Bron: Kompas. 3 bladsye.

Amos 7 en 8 - Die Vier Gesigte aan die Einde van Amos

Lees: Amos 7:1-9 en 8:1-3🔗

Amos 7 en 8 beskryf vier gesigte. Die vierde gesig is ’n mandjie met vrugte. Dit lyk op ’n pragtige stillewe. Maar wie ’n bietjie beter kyk, sien dat dit ’n mandjie met somervrugte is; of eintlik: nasomervrugte. Die vrugte is lankal geoes. Hulle begin al oorryp word. Eintlik is dit ’n baie dreigende gesig. Israel is ryp vir die oordeel van God. Die vierde gesig is die klimaks van die vier gesigte.

Die vier gesigte wat Amos te sien kry, onderstreep sy woorde wat hy tot nou toe vir die tienstammeryk gesê het. God het gewaarsku. Dikwels gewaarsku.

Die leeu het gebrul, die onweerswolke het bo Samaria saamgepak, maar die volk wou nie luister nie. God het gewaarsku met strawwe (Amos 4), maar ons lees steeds die refrein: “en tog het julle jul tot My nie bekeer nie, spreek die HERE.” Amos hef reeds ’n klaaglied oor Israel aan (Amos 5), so seker sal God se oordeel Israel tref. Maar selfs in hierdie klaaglied lees ons nog die oproep: “Soek My, dan sal julle lewe!” Maar Israel het nie geluister nie. Amos word selfs die mond gesnoer (Amos 7:12-13).

Die vier gesigte plaas ’n dik streep onder die profesie van Amos. Daar is ’n intensivering in die gesigte. Dit word erger en erger. By die eerste twee gesigte kan Amos nog vir sy volk bid:

Ag Here HERE, vergeef.

En God luister in sy genade. Maar by die derde en vierde visioen staan God dit nie meer toe dat Amos vir die volk bid nie. Dan volg die straf van die Here onverbiddelik.

In die eerste gesig sien Amos ’n sprinkaanswerm. Sprinkane was ’n groot plaag in Israel, met verskriklike gevolge. Sprinkane vreet alles kaal wat op hulle pad kom. Hierdie ramp gebeur in die lente. Die eerste gras is al gemaai. Die koning het sy reg op die eerste gras vir homself opgeëis, vir die perde in sy stal. Die koning hoef hom nie meer sorge te maak nie. So gaan dit eintlik altyd in tye van krisis. Die ryk mense sal wel die krisis deurstaan. Hulle het nog reserwes. Hulle kla die meeste, maar die krisis tref hulle die minste. Maar die gewone man, en veral die armes se hoop is gevestig op die tweede oes, die na-gras. En juis toe kom die sprinkane en vreet alles op. Amos sien dit en skrik vreeslik. Hoe sal die gewone eerlike Israeliete dit oorleef? Dan bid hy vir sy volk. Ons sien dat Amos regtig lief is vir sy volk. Ons ken Amos ondertussen as ’n ware profeet. Hy draai nie doekies om as dit kom by die boodskap van die Here nie. Sy woorde is somtyds baie hard. Maar ondertussen huil sy hart. Hier kry ons ’n blik in sy siel. Amos is nie ’n onbewoë profeet nie, maar Amos is bewoë oor die gewone man. “Here HERE, vergeef tog.” Amos vra nie: “Here, neem asseblief die sprinkane weg” nie. Hy bid om vergifnis. Ek dink ons sou eerder bid: “Neem asseblief die rampspoed van my weg”.

Maar Amos huil nie vanweë die sprinkane nie, maar vanweë die probleem wat agter die sprinkane lê, naamlik die sonde van die volk. Op die bodem van al die vrae en ellende in hierdie wêreld lê die skuld van die mens. Dis hoekom Amos nie bid dat die sprinkane weggeneem moet word nie. Dan bly jy vassteek by die simptome. Amos bid net: “Here, HERE, vergeef.” Wanneer sal ons leer dat die oorsaak van al die ellende in die wêreld ons sonde is? Wanneer sal ons leer om groter hartseer te hê oor die sonde wat agter die rampe lê as oor die rampe self?

Die tweede gesig is ’n vuur wat al die water in Israel laat opdroog. Hierdie gesig het dieselfde strekking as die eerste visioen, maar net nog erger.

Dan kom ons by die derde gesig: ’n skietlood. Dit lyk baie onskuldiger as die eerste twee gesigte, want ons sien nie lelike sprinkane wat alles kaalvreet of ’n verterende vuur nie, maar tog is hierdie gesig meer dreigend as die eerste twee gesigte.

’n Skietlood is ’n toutjie met ’n swaar gewig. Dit hang altyd loodreg ondertoe – die swaartekrag trek die lood ondertoe. ’n Skietlood word gebruik om mure loodreg te bou. Maar dit is ook ’n meetinstrument om te kyk of ’n muur nog loodreg staan. En dit is die beeld van hierdie gesig. God staan met die skietlood op die muur. Die muur van die stad is die simbool vir die volk Israel. Jerusalem is goed gebou (Psalm 122). Die Here het sy volk uitgekies en ’n verbond met Israel gesluit. Hy het hierdie volk sy volmaakte wet gegee, wat die godsdienstige, staatkundige en maatskaplike lewe volmaak gereël het. Dieselfde geld vir die kerk van die nuwe verbond. Die kerk is deur God self gebou op die fondament van die apostels en profete, en Christus self is die Hoeksteen. Maar nou verskyn skielik die Here self met ’n skietlood in sy hand. Dit is baie verontrustend. Amos weet dat, as God met sy skietlood in die midde van Israel kom, dan beteken dit baie slegte nuus. Israel is soos ’n gebou wat lankal nie meer loodreg staan nie, maar ingesak het, skeefgetrek het, van binne vermolm is. As God sy oordeel oor hierdie gebou gaan vel, kan dit net een ding beteken: sloop hierdie gebou. Want dit beantwoord lankal nie meer aan die eise wat God aan Israel gestel het nie. Amos weet dit maar alte goed.

Die skietlood staan dus vir God se eis – sy verwagtings van ons. Sy norme.

Jesaja 28:17: “En Ek sal die reg tot ’n riglyn maak, en die geregtigheid tot ’n skietlood…”

Jesaja 34:11: “… Die Here sal sy maatlyn span en sy skietlood aanlê en bepaal dat die land onbewoonbaar en leeg moet word.”

1983-vertaling

Die skietlood staan vir reg en geregtigheid. Dit is die wette en voorskrifte van die Here, waaraan Hy ons lewe toets. Om te kyk of ons lewe nog beantwoord aan die bestemming wat God met ons lewe het.

Wat gaan gebeur as God met sy skietlood in die midde van die gemeente kom? Staan die mure van die kerk nog loodreg? Is die kerk ’n stad op ’n berg met ’n loodregte muur, beantwoord ons gemeente aan sy bestemming? Ons is trots op ons mure: die suiwer verkondiging van die evangelie, die suiwer bediening van die sakramente, die suiwer bediening van die tug. Dit staan loodreg, maar wat gebeur alles agter die mure? Die profeet Esegiël het eens van die Here die opdrag gekry om ’n gat in die muur van die tempel te grawe. En hoe verder Esegiël grawe, hoe meer gruwele ontdek hy (Esegiël 8). As jy ’n gat in die muur van die kerk sou grawe, wat loop jy dan raak? Nastrewing van eiebelang, individualisme, groepsvorming, jaloesie? En wat gebeur as die Here die mure van ons lewe inspekteer, wat sien Hy dan? Ons lewenshuise het dalk ’n mooi geweltjie, die skeure en gate kamoefleer ons dalk goed vir die buitewêreld, dit lyk of die mure nog mooi regop staan, maar wat gebeur agter die mure, in huisgesinne, in huwelike? Die Here sien dit. Hy staan by die muur van ons lewenshuis. Hy sien wat krom is, wat onreg is, wat oneerlik is. Hy hoor die rassistiese grappies en opmerkings wat gemaak word. God sien elke afwyking. Hy toets alles aan die skietlood, sy suiwer standaarde.

So kom ons by die vierde gesig, die klimaks. God het sy skietlood gebruik en gesien dat Israel skeef getrek het. Te skeef om nog te herstel. Dit gaan nie werk om nog ’n bietjie te repareer nie, hierdie gebou moet gesloop word. Israel is ryp vir die oordeel.

Die laaste gesig is dus allesbehalwe ’n idilliese stillewe. Die beeld van die oorryp vrugte is die skokkendste van al vier die gesigte. Amos 8:3 vertel oor die totale ondergang van die volk Israel. Orals lyke. Stilte! God was genadig en het gewaarsku, maar die maat word ’n keer vol. God se oordeel oor Israel was verskriklik – Israel is deur die Assiriërs in ballingskap weggevoer en hulle het nooit meer teruggekeer nie.

Die vier gesigte is ’n dringende oproep aan ons vandag om die genade van God nie te verspeel nie. God bewys sy genade aan ons telkens weer. Ons lewe nog in genadetyd, maar die Bybel sê vir ons baie duidelik dat daar ’n dag kom waarop God sy oordeel sal uitspreek. Dan is die maat van die sonde van hierde wêreld vol. Omarm die genade van God en bekeer jou van sondes in jou lewe. Rig jou lewe na die suiwer maatstaf van God, sodat jou lewe beantwoord aan sy bestemming. Want dit sou regtig sonde wees as jou lewe deur sonde so skeeftrek en insak dat die Here moet besluit om dit maar te sloop. God het iets baie mooiers met jou lewe in gedagte.

Amos is ’n boek vol oordeelsprofesieë. Behalwe die slot van hoofstuk 9. In vers 11 sê God vir sy volk:

Daar kom ’n dag waarop “Ek die vervalle hut van Dawid weer oprig, en Ek sal sy skeure toebou en sy puinhope herstel…”

Die Messias word belowe. As hierdie Messias die fondament is onder jou lewenshuis, staan jou lewenshuis op ’n rots en sal dit standhou op die oordeelsdag.