Bron: Kerk en Woord, 1993. 2 bladsye.

1 Johannes 2:3 - Skrifstudie: Hoe dit Sigbaar word dat Ons die Here Ken

En hieraan weet ons dat ons Hom ken: as ons sy gebooie bewaar

1 Joh. 2:3

Bybel🔗

Ware Lewensgemeenskap met die Here🔗

Ken ons die Here Jesus?

Dit is ’n vreemde vraag vir mense wat van kindsbeen af by die Evangelie opgegroei het. Vra mens so-iets vir gereelde kerkgangers en Bybellesers?

Tog is die vraag nodig – ook vir die mees oortuigde Christene. Want mens kan die Bybel op die punte van jou vingers ken en jy dan deeglik in die Gereformeerde leer onderlê wees, sodat jy presies kan aandui waar ander die kluts kwyt is, sonder dat jy werklik die Here ken.

Die gelowiges aan wie Johannes skryf, het tog ook geruime tyd al geglo. Hulle het selfs die evangelie van Christus vasgehou toe die dwaalleraars hulle aangeval het. Pas tevore het hulle dié wat sê dat Christus, God se Seun, nie mens geword het nie, afgewys (2:12-17). So het hulle “die Bose oorwin”. Met die gevolg dat die dwaalleraars “van hulle uitgegaan het” (2:19). En tog skryf Johannes die woorde van die teks aan hulle.

Om die Here te ken, word in 2:5, 6 genoem “in Hom bly” – ’n tipiese uitdrukking van Johannes. Joh 17, die Hoëpriesterlike gebed van Christus, laat ons sien wat “in Hom wees” of “in Hom bly” beteken. Daar vra Christus sy Vader dat alle Christene een mag wees, “net soos U, Vader in My en Ek in U; dat hulle ook in Ons een mag wees.”

Om die Here te ken, beteken dus ’n lewensgemeenskap so volledig, so innig met Hom soos wat dit tussen Vader, Seun en Heilige Gees bestaan. In Joh 1:18 sê die Here Jesus dat Hy “in die boesem” van die Vader is. Dit is ’n uitdrukking ontleen aan die tafelgemeenskap wat die Oosterlinge by hulle ete met mekaar gehad het. Want hulle het op ’n rusbank langs die tafel gelê, die een met sy kop op die ander se bors gestut. Johannes het by die eerste Nagmaal so met sy kop op Jesus se bors gelê. So innig is die verhouding tussen God die Vader en God die Seun.

ete

Juis om hierdie gemeenskap tussen Hom en ons te bewerkstellig, is die evangelie aan die lesers verkondig (1:3). Die lewensgemeenskap met die Vader en sy Seun kom tot stand en hou ook stand, nie deurdat ’n mens deur sy eie meditasie buite die Bybel om, met God “saamsmelt” of “in Hom versink” nie, maar slegs deur die Woord.

Om die Here te ken, vereis dus veel meer as net bloot lidmaat van ’n kerk wees. Dit vra meer as die ken van Bybelverse of Kategismus-antwoorde. Ja, selfs is daar meer nodig as Bybelstudie.

Dit beteken dat ons lewe totaal op die lewende Christus wat ons in sy Woord aanspreek, aangewys moet wees. Toe Hy op aarde was, het Hy net gespreek wat daar in die hart van sy Vader was. Hy het net geleef uit die Vader se krag. Totaal aangewys op sy Vader.

Soos ’n magneet die ystervysels op ’n vel papier aantrek en beïnvloed as jy dit onder die papier rondbeweeg, so word ons beheers en beïnvloed as ons waarlik in die lewensband met Christus staan.

Die Kenmerke van die Lewensband met die Here🔗

Dan is dit merkbaar dat jou lewe totaal op Hom aangewys is. Dit kan nie anders nie as dat dit na vore sal kom hoe diepgaande ons band met die Here is. Uit die manier waarop ons met sy gebooie omgaan, kan gesien word of ons in die egte lewensgemeenskap met die Here leef. “Hieraan weet ons dat ons Hom ken: as ons sy gebooie bewaar”, sê Johannes. Baie van ons praat baie oor Christus, oor prediking, oor kerk en oor geloof en wat gereformeerd is. Maar of ons die Here ken, blyk nie daaruit hoeveel ons daaroor te sê het nie, maar of ons ge-re-formeerd is, of Christus ons met sy Woord en Gees verander het. Sy gemeenskap het ’n radikaal veranderende invloed op ’n sondaar.

Dan praat jy anders. Dan doen jy anders.

Nie aan ons vroom gesig Sondag hier in die kerk word dit gesien of ons die Here ken nie. Nee, maar neem my na iemand se werk, na sy huis. Laat ek sien hoe hy met sy vrou en kinders werk. Daaraan weet ek of hy die Here ken.

Of ’n man sy eggenote werklik liefhet, kan ek agterkom aan die wyse waarop hy die huweliksbeloftes aan sy vrou nakom. Hou hy hom met ander vrouens op? Of het hy net oë vir sy eie vrou? Selfs as hy ver van huis is, laat hy dit sien, deur na haar te verlang, aan haar te dink, vir haar iets saam te neem.

man

Wel, ons trou teenoor die Here kom aan die lig in die manier waarop ons met sy Woord sy gebooie omgaan, daagliks en oral. Jy hou met Hom rekening. Hom veral, wil jy nie bedroef nie. Kyk, dit is die aanvang van die ewige lewe, so ’n onbetwisbare duidelike ken van die Here.

En nou word Christus se gebooie in die volgende paar verse saamgevat in die een gebod dat ons ons broeder moet liefhê.

Is dit wat ander van die Geref. Kerk die Kandelaar te sien kry – ’n gemeenskap met die Here wat ook uitkring tot ’n ware liefdesgemeenskap met die broeders? Bewaar ons dié gebod, uit die wederbarende krag van die Heilige Gees, ja, uit die reddende krag van Christus self? Daardie genade gee Hy ons. Leef ons daaruit?