Bron: Waarheid en Dwaling. 3 bladsye.

2 Kronieke 9:1-12 - Geloofd Sy die Here Onse God!

Geloofd sy die HERE u God wat behae in u gehad het om u op sy troon as koning vir die HERE u God te laat sit! Omdat u God Israel liefhet om dit vir ewig in stand te hou, het Hy u as koning oor hulle aangestel om reg en geregtigheid te doen.

2 Kronieke 9:8

Lees 2 Kronieke 9:1-12

Heel dikwels lyk dit vir ons asof die kerk, die volk van God, in ‘n wêreld vol onreg en heidense invloed verlore gaan. U is miskien vandag ook bekommerd omdat dit al meer en meer lyk of die kerk se voortbestaan bedreig word.

Ons vra so maklik die volgende vrae:

  • Sal die volk van God in ‘n heidense wêreld staande kan bly?

  • Sal God nog die eer kry wat Hom toekom?

Ja, ons vra sulke vrae, maar ons teks kom eintlik met die teenoorgestelde van dit wat ons altyd vra. Die teks sê: selfs heidene prys God as hulle sien dat God sy volk liefhet, in stand hou en in wysheid laat regeer. Dit word duidelik uit die lofsang van die koningin van Skeba tot die God van Salomo.

Die Grond van Haar Lofsang🔗

In die boek 1 en 2 Kronieke is die sentrale boodskap: God se goeie sorg vir sy volk onder leiding van Dawid en sy nageslag. Die geskiedenis van Dawid en sy nageslag, waaruit Christus voortgekom het, loop soos ‘n goue draad deur die boek Kronieke. In 2 Kronieke is ‘n voortsetting van hierdie boodskap en doel. In die lyn vanaf Dawid tot die geboorte van Christus, kry ons hierdie gedeelte oor Salomo. Die koningin van Skeba en haar besoek aan Salomo word spesifiek genoem. Sy besoek Salomo om eerstens ‘n handelsooreenkoms te sluit en tweedens die gerug te toets wat sy aangaande hierdie wyse koning gehoor het. Waar die land Skeba presies was, weet ons nie. Wie hierdie koningin presies was, weet ons ook nie. Dit is wel duidelik dat sy ‘n koningin van ‘n land, iewers in die verre suide van Arabië, was.

So kom hierdie koningin by Salomo en toets hom. In vers 1 staan daar dat sy hom met raaisels op die proef gestel het. ‘n Raaisel was gelykstaande aan moeilike vrae. So ‘n raaisel het heel dikwels die een of ander diepere betekenis gehad en die aanhoorder daarvan moes dit probeer vasstel. Bo en behalwe die raaisels sou die koningin ook vir Salomo allerlei vrae vra oor die natuur, politiek, en die sosiale lewe.

In vers 2 kom dit baie duidelik na vore dat die koningin nie in haar verwagting teleurgestel is nie. Daar staan: ‘En Salomo het haar al haar woorde verklaar; en geen woord was vir Salomo te diepsinnig om haar dit te verklaar nie’. Die wysheid waarmee Salomo regeer het, het nie net vir haar duidelik geword uit dit wat sy gehoor het nie. Nee, in alles wat sy gesien het, het sy bewus geword van die wysheid waarmee hy regeer. Dit blyk uit vers 3: ‘Toe die koningin van Skeba dan die wysheid van Salomo sien’. Sy wysheid waarmee hy regeer het was dus baie sigbaar. Volgens vers 8 het sy Salomo se wysheid gesien in die reg en geregtigheid wat hy gehandhaaf het.

Sy sluit haar woorde tot die koning in vers 8 af: ‘Omdat u God Israel liefhet om dit vir ewig in stand te hou, het Hy u as koning oor hulle aangestel om reg en geregtigheid te doen.’ Eenvoudig gestel: omdat God vir Israel, sy volk, liefhet laat Hy hulle deur Salomo regeer. Salomo, hy wat wêreldwyd bekend was, nie soseer vir sy rykdom nie, maar vir sy wysheid waarmee hy regeer het. Die Here hou sy volk, Israel, in stand deur hulle in wysheid te laat regeer. Sy liefde word getoon in ‘n sigbare en wyse regering.

Laat ons eers ‘n oomblik by hierdie Ou Testamentiese begrip ‘wysheid’ stilstaan. Wysheid beteken in die Ou Testament by uitsondering wetenskaplike wysheid, maar dui gewoonlik - in die vorm waarin dit gebruik is - op ‘n praktiese begaafdheid. As lewenservaring vereis wysheid geen studie of stand nie. Wysheid gaan in die Ou Testamentiese konteks oor insig in die menslike karakter en in menslike verhoudings.

So het Salomo in ‘n besondere mate wysheid besit. Hy toon dit veral in sy regspraak. Waar kry Salomo sy wysheid vandaan? Dit blyk duidelik uit die woord van die koningin: ‘Van die HERE sy God’. Herhaaldelik gebruik sy hierdie verbondsnaam van die HERE. God se verbondsnaam word elke keer in ‘n versterkte vorm gebruik. Deur hierdie herhaalde versterkte gebruik van God se verbondsnaam blyk duidelik God se besondere liefde vir sy volk. In haar besoek aan Salomo het nie net God se liefde vir sy volk duidelik geword nie, maar sy kon juis die verbondsliefde van die Verbondsgod sien. Deur hierdie verbondsliefde hou Hy sy volk in stand.

Die koningin van Skeba grond haar lofsang hierop: Omdat God sy volk liefhet (met ‘n verbondsliefde liefhet) om dit vir ewig in stand te hou, laat Hy sy volk so in wysheid regeer sodat reg en geregtigheid kan geskied.

Niks kon nog ooit die volk, wat God in stand wil hou, uit sy hand ruk nie. Dit moet vir ons in die omstandighede waarin ons leef ‘n geweldige troos wees. Om te besef dat niks ons, as die verbondskinders van God, uit sy wyse liefdesregering kan losmaak nie. God het sy verbondsliefde vir ons bewys deur ons in stand te hou in Christus wat vir ons gesterf het. God hou sy volk in stand deur sy liefde, aan ons sigbaar gemaak deur die dood en opstanding van Jesus Christus.

Al voel dit soms vir ons asof alles wegbeweeg van God af, weet ons dat ons in Christus se liefde in stand gehou word. Christus se dood en opstanding is vir ons as volk van God nie net ‘n troos nie, maar ook ‘n versekering dat Hy in die toekoms met ons sal wees.

Deur die wysheid waarmee Salomo regeer het, het God se liefde sigbaar geword. Hierin grond die koningin haar lofsang. Neem ons dit een stap verder, dan sien ons waartoe die liefde van God hierdie heidense koningin bring deur na die inhoud van haar lofsang te kyk.

Die Inhoud van Haar Lofsang🔗

God het sy volk lief, Hy wil hulle in stand hou en Hy laat hulle in wysheid regeer. Die inhoud van haar lofsang kom direk as gevolg van die ‘sien’ van Salomo se wysheid. Let op die reaksie van die koningin van Skeba toe sy die wysheid en rykdom van Salomo sien. Sy, wat ‘n baie ryk koningin was, beny die diensknegte van Salomo, nie soseer oor die rykdom wat hulle elke dag aanskou nie, maar oor die feit dat hulle gedurig hierdie wysheid aanhoor: ‘Gelukkig is u manne, en gelukkig hierdie dienaars van u wat gedurig voor u staan en u wysheid hoor!’ (vers 7)

Salomo se wysheid het in sy regering sigbaar geword. Die gevolge kry ons baie sterk as sy in vers 8 sê: ‘Geloofd sy die Here u God’. In die Hebreeus kom die lofprysing nog sterker na vore as dit in die vorm van ‘n wens weergegee word: ‘Laat die Here u God geprys word’. Sy prys die God wat sy volk in liefde onderhou en in wysheid laat regeer.

Die gedeelte vertel verder dat die koningin na haar land teruggekeer het. ‘n Mens sou verwag dat sy heel tevrede teruggegaan het, want sy het Salomo se wysheid aanskou soos sy wou doen. Volgens alles wat sy in die ruiltransaksie gekry het, sou ons kon sê dat sy ook haar handelsooreenkoms gesluit het. Maar tog is hier ‘n belangrike aspek wat ons nie mag miskyk nie. Sy, as heidense koningin, gaan eers terug nadat sy gesê het: ‘Laat die HERE u God geprys word.’

Bemerk u watter wonderlike pad die HERE soms loop? Hy bring haar, ‘n heidense koningin van Suid-Arabië, om Hom te prys. Wel kom sy aanvanklik met die doel om Salomo se wysheid te toets en ‘n handelsooreenkoms te sluit. Die uiteinde, die belangrike vir ons, is ‘n lofsang van ‘n heiden aan Hom die Almagtige God. Deur die wysheid waarmee Hy vir Salomo laat regeer, kom sy liefde vir sy volk uit, sodat selfs sy, as heidin, moet buig voor Hom die Ewige God.

Wanneer die liefde van die Verbondsgod sigbaar word, kom selfs heidene tot lof aan die HERE. Natuurlik plaas hierdie gedagte ‘n geweldige roeping op ons. God het steeds sy volk lief en Hy hou ons steeds in stand. Deur Jesus Christus het Hy oorwinning behaal. Ons het die taak en die roeping om die liefde van God en die oorwinning van Jesus Christus in ons lewens sigbaar te laat word, sodat selfs hulle wat God nie ken nie, dit kan sien. Ons, as volk van God in Suid-Afrika, het vandag ‘n geweldige taak om getuies te wees; getuies in ‘n tyd van godsdiensgelykheid, godsdienseenvormigheid en godsdiensvervreemdheid, sodat selfs hulle wat die ware God nie ken nie, Hom in ons kan raaksien.

Uit onsself kan ons nie hierdie wysheid sigbaar laat word nie. Salomo het vroeg in sy lewe sy wysheid van God gebid. Laat ons daagliks bid dat die Here ons deur sy Heilige Gees wysheid sal gee om sy verbondsliefde sigbaar te maak. Sodoende kan ons selfs heidene tot lof aan God, wat sy volk liefhet en in stand hou, bring.

Sal die volk van God staande kan bly in ‘n heidense wêreld? Sal God nog die eer kry wat Hom toekom? Ja, want ons as die volk van God word deur Hom in sy wysheid regeer. Deur ons moet die wêreld die wysheid en liefde van God sien sodat selfs die heidene bewus kan word van God se liefde vir sy volk en tot ‘n lofsang kan kom: Laat die HERE u God geloof word, omdat Hy sy volk liefhet en in stand hou.