Bron: Die Kerkblad. 3 bladsye.

1 + 1 = 1!

In die rekenkunde word die bostaande som as verkeerd beskou. 'n Mens kan tog nie twee heles bymekaartel en steeds maar een hele hê nie - Andersom: om 'n somtotaal van een te kry, moet jy twee breukdele bymekaar tel, byvoorbeeld 'n halwe plus 'n halwe. Maar een plus een is nie gelyk aan een nie. So werk dit in die rekenkunde. In die Bybel werk dit dikwels anders. Die volle waarheid soos God dit in die Bybel aan ons bekendmaak, word nie opgemaak uit twee halwes nie, maar uit twee (of selfs meer) heles. Die Bybelse waarheid word dus dikwels bereken as: 1 = 1 + 1. Hierdie berekening maak vir die mens met sy rekenkundige brein nie sin nie. Sulke waarhede kan net in die geloof aanvaar word. Kom ons kyk na enkele voorbeelde.

Jesus Christus Volkome God én Volkome Mens🔗

En die geloofsbelydenis van Athanasius word die Bybelse leer oor die Seun van God saamgevat as: "Hy is.. . volkome God, volkome mens... En hoewel Hy God en mens is, is Hy nogtans nie twee nie, maar een Christus". Hierdie woorde was 'n antwoord op die dwaling van die vierde-eeuse ketter Arius, wat beweer het dat Jesus Christus slegs 'n mens was en nie God is nie. Vir Arius was dit ondenkbaar dat Jesus Christus volkome mens kon wees én terselfdertyd volkome God. Die geloofsom van 1 + 1 = 1 was nie vir hom haalbaar nie.

Die Goddelike Drie-Eenheid🔗

Dieselfde geloofsom geld natuurlik ook vir die leer van die Drie-eenheid. Saam met Athanasius bely ons: "Ons moet die een God in die Drieheid en die Drieheid in die Eenheid eer, sonder om die persone te vermeng. of die wese te deel... en tog is daar nie drie gode nie maar een God". Drie Persone en tog een Wese. So openbaar God Hom aan ons in die Bybel. Dit is 'n openbaring wat ons slegs in die geloof kan aanvaar.

God leer ons in sy Woord om hierdie geloofsom ook in baie ander opsigte te maak. Wie nie hierdie berekening in die geloof kan maak nie, eindig in 'n eensydigheid wat op die ou einde die waarheid geweld aandoen.

Twee-Eenheid in die Huwelik🔗

Toe God die huwelik vir man en vrou ingestel het, het Hy gesê: "Hulle twee sal eern vlees wees, sodat hulle nie meer twee is nie, maar een vlees" (Matt. 19:5, 6). Dus: 1 + 1 = 1. Wie nie bereid is om die eenheid van man en vrou in die huwelik te handhaaf nie, sit gou opgeskeep met 'n blote ooreenkoms tussen twee individue — 'n ooreenkoms wat gemaklik in die skeihof tot niet gemaak word.

Maar tog beteken dit nie dat die man en vrou se onderskeie persoonlikhede in die huwelik ophou bestaan nie. Elkeen het steeds met behoud van die eie persoon 'n eie besondere plek in die huwelik: die man as hoof, die vrou as helper (Ef. 5:21-33). Hulle is volkome een en tegelyk volkome twee. Dus: 1 = 1 + 1. Waar hierdie geheimenisvolle geloofsom (Ef. 5:32) nie gemaak word nie, gebeur dit dat óf die man óf die vrou die ander een oorheers. Die resultaat is 'n onvolkome huwelik.

Beskikking en Verantwoordelikheid🔗

'n Eeue-oue vraagstuk waarmee gelowiges (selfs geleerde teoloë) in ons tyd weer worstel, is die vraag na die verhouding tussen God se beskikking en die mens se eie verantwoordelikheid. Die probleem is dat sekere plekke in die Bybel leer dat alles God se beskikking is, en ander plekke dat alles die mens se verantwoordelikheid is.

In Prediker 3:11 lees ons: "God het elke ding gemaak dat dit pas in 'n bepaalde tyd" en in Spreuke 21:1 hoor ons dat God die mens se lewe "lei waarheen Hy wil" Hy het selfs die hare op ons hoof getel (Luk. 12:7) Daarom bely ons in Sondag 10 van die Kategismus dat God alle skepsels só in sy hand hou dat hulle, hulle sonder sy wil nie kan roer of beweeg nie. Alles wat gebeur, gebeur dus volgens God se beskikking.

Aan die ander kant leer die Skrif ons dat die mens volledig verantwoordelik is vir wat gebeur. Uit eie vrye wil het die mens in die paradys in sonde geval (Gen. 3:1-8; D.L. Hoofstuk 3/4 1). Die skeuring van Israel in twee koninkryke was die direkte gevolg van verkeerde besluite van koning Rehabeam (1 Kon. 12:12-16). Die Joodse Raad met hulle komplot teen Paulus was die direkte oorsaak daarvan dat hy deur die Romeine gevange geneem is (Hand. 25:10, 11).

Alles staan onder God se beskikking. In alles tree die mens in eie verantwoordelikheid op. Hierdie twee waarhede het ons ontvang — nie om teenoor mekaar te stel of teen mekaar op te weeg nie. Wie dit sou doen, eindig óf in determinisme (dit is eensydige beklemtoning van God se beskikking) óf in 'n deïsme (waarvolgens God Hom uit die wêreld onttrek het en die verloop van die wêreld uit homself bepaal word).

Maar in die geloof bereken ons hierdie waarheid as 1 + 1 = 1. Die volle waarheid is dat alles volgens God se beskikking gebeur, én dat die mens self verantwoordelik is vir wat in sy lewe gebeur. Nie in 'n verhouding van 50 - 50 nie, asof God gedeeltelik en onsself gedeeltelik verantwoordelik is nie. Nee, wat gebeur is 100% God se beskikking én 100% ons eie toedoen.

Ons kan hierdie geheimenis op elke terrein van die lewe toepas. Die geweld van ons tyd: is dit iets wat God oor ons samelewing bring, of is dit iets wat uit die samelewing self kom? In die geloof weet ons: die mense in ons samelewing is self 100% daarvoor verantwoordelik. Daarom moet ons self daaraan werk om die geweld tot 'n einde te bring. Terselfdertyd is dit 100 % tugtiging wat God oor 'n goddelose (of goddelosse) samelewing bring. Daarom sal geen mens die geweld kan beëindig as God dit nie toelaat nie.

'n Mens sien hierin iets van die geheimenis van die bekering. Enkele weke gelede het 'n broeder in die Vraag en Antwoordeboek gevra: Is bekering God se werk of die mens se eie verantwoordelikheid? Hierop was die antwoord: Bekering is 100 % die werk van God én 100% die mens se eie verantwoordelikheid: Dus: 1 = 1+1.

Eenheid  en Verskeidenheid🔗

In ons tyd en samelewing word daar ook geworstel met die vraag na die eenheid en verskeidenheid van volkere. Dit is duidelik dat die Bybel van albei leer. God het die nasies van die mensdom uit een bloed gemaak (Hand. 18:26). Daar Is dus eenheid. Tog het God self ná die sondvloed die mensdom verdeel in 'n verskeidenheid van nasies (Gen. 10). Daar is dus ook verskeidenheid

Verder openbaar God aan ons dat die gelowiges van alle nasies in Christus een is (Ef. 2:11-22). En tog lees ons in Openbaring 21:24 dat "die nasies van die wat gered word" in die nuwe Jerusalem teenwoordig sal wees. In Christus is ons een, sonder dat die verskeidenheid opgehef word.

Volgens menslike berekening kan eenheid en verskeidenheid nie tegelykertyd geld nie. Daarom is mense geneig tot holisme (dit is 'n oorbeklemtoning van die eenheid van die mensdom ten koste van die verskeidenheid) óf tot nasisme (die oorbeklemtoning van die verskeidenheid ten koste van die eenheid). Of hulle sal toegee dat beide bestaan, maar dan in 'n verhouding van 70 % tot 30 % of 50 % tot 50 % of hoe ook al.

Weer eens is dit egter 'n geval van 100% én 100%. in Christus is alle gelowiges 100 % een. Dit mag ons nooit vergeet nie. Terselfdertyd bly elke gelowige 100 % deel van die volk waarin God hom of haar gestel het. Ook dit mag ons nooit vergeet nie. Ook mag ons nie 'n medegelowige sonder meer oor sy volksbewussyn verkwalik asof dit teenoor die eenheid van die geloof staan nie. Of andersom.

Die Hele Waarheid🔗

So vind ons in die Skrif 'n uitweg uit menige lewensvraag-stukke. Dit is 'n weg wat vry is van eensydige beklemtoninge. Dit is ook 'n weg wat verhewe is bo die ruggraatlose "goue middeweg". Dit is die geheimenis van volkome handhawing en erkenning van elke deel van die werklikheid wat God gemaak het en aan ons openbaar. Dit is die geheimenis wat ons uitbring by die hele waarheid waarin die Gees ons lei (Joh. 16:13).