Bron: Kompas, 2005. 2 bladsye.

Alles Deel van Een Gebrandskilderde Venster

Glasinlood venster

Ons het in die afgelope artikels hier en daar aandag bestee aan die samehang tussen die verskillende onderdele van die liturgie, maar nie sodanig dat die hele kerkdiens as ʼn geheel voorgestel word nie. Daarom wil ek in hierdie artikel probeer om die verskillende stukkies saam te voeg. In die eerste artikel het ek verwys na die gebrandskilderde glasinloodvensters wat mens dikwels in ou katedrale kry. Al die klein stukkies glas vorm saam ʼn uitbeelding. Ook die onderdele van die liturgie kan mens saamvoeg tot een groot glasinloodvenster waardeur die lig van God se genade na binne skyn.

Ek wil begin met die woord liturgie. Toe ek lang gelede in die liturgiekommissie van ons gemeente gesit het, het ons ons eers besig gehou met die definisie van die woord liturgie. Dit was nie so maklik nie, elke boek het dit weer anders geformuleer. Die woordeboek het ʼn taamlike koel beskrywing gegee: “Die geheel van voorgeskrewe gebede, seremonies en handelinge wat saam die erediens vorm.” Kerklike publikasies het dit minder saaklik beskryf: “Die manier waarop daar vorm gegee word aan die ontmoeting tussen God en sy gemeente.” Ons was beïndruk met die manier waarop die Hervormde sinode in 1950 dit geformuleer het: “Die samekoms van die gemeente van Christus vra na ʼn op grondslag en doel verantwoorde orde, sodat, waar dit God se wil is om vir sy Naam ʼn gedagtenis te stig, ons die Naam met eerbied aanroep.”

Die Here wil gedagtenis stig. Die beteken nie net dat ons herinner word aan sy groot dade nie, maar dat hierdie dade weer telkens voor ons neergesit word: die dade moet vertel word asof dit nog maar gister voor ons oë gebeur het en met óns gebeur het. God se grootste daad van barmhartigheid was dat Hy sy Seun gestuur het. Dit was ongeveer 2000 jaar gelede. Toe was daar mense wat Hom gesien het en wat self met Hom gepraat het. Die bedoeling van die liturgie en van die verkondiging van die offer van Christus moet so realisties aan u voorgestel word, sodat u – dit klink dalk vreemd – sodat u voel asof u afgelope Vrydag aan die voet van die kruis gestaan het en die Maandag daarna self in die graf was en met die engele gepraat het. So wil die Here by u gedagtenis aan sy Naam stig, gedurende die hele kerkdiens.

In die eredienste word God se groot dade geproklameer. Dit is ʼn ou woord wat die beeld oproep van ʼn Middeleeuse herout wat op die markplein belangrike mededelings van die vors voorlees. So mag ons ook die verkondiging in die kerk sien: die dienaar lees die belangrikste boodskappe van die Here voor. Nou was dit destyds op die markplein so dat die mededelings gewoonlik van organisatoriese aard was, oor belastings en so meer. Dit het nie werklik verskil gemaak van watter koning of vors die boodskappe gekom het nie.

In die kerk is dit anders. Daar word die Naam van die Here geopenbaar. Met ander woorde: soos wat Hy is. God se Naam is sy openbaring aan alle mense: Ek is wat Ek is. Met hierdie openbaring van sy Naam, kom God na u toe met sy dade, met sy barmhartigheid, sy genade, sy almag, sy lig en met die groot diens wat Hy aan sy kinders bewys het. Daar is nog baie meer as wat ons ooit sal kan verstaan in die vele eredienste wat ons in ons lewe meemaak. Hierdie openbaring moet ontvang, beleef, besing en beantwoord word in die eredienste. Wanneer Hy sê: “Ek is wat EK is”, dan mag ons antwoord in gebed, in lied, in belydenis: “Ja, ons ken U, ons weet van u genade en van u groot dade. En ons wil nog meer weet.”

Daarmee kom ek dan tot die beskrywing van die begrip liturgie: Liturgie is die manier waarop daar in die samekoms van die gemeente van Christus, vorm gegee word aan die ontmoeting van God en sy gemeente. Dit omvat die verkondiging van God se groot dade (o.a. in die Woordbediening) en allerlei elemente (o.a. gebed en sang) wat kan dien om God die eer te gee as antwoord op die verkondiging, “…sodat ons niks vergeet nie…,” volgens die waarskuwing van Deuteronomium 6:12.

Wanneer ons besig is met die liturgie, moet ons nie bly vassteek op die vorms wat ons elke Sondag sien nie, maar ons moet verder kyk na die betekenis daarvan. Ons moet ook nie net kyk na wat daar in ons plaaslike erediens elke Sondag gebeur of wat daar net in ons kerkverband gebeur nie. Wanneer ons die verskillende onderdele van die liturgie van nader bekyk, ontdek ons dat elke onderdeel sy wortels in die Ou Testament het. Hierdie terugblik wys ook tegelykertyd vooruit na die ewige lewe waarna ons reikhalsend mag uitsien.

son deur glasinlood

Wanneer ons dit besef, sien ons onsself skielik binne die enorme ruimte van God se gang met die wêreld. Dan is dit nie meer plaaslik kleinskalig of vaderlands begrens nie, nee, dan staan ons Sondagse eredienste en die vorm waarin dit gegiet word, in ʼn onmeetlike glasinloodvenster, waardeur ons nou op aarde al kan deurkyk na die pragtige lig van God se heerlike, aankomende koninkryk.

Ek het baie woorde nodig gehad om u in hierdie artikel te vertel wat liturgie eintlik is. Hierdie ryk betekenis moet ons elke Sondag weer tot verwondering bring. Die veelheid van woorde gee ʼn aanduiding van die omvattende gebeure. Dit is nie maar net ʼn eenvoudige afspraak oor die orde van diens of hoe dit gewoonlik moet verloop nie. Nee, dit gee ʼn aanduiding van watter aspekte ons moet oordink as ons die Almagtige ontmoet. U sal besef dat die vergelyking met ʼn glasinloodvenster te beperk is. Selfs die grootste venster het immers ʼn kosyn, terwyl God se groot dade, skepping, liefde en wysheid geen begrensing ken nie.

Hierdie vergelyking kan u egter wel ʼn indruk gee van die veelkleurigheid, maar ook van die eenheid: alles is gerig op een tema, naamlik op die eer van God, wat tot uitdrukking kom in die verkondiging van sy groot dade. Verkondiging, dit is die groot verhaal wat elke erediens oor die lewende God, orals op die aarde deur alle eeue heen, moet vertel. Ons sou byna kon sê dat as daar ʼn onderdeel van die liturgie is wat nie ʼn verkondigende element het, dit geskep moet word.

Ons kan die voorbeeld van die glasinloodvenster verder gebruik. Ons kan elke erediens sien as ʼn stukkie gekleurde glas: in een kerkdiens kan ons dikwels net ʼn paar aspekte van die verkondiging noem. Deur hierdie een stukkie glas skyn die swak lig van ʼn flikkerende kersie.

Dit moet heerlik wees om later, na die Jongste Dag, die hele venster te sien! In volle omvang, tot in die kleinste besonderhede, terwyl die volle lig van God se weg met die wêreld daar deur skyn. Dan het ons ook alle tyd daarvoor. Ewigheid. Dan sal die hemelse liturgie die hemelse diens vir die Almagtige wees, waarvan ons nou al ʼn swak afbeelding het. En hierdie afbeelding is nou al so mooi, wanneer jy mooi kyk!