Bron: Kerk en Woord. 5 bladsye.

1 Samuel 13 - Die Kerk se Noodwendige Stryd

1 Samuel 13: 3,13

Die Kerk van die HERE kom noodwendig in die stryd sodra sy die vyand se magsimbole in haar midde verpletter. En die HERE seën die stryd as ons sy orde gehoorsaam respekteer.

Namate die Filistyne die kerkvolk infiltreer en onderwerp het, het hulle hul gebied afgebaken en oorwinningstekens aangebring. Een so ’n oorwinningsteken was Geba of Gibea soos die Septuaginta dit vertaal het. Die sogenaamde wagpos van vers 3 is in die meeste ander vertalings as ’n magsteken, ’n triomferende suil vertaal. In die verband waarin die teks staan, is dit heeltemal moontlik dat dit ’n monument kon wees met ’n regopstaande suil - soos die Taalmonument in die Paarl. Dit kon ook wees dat die Filistyne hierdie monument van hulle met enkele soldate beman het. Hierdie Filistynse wagte kon gerapporteer het dat die gedenkteken vernietig is.

Hierdie monument was ’n simbool van die vyand se houvas op die kerkvolk, op hul leefwêreld en het in hul grondgebied gestaan. Gelowiges moes voortdurend daarin vaskyk, is daardeur gegrief, en terselfdertyd het dit hulle laat sidder en beef.

Ons weet dat die Ou Testamentiese geskiedenis, kerkgeskiedenis is. Ons weet ook dat dit stryd-geskiedenis was van die kerkvergaderende werk van die HERE. Dit het reeds in die paradys begin toe Hy vyandskap tussen die slang en die vrou en hulle nageslag gestel het.

Dit is daarom ook nie verrassend dat die rede waarom ’n koning vir Israel aangewys moes word, in ’n militêre idioom uitgedruk is nie. Die koning moet voor hulle uittrek en hulle van hul vyande verlos. Die Ou Testamen­tiese kerk was ten bloede toe strydende kerk. Daardie stryd moes die geestelike stryd van die geloof op ’n aardse militêre wyse afskadu. Daarom is hierdie strydgeskiedenis tipolo­gies van die hele stryd van die kerk hier op aarde.

Ons bid dan ook tot ons Hemelse Vader: Lei ons nie in die versoeking nie, maar verlos ons van die bose. En Paulus verkondig aan die Efésiërs dat ons in ’n worstelstryd gewikkel is, weliswaar nie teen bloed en vlees nie, maar teen die bose. En aan die Hebreërs laat weet hy dak dit uiteindelik ook ’n weerstand ten bloede toe is.

Maar as ons dus hier van die stryd tussen Israel en Filistea lees, kan ons selfs so ver gaan as om te sê: dit is van ons stryd dat ons hier lees. En ons verneem dan hoe die HERE ons in hierdie worstelstryd lei. Ons lees ook die presiese redes waarom Saul nie ons koning kon wees nie, en aan watter volmaakte eise ons eintlike koning, die Here Jesus, voldoen het. In hierdie Bybelgedeelte is daar drie strategiese beginsels vir ons geestelike stryd wat ons moet leer, hoedat die HERE ons in die stryd begelei.

Die eerste strategiese beginsel is dat die kerk noodwendig in die stryd beland sodra sy die vyand se magsim­bole in haar midde verpletter, want daarmee ontketen sy die woede van die vyand sodat sy haarself moet verweer.

Die tweede beginsel is eintlik ’n harde teregwysing: dat die kerk ontwapen word wanneer sy toelaat dat die vyand sy mag effektief op ons, die kerk, afdwing. Dit gebeur as ons toelaat dat hy ons van die Woord met slinkse planne beroof.

En die derde beginsel: dat die HERE in hierdie stryd sy kerk wil seën, maar daarvoor moet ons sy orde gehoorsaam respekteer en handhaaf.

  1. Die kerk sal noodwendig in die spervuur beland sodra sy die vyand se magsimbole in haar midde verpletter.🔗

Saul was volgens die beskrywing ’n jong Adonis toe hy tot koning gekies en gesalf is. Uit hoofstuk 13 blyk dit egter dat hy beslis nie meer ’n tiener was nie, want hy het self al reeds ’n seun gehad wat ’n senior-tiener moes wees. Saul was jonk, maar reeds ouer as dertig jaar.

In sy tweede regeringsjaar het Saul die moed bymekaar geskraap om iets aan sy taak as verlosser vir Israel te begin doen en vir hom ’n leer van 3000 versamel. En Jonatan is as hoofman oor duisend aangestel.

Nou was daar dan die strategiese vraag: Hoe sal ons die stryd in die Naam van die HERE voer? Hoe sal ons die kerkvolk tot strydvaardigheid en krygsmansdade beweeg kry? En wat hier gebeur het, is wat ons as die afgespreekte strategie lees: Gaan verpletter die vyand se magsimbool in die midde van die kerkvolk, dan ontketen dit bykans outomaties die woede van die vyand.

Jonatan het die trotse oorwinningsmonument by Gibea gaan vernietig, die Filistyne het daarvan gehoor en Saul het op die ramshoring in die hele land laat blaas om die Hebreërs dit te laat hoor. Israel het homself gehaat gemaak by die Filistyne. En die manskappe het by Gilgal bymekaar gekom en die Filistyne by Migmas: 3 000 strydwaens, 6 000 perderuiters en voetsoldate soos die sand van die see. Die nageslag van die slang doen alles wat hy kan om die nageslag van die vrou in die hakskeen te byt.

Oorgebring na Christus, sien ons dieselfde. Die Seun weerstaan en vernietig telkens die magsimbole van die Satan. Verleiding onder hongerte word vernietig met die belydenis van die Woord van God. Verleiding om God se voorsienigheid te versoek, word met die volheid van die Skrif uit die weg geruim. Verleiding van ’n aardse koningskap word met die naspreke van die Skrif vernietig. Dit was waarvoor die Seun juis in die wêreld gekom het, om die magsimbole van die Satan onder ons te kom vernietig, en dit het in alle felheid die woede van die Bose oor die Seun en ook oor die kerk ontketen. Dit is waarom Jesus gekom het, om die Satan te oorwin en sy mag oor die mens te breek.

Dan vra ons - hoe werk hierdie praktiese beginsel dan in ons Godsdiens? Ons sien ’n klomp magstekens van die vyand in ons lewens. Daardie monumente vir ontspanning, vir plig, vir inboeseming van vrees of aantrekking, dat ons hierdie wêreld en die dinge van hierdie wêreld liefkry. Dinge wat vergaan. In ons midde is die magstekens van die Bose soos die priori­teite wat ons stel. Begin nou net om hierdie dinge te vernietig, begin om daarteen te protesteer, daarteen op te staan. Vernietig net maar die passie om Sondagsport, of die handeldryf op Sondag. Gaan nou maar net teen die dobbelmentaliteit in, en kyk watter vyandskap ons onsself op die hals haal. Leef net eers anders. Besluit dat jy nie op dieselfde wyse as die ander mense ’n matriekafskeid hou nie, en kyk net watter negatiewe druk, watter vyandskap jy jou op die hals haal. Gaan net in teen daardie verslawende gewoontes van jou, en kyk net watter aanslae en proteste jou liggaam gee. Ontmasker die hart van die Godverloënende teologie van vandag en kyk net watter venynige aanslag word op jou geloods.

Paulus het vir Timótheüs gewaarsku: Elkeen wat godsalig wil lewe, sal vervolg word. En dit is hoe die geveg van die reformasie van die kerk begin. Gooi maar net die vyand se magsimbole om, leef net eers gehoorsaam aan die Here, bely voluit jou geloof, dan gebeur dit outomaties. Bely net maar teen die dwaalleer die waarheid. Stel net jou antitetiese standpunt. Die Vyand sal dit outomaties as oorlogsverklaring interpreteer.

  1. Die tweede en negatiewe geestelike oorlogsbeginsel is dat die kerk ontwapen word wanneer sy toelaat dat die vyand sy mag effektief op ons afdwing. Deurdat ons toelaat dat hy ons van die Woord met slinkse planne beroof.🔗

Noudat Israel haarself gehaat gemaak het, is sy dus in die nood gedompel. Nou moes die manskappe hulleself dapper hou. Maar daar was nie wapens vir die Israeliete nie. Vers 19 e.v. laat weet: daar was geen smid te vinde in die hele land van Israel nie, want die Filistyne het gesê: anders kan die Hebreërs swaarde of spiese maak. Daarom moes al die Israeliete na die Filistyne gaan om elkeen sy kluitbreker of sy pik of sy byl of sy ploegskaar skerp te maak

So het dit gekom dat daar in die oorlogstyd geen swaard of spies te vinde was in die hand van al die manskappe wat by Saul en Jonatan was nie; maar by Saul en sy seun Jonatan was dit wel te vinde.

Twee stelle swaarde onder 3 000 manskappe. Gevolglik verstaan ons baie goed wat in vers 6 vertel word, dat toe die manne van Israel sien dat hulle in die nood is, in die noute gedryf was, het die volk weggekruip in die spelonke en doringbosse, in die rotse en die grotte en die kuile. Die manskappe het al bewende agter Saul aan gegaan.

Vir die taak wat ’n leërmag het, is dit krities noodsaaklik dat hy bewapen moet wees. Terwyl ons weet dat hierdie geskiedenis ook ’n beskrywing van die kerk se oorlogvoering teen die magte van die duisternis is, is dit dus ook toepasbaar op die wyse waarop ons bewapen is vir ons geestelike stryd. Paulus het die Efésiërs hieroor toegerus: trek die volle wapenrusting van God aan sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel. Al die verdedigingswapens moet aangetrek word, die gordel van die waarheid, die borswapen van die geregtigheid, die helm van verlossing, die skild van die geloof, die skoene aan die voete wat bereid is om die evangelie uit te dra, en die swaard van die Gees. Dit was die tipiese Romeinse wapenrusting. Maar so was die Israeliete nie toegerus teen die Filistyne nie. Trouens, hulle was met enkele uitsonderings geheel ontwapen.

Die ontwapening was die gevolg daarvan dat die vyand sy mag effektief op die verbondsvolk afgedwing het. Die kerkvolk het dit maar gelate aanvaar. Dis ook maar reg wanneer die vyand hul idees op ons kom afdwing. Om seker te maak dat ons nie weerstand kan bied nie, beroof hulle ons met slim maatreëls van ons wapens. ’n Kerkvolk sonder slaankrag. ’n Nuttelose kerkvolk.

Ook hierdie saak wys kenmerkend na die kerklike stryd van alle eeue. Die vyand kry dit effektief reg om sy mag op die kerk af te dwing wanneer hy haar moraliteit afbreek met die negatiewe druk dat hulle verag sal word as hulle nie saamdoen in dieselfde gees van losbandigheid nie. Om dus nie verag te word nie, om nie uit te voel nie, daarom luister ons ook maar na hulle musiek, daarom mismaak ons ook ons liggame soos hulle dit doen, daarom dra ons ook dieselfde klere as wat hulle dra, en daarom ontspan ons ook op dieselfde manier as wat hulle dit doen.

So word ons aandag opgeslurp deur die vrees vir die wêreld of ook vir die aanloklikheid van die wêreld dat ons intussen nie meer paraat is vir ons stryd teen die bose nie, nie meer weerbaar is teen die liste van die duiwel nie. Maar die ergste is wanneer die kerk van haar swaard beroof word. Destyds in die kommunistiese lande, was Bybels fisies verban en gekonfiskeer. Dan het baie ondergrondse evan­gelisasiebewegings aksies onderneem om Bybels vir die Christene in te smokkel.

Dit is die een manier hoedat die Vyand die kerk van haar swaard beroof. Maar daar is ook ’n veel gevaarliker manier. Dit is wanneer Bybelverklaarders met hulle verstaankunde allerlei pogings loods om die Goddelike gesag van die Bybel af te takel. As hulle teorieë ontwikkel waarmee hulle die Goddelike oorsprong van die Bybel kan misken en die Bybel verklaar asof dit ook maar betwy­felbare nadenke van mense van hul tyd was. Erger nog, wanneer hulle met hul teorieë die eenvoudige betekenis van die Bybelteks moeilik en ingewikkeld maak sodat uiteindelik net sekere ingewyde spesialiste die betekenis van die Bybel kan blootlê.

Dis soos in die tyd van die donker middeleeue toe net die ingewyde geestelikes die Bybel kon uitlê. Dis ’n program om stelselmatig die kerk te beroof van die Bybel. Verander telkens die liedereskat sodat die ingeplante Woord uit die harte van die kerkvolk kan verdwyn. Verander telkens die vertalings met allerlei omskrywings sodat die Skrif nie meer met skrifvergelyking verklaar kan word nie. Beroof die kerk van haar swaard, die Woord.

En as ons dan met die volle aanslag van die vyandelike magte te doene kry, dan sien jy die kerkvolk in die noute gedruk, dan sien jy hulle wegkruip in die spelonke, en in die doringbosse en in die rotse en in die grotte en die kuile. Want broer Koos het nie ’n preekbundel of ’n Bybelverklaring in sy huis by sy leesstoel waarmee hy hom toerus nie. Hy gaan ook nie meer na ’n Bybelstudie toe nie - want die Filistyne bedreig hom, en hy kom ook nie eintlik gereeld na die eredienste toe nie, want hy raak aan die slaap. Nou lees hy maar net elke dag ter wille van sy gewete ’n goeie gedagte, ’n kort stigtelike woordjie van bemoediging uit die dagstukkies van Sollie of Marie . . . en so het dit gekom dat broer Koos sy swaard kwytgeraak het. En as die perderuiters en die strydwaens en die voetsoldate van die vyand op hom afkom, gaan kruip hy weg in die kuile, en as hy enigsins beweeg, dan sluip hy bewende agter Saul aan.

  1. Die derde beginsel is dat die HERE in hierdie stryd sy kerk wil seën, maar daarvoor moet sy sy orde gehoorsaam respekteer en handhaaf.🔗

Intussen is hier ’n diep geheim in hierdie geskiedenis opgesluit wat juis te doen het met God se wapenrusting. Om sy wapenrusting aan te trek en so kragtig te word in die krag van sy sterkte, is die eintlike swaard. Trouens, toe Israel uit Egipte weggetrek het, het hulle ook nie swaarde gehad nie, maar die HERE het met sy almag, die verduisterende wolk, die verdelgende water en wat ook alles, die volk verlos.

Die geheim is dat die HERE wil stry vir sy volk wat op Hom wag. Hy is nie van ysterstokkies in mensehandjies onder leiding van ’n Adonissie met ’n kroon op sy kop afhanklik nie. Maar dan moet ons sy orde respekteer, sy wil soek, en op sy bystand wag. Dan moet ons nie die vyand in aantog meer vrees as die verterende vuur van God nie.

Ons dink bewustelik aan die uur toe dit vir Jesus ons Here ook tussen die bosse en kuile van die tuin van Getsémane benoud geword het. Toe daar ook by Petrus, een van die dissipels, ’n ysterswaard aanwesig was. En toe sy kleine kring manskappe om Hom gedurigdeur aan die slaap geraak het, en Jesus met bloedsweet tot die dood toe benoud geraak het vir die geweldige aanslag op Hom wat aan’t kom was. Hoedat Hy in absolute gehoorsaamheid Hom in gebed en vas tot sy Vader gewend het, en selfs in hierdie uur van hoogspanning gebid het: nogtans nie my wil nie, maar laat u wil geskied.

Hier het Samuel die Woord van die HERE aan Saul bedien, om by Gilgal te gaan wag totdat Samuel in offerdiens vir die volk aan die Here voorgegaan het. En die punt hiervan is dat by die offerdiens die HERE verder die strategie asook die leiding vir die stryd sal verskaf. Dit is die HERE wat ook vir die koning moet voorgaan.

Hierdie eenvoudige toets kon Saul nie uitstaan nie. Toe neem hy inisiatief. Hy kan nie meer wag nie. As die HERE nie nou iets doen nie, is ons daarmee heen. Toe hou hy homself sterk om die brandoffer te bring. Hy wil die HERE manipuleer. Die HERE moet kom inpas binne ons orde, ons modes, ons heersende beskouings. En hierdie houding noem Samuel gewoon dwaasheid omdat Saul nie die bevel van die HERE gehoorsaam het nie. Dwaasheid omdat Saul wou hê dat die HERE op ’n mens se bevel reageer.

Dis so fyn. Dis so sensitief. Maar dit moet absoluut gesien word: Die HERE - niemand anders nie - gee die opdragte. Hy en niemand anders nie gee die leiding. En ons ander, selfs die koning ja veral die koning - moet gehoorsaam aan die HERE wees.

Die kerk ly oneindig swaar aan ampsdraers wat hul eie slim inisiatiewe volg, so godsdienstig, so offerbereid, so gretig, so angsvallig vir die aanslag van mense. Die kerk ly weens leiers wat die bevel van die HERE nie hou nie, maar na die bevel van mense luister:

Ter opsomming: Drie belangrike beginsels van die worstelstryd van die kerk van die Here:

  • Dat die worstelstryd nie soseer aangeknoop hoef te word nie, maar dat bloot die magsimbole uit ons midde verwyder moet word, en dit sal die vyand ophits en die stryd sal outomaties aan die gang kom. Die wat godvresend wil lewe sal vervolg word.
  • Dat die kerk ontwapen word wanneer sy toelaat dat die vyand sy mag effektief op ons afdwing, of deur ons vir die sondige wêreld lief te maak, of deur ons met die druk van hierdie wêreld te bedreig. Deurdat ons toelaat dat hy ons van die Woord met slinkse planne te beroof.
  • Die belangrikste strategie is dat ons ons volkome in die hande van die HERE toevertrou, met of sonder aardse wapens. Nie deur godsdienstige nuutjies uit te dink nie, maar met vas en gebed en gehoorsaamheid aan die bevel van die HERE. As Hy sê - wag in Gilgal tot Ek leiding gee - dan wag ek biddend. As Hy sê - drink elkeen daaruit - dan dink ek nie my eie metode uit nie, dan laat ons elkeen daaruit drink. Die HERE sal sê hoe ons moet maak.