Bron: Waarheid en Dwaling. 4 bladsye.

1 Kronieke 4:9-10 - Die Gebed van Jabes

En Jabes was meer geëerd as sy broers; en sy moeder het hom Jabes genoem en gesê: Ek het met smart gebaar. En Jabes het die God van Israel aangeroep en gesê: As U my ryklik seën en my grondgebied vermeerder en u hand met my sal wees en U die onheil afweer, sodat geen smart my tref nie! En God het laat kom wat hy begeer het.

1 Kronieke 4:9-10

biddende hande

Enkele jare gelede is ‘n boek uitgegee met die titel Jabes se gebed. In Amerika is 4 miljoen eksemplare van dié boek verkoop. Hier plaaslik is die Afrikaanse vertaling ook in groot getalle opgeraap. Die skrywer, dr Bruce Wilkinson, sê in die voorwoord wat sy mikpunt met die boek is: “Ek wil jou leer hoe om ’n waagmoedige gebed te bid wat God altyd verhoor”. Hy noem in die boek dat duisende gelowiges wat hierdie gebed daagliks bid, gereeld wonderwerke sien gebeur. Jy moet net die woorde van Jabes se gebed elke dag presies nasê, dan sal jy sien watter positiewe gevolge dit vir jou inhou. Jabes se gebed is die bloudruk vir ‘n geseënde lewe, want Jabes het die regte formule gevind om God se seën te verkry — so beweer die skrywer.

As ons hierdie dinge hoor, tel ons gereformeerde voelhorings vibrasies op wat nie gesond is nie. Leer God ons werklik om ‘n waagmoedige gebed te bid wat altyd deur Hom verhoor word? Wat dan van die bede in die Onse Vader: Laat u wil geskied? Wat van Paulus wat gesmeek het dat die doring uit sy vlees verwyder moet word - maar dit is nie; God se genade was vir hom genoeg. Is dit so dat ‘n mens ‘n gebed — selfs die Onse Vader — elke dag soos ‘n rympie kan opsê, en jy sal sekerlik geseën word? Wat van Christus se waarskuwing dat ons die Vader nie met ‘n ydele, ondeurdagte herhaling van woorde moet belas nie? So kan ons die vrae opstapel.

Tog bly ten minste een positiewe saak staan. Die aandag word op ’n uitnemende Skrifdeel gevestig wat vir vele Bybellesers minder bekend is, indien nie totaal onbekend nie.

Die Aanleiding tot Jabes se Gebed🔗

1 Kronieke 4:9 en 10 maak deel uit van ‘n ellelange geslagsregister wat strek vanaf 1 Kronieke 1 tot by 1 Kronieke 9. Dit is waarskynlik die rede waarom Jabes se gebed so onbekend is, want ons neig om geslagsregisters oor te slaan as ons Bybel lees. Eintlik word die lang ry name onderbreek met die paar opmerkings wat oor Jabes gemaak word. Die verse wat aan verse 9 en 10 voorafgaan, is tipiese geslagsregister-taal. Kos was die vader van Anub en Hassobeba en van die geslagte van Aharhel, die seun van Harum. In die verse wat op die teks volg, weerklink dieselfde taal. En Kelub, die broer van Suha, was die vader van Mehir; hy is die vader van Eston.

Maar nou Jabes. Daar word niks gesê van wie sy pa was nie. Daar word ook geen melding gemaak van wie sy seuns was nie. Net dit: Jabes was meer geëerd as sy broers. En sy moeder het hom Jabes genoem en gesê: Ek het met smart gebaar.

Wat maak die HERE met hierdie enkele pennestreep oor Jabes se lewe aan ons bekend? Op die oog af nie baie nie. Maar tog — as ons mooi luister, heelwat. Eintlik klink dit wat hier opgeteken staan, teenstrydig. Jabes was meer geëerd as sy broers. Hy het ‘n uitnemende posisie in sy familie gehad. En dit, terwyl sy ma hom Jabes genoem het. Jabes beteken “droog”. Droogte is ‘n teken van ellende, swaarkry. Met sy geboorte het sy ma dus nie veel goeds vir klein Jabes in die vooruitsig gehad nie. Sy sien net donker nag vir hom voorlê. Wat dit betref sluit haar woorde aan by dié van Jakob se vrou Ragel. Met die geboorte van haar laaste seun het sy op sterwe gelê en gesê: noem hom Ben-Oni — seun van my smart. Maar Jakob het die kind Benjamin genoem — seun van die regterhand. Die verskil is beduidend.

Jabes se naam is egter nie verander nie. Wat meer is: Sy ma het ook gesê waarom sy hom Jabes noem. Want “ek het met smart gebaar”. Wát die smart was, weet ons nie. Dit maak die HERE nie bekend nie. Dat die smart gróót was, is duidelik waarneembaar. En dat die smart waarna Jabes se ma verwys, ‘n diep betekenis het, staan ook bo alle twyfel vas. Reeds in Genesis 3 is daar sprake van smart.

Die HERE het ná die sondeval vir Eva gesê: Ek sal jou moeite en jou swangerskap grootliks vermeerder; met smart sal jy kinders baar. Jabes se ma neem hierdie woorde uit Genesis 3:16 so te sê onveranderd oor. Op sigself is dit nie vreemd nie. Die smart van Genesis 3:16 is deel van ons gebroke bestaan. Elke vrou wat ‘n kind in die wêreld bring, kan daarvan getuig. Wat wel vreemd aan die uitspraak van Jabes se ma is, is dat sy slegs die helfte van die HERE se woord aanhaal. Het God nie ook gesê dat daar ‘n einde gaan kom aan al die smarte nie? Uit Eva, wat met moeite gaan kinders baar, sal daar uiteindelik ’n Seun gebore word. Dié Seun gaan die kop van die slang vermorsel — en die mensdom van alle smart, alle hartseer en ellende en pyn verlos. Op dié Seun wag die sugtende skepping met reikhalsende verlange. Die verbondsvolk Israel wag in besonder. Want hulle is God se uitverkore volk. Uit hulle moet die Messias voortkom. Meer in besonder: uit die geslag van Juda. Dit het die gryse vader Jakob op sy sterfbed geprofeteer — Genesis 49: “Juda, jy is dit! Die septer sal van Juda nie wyk nie, nóg die veldheerstaf tussen sy voete uit totdat Silo kom. En aan Hom sal die volke gehoorsaam wees”.

Juda is die koningstam in Israel. Vrouens uit die stam van Juda het dus in ‘n sekere sin ‘n meer bevoorregte posisie as vrouens van die ander stamme van Israel. Maar Jabes se ma? Sy sien by die geboorte van haar seun niks van al hierdie dinge raak nie. Sy is ‘n moeder in Israel, ’n vrou in die koningstam van Juda. Maar sy noem haar kind Jabes, “droog”. Sy het geen uitsig op die toekoms nie. Van koninklikheid is daar geen sprake nie. Hoekom nie? Omdat sy slegs op ‘n gedeelte van die verlede bou. Sy haal die smartwoorde uit Genesis 3 aan, maar sy verswyg die oorwinningslied van die moederbelofte. Sy staan stil by God se regverdige verbondsoordele, maar sy praat geen woord oor God se verbondsgenade nie. En so verloor sy visie. Haar suiwer geloofsperspektief is daarmee heen. Sy is nie met blydskap op pad na die koms van die Messias toe nie; inteendeel, sy is weggesink in ’n bodemlose put van menslike ellende. Let op wat die HERE hier aan ons bekend maak. Ons het te doen met verbondskinders van God. Moeder en kind mag geniet van God se verbondsorg. Hulle leef op die verbondserf, waar die verbondswet sekuriteit gee. Die toekoms lê oop voor. Maar die geloofskrag ontbreek.

Woestyn

By hoeveel christene is dit nie geval nie? Ons is ryker as Jabes en sy ma, baie ryker. Die eerste koms van die Messias is verlede tyd. Kersfees lê agter ons. Christus se wederkoms is op pad. Ons dra sy erenaam: christen. Ons geniet van sy verlossingswerk. Ons leef uit die heerlike wete dat Christus die oorsaak van ons ewige honger en kommer weggeneem het toe Hy vir ons sondes gesterf het. Ons weet ook dat Hy ons tydelike bestaan op die hart dra. Om sy ontwil sal daar sonder die wil van ons hemelse Vader geen haar van ons kop val nie. Christus lei ons deur sy Woord en Gees. Ons word van alle kante omring deur genade. Ons kan in Suid-Afrika met groot moed bly leef. Want ons weet dat die jare van ons lewe jare is wat God skenk.

Maar hoeveel christene hef nie op die oomblik ‘n smartlied aan nie? Daar word gefokus op alles wat verkeerd is, alles wat ons nie het nie, alles wat anders is as wat ons begeer. Ure word omgedink en omgepraat oor hoe sleg dit by die werk en in die onderwys en in die land gaan. Morge se sorge word voorsien. Die hartseer is: die negatiewe denke en gepratery werk aansteeklik. Murmurerende ouers voed murmurerende kinders op. Jabes moes sy negatiewe naam lewenslank saam met hom dra. Negatiwiteit van die een verwek negatiwiteit by ander. ‘n Mens beland in ‘n bose maalkolk. Waar gaan dit eindig?

Die Inhoud van Jabes se Gebed🔗

“En Jabes het die God van Israel aangeroep”. Ons kan ook vertaal: Máár Jabes het die God van Israel aangeroep — ‘n duidelike teenstelling. Jabes se moeder roep haar nood uit. Maar Jabes self roep die almagtige God aan: God van hemel en aarde, God van alle sienlike en onsienlike dinge, God van Adam en Eva, God van die moederbelofte, God van Abraham, Isak en Jakob, God van die verbondsvolk Israel. En luister wát bid Jabes. Sy gebed begin met die woordjie “as”. Hy lê ‘n gelofte af — soos Jakob in Genesis 28. As God met my sal wees om my te bewaar ... dan sal ek ‘n huis van God bou, en aan God my tiendes gee — dit was Jakob se gelofte. Jabes kom nie by ‘n “dan” uit nie. In daardie opsig sny sy gebed nog dieper as Jakob se gelofte. Laat ons hoor wat Jabes bid, dan word die diepte van sy smeking vanself duidelik.

Hy vra vier dinge: As U my met seëninge seën; as U my grondgebied vermeerder; as U hand met my sal wees; as U die onheil afweer, sodat geen smart my tref nie. Die laaste deel van die versoek is besonder veelseggend. “Sodat geen smart my tref nie” — dit staan lynreg teenoor die naam wat hy dra en dit wat sy ma met sy geboorte gesê het. Hy wat Jabes is, is van kleins af seun van smarte. Nou bid hy: God van Israel, weer die onheil van my af weg, sodat geen smart my tref nie.

groen velde

Waarop kom Jabes se gebed dus neer? Hy verset hom teen sy ma se uitsigloosheid. Sy gebed getuig van geloof in die God van Israel. Hy hou vas aan God se héle verbondswoord en nie net die helfte nie. Dit blyk te meer uit die ander drie dinge waarvoor hy vra. Seën my met u seëninge, vermeerder my grondgebied, laat U hand met my wees — dit is alles beloftes wat God reeds aan Abraham toegesê het (Genesis 12). En God het dit by monde van die sterwende Jakob aan Juda bevestig (Genesis 49). Jabes beroep hom op God se verbondswoord. As U hierdie dinge waarvoor ek vra gee, o God van Israel, dan weet ek dat U u verbond in stand hou. Dan sien ek hoe die moederbelofte van Genesis 3 in vervulling gaan.

Jabes se ma het hierdie visie op die verbond gemis. Jabes self leef daarby. Dit is sy krag te midde van moeilike omstandighede. En tegelyk sy lewensuitkyk. Sy versoek om deur die HERE geseën te word, sy bede vir vermeerdering van grondgebied en vir bewaring is nie uit egoïsme gebore nie. Dit gaan nie vir Jabes daaroor dat hy maar net aangenaam moet leef terwyl ander mense krepeer van ellende nie. Jabes is met sy gebed op die koms van Christus gefokus. Die dinge waarvoor hy vra, moet bydra tot Christus se koms in die vlees. Hoe kan die Verlosser kom as daar geen grondgebied vir Juda is nie, as daar geen seën van God op Juda rus nie, as God sy bewarende hand nie oor hulle uitstrek nie? In hierdie opsig is Jabes se gebed in lyn met die “Onse Vader”. Christus leer ons bid: Gee ons elke dag ons daaglikse brood, vergeef ons ons skulde, lei ons nie in versoeking nie. Dit alles bid ons nie om onsself te behaag nie. Ons bid dit sodat die Vader se Naam geheilig mag word, sodat ons kan diensbaar wees in sy koninkryk, sodat sy wil in ons lewens kan geskied. Moet ons vandag Jabes se gebed soos ‘n towerformule bid, met die verwagting dat God ons voorspoedig sal maak? Glad nie. Wie dit doen, verstaan nie die geheim van Jabes se gebed nie. Ons moet vir baie meer as Jabes bid. Want Jabes bid na Christus toe. Ons bid van Christus uit. Dit beteken: Ons moet bid dat Christus se verlossingswerk kan deurwerk in hierdie wêreld. Ons moenie net bid vir seën in die huis, vir geseënde uitbreiding in die besigheid en ‘n goeie jaar in die skool en op universiteit nie. Ons moet bid dat God ons in dit alles sal seën sodat ons ‘n seën vir mense om ons kan wees — met die oog op die uitbreiding van God se koninkryk.

Sovele christene is uiters selfsugtig in hulle geloofslewe. Solank hulle ’n redelik aangename lewe op aarde het en weet dat hulle hemel toe gaan, is hulle tevrede. Die aandag is op die eie ek gefokus. Jabes leer ons anders. Ons ontvang sodat ons sal gee — die aandag fokus weg van die eie ek. Christenskap eis offers. Finansiële offers vir die kerk en die uitbreiding van God se Woord in die koninkryk. Maar baie meer nog manne- en vrouekrag offers. Aktiewe christenskap word gewys in betrokkenheid by die gemeenskap van gelowiges, voorbidding, meelewing, uitdra van die evangelie, hulp aan mense in nood. Ons moenie dink: Wat sal ander doen om uit te reik nie. Die vraag moet wees: Waar en hoe gaan ék in my omgewing my offer bring?

Jabes se Gebed word Verhoor🔗

“...En God het laat kom wat hy begeer het”. Daarmee sluit 1 Kronieke 4:10 af. Jabes se gebed word verhoor. Ook al was sy ma sonder hoop en uitsig, het Jabes gekry waarvoor hy gevra het. Hy was meer geëerd as sy broers — teen alle menslike verwagtinge in. Hy ontvang alles wat hy nodig het om diensbaar aan die koms van Christus te wees. Die smart waarvoor sy ma gevrees het, tref hom nie. Die God van Israel stel hom in staat om sy offers te bring. Gebedsverhoring — dit is ‘n Godswonder. Bygesê: ’n ondeurgrondelike Godswonder. Die skrywer van die boekie Jabes se gebed het die ondeurgrondelikheid probeer deurgrond — en misgetas. God gee nie altyd soos ons vra nie — dit weet ons maar al te goed. God gee wel soos wat ons nodig het om aan Hom diensbaar te wees. So kan God genesing van siekte gee — of nie. Hy kan welvaart gee — of nie. Hy gee soos dit Hom behaag. En dit wat Hom behaag is nie willekeurig nie. God behaag die goeie vir ons, sy kinders. Dit behaag Hom om hierdie wêreld na die eindoordeel te lei, en sy uitverkore kinders tot Hom te neem.

Dit wat God behaag, moet ons grootste begeerte wees. Dan sal die slot van 1 Kronieke 4:10 ook altyd vir ons van toepassing wees. Die hemelse Vader sal laat kom wat sy kind begeer. Solank ons begeertes, ons nuwejaarplanne, ons wense en ideale in sy verbondswoord gegrond en op Hom, die troue Verbondsgod, gerig is.