Bron: De Reformatie, 1997. 2 bladsye.

Applous vir Jouself

Die aanbieder Emiel Ratelband roep ons, ten spyte van sy eie angste en vrae, daagliks oor die radio toe: ‘Wie is die belangrikste in hierdie saal? Dit is jyself! Gee jouself applous. Tsjakkaa! Gister is geskiedenis, môre is jou toekoms, vandag gaan jy dit maak. Ons gaan oor vuur loop ...’

Die gehoor hang aan sy lippe – en aan dié van alle profete en ghoeroes in sy kielwater. Hulle boodskap word diep ingeasem, want dit is só menslik. Godvergete hemelbestormers wat ʼn nuwe toring van Babel bou en daarvandaan basuin.

Sukses is deurslaggewend. Sukses moet letterlik déúrslaan. Jy moet jouself, jou regte, laat geld. Ja, meer aandag vir wie God jou gemaak het is soms nie verkeerd nie, want mens kan ook verval in sieklike selfnegering en selfhaat, en dan moet jy iets daaraan doen. Maar kyk hoe vinnig en maklik val ons in die strik van egoïsme. Gebeur dit nie ook baie vinnig in die kerk nie? Ek, ek, ek... Maar wat dan van die ander? Wat van God?

ʼn Oorvloed Voorbeelde🔗

In die Bybel is daar ʼn oorvloed voorbeelde van hoe jy kan verkeerd gaan as jy jouself op ʼn voetstuk plaas.

Eva. Selfgeldend soek sy ʼn pad na God – náás God! ʼn Eie pad wat sou verbrokkel. “Julle sal soos God wees”. Daar is niks wat sy eerder wou hê nie. En Adam doen mee. En daar staan hulle toe – in hulle skaamte. Hulle selfgelding bring hulle ver van die Huis.

Lameg. Selfgeldend bal hy sy vuiste na die hemel. Hy neem twee vroue – as teken van sy selfgelding. ‘Ek sal self regkom! Ek sal myself sewentig maal sewe keer wreek’. Wie het God nodig? Windmakerig soek hy sy eie pad – ʼn doodlooppad. Want dit is wat dit is, ʼn doodlooppad, om meer te wil wees as God. Sedert die sondeval is dit in die mens se bloed. Maar dit bring geen sukses nie, want God gryp in as dit vir Hom te erg word. Hy haal die mens van sy selfgekose voetstuk af en sit hom op sy plek.

God Gryp In🔗

Weet u wie was net so selfgeldend? Jakob. Hy het die mooiste beloftes gekry, net soos ons by ons doop. Sy moeder het dit gehoor toe sy ʼn tweeling verwag het en sy sou dit ongetwyfeld aan haar jongste vertel het – dat God hom bo sy ouer tweelingbroer, Esau, sou stel; dat Jakob die eersgeboortereg sou kry. Maar toe word die ‘kry’ ʼn opeis; Jakob wil sélf sy toekoms beveilig. Eiegeregtig gaan sit hy op God se troon om die toekoms na sy smaak te beplan. So lyk dit dan asof die beloftes van God ʼn meulsteen om sy nek word – omdat hy dit self wil waar maak, in plaas daarvan om God in sy lewe aan die Woord te laat bly.

Op ʼn slinkse manier laat hy sy broer vir sy honger boet. Hy laat hom selfs sweer. So bedrieg Jakob vir Esau en staan hy op vir sy eie eersgeboortereg, asof dié reg nie allereers van die genade van God afhang nie. Daarna word alles erger. Lieg en bedrieg. Selfgeldend op sy eie pad. God vooruitloop. Self sy beloftes veilig maak. ‘Nee pa, ek is Esau. Ruik maar, voel maar, proe maar’. Jakob wil byna sakramentele sekerheid gee om sy blinde vader te oortuig. Jakob doen sy naam oneer aan. Lieënd en bedrieënd soek hy self ʼn uitweg. Selfgeldend wat hy is.

Die selfgelding blyk weer in Haran, maar eers kry hy by Laban ʼn dosis van sy eie medisyne. Die bedrieër word bedrieg. Meteens is dit Lea agter die sluier. Maar daarna gaan Jakob maar weer voort soos voorheen. Gewetenloos bedrieg hy sy gasheer, wat ook nog twee maal sy skoonvader is, en eien homself ʼn kudde toe. Toe vertrek hy boonop skelm en gaan terug huis toe.

Maar dan gryp God in. Op pad na die beloofde land kom God hom teë en gee vir Jakob ʼn lessie in nederigheid. Jakob moet erken dat God sterker is. “Ek sal U nie laat gaan nie tensy dat U my seën”. Hy erken die oorwinning van God. Eindelik gee Jakob gewonne. Eindelik verneder hy hom onder die hand van God. Hy kry só ’n hou op sy heup dat hy nie meer voor kan loop nie. In Jakob se wandel met God het die HERE voortaan die inisiatief. So hoort dit. Dan kry Jakob ook die oorwinnaarsnaam: Israel; omdat hy uiteindelik verstaan hoe dit werk: “as ek swak is, dan is ek sterk”.

Waaroor dit Gaan🔗

As jy jou nie selfgeldend gedra nie; jouself nie op die voorgrond stel nie; nie altyd jou eie mening die belangrikste ag nie; as jy nederig bly – dan kry God plek in jou lewe, om sy beloftes waar te maak; om die gevolge van die sondeval, menslike eiegeregtigheid, uit die weg te ruim. Plek om weer in jou lewe aan die Woord te wees.

Applous vir jouself? Is jy die belangrikste in die saal? Moet jy jouself altyd ‘push’? Moet jy altyd selfgeldend voor loop? Luister jy na die ghoeroes en profete van die hierdie tyd? As Christen weet jy tog beter. Waar jy jouself op die troon of ’n voetstuk sit, daar is die eerste gebod ver van jou af, en die diens van God skuif na die kantlyn van jou lewe. In die diens van God verdien jy geen applous nie. Jy is nederig dankbaar dat jy Hom kan dien. In die diens van God mag jy wel handeklap vir jou naaste. Dit kan uitloop op ’n ovasie vir ons God en Redder. En dit is juis waaroor dit gaan.