Bron: Kompas, 2006. 3 bladsye.

2 Timoteus – Herderlike Sorg vir die Gemeente

herder

Die boek 2 Timoteus word tradisioneel as een van die pastorale briewe gekenmerk (saam met ander briewe soos 1 Timoteus en Titus). Die skrywer van die brief is die apostel Paulus. Die ontvanger is Timoteus – aanvanklik ʼn sendingsmedewerker van Paulus, maar later (tydens hierdie brief) predikant te Efese. In hierdie brief bemoedig die ou apostel die jong predikant en gee hom raad oor sy taak as predikant van die gemeente.

Die brief is waarskynlik vanuit die gevangenis in Rome geskryf, rondom 63/64 n.C. Die apostel is dan aan die einde van sy lewe en baie van sy medewerkers het hom verlaat (sien 1:15 – “...almal wat in Asië is, hulle van my afgekeer het…” ). Van die ander medewerkers is in die tussentyd in ander gebiede besig en slegs Lukas is by die apostel (sien 4:10-12).

Omdat die apostel nie sy vrylating in die vooruitsig stel nie, maar eerder die dood in die gesig staar (4:6), is dit waarskynlik sy laaste brief – ʼn brief waarin hy Timoteus heel persoonlik pastoraal begelei. Teen die agtergrond van sy dood wat op hande is en die verdrukking wat hy ly, skryf Paulus dan hierdie brief aan Timoteus.

Die boodskap van die brief is om te volhard in die voortgang van die evangelie, teen alle druk van vervolging, dwaalleer en skynheiligheid in. Paulus hou sy eie lewe as voorbeeld aan Timoteus voor.

Die bespreking van die brief doen ek graag aan die hand van die onderstaande twee temas:

Die Eerste Deel – 1:1-2:13🔗

Wees sterk en vertrou die evangelie toe aan betroubare en bekwame manne. Hieruit is daar twee sake wat die verdere verloop van die eerste deel van die brief bepaal. Eerstens die vervolging, verdrukking en moeite wat gepaardgaan met die evangelie. En tweedens die voortgang van die evangelie.

Na die vermelding van vervolging, verdrukking en moeite in hoofstuk 1, volg die oproep in 2:1 – “Jy dan, my seun, wees sterk deur die genade wat in Christus Jesus is…” As dienaar van die evangelie kan Timoteus verwag dat sy ampswerk nie maklik gaan wees nie. Daar sal altyd stryd, spanning, moeite, verdrukking, vervolging wees. Daarom: wees sterk! – nie deur eie krag nie, maar deur die genade wat in Christus Jesus is!

Die tweede oproep volg in 2:2 en betref die voortgang van die evangelie in die gemeente – “…en wat jy van my gehoor het onder baie getuies, vertrou dit toe aan getroue manne wat bekwaam sal wees om ook ander te leer.” Tref voorsiening dat die evangelie ook deur ander uitgedra word. Vertrou dit toe aan betroubare manne, wat kan dien as ouderlinge in die gemeente en Timoteus in sy werk kan ondersteun. Dit moet betroubare manne wees, wat vas staan in die geloof, sodat die gemeente deur predikant en ouderlinge onderrig en versterk word in die geloof.

Die eerste oproep van 2:1 laat ons sien dat die taak van ʼn ampsdraer glad nie maklik is nie. Inteendeel … iemand wat in die amp dien, moet weet wat dit inhou.

Paulus verduidelik dit deur Drie Beelde (2:3-6):🔗

  • soldaat: selfverloëning – jou nie van jou taak laat afbring nie; bly op jou pos (sien ook 4:1, 2 en 6),

  • atleet: om volgens die goddelike eise jou ampstaak uit te voer,

  • landbouer: die bereidheid om hard te werk.

Maar, bogenoemde is nie net ʼn boodskap vir ampsdraers nie. Dit is ook gerig aan elke gelowige. Want ook die gelowiges het ʼn amp: dié van profeet, priester en koning. Ook die gelowiges wat nie ampsdraers is nie, sal vervolg en verdruk word. Sien 3:12 – “En almal wat ook godvrugtig wil lewe in Christus Jesus, sal vervolg word.”

profeet priester en koning

Tog mag ons hieruit ook bemoedig word (2:8-13). Die gelowiges ly op aarde soos Christus ook gedurende sy lewe op aarde gely het – dus is dit lyding in gemeenskap met Christus. Maar Hy is nie net die lydende Christus nie, Hy is ook die opgestane Christus, wat opgevaar het na die heerlikheid van die Vader. As ons dan verdra, volhard en volhou, sal ons saam met Hom regeer. Maar wie hom verloën, dié sal Hy ook verloën.

Met betrekking tot die tweede oproep in 2:2 sê dit vir ons vandag baie ten opsigte van die voortgang van die evangelie, wat oorgedra en uitgedra moet word. Ons kan dit vergelyk met ʼn stamboom: Christus het vir Paulus onderrig, Paulus weer vir Timoteus, Timoteus weer vir ander betroubare, bekwame manne en hierdie manne moet weer op hulle beurt die gemeente onderrig.

Die ampsdraers moet inderdaad goed toegerus wees vir hulle dienswerk. Van hulle sal nog onthou van Paulus se sendingsreis langs Efese, op pad na Jerusalem. Paulus het hulle toe persoonlik bemoedig en toegerus in Miléte, die hawe van Efese (Handelinge 20:17-37). Net so het die kerk vandag nog steeds die taak om toe te sien dat die evangelie bly voortgaan en oorgedra word. En ook dat daar betroubare en bekwame manne sal wees vir hierdie taak.

Verder moet die kerk ook toesien op dit wat oorgedra word: “en wat jy van my gehoor het onder baie getuies…” Dít moet aan die gelowiges en aan die volgende geslagte oorgedra word – die suiwer, onvervalste evangelie. Die kerk staan steeds onder druk van valse lering en dwaling, waarteen die leer van die Skrif verdedig moet word.

Maar hierdie deel het nie net vir ons iets te sê oor die opleiding en toerusting van bestaande gemeentes nie, maar ook oor die selfstandigwording en selfstandigheid van ’n nuwe gemeente. Wanneer ʼn sendeling ʼn sendingsgebied betree, is die belangrikste fokus om die gemeente as geheel op te bou in die geloof. Maar hy moet ook werk aan die opleiding, toerusting en begeleiding van toekomstige ampsdraers en voorgangers. En hulle moet weer op hulle beurt hul kennis uitdra en deurgee. Só werk God ook in die geslagte en dra Hy sorg dat die evangelie steeds voortgaan.

In effek word die sendeling so “oorbodig” gemaak – nie omdat hy nie meer nodig is nie. Maar as ’n gemeente selfstandig word, kan hy weer verder gaan in ʼn ander gebied om dáár ʼn kerk te plant, die gemeente in die geloof op te bou en weer toekomstige ampsdraers en voorgangers op te lei, toe te rus en te begelei.

Die Tweede Deel – 2:14-3:17 e.v.🔗

Die regte optrede teen valse leer en die wapens teen skynheiligheid. Paulus vermaan Timoteus om nie in sinlose twisgesprekke (stryd oor woorde) te verval met die dwaalleraars nie.

2:16 – “Maar die onheilige, onsinnige praatjies moet jy vermy…”

2:23 – “En die dwase en onverstandige strydvrae moet jy afwys, omdat jy weet dat dit twis verwek…”

Dít sal niemand tot bekering lei nie en dit dien dus nie die bevordering van die evangelie nie.

Paulus wys Timoteus dan die regte weg aan om teen die dwaalleer op te tree: hy wys Timoteus hier dat ʼn dienskneg van die Here nie twis nie, “maar hy moet vriendelik wees teenoor almal, bekwaam om te onderrig en een wat kwaad kan verdra.” Dit beteken nie dat hy die sonde oorsien nie, maar dat hy beheers en nie reaksionêr sal optree nie: saambindend en vredestigtend – die hoop is dat dié mense ook vir die Here gewin kan word.

Die tweede saak waarteen Paulus vir Timoteus in dié deel waarsku, is die skynheiligheid van die laaste dae (sien 3:1 e.v.). Weet dit, dat in die tyd tussen Christus se eerste koms en sy wederkoms die mense al hoe meer boos sal word – afgodery sal aan die orde van die dag wees. Liefhebbers van hulself, liefhebbers van geld, liefhebbers van genot – die mens self sit op die troon. Dít teenoor die liefde vir God en die naaste (sien 3:2-4).

Bybel

Paulus waarsku vir Timoteus: daar sal ook mense binne die kerk wees wat hul goddeloosheid sal verbloem agter vrome skyn. Dit lees ons in 3:5 – “mense wat ʼn gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het…” En hierdie mense, waarsku Paulus, is selfs gevaarliker as die goddelose wêreld buite die kerk. Hulle (dit is mense wat probeer om leiersposisies in die kerk te beklee) gaan rond op huisbesoek en probeer vroue wat swak in die geloof is, vir hulle saak te wen. Swakkeres wat ontvanklik is vir hul vroom praatjies.

Maar Timoteus hoef nie te wanhoop nie – soos God Jannes en Jambres (die toordokters wat Moses en Aäron teengestaan het in Egipte) ontmasker het, só sal God die skynheiligheid van hierdie mense ontmasker. Vanaf 3:10 e.v. reik Paulus aan Timoteus die wapens om hierdie skynheiligheid te ontmasker en staande te bly. Sien veral vs. 14 en 15 – “Maar bly jy in wat jy geleer het en waarvan jy verseker is, omdat jy weet van wie jy dit geleer het. En dat jy van kleins af die heilige Skrifte ken wat jou wys kan maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus.

Ook hierdie deel het vir ons vandag baie te sê. Gewoonlik verwag ons maar die teenstand vanaf die wêreld buite die kerk. Maar die apostel wil Timoteus en ons uitdruklik waarsku om nie maar die gevaar slegs van buite te verwag nie. Wees op julle hoede vir die skynheiliges ook binne die gemeente! Sien 3:5 – “mense wat ʼn gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het”. Hierdie tipe mense sal graag leiersposisies in die kerk wil beklee en deur hul vroom skynheiligheid die swakkeres in die gemeente aanval. Met die doel om hulle tot gevangenes van die satan te maak, sodat hulle ook weer ander mense kan verlei.

Maar ons hoef geensins te wanhoop nie. God sal sulke mense aan die kaak stel – “hulle dwaasheid sal vir almal duidelik wees” (3:9). Só het God met die twee towenaars in Egipte gedoen, só het God menige slinkse, skynheilige geleerde en teoloog deur die geskiedenis van die kerk heen uitgewys.

Die Here reik ook aan ons vandag die wapen teen hierdie tipe van mense – “bly in dit wat julle geleer het en waarvan julle verseker is”: dit is die Skrifte. Dáárin moet ons bly en daarin alleen – by ons huise, op huisbesoek, katkisasie, Bybelvereniging, jeugvereniging, vergaderings en op die preekstoel. Alleen so sal ons onderskeidingsvermoë aanleer.

Daarom moet die amp voortgaan om die evangelie te bedien (en moet daar toegesien word dat daar evangeliedienaars is), teen alle druk in van teenstand, dwaling en skynheiligheid (sien ook 4:1-5).