3 bladsye. Vertaal deur Charlotte Roestorff.

“As ek maar net ...” Saamleef met Selfverwyt

Dit voel so reg – so godsdienstig – om ʼn lewe van selfverwyt te lei. Dit beteken dat jy sleg voel oor die verkeerde dinge wat jy gedoen of gedink het, en dit klink na die regte ding om te doen. As jy daarvan sou vergeet, dan tree jy op asof dit nie ʼn groot fout was nie.

Hoeveel “as-ek-maar-net’s” is daar in jou lewe?

As jy ʼn silwerskoon gewete het, dan het jy lankal tred verloor met die tel daarvan. Vir die res van ons bestaan daar ʼn paar basiese kategorieë verwyte oor:

  1. Skandalige dinge wat jy gedoen. Dit beteken dat hulle bekend geword het en dat die publiek hulle afgekeur het. Miskien het jy op skool gedruip of in jou beroep gefaal, met die gereg gebots of immoreel opgetree.
  2. Dinge wat jy óf doelbewus óf (meer dikwels) onopsetlik gedoen het, wat iemand anders seergemaak het. Motorongelukke, seksueel oordraagbare siektes, swak ouerskap in die geval van ʼn weerspannige kind, en roekelose optrede onder die invloed van alkohol of dwelmmiddels is op hierdie lys. “As ek maar net 5 minute later vertrek het, sou ek nie daardie persoon raakgery het nie”; “As ek net nie na daardie partytjie toe gegaan het nie...“, ens.
  3. Dinge wat jy dink jy kon gedoen het om ʼn katastrofe te vermy. As daar ʼn besondere oomblik was waarop jou lewe onherstelbaar die verkeerde rigting ingeslaan het, dan sal jy aan dosyne dinge kan dink wat jy anders sou moes gedoen het. ʼn Ongelukkige huwelik? Jy sal terugkyk op die lys van vroeëre huweliksmoontlikhede en wonder waarom jy nie een van daardie opsies uitgeoefen het nie. Feitlik elke mens wat iemand geken het wat selfmoord gepleeg het, sal homself verwyt. “As ek net gebel het, of gaan kuier het”. Die meeste vroue wat verkrag is, dink agterna oor en oor: “As ek net... (geskree het, my instink vertrou het, saam met my vriende gegaan het)”.

Ek het ʼn vrou geken wat haarself so erg verwyt het, dat die las daarvan vir haar normaal gevoel het. Die eerste paar “as-ek-maar-net’s” was vir haar swaar laste op haar gemoed, maar nes dit is om tien-kilogram-gewigte heeltyd rondom jou gewrigte en enkels te dra, kom jy dit ná ‘n ruk nie meer agter dat jy hulle saamdra nie. Jy voel die hele tyd traag en moeg, en dit lyk asof al die ander mense teen ʼn vinniger emosionele pas beweeg, maar op ʼn sekere manier is dit vir jou normaal.

Hierin lê die teenstrydigheid.

Ons leef met selfverwyte omdat ons dink ons moet. Ons dink dit is die regte ding om te doen – dit is ons plig teenoor God. Maar ...

Die koninkryk van die hemele is verwyt-vry. Die waarheid is dat die drie-enige God ons bevry van verwyte oor ons sondige verlede. Sy wil geskied. Wees verseker. Nòg ons menslike beperkinge nòg ons sondes verhinder die goeie planne van ons soewereine Vader.

Kom ons gaan een stap verder. Dit is God se wil dat jy verwyte oor die verlede oorboord gooi. Hulle laat jou net onbekwaam voel, en maak jou onproduktief.

Nou kom ons by die uitkenningsparade: Abraham, Isak, Jakob, Moses, Dawid, Jona, Petrus en Paulus, om mee te begin. Hulle het almal goeie redes gehad om aan ʼn ernstige graad van“as-ek-maar-net” te ly. Koning Dawid is die ernstigste geval. Sy sonde met Batseba het die dood van hulle kind tot gevolg gehad en sy sameswering om die ontug te verdoesel, die dood van Batseba se man (2 Sam. 12). Nog erger was sy sonde om die volk te laat tel, wat tot die dood van 70,000 Israelitiese mans gelei het (2 Sam. 24). Hy het diepe berou gehad, en sy skuldbelydenis was opreg, maar jy vind nie dat hy homself aanhou verwyt het nie. In plaas daarvan, loof en prys hy die Here wat sondes uit genade vergewe.

Dink aan Jona. Hy was ʼn raaiselagtige figuur wie se vlug weg van die Here af byna die dood van ʼn hele bemanning tot gevolg gehad het en wel daartoe gelei het dat hy deur ʼn vis ingesluk is. Die maag van ʼn vis is die ideale plek om berou te hê oor jou sonde, veral as jy dit op jouself gehaal het – “as ek maar net Nineve toe gegaan het” – maar in plaas daarvan het dit ʼn plek geword waar Jona tot inkeer gekom het en verklaar het: “Verlossing kom van die Here af”.

Maar in die tydperk na Christus se opstanding, is dit Petrus wat ons mentor is oor hoe om selfverwyte te hanteer. Na alles het hy Jesus van die begin af geken en van die veronderstelling uitgegaan dat sy skandelike verloëning van Jesus in die nag waarin Hy gevange geneem is, hom (Petrus) verlaag het na die status van ʼn visserman. Nie dat daar iets verkeerd is met visvang nie, maar Jesus het Petrus se roeping verander na dié van ʼn visser van mense (Matt. 4:19), want vir Petrus het die lewe as ʼn gewone visserman beteken dat sy sondes hom gediskwalifiseer het vir diens in die Koninkryk. Hy was oortuig dat sy roeping nie meer geldig was nie. Maar ontbyt saam met Jesus en ʼn wandeling op die strand het dit alles verander. (Meer hieroor in die blog: “The World’s Best Epilogue – Ever”).

Probeer gerus om ʼn sweem van selfverwyt of “as-ek-maar-net” in sy twee briewe te kry. In plaas daarvan begin Petrus, in navolging van Koning Dawid, met seker die skouspelagtigste en welsprekendste verklaring van hoop in die Nuwe Testament, wat eindig met sy aansporing: “Daarom, wees verstandelik paraat en tree nugter op; hoop volkome op die genade wat tydens die openbaring van Jesus Christus vir julle gebring sal word” (1 Petrus 1:13). Hy herinner ons daaraan dat die lewe in Christus berus op wat Jesus gedoen het en op die vooruitsig op wat Hy nog gaan doen. Ons is toekomsgerig. Ons kyk vorentoe. Ons hoop. Ons streef daarna om nader getrek te word deur die prag wat feitlik reeds binne bereik is, eerder as om gerem te word deur selfverwyte oor die verlede.

Hoor jy iets hier? Gee dit jou weer nuwe hoop? Indien nie, dan glo jy dat die Koninkryk van Christus die plek is waar jy betaal vir die sondes en onbesonnenheid van die verlede of net omdat jy ʼn mens is wat nie alwetend en alomteenwoordig is nie. Jy glo dat as jy genoeg spyt en berou opgegaar het, jy uit jou selfopgelegde vaevuur kan ontsnap – alhoewel, soos jy reeds weet – ondanks die groot voorraad wat jy ophoop, jy nog altyd sal voel asof jy nog ʼn bietjie moet byvoeg. Dit is nie die Koninkryk waar Jesus heers nie.

Dalk glo jy dat jou selfverwyte jou beskermende gelukbringer sal wees om te help seker maak dat jy nie vorige sondes herhaal nie. Dit maak sin en klink godsdienstig, maar dit is ʼn vals evangelie. Dit is die wonderlike genade van God wat ons oortuig om teen sonde te stry. Een manier om die skandelike aard van selfverwyte uit te ken, is dat hulle nie aan genade die belangrikste plek aan tafel gee nie. Hierdie selfverwyte kan so hardnekkig wees dat hulle net sal ophou deur berou. Terwyl jy berou het oor jou bydrae (waarvan jy bewus is) tot selfverwyte oor jou verlede, is die ware rede waarom jy dit moet doen, baie nader aan die hede: “Here, ek glo nie dat U my verlede bedek nie, hoewel U waarskynlik die verledes van ander mense bedek, en ek glo verseker nie dat vertroue in U goedheid en hoop vir die toekoms eers geregverdig is nie”. Noem dit ongeloof. As jy lelik wil raak, noem dit trots, waarin jy jouself glo eerder as vir God. Hoe dit ook al sy, bekeer jou daarvan.

Ek het my eie selfverwyte – jy het joune. God se ontferminge is nog hoër opgestapel.