Bediende van die versoening
Bediende van die versoening
Die werk van ’n predikant kry ’n ander dimensie wanneer 2 Korintiërs 5:18 daarmee in verband gebring word: “die bediening van die versoening”. Eintlik geld dit vir enige gelowige wat poog om die Blye Boodskap aan ander mense oor te dra . Daar vind “bediening” plaas. Iets word uitgedeel. Die versoening word bedien. Die woord “bedien” val nie meer vreemd op die oor nie, want ons is gewoond daaraan. Dit is egter interessant dat die Griekse woord wat Paulus gebruik, ook gebruik is vir die werk van ’n tafelbediende. ’n Kelner. ’n Bediende wat uitdeel dít wat reeds in die kombuis berei is. Destyds was dit ’n baie nederige werk. Dit is dus nie om dowe neute dat iemand soos Calvyn na die bedienaar van die Woord verwys as ’n “homunculus” nie. ’n Swakke mensie.’n Mannetjie. ’n “Swakke mannetjie verrese uit die stof.” (Institusie 4.3.1).
Hierdie stofmannetjie-bediende (Paulus, volgens 2 Kor. 5) doen net een ding: hy deel dít uit wat God reeds volmaak berei het. Hy gee mense deel aan dit wat God reeds berei het, naamlik die versoening. Hy laat ander deel kry aan die volbragte versoening. Wat God gedoen het op Golgota, deel die homunculus uit aan ander. Wat God in die vuur van die kruis berei het, deel Paulus uit.
Wát het God berei? Hy het mense (almal wat Hy aan Sy Seun gegee het) met Sy Seun gered op die kruis. Hy het versoening bewerk en die mense se skuld van die tafel gevee. Hy het perfekte vryspraak bewerk - op Golgota. Dis opvallend hoeveel klem Paulus lê op die feit dat dit alles die werk van God is. Dít moet nou aan mense toegesê word. Dit moet vertel word. God se groot dade in Christus kan net verkondig word. Met die oproep tot geloof. Paulus staan letterlik op sy knieë wanneer hy die gemeente smeek (vers 20) om God te glo – om te aanvaar dat Hy hulle versoen het met Homself. Die stofmannetjie-bediende vertel nie vir die mense wat húlle moet doen om met God versoen te word nie, maar wat Gód gedoen het om goddeloses (Rom 4:5) met Homself te versoen. Die bediende maak nie mededelings oor die heil nie, maar mededelings van die heil. Hy vra nie of mense geloofsekerheid het nie, hy gee die sekerheid! Die bediende ondervra nie soos ’n speurder die mense of laat hulle elke Sondag eksamen skryf soos ’n wafferse opvoeder nie. Die stofmannetjie gee ook nie elke Sondag ’n lessie oor wat die mense nóg kan doen om nóg beter te word nie. Nee, deur die prediking word die boodskap verkondig dát God op die kruis die mense tot Sy kinders aangeneem het danksy Christus se offer waardeur die “skuldbewys met sy eise teen ons” tot niet gemaak is (Kolos 2:14). Deur die prediking word die vryspraak toegesê. Dit word bedien. Prediking is deel-gee-aan die heil. Die bediende van die versoening doen dit. In die erediens word mense letterlik vrygepreek. Jesaja 40: 9-11, 52: 7-10, 61: 1-3, 63: 7-9 maak dit glashelder duidelik dat die bediening van die “goeie tyding” die vrede “aankondig” (52:7). Die bediening van die vreugdeboodskap beteken die toesegging dat God die mense Syne gemaak het (40:10), dat Hy Koning is (52:7), dat Hy uitkoms gebring het en Sy volk verlos het (52:9), dat daar vryheid is vir die gevangenes (61:1) en dat Hy Sy volk verlos het deur Sy ontferming (63:9). Of soos dit Jesaja 43:12 dit duidelik maak: “Ek het gered en dit laat verkondig”.
Volgens Calvyn drup die bloed van Christus op die gemeente tydens die bediening van die versoening. Die gemeente kan dit slegs aanvaar óf laat vaar. Paulus pleit vir eersgenoemde. Dit is immers wat geloof en bekering is. Om die homunculus te glo. Om God se toesegging te aanvaar. En wie dit glo, sál tot inkeer en gehoorsaamheid kom. Maar, geloof is nie die méns se aandeel in die versoening - so asof Christus ’n halwe Verlosser is - nie. Geloof is om persoonlik te aanvaar dat God se getuienis wáár is. Dit is die getuienis wat die stofmannetjie bedien - die vreugdebode, wat die mense kom deel gee aan die versoening.
Wie hierdie Boodskap reg hoor, kan dit aanvanklik nie glo nie. Dit is immers nooit maklik om goeie nuus onmiddellik te glo nie. Dit klink te goed om waar te wees. Aanvanklik dink ’n mens daar is iewers ’n slang in die gras! Maar, namate die vreugdebediende se boodskap deurdring, kom daar ongekende blydskap en uitbundigheid: “O, die goeie tyding. O, die blye tyding… diep was ons verlore, Christus is gebore. Juig dan, jubel oor die saligheid.” (Lied 344). Dit is geloof! Dit is bekering.
Die prediking is dus nie ’n inligtingspraatjie of populêre lesinkie oor allerlei interessante onderwerpe nie. Dit is mededeling van die heil. En, wat ons hier op aarde oopsluit, sal in die hemel oopgesluit wees. Daarom hoef die leraar nie meer te wonder wat om te preek en voort te gaan met preke wat sentreer rondom ’n aantal lieflingsteksies en lieflingstemas nie. Wat ’n bevryding! Dit is ook nie meer nodig om skuldig te voel oor die eenvoud en soberheid van die gereformeerde liturgie nie. In kontras met die Oosters-Ortodokse en Rooms-Katolieke liturgieë, is die gereformeerde erediens maar vaal en eentonig. Terwyl die heil by die Ortodokse Kerke bemiddel word deur indrukwekkende en dramatiese liturgiese rituele en by Rome bemiddel word deur die met-heil-belaaide sakramente, is die gereformeerde erediens byna vervelig met geen optogte, geen kleurryke togas, geen klokkies, geen kerse en geen ikone. Die risiko om aan die slaap te raak is aansienlik. Daar is net ’n preekstoel. En op die preekstoel ’n Boek. En agter die Boek ’n homunculus, verrese uit die stof, wat die versoening bedien – om hartstogtelik gegló te word. Die gereformeerde erediens word dus ten volle beheers deur God se inisiatief en Sý spreke. Dit is Hý wat met Sy gemeente ontmoet en Sy heil laat bedien. Daarom is die prediking as monoloog en die gemeente se luisterende-biddende-singende geloofsantwoord ook ten volle in lyn met die Skriftuurlik-reformatoriese gedagte van die bediening van die versoening.