Bron: Kerk en Woord, 1999. 3 bladsye.

Amos 8:11 - Hongersnood aan die Onvervalste Woord

Kyk, daar kom dae, spreek die Here HERE, dat Ek 'n honger in die land stuur, nie 'n honger na brood nie en nie 'n dors na water nie, maar om die woorde van die HERE te hoor. En hulle sal swerwe van see tot see en rondslinger van noord na oos, om na die woord van die HERE te soek, maar hulle sal dit nie vind nie.

Amos 8:11

Daar sit iets buitengewoons in dat die HERE, wat andersins graag wil hê dat Hyself, sy verbond, sy verhouding met ons, die evangelie van die lewe, bekend gemaak moet word en 'n aktiewe verbondsverhouding wil onderhou, hier deur Amos laat profeteer van 'n mandjie qajits-vrugte, waarmee Hy verkondig dat dit haqeets is met sy volk. Dit is die klankrym in die Hebreeus. Amos sien 'n mandjie laatsomer vrugte, vrot vrugte. Die Here sê dat dit klaar is met sy volk. Met sy volk gaan gebeur, wat mens met vrot vrugte maak… As ons die aanleidende redes vir hierdie optrede van die HERE ondersoek, is dit omdat die volk in die ekstreme gegaan het met hulle Godsverloëning. Die elite van die volk leef in ultra­weelde terwyl die res daarvan versmag in nood – 'n tipiese derde-wêreld-land opset. Gaan ons in die Bybel nog verder terug op die saak, dan vind ons in die wetboek besondere toepassings vir die burgery wat die HERE saam met die Morele wet en die Seremoniële wet in die Pentateug gegee het. Dit is hierdie burgerlike wet wat deur die kerkvolk oortree word. Die burgerlike wetgewing het naamlik daarvoor voorsiening gemaak dat die rykdomme gebalan­seerd in die harde van die volk verdeel is. So kon Rut by voorbeeld volgens hierdie wet optree om are te gaan optel in die land van Boas. Daarom was daar by voorbeeld ook die afkondiging van die jubeljaar, wanneer die HERE self weer gesorg het dat daar eweredigheid/lossing gekom het in die opgehoopte skuld wat die volksgenote onder mekaar aangegaan het.

Maar nou het die kerkvolk haar aan afgodery skuldig gemaak daarin dat hulle die Wet van die HERE rustig ignoreer. In Amos 6:4 en verder lees ons hoedat die rykes op hulle bedde van ivoor lê, uitstrek op hulle rusbanke, lammers van die kleinvee en kalwers uit die stal eet terwyl hulle liedjies met begeleiding van die harp sing, wyn drink uit offerkomme uit en hulleself met die beste olie salf. Om hulle eie plesier verder te verhoog het die ryk mense niks daarvan gedink om op die weerlose dagarbeiders te trap en hulle die eerlike daglone te weerhou nie. Selfs vir die skuld van een paar skoene het hulle die armes vir slawe verkoop (2:6). En daaroor word Amos uit Tekoa opgewek om 'n hongersnood aan die Woord aan te kondig. Hongers­nood – nie aan kos of water nie, maar aan die onvervalsde melk van die Woord. Nou is dit eweneens vreemd, want volgens wat ons uit Amos 8 ver­neem, is daar by die volk juis 'n lewende en aktiewe gemeentelewe. Ons lees dat die altare van die HERE by wyse van spreke, kreun onder al die diere wat daar aangedra word deur die volk. Wat is dan tog die probleem? Hoekom is dit dat die HERE vertoornd is op sy kerk terwyl hulle net die beste bedoe­lings in die wêreld het? Die antwoord is dat die volk met afgodery besig is ter­wyl hulle dink dat hulle die ware gods­diens onderhou. "Hulle leuengode het hulle verlei waar hulle vaders agter aan geloop het" (2:4).

Daar is twee maklike maniere waarmee met die Skrif op die tong afgodery ge­pleeg word. Albei kere is wanneer die Woord gekaap word vir mense se eie menings. Selektiewe aanhalings uit die wet en vermelding van die res. Dan kom daar mettertyd Woord-hongersnood.

Die een manier is wanneer hulle die profete stilmaak wat die Wet suiwer ver­kondig (2:12) en vir hulle profete versamel wat sê wat hulle graag wil hoor (4:4, 5). Ondermyning van die Skrifgesag op die liberale manier. Die mens probeer om God te kaap asof Hy aan die kant van, en ten gunste van die gevoelens en strewes van ontwikkelende mense is.

'n Ander manier is weer blote vorm­diens (5:21-26). Ondermyning van die Skrifgesag op die konserwatiewe manier. Die mens probeer om God te kaap asof Hy aan die kant van, en ten gunste van oudgevestigde en bewaarde oorgelewerde gebruike is soos wat dit deur ons groep beoefen word (2:4-8).

Wanneer mense van hierdie verskil­lende kante af probeer om die Skrif te verstaan of te verklaar, is daar nood­wendig 'n proses van verarming en later hongersnood aan die Woord. Woord-honger is nou nie so 'n outomatiese en al te opvallende saak nie. Want dit is 'n geleidelike proses wat plaasvind sonder dat onoplettende mense dit agter kom. Woordhonger ontstaan waar die Woord verdring word deur allerlei ander idees. Woordhonger ontstaan waar die Woord verdraai word, waar die gesag daarvan afgekraak word, waar die ou­tensiteit daarvan betwyfel word, waar die oorsprong daarvan aan bestaande mitologieë en fabels of filosofieë toege­skrywe word, waar die Bybel geskei word, verskeur word, dwalings en ket­terye heimlik ingevoer word. Woordhonger ontstaan waar die Woord ver­pand word vir allerlei plaasvervangers, populêre maklike leesboekies, mening­opnames in die Huisgenoot of Die Beeld.

Woordhonger ontstaan as ek die Skrif aan my eie liefhebberye ophang, want dan gaan soek ek wat ek graag wil hoor, en ek hoor nie meer wat ek graag moet wil om dit te soek nie. Dan word ek 'n "one track minded" sektariër wat nie besef dat ek aan geestelike Anoreksia Nervosa ly nie.

In Suid-Afrika staan die GKSA tans voor 'n interessante uitdaging met die naderende sitting van die Nasionale Si­node in Januarie 2000. In verskeie arti­kels en briewe in koerante en tydskrifte word skrywers gepolariseer, gekategoriseer en gekritiseer. Dit kom ook plek plek onverdund voor asof die politiek van die dag gebruik word om argumen­te bymekaar te maak om te probeer skeiding bring tussen Gereformeerdes. Die krisis waarin hierdie rand-saak geneig kan wees om gelowiges in te dompel, is dat daar stemme van kerk­skeuring opgaan. Die krisis is egter nie somaar 'n geringe saak nie, want ge­meentes en gesinne en families is hier ter sprake. Wanneer gelowiges mekaar se geloof gaan wantrou oor politieke voorkeure sal dit weliswaar die hart­ seerste dag in die geskiedenis van die GKSA wees. Die krisis is dat daar baie gelowiges is wat die behoudende Skrif­tuurlike geloof koester, maar 'n gesonde walging het vir die "Boere-Afrikaner­Super-Ras-mentaliteit" kettery. Terselfdertyd is daar ook baie gelowiges wat 'n progressiewe politieke sienswyse huldig, maar 'n gesonde walging het vir die liberale "humanistiese/mense­regte georiënteerde/multigodsdiens­tige" kettery van 'n mentaliteit wat die Skrif verloën. Hierdie ekstreme polarisering veroorsaak dat gelowiges nie meer geleentheid kan kry om 'n positiewe waardering vir die verskei­denheid te hê wat God gegee het, en terselfdertyd diensbaar ook aan die verskeidenheid en bo alles getrou aan die Woord van God te wees nie. Gelo­wiges word sommer deur ander mense met stoetkaarte en naamborde toegerus en pryse toegeken en in kampe gedruk­gang Gelowiges kan in hierdie polari­sering nie geleentheid kry om tegelyk waardering te hê vir die feit dat God ons tot een eskatologiese volk van Hom saamgeroep het wat ook nou nog steeds binne die pluriformiteit van verskillen­de volke nasies en tale naas mekaar en in liefde vir mekaar bestaan nie. Op hierdie manier is dit gelowig gesproke dan onmoontlik om sommer klakkeloos tussen links en regs skeiding te probeer maak. Trouens, die krisis is dat wan­neer politiek enigsins 'n bepalende rol moet vervul wanneer dit dan onaf­wendbaar op 'n skeuring gaan uitloop soos baie dit blykbaar wil hê, dan is daar 'n onnoembare persentasie gelo­wiges wat dan nie aan enige een van die skeurende kante sal tuis voel nie.

Intussen het ons 'n egte kerkstryd wat altyddurend sal wees. 'n Kerkstryd waarvoor ons nie moet wegkoes nie, maar dan moet ons ook seker maak dat presies weet teen wie en teen wat ons nou eintlik moet stry. Ons moet waarlik daarvoor waak dat ons nie soos verskrik­te poedels verward in die lug rond hap nadat die weerlig geslaan het nie. Dit moet ons passie wees om die Bruid van die Here Jesus voor te berei, te reinig, te heilig en te suiwer vir sy koms. Maar wanneer mense die Skrif aan hulle eie liefhebberye ophang, dan begin die gelowiges wat met die Skrif bedien moet word, aan woord-hongersnood ly, aan woord-wanvoeding. Wanneer woordverkondigers vleiers geword het, deur mense gekoop is, dan is die onver­valsde Woord nie meer beskikbaar nie. Dan is dit dat hulle swerwe van see tot see en van Oos na Wes om na die Woord van die HERE te soek maar hul­le sal dit nie vind nie (8:12). En ons moet weet dat diegene wat die meeste onder hierdie misdade ly, is die jeug. (8:13). Moet ons werklik dan die kerk van die toekoms met verwarring die jaar 2000 binne neem? Mag die Here ons die genade gee om ons aandag te kan toespits op die sake waar dit werklik op aankom.