hy in die evangelie beskryf word, gered word. Die versoenende werk van Christus het dit vir almal moontlik gemaak om gered te word, sonder dat die redding van enigiemand werklik seker is. Op grond van die versoeningswerk word dit vir God moontlik om sondaars te vergewe op die voorwaarde dat hulle glo. Maar die versoeningswerk van Christus neem nie werklik die sondes van enigiemand weg of gee redding vir besondere mense, naamlik hulle wat die Vader Hom gegee het of vir wie Hy Homself geoffer het nie. Die versoeningswerk van Christus maak redding moontlik vir alle mense sonder uitsondering, maar sonder die sekerheid dat Hy vir enige besondere mens versoening bewerk het.

Die derde artikel: gedeeltelike verdorwenheid🔗

In ooreenstemming met die Arminiaanse aandrang dat uitverkiesing op voorsiene geloof berus en dat die versoeningswerk van Christus effektief word net deur die vrye keuse van sommiges om die evangelie te glo, leer die Arminiaans/Remonstrantse posisie dat die sondige mens net deels verdorwe is. Hoewel toegegee word dat die menslike geslag ernstig deur die sondeval aangetas is, hou die Arminiane sterk by die standpunt dat die gevalle menslike natuur nie totale geestelike hulpeloosheid beteken nie. Daar is ʼn algemene genadige werking van God in die harte van sondige mense, maar sonder om redding te skenk, wat hulle in staat stel om hulle te bekeer en te glo. Hierdie algemene genade stel alle mense in staat om gehoor te gee, of nie gehoor te gee nie, aan die evangelie se oproep tot geloof en bekering.5  Die sondaar behou ʼn vrye wil en sy ewige bestemming hang daarvan af hoe hy dit gebruik. Hoewel die verlore sondaar die bystand van die Heilige Gees nodig het, hoef hy nie deur die Gees wedergebore te word voordat hy kan glo nie. Die nuwe geboorte word inderdaad deur die mens se handeling van geloof voorafgegaan; dit is nie die bron van geloof nie. Geloof is die mens se bydrae, sy “goeie werke,” of word deur hom bewerkstellig, voor die werk van die Gees in wedergeboorte.

hande en lig

Die vierde artikel: weerstaanbare genade🔗

In die vierde artikel het die Arminiaanse party geleer dat die Heilige Gees almal wat deur die evangelie geroep is, innerlik roep. Die Heilige Gees doen alles wat Hy kan om elke sondaar tot redding te bring, maar hierdie werk van die Gees kan misluk as daar weerstand is. Omdat die mens vry is en geloof die nuwe geboorte moet voorafgaan en dit moontlik maak, kan die Gees nie regenereer totdat hy glo nie. Gevolglik is die toepassing van die werk van Christus deur die Heilige Gees beperk of word dit gedefinieer deur die sondaar se gewilligheid om saam te werk. Die Heilige Gees kan net diegene deur die evangelie trek wat hom toelaat om sy gang te gaan. Die genade van God is nie onweerstaanbaar nie, maar weerstaanbaar; dit is nie onbedwingbaar nie, maar bedwingbaar.

Die vyfde artikel: volharding van die heiliges?🔗

Die laaste artikel van die Arminiaanse party spreek die vraag aan of gelowiges in die genade deur die Gees bewaar word. Hier het die Arminiaans/Remonstrantse posisie onseker gebly. Sommige het geleer dat dit vir hulle wat glo en gered is moontlik is om uiteindelik verlore te gaan as hulle nie in geloof en gehoorsaamheid volhard nie. Ander het geleer dat gelowiges vir ewig in Christus veilig is, dat wanneer ʼn gelowige wedergebore is, hy nie meer verlore kan gaan nie.6

Die Evangelie op die spel, toe en nou🔗

Hoewel die Dordtse Leerreëls gemik was op die lering van Arminius teen die historiese agtergrond van die debat in die Gereformeerde kerke van die Nederlande, druk dit tot die hede die lewende geloof van Gereformeerde kerke uit. Niks minder nie as die hart van die evangelie was destyds op die spel. Niks minder nie as die hart van die evangelie is vandag ook net soveel op die spel. Op welke wyse dit ook al “getooi” word of met watter styl dit aangebied word, bly die Arminiaanse leer ʼn deurlopende bedreiging en verleiding van die kerke se belydenis van redding deur genade alleen. Gevolglik bly die Dordtse leerreëls noodsaaklik as antwoord en beskerming teen hierdie bedreiging.

Twee groot temas van die evangelie word deur die Arminiaanse leer bedreig. Die eerste is die sonderlinge eer en heerlikheid van God in die redding van sy volk. Die Arminiaanse leer van redding verdeel altyd dit wat aan God alleen behoort, tussen God en die sondaar! Eerder as om van die Bybelse leer dat ons redding geheel en al deur genade is, te getuig en dit te verdedig, skryf die Arminiaanse leer ʼn deel aan die sondaar toe, inderdaad die deurslaggewende deel, om homself te red.7

Maar hierdie kompromie van die soewereine genade van God kom teen ʼn baie hoë prys. Dit ondergrawe naamlik ʼn tweede tema van die evangelie, te wete die versekering en sekerheid van die gelowige in die onveranderlike genade van God! Omdat die Arminiaanse leer die redding in die hande van die verlore sondaar laat, is dit nie by magte om te bevestig dat God se reddende doel vir hulle wat aan Hom behoort, onfeilbaar is nie. As redding van die vrye keuse van die sondaar afhang (ʼn vrye keuse waarin die sondaar self moet volhard), as dit nie soewerein ontwerp, genadig bevestig en onweerstaanbaar deur God self volbring word nie, hang die sondaar se redding aan ʼn baie dun draadjie!

Die opstellers van die Dordtse Leerreëls het dit begryp. Daarom het hulle die skat van hierdie belydenis aan die Gereformeerde kerke agtergelaat. Mag Gereformeerde gelowiges vandag dit ook verstaan, en hierdie belydenis koester as ʼn mylpaal in hulle erfenis in die geloof.

Aanbevole leesstof:🔗

De Jong, Peter Y., red. Crisis in the Reformed Churches: Essays in commemoration of the great Synod of Dordt, 1618-1619. Grand Rapids: Reformed Fellowship, Inc., 1968

Steele, David N., & Thomas, Curtis C., reds. The Five Points of Calvinism: Defined, Defended, Documented. Phillipsburg, NJ: Presbyterian & Reformed Publishing Co. 1963.

Endnotes🔗

  1. ^ Hierdie kommissieverslag verteenwoordig die afsluiting van ʼn reeks Luthers-Gereformeerde gesprekke wat in 1962 begin het. Die kerke wat verteenwoordig was, is: die Evangelical Lutheran Church in America, the Presbyterian Church (U.S.A.), die United Church of Christ en die Reformed Church in America. Die kommissieverslag bevat nie net ernstige wanvoorstellings van die historiese, Bybelse leer van uitverkiesing nie, maar openbaar ook die mate waartoe hierdie denominasies hulle erfenis van hulle belydenis grotendeels laat vaar het.
  2. ^ Arminius was nie net ʼn predikant van die Gereformeerde kerke nie, maar ook ʼn invloedryke teoloog aan die Universiteit van Leiden.
  3. ^ Vandaar dat die ‘Remonstransie’ dikwels die “Vyf Arminiaanse Artikels” (Latyn: Articuli Arminianisive Remonstrantia) genoem word. Hierdie vyf artikels het die patroon geword vir die besprekings en debatte wat daarna gevolg het, insluitend die vyf “hoofpunte van die leer” van die Dordtse Leerreëls. Die “vyf punte van Calvinisme” soos dit algemeen bekend staan, is in wese dus vyf teenargumente teen die dwalings van die Arminiane of Remonstrante van vandag. In Engels is hulle ook bekende as die akroniem TULIP. Hoewel dit nie in dieselfde volgorde as die vyf punte is nie, is dit nuttig om die hoofinhoud van die belydenisskrif te onthou: Total depravity, Unconditional election, Limited atonement, Irresistible grace en Perseverance of the saints.
  4. ^ ʼn Interessante kenmerk van die Arminiaanse geskil in die Nederlande was die rol van die staat in die sake van die kerk. Die Arminiaanse “party” het nie alleen die ondersteuning van die owerheid gehad ter ondersteuning van hulle beskouings nie, maar die sinode van Dordt is deur die State-Generaal van die Verenigde Republiek van die Nederlande byeengeroep.
  5. ^ Mens moet kennis daarvan neem dat die Arminiaanse posisie nie suiwer “Pelagianisme” is nie. “Pelagianisme” leer dat dit vir die mens moontlik is om, sonder die vooraf werking van die genade van God, die wet van God te kan gehoorsaam en daarmee redding verdien. Die Arminiaanse posisie, soos die van klassieke Rooms Katolisisme, is “semi-Pelagiaans.” Dit leer dat, met ʼn voorafgaande en algemene genade van God, alle mense in staat is om te glo of nie te glo nie. Die deurslaggewende stap, die stap wat bepaal of mens gered is, kom van die sondaar, nie van God nie. ʼn Parafrase van ʼn welbekende kommentaar van Augustinus sou wees dat God nie mense verkore “maak” nie, Hy “bevind” dat hulle verkore is. God word uiteindelik ʼn ongelukkige toeskouer of bystander wat op die sondige mens moet wag om die allerbelangrikste “besluit” om gered te word, te neem.
  6. ^ Die vyfde artikel van die Remonstransie van 1610 lui: “Maar of hulle deur nalatigheid van die eerste beginsel van hulle lewe in Christus kan wegval, die teenswoordige wêreld weer omhels, afwyk van die suiwer leer wat eenmaal aan hulle gegee is, die goeie gewete verloor en die genade verwaarloos, kom eerstens uit oortuiging van ons hart” (aangehaal in Crisis in the Reformed Churches: Essays in commemoration of the great Synod of Dordt, 1618-1619, red. P.Y. de Jong [Grand Rapids: Reformed Fellowship Inc., 1968], p. 209)
  7. ^ Dit is belangrik dat hierdie die onvermydelike gevolg is van die Arminiaanse leer van redding. Soos die groot Nederlandse Teoloog, Herman Bavinck na bewering sou gesê het: “alle ware gelowiges, wanneer hulle hul geloof in gebed tot die Vader bely, is Gereformeerd daarin dat hulle erken dat hulle redding geheel en al deur genade is.”