Bron: Kerk en Woord, 1996. 2 bladsye.

2 Korintiers 5:5 - Die Heilige Gees, God se Voorskot op ons Ewige Erfenis

Maar Hy wat ons juis hiervoor toeberei het, is God, wat ons ook die Gees as onderpand gegee het.

2 Kor 5:5

Om Christus ontwil, omdat hy sy evangelie gebring het, het Paulus baie vervolging moes deurstaan (vgl 2 Kor 4:10,11 en 11:16-33). Tog het Paulus nie moed verloor nie. Drie keer - in 4:16, in 5:6 en 5:8 - hoor ons hom sê dat hy “altyd goeie moed het”.

Wat was Paulus se Geheim?🔗

Deur openbaring deur God se Gees het Paulus geweet dat die aftakeling van sy huidige lyding sal uitloop op ’n alles-oortreffende ewige heerlikheid: “Want ons weet dat as ons aardse tentwoning afgebreek word, ons ’n gebou het van God, ’n huis, nie met hande gemaak nie, ewig, in die hemele.”

Hy noem ons-lewe-nou ’n aardse tentwoning.

’n Tent is tydelik. Dit bied nie permanente behuising nie. Na korter of langer tyd word ’n tent afgebreek. Die tentwoning is nie ons huidige sterflike liggaam terwyl die ewige huis verwys na ons opstan­dingsliggaam nie. Paulus praat van ons-bestaan-nou, (2 Kor 4:16). Dit stel hy teenoor ons-bestaan-hierna. Telkens maak die Bybel die teenstelling.

In die aardse tenthuis is alles van ons lewe inbegrepe: my besittings, my beroep, my huwelik, my vrou, my kinders, my sosiale lewe, alles. Maar die tenthuis word afgebreek (Jes 38:12). Ons bestaan nou word geteister deur verdrukking, deur moeite, deur verdriet. Dit is ’n gestadige sterwe. Van alles waaraan ons so ontsaglik geheg is, moet ons afskeid neem. En wie sien daarvoor kans? Die Here het die-lewe-nou tog aan ons gegee! En dit is nie verkeerd om die lewe en alles wat God ons hier gegee het, lief te hê nie. Solank ons dit maar in Christus besit.

’n Christen is iemand wat alles wat die lewe afbreek, teëgaan. Wie het meer teen die aftakeling van die lewe ingegaan as ons Here Jesus Christus?

Ondanks alle afbraak verbly Paulus hom in die komende heerlikheid: “die gebou van God, die huis nie met hande gemaak nie, ewig, in die hemele”. God sorg vir ons vir die huis waarin ons altyd gaan bly. Daarvan is Paulus seker omdat Jesus Christus opgewek is, 2 Kor 4:14. Sy opstanding maak ons opstanding seker. En Hy werk om ons by Hom te hê, om sy heerlikheid met Hom te deel. Hy is na sy Vader om vir ons ’n plek gereed te maak in die Vaderhuis - nie die hemel soos dit nou is nie, maar die nuwe hemel verenig met die nuwe aarde. In Christus en in wat Hy gedoen het, en nog doen in die hemel, het ons die ewige bestaan wat hierna kom. Daarvan is God die Ontwerper. En as die Here Jesus terugkom, dan daal hierdie ewige heerlikheid saam met Hom op die aarde neer.

Na daardie oomblik - die oomblik wanneer hy nie meer hoef te lewe deur geloof nie, maar sal lewe deur te sien - daarna verlang die apostel.

En omdat Paulus weet wat kom wanneer Christus kom, is Paulus te midde van sy verdrukking vol moed.

Tog sug en verlang hy in sy moeitevolle situasie om met die hemelse heerlikheid oorklee te word. Nee, hy wil nie uit hierdie lewe padgee nie. Hy het nie ’n ongesonde verlange na die dood nie. Hy hoop dat hy nie die oomblik sal belewe dat hy “ontklee” sal word nie, dat sy aardse tentwoning finaal neergehaal sal word nie, vs 4. As Christus nog tydens Paulus se tentbestaan kon kom, sou hy sommer so instap in die ewige heerlikheid.

1 Kor 15:51 en 52 noem dit die groot “verandering” vir die nog-lewendes by Christus se koms: hulle sal met onsterflikheid beklee word. Paulus sou dit wou belewe.

Hoe dié ewige huis-bestaan sal wees, weet ons nie. Die Bybel sê egter: die Here gaan daar wees en ons gaan Hom sien soos Hy is. En die konings van die aarde sal hulle heerlikheid in die nuwe Jerusalem inbring.

Op die nuwe aarde sal één ding sekerlik nie wees nie: die ou sterflike bestaan, die “eerste dinge” waarvan Openbaring 21:4 praat.

Dit is verswelg deur die ewige heerlikheid. Net soos ’n dors os met een groot hap ’n emmer water opslurp. Dan is alles wat ons lewe nou aftakel, en ons blydskap wegneem, ewig weg.

Omdat ons dit weet, kan ons die lewe-van-nou aanpak met alle krag. Nee, nie self nie, maar deur die krag van die Heilige Gees. Want Hy wat ons juis hiervoor toeberei het, is God, wat ons ook die Gees as onderpand gegee het, sê Paulus. God het iets met ons begin wat ons onkeerbaar tot dié heerlikheid voer. God het ons “bewerk”, ons toeberei om met ons woning uit die hemel oorklee te word. Soos die boer die grond ploeg en eg en die kluite fyn maak totdat alles gereed is om die saad te ontvang - so het die Here Paulus se lewe bewerk. Die kerkvervolger het apostel geword. En hy het meer gearbei as al die ander, wou selfs ter wille van die evangelie ly. So het God hom toeberei dat hy die-lewe-nou as ’n voorsmaak op die komende heerlikheid leef.

Want God het aan ons al ’n “onderpand” (Gr: arraboon) van die heerlikheid gegee. En die onderpand is die Heilige Gees. Dit is ’n woord uit die handelswêreld. Die arraboon was ’n deposito wat verseker dat die res van die koopsom sou volg. Maar dit kon ook ’n voorskot op ’n erfenis wees. Dink aan ’n kind wie se ouers albei in ’n ongeluk omgekom het. In hulle testament het hulle vir dié kind ’n erfenis nagelaat. Dit moet in trust gehou word totdat hy mondig is. Dan kan die wees-heer van dié erfenis voor sy een-en-twintigste jaar aan die kind ’n voorskot laat geniet. Die voorskot is dan ook ’n waar­borg, ’n onomstootlike bewys dat die res van die erfenis verseker gaan volg. Die gawe van die Heilige Gees is aan die gemeente gegee as ’n voorskot op die volle heerlikheid wat ons hierna gaan ontvang. Die feit dat Hy ons begin nuutmaak het, is vir die wat glo die voorsmaak en waarborg van die totale erfenis, waartoe God Hom in sy Woord, sy Testament, verbind het.

Seker, die-lewe-nou is moeitevol en verganklik. Maar wie deur die Gees Christus, en die heerlikheid wat Hy bring, in die oog hou, kan voortgaan, en hou moed.